BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 22 Mei 2014

REGTE HULP OP DIE REGTE TYD

- vir elkeen wat deur die Hoëpriester na die Troon gaan.

Een of ander tyd benodig alle mense hulp van een of ander aard. Dis baie belangrik, dit moet die regte hulp wees. En dit moet betyds wees. As ek byvoorbeeld op pad na ’n dringende vergadering ‘n pap wiel sou kry en die spaarwiel is nie gepomp nie dan benodig ek ’n pomp... As iemand langs die pad ’n koppie koffie aanbied is dit goed, maar dit sal my nog nie betyds by die vergadering laat kom nie. Die regte hulp sal dus ’n pomp wees en dit moet gou genoeg gebeur om nog betyds vir die afspraak te kom. Net so ’n ambulans wat te laat opdaag of ’n brandweer wat te lank vertoef is eintlik tevergeefse of nuttelose hulp.

Die wonderlike belofte in Hebreërs 4:14-16 verseker elke kind van God van die regte hulp op die regte tyd...
– elkeen wat vra en op ons Hoëpriester Jesus se verdienste alleen vertrou.

“Terwyl ons dan 'n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie 'n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”

God se kinders benodig ook hulp op ons geestelike pad. Trouens ons is totaal afhanklik van hulp, hulp wat regtig hulp is. Hoekom? Ons het hulp nodig want ons beleef versoekings en verdrukking wat dreig om ons van ons koers af te laat wyk. Dis die alledaagse harde werklikheid van egte Christenskap. Daar is baie omstandighede wat ons wil laat moed verloor, tou opgooi en dreig om ons ontrou te laat word. Ons het hulp nodig! Die Christene aan wie die Hebreërbrief geskryf is, het definitief ook hulp, vertroosting en bemoediging nodig gehad. Hulle het sedert hulle Christene geword het, deeglik kennis gemaak met swaarkry. Hulle is gespot en selfs van hulle besittings beroof. (10:32-34) Dit was so erg dat dit lyk asof sommige inderdaad dit blykbaar oorweeg het om tou op te gooi en dalk weer terug te keer na die ou Joodse godsdiens. Daarom kry ons al die ernstige waarskuwings teen afvalligheid. Trouens die voorafgaande gedeelte bevat ’n ernstige waarskuwing teen ongehoorsaamheid wat mens van die ewige Sabbatsrus, ons ewige erfenis kan beroof. (11-13) Saam met die ernstige waarskuwing kom nou ’n heerlike bemoediging.

ONS HET ‘N VOLMAAKTE HOËPRIESTER

Hierdie verdrukte en beproefde Christene word weer daaraan herinner dat Jesus die Seun van God ons Hoëpriester is. Dis reeds onder hulle aandag gebring dat Jesus ’n barmhartige en genadige hoëpriester is. “Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.” (2:17,18) Nou wys die skrywer hulle daarop dat Hy die een is van wie hulle alle krag en hulp kan kry om hulle belydenis te handhaaf en die versoeking om afvallig te word te kan weerstaan. Die feit dat Jesus die Seun van God is diskwalifiseer Hom nie om regtig hulle moeilike omstandighede en gevaarlike posisie te verstaan nie. Hy self het deur elke toets en versoeking gegaan waardeur hulle nou moontlik kan gaan. Ten spyte van sy versoekings het Hy getrou gebly en deur die hemele gegaan tot by die troon van God. Hierdie Jesus is ons hoëpriester en Hy sit nou aan die regterhand van God. Sy verhewe staat beteken egter nie dat Hy nou uit voeling is met ons probleme nie. Hy is in alle opsigte net soos ons versoek en dit maak Hom by uitstek ’n volmaakte simpatieke hoëpriester. So waarop kom dit neer? Christene het ’n hoëpriester, nou op hierdie oomblik, in die hemel en wat wonderlik is - Hy het ’n onvergelykbare kapasiteit om met al ons gevare, bekommernisse, toetse en swakhede te simpatiseer. Hoekom? Hy is ’n mens net soos ons, onderworpe aan dieselfde dilemmas, maar sonder sonde. Onthou Hy was in alle opsigte aan ons gelyk. Hy het alles beleef wat ons beleef.

JESUS KEN EN VERSTAAN JOU!

Juis omdat ons so ’n unieke volmaakte hoëpriester wat simpatiek is, wat saamvoel en wat ten volle op hoogte van ons krisisse is - kan ons met vrymoedigheid na die troon van genade gaan.

Wat is jou reaksie in tye van versoeking, beproewing, vertwyfeling, die tye wanneer jy dreig om tou op te gooi? Ons is almal geneig om weg te kruip - nie waar nie? Hoekom? Ons voel skaam en bang om na God se troon te gaan. Bang vir verwyt, straf, verwerping ( dit gaan dikwels gepaard met vrees en skaamte vir ons broers en susters ook – en dan bly ons sommer weg uit die kerk.) Ons vlug en dis juis wat ons nie moet doen nie. Ons hoef nie te vlug nie - ons het mos ’n hoëpriester, Jesus Christus 

Ons het ’n hoëpriester wat vir ons intree - ’n simpatieke hoëpriester wat ons saak bepleit waar Hy aan die regterhand van God sit. Dis mos juis die wesentlike verskil tussen die Christen en nie- Christen! ‘n Christen het ’n hoëpriester, ’n advokaat (kliek ADVOKAAT), ’n Middelaar! Ek nader nie God se troon op eie verdienste of in eie statuur nie. Dis ons hoëpriester se teenwoordigheid wat ons vrymoedigheid gee. Ons nader nie tot God omdat ons goed voel nie- want ons voel nie altyd goed nie; ons nader nie tot God omdat ons hard vir Hom werk nie - wie werk ooit hard genoeg? Ons nader nie tot God omdat ons nie sonde het nie - ons het mos inderdaad baie sonde! Nee, ons nader tot God omdat ons vertrou op ons hoëpriester Jesus Christus!

Die troon wat ons mag nader is ’n “genade troon.” Hoekom genade troon? God se oordeel en strawwe kom tog ook van sy troon af. Hoe kan ons seker wees dit is ’n genade troon? Jesus se teenwoordigheid maak dit so. Jesus se middelaarskap verseker dat dit ’n genade troon is. Ons kan verseker wees dat ons nie met leë hande van die God se genadetroon sal terugkeer nie. Nee, hier kry ons beslis genade en barmhartigheid. Ons kry hulp! Die hulp wat ons kry is die regte hulp. Dis die hulp wat ons nodig het.

Jy wat Jesus ken as jou Hoëpriester, maak jy gebruik van hierdie voorreg om jou hart voor die genade troon van God uit te stort? Hoe dikwels soek ons oplossings by verkeerde plekke en verkeerde mense! So vererger ons net ons nood en ellende. Ons raak soms paniekerig en soek hulp by verkeerde vriende, wêreldse oplossings – party gaan selfs na fortuinvertellers! Hoe dwaas! 

GAAN MET VRYMOEDIGHEID NA DIE GENADETROON, NOU!

As Jesus jou Verlosser is; moenie langer huiwer nie, moenie langer uitstel nie, moenie skaam wees nie, moenie wegkruip nie - bring jou diepste nood na die Almagtige God, in die naam van Jesus ons volmaakte Hoëpriester! Jy sal die regte hulp op die regte tyd kry!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.