BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 24 Julie 2015

SO LYK DIT IN DIE HEMEL

Gaan jy saam juig en is jy alreeds besig?

Hoe lyk die hemel? Daar is soveel idees oor die hemel. Allerhande mense beweer deesdae om in die hemel te gewees het. (Kliek op SONEL) Daar word ook roekelose en wilde aannames gemaak van wie hemel toe sou gaan en wat hulle daar sou maak. ‘n Mens verstom jou oor die uitlatings wat op begrafnisse gemaak word oor wie nou almal in die hemel rondjaag op motorfietse of daar vir ‘n span rugby of krieket speel... Dis net so bisar soos die Moslems se idee van ‘n hemel met maagde wat die wellus van jihadi’s moet bevredig...



GOD IS DIE FOKUS!

Hoe lyk die hemel? Op die ou end het ons net een betroubare bron, en dis God se Woord. Kyk gerus na twee Bybelse beskrywings van die hemel (se heerlikheid) in Openbaring 4:1-11 en JESAJA 6:1-7. Die ooreenkoms tussen Openbaring en Jesaja is merkwaardig en opvallend. Dis duidelik, die hemel is die plek waar God in sy volle majesteit volmaak geëer, bewonder en geloof word. God is in die sentrum! Hyself is die fokus! (Terloops, alle teologie en godsdiens waar Hy nie in die middelpunt is nie, is mensgemaak en vals.) 

Anders gestel, die hemel is die plek waar daar ‘n ewige volmaakte permanente erediens gehou word!


Natuurlik, ken ons nie al die detail van die hemelse bestel nie, maar die essensie daarvan word saamgevat in die konsep van 'n erediens!

Die vraag vandag is : Is ek en jy gereed vir hierdie ewige erediens? Baie mense is ooglopend nie gereed nie, want hulle stel nie eers nou belang in die erediens nie, dis nie vir hulle lekker nie en hulle sal beslis nie eendag daar inpas nie! So baie sien God bloot as ‘n helper (Hy moet spring as ons in die moeilikheid is of hartseer beleef), maar daar is min ywer om Hom te bewonder, te aanbid en sy wil te gehoorsaam.

Uit Jesaja 6 blyk dit drie dinge is nodig om voluit, nou en vir ewig saam deel te neem aan die hemelse erediensvieringe! Besef wie God is, besef hoe groot my sonde is, ontvang vergifnis!

BESEF WIE GOD IS. God het Homself aan Jesaja gewys en toe besef hy eers wie God regtig is. Net terloops – daar word melding gemaak van die “sterfjaar van Ussia” - dis ’n krisis tyd, die Here gebruik dikwels een of ander krisis om mens se oë te open. Jesaja sien die grootheid en heerlikheid van God raak! Liewers, God openbaar Homself aan die profeet. Wat ’n ontsagwekkende gesig! God op ’n baie hoë troon! Heerser van die heelal. Ten volle in beheer, absoluut soewerein! (dis ‘n feit wat deurgaans ook in die boek Openbaring beklemtoon word) Kyk, luister... Sien en hoor saam met Jesaja.. “Heilig, heilig, heilig…” Voel die kosyne rammel; ruik die rook. Angswekkend, verstommend heerlik en groots! Een saak is duidelik : Jesaja moes eers besef wie God is. Nie maar van hoorsê nie, nie bloot wat tradisie hom geleer het nie, maar werklik van aangesig tot aangesig. Dis moontlik om vir jare vaagweg te besef daar is ‘n God, maar op ‘n dag openbaar Hy Homself deur sy Woord en Gees aan jou! Dis wat ons die nodigste het.... ons moet besef wie God is, ons moet besef Hy is groot, ons moet besef HY IS GOD, HY IS HEILIG!

BESEF SONDE. Toe Jesaja besef wie God is, toe gebeur daar nog iets. Sy geestelike oë gaan oop, hy sien sy eie sonde raak. In die lig van God se heiligheid sien hy sy eie onreinheid. Dis asof die helder lig van God se heiligheid en heerlikheid deur sy siel skyn en elke stukkie onreinheid ontbloot. Hy roep uit: “Dis klaar met my, ek is verlore!” Wat gaan ons nie alles sien as hierdie lig deur ons skyn nie.... ? Sulke donker swart kolle van selfsug, haat, onreinheid...valsheid. Die vuil vlekke van hardvogtigheid, liefdeloosheid , jaloesie... Dit bring ’n wanhopigheid in Jesaja. “Dis klaar met my! Hierdie gesig bring hom tot ’n erkentenis van sy toestand van totale verdorwenheid. “Elke woord....” Nie net ’n paar klein foutjies nie! Lippe word beklemtoon... Sy bedoeling is moontlik ook hier dat hy vanweë sy onrein lippe nie kan deelneem aan die lofsange van die serafs om God te besing nie! Sonde verhinder ons om God te eer. Sy onrein lippe is ’n hindernis om te doen wat hy eintlik moet doen. 

Ons sonde keer ons om God te eer en te geniet! En dis dan juis waarvoor God ons gemaak het. Sonde verhoed ons om deel te neem aan die ewige erediens! Dis wat ons uit die hemel hou!

As die Heilige Gees met mens werk dan slaan dit jou plat en laat jou sprakeloos. Alle slimmigheid en verskonings verdwyn en al wat oorbly is om ‘n belydenis van sonde uit te stotter. Jy kan nie draaie loop met God nie. Nog iets. Jesaja sien die sonde rondom hom raak! As die Heilige Gees in ’n mens werk, kan jy nie meer dink alles in die gemeenskap is maar reg nie; jou oë gaan oop vir die afskuwelikheid van sonde. Nie net jou eie sonde nie, maar die sonde rondom jou word ’n pyn. 

ONTVANG VERGIFNIS. Nou gebeur daar iets dramaties met die gebroke sondebewuste Jesaja. God bewerk die versoening. (Op die altaar, dis waar die offers gebring is) Met ‘n gloeiende kool van die altaar word sy lippe aangeraak. Hy kry die versekering dat sy sondes versoen is, die versekering dat hy vergewe is. As jy vandag besef wie God is, en bewus word van jou eie sonde en onwaardigheid - dan is daar ook Goeie nuus vir jou : Op ’n altaar 2000 jaar gelede, is daar ’n volmaakte Offer gebring. ‘n Genoegsame offer, eens en vir altyd. (Hebr 10:14) Daar het ’n Lam gesterf - die Lam van God... op die altaar van die kruis. Die versoening is bewerk! Die oomblik as ek in erkentenis en berou my tot Jesus wend, dan ontvang ek die versoening persoonlik! ’n Bewende Jesaja sien die skrikwekkende heiligheid van God, hy besef sy sonde - en die wonder gebeur, hy word nie vernietig of weggestoot nie... hy ontvang vergifnis.

God vernietig nie ’n gebroke berouvolle sondaar nie. God red hom! Dawid sê : “U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God!” (Psalm 51:19) Terloops, daar is eintlik net een ding wat tussen ’n mens en verlossing kan staan, dis hoogmoed! ’n Trots wat nie wil buig nie! Niks kan keer dat God jou vergewe nie, nie ’n donker verlede nie, nie die aakligheid van al ons sondes nie, nie die getal oortredings nie, maar as ek hoogmoedig is en my sonde nie wil erken nie, dan gaan ek die genade misloop. “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (1 Petrus 5:5) Jesaja verneder homself voor God en hy hoor die wonderlikste woorde wat enige sondaar op aarde kan hoor : “Jou oortredinge is vergewe, jou sonde is versoen.” (Vers 7) Dis die woorde wat Jesus op aarde ook telkens vir gebroke sondaars wat na Hom gekom gesê het... die verlamde man, die sondares wat Sy voete gewas het...

Het jy vergifnis ontvang op grond van Jesus se genoegsame offer? Dan kan jy deelneem aan die ewige erediens waar God geloof word. Dit begin nou reeds. Kom neem gerus elke Sondag deel...


[Felsenkirche]

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.