BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 08 Mei 2014

ERGER AS GERRIE NEL, BETER AS BARRY ROUX*

- Satan self kla ons aan, maar die OPGESTANE JESUS IS ONS ADVOKAAT!

Met die Oscar Pistorius saak het ons almal seker weer meer bewus geword van die belangrike rolle wat ‘n aanklaer en advokaat in die regsproses speel. Uit die oogpunt van ‘n beskuldigde is dit so uiters belangrik om ‘n goeie advokaat te hê... Dit raak ons ook, want ons elkeen het te maak met die Groot Regter en ons staan as sondaars in die beskuldigdebank. Daar wag ‘n finale oordeel. Dis ‘n afspraak waaruit niemand homself kan draai nie. Ons het immers elke wet van God oortree... Ons skuldige gewete kan baie onsekerheid by ons wek – wat gaan die finale uitspraak wees?

EK EN JY, VANWEË ONS SONDESKULD, KAN NIE SONDER ‘N ADVOKAAT KLAARKOM NIE!

Voor ons by die advokaat kom, moet ons net eers seker maak wie die aanklaer is...Die Woord van God is baie duidelik oor sy identiteit in Openbaring 12:10. "Toe het ek ‘n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het: "Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het." 

Die duiwel is nie net ‘n versoeker nie, maar ook ‘n aanklaer! (sien ook die dramatiese uitbeelding in Sagaria 3) Hy het ‘n waterdigte saak. Die getuienis teen ons is verdoemend. Die Satan ken mos al die feite oor ons sonde...

Sal ons sy aanklagte kan oorleef? Kom ons wees eerlik : Ek en jy het geen kans teen die aanklagte van die duiwel nie. Al ons verskonings en verduidelikings sal geen hond haar maak nie. Die Satan ken God se wet en dis baie maklik vir hom om uit te wys hoe ons keer op keer God se gebooie oortree het.

Daar is net een hoop en dit is as jy Jesus as jou persoonlike advokaat het. Laat ons net kortliks fokus op Jesus se rol as Advokaat. Dis baie duidelik uit die Woord :Hy leef en tree vir ons in. Hy bepleit ons saak voor God. Dis die groot taak waarmee Hy besig is na sy hemelvaart. (sien Heidelbergse Kategismus**)

Kan ons Advokaat iets aan ons situasie verander? Dis mos die heilige waarheid dat ons oortreders is en God se oordeel regverdiglik verdien. Geen normale menslike advokaat sou ons situasie kon beredder nie, al was hy nou ook hoe glad met die bek. Net Jesus bring hoop. Jesus kan, want Hy wat ons advokaat is, het reeds die vonnis wat ons verdien op Hom geneem. In effek sê Hy vir die Regter : "Ekself het hierdie skuldige persoon se straf reeds uitgedien. Daarom moet hy onskuldig bevind word." 

Jesus is ons suksesvolle advokaat ons op grond van sy eie genoegsame kruisdood en opstanding.

Natuurlik is Hy nie almal se advokaat nie. Net die wat aan Hom behoort s'n. Die wat deur ‘n persoonlike geloof aan Hom verbind is, die wat Hom as hulle Redder aangeneem het en nou kinders van God geword het. (Johannes 1:12) Christenskap het alles te maak met Jesus se Middelaarskap en sy intrede vir ons. ‘n Definisie van ‘n verlosde mens sou kon wees – “iemand wat Jesus Christus as advokaat het.” Wat my ‘n Christen maak is dus nie in die eerste plek hoe min of baie sonde ek het nie, maar of ek die enigste betroubare advokaat, Jesus Christus het!

PRAKTIESE IMPLIKASIES: 

Juis omdat die gekruisigde opgestane Jesus die advokaat is, wat opgevaar het en in die teenwoordigheid van God is kan elke kind van God ‘n paar dinge seker weet:

- Ons verlossing is nie halfgebak of in die weegskaal nie. "Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree." (Hebreërs 7:25)     Hy red volkome van alle sondes. Die Here gaan my nie red en weer halfpad laat val en vir Satan voer nie. Jesus se Hoëpriesterskap en Middelaarsfunksie kan onafgebroke voortgaan, juis omdat Hy vir altyd leef en nie beperkinge het soos ‘n aardse hoëpriester nie. Jesus se priesterlike bediening is sonder einde. Ons kry ‘n treffende praktiese voorbeeld van Jesus se intersessie vir ons in Lukas 22:32. Jesus se woorde aan Petrus is vol troos en betekenis : “Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk." Dit wat Hy destyds vir Petrus gedoen het, doen Hy nog steeds vir ons in sy gesagsposisie aan die regterhand van God.

- Geen aanklagte of beskuldiging sal ooit teen die kind van God kan staan nie.  "Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons." (Romeine 8:33,34)    Die duiwel is mos lief daarvoor om partykeer iets uit mens se verre verlede uit te grawe en smalend jou daaraan te herinner : Onthou jy nog daardie vieslike ding...? Moenie dat Satan jou vrede steel en jou rondskud nie. Herinner jouself aan jou Advokaat, sy kruisdood, sy opstanding, sy voortdurende bepleiting van jou saak!

- Ook as ek as kind van God weer gesondig het, bepleit Jesus my saak by die Vader.  "Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig-ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader." (1 Johannes 2:1)  Miskien dink jy by jouself : Ja, toe ek Jesus aanvaar het, weet ek het God al my sonde vergeef, maar nou het ek weer geval...nou is daar nie weer vir my vergifnis nie. Hierdie teks in 1 Johannes is baie duidelik vir kinders van God bedoel wat weer geval het. Ja, al het jy geval, Jesus is nog steeds jou Voorspraak. Natuurlik, dit geen my nooit ‘n vrypas om te sondig nie, maar dit gee my wel die vrede dat as ek val. Sonde is baie ernstig, ek moet dit bely, maar ek kan weet dat ek vergewe sal word, omdat Jesus my Voorspraak is!

Waar laat dit ons?

Maak seker dat Jesus JOU advokaat is. Hy nooi jou, vir jou wat nog buite staan!

As Hy dit reeds is, vertrou volkome op Hom, dank Hom, bewys jou liefde aan Hom deur Hom te eer met gehoorsaamheid... in al jou besluite en keuses.

NUUT! NUUT! NUUT! As jy graag na hierdie preek in klank wil luister kliek op ADVOKAAT

*Die opskrif is geensins bedoel om negatief kommentaar te lewer op die twee menere se vertonings in die hof nie (ek dink beide is uitstekend), maar bloot om ons afhanklikheid van Jesus se middelaarskap en intrede op ‘n aktueel verstaanbare manier onder mense se aandag te bring en te probeer verduidelik.

**49 Vraag: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?

Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is (a). Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as 'n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof; ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem (b). Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur (c) deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie (d).

(a) 1 Joh 2:1; Rom 8:34. (b) Joh 14:2; 17:24; 20:17 2:6. (c) Joh 14:16; 16:7; Hand 2:33; 2 Kor 1:22; 5:5 (d) Kol 3:1.



Gerrie Nel - mirror


Barry Roux - timeslive




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.