BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 15 Mei 2014

BELANGRIKHEID VAN NOU

 - te veel mense gaan te laat wees!


Dis seker die grootste verrassing in die Bybel : God gee vir sondaars ‘n kans. Hy hoef nie, Hy sou ons dadelik kon straf, ons verdien dit immers almal. Tog gee Hy ons 'n kans! Juis omdat Hy ‘n genadige God is. Ons lees in Esegiël 18:23 van hierdie liefdevolle genade : “Dit is beslis nie my wil dat die goddelose moet sterf nie, sê die Here my God, dit is my wil dat hy hom bekeer van sy verkeerde dade en dat hy bly lewe.” Die praktiese kant van God se genade kry ons in die opregte, ernstige en dringende uitnodigings in die Bybel. Dit loop soos ‘n goue draad deur die Skrif. Dit begin eintlik al reeds waar God die skaam wegkruipende Adam opsoek... “Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: "Waar is jy?"” (Genesis 3:9) Ons kry hierdie uitnodigings in die Ou sowel as die Nuwe Testament. Die dringende gratis aanbod van genade word nêrens seker meer duidelik gestel as in Jesaja 55 nie! “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.” Die treffendste ooreenkomstige voorbeelde hiervan in die Nuwe Testament is seker dié in Matteus 11:28 - "Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig." en Openbaring 22:17 - “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!”


SO WORD ONS ELKEEN UITGENOOI NA JESUS OM VERNIET VERGIFNIS TE ONTVANG!

Dis nou ons kans om vrede te vind by God, dis ons geleentheid om die ewige lewe as geskenk te kry!

Dis egter ook duidelik uit die Bybel dat daar nie altyd kans gaan wees om op God se roepstem te antwoord nie. Dis die duidelike implikasie van Jesaja 55:6 “Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is.”  Die implikasie is logies en duidelik - God is nie altyd te vinde nie, God is nie altyd naby in die sin van verlossing nie! Kanse om reg te maak met God kan verbygaan. Minstens twee grondredes kom by mens op:

- Ons leef nie vir altyd op aarde nie. Trouens ons verwagte leeftyd is ‘n vinnige 70 jaar en as ons baie sterk is so 80 somers! (uitsonderings bevestig net die algemene reël). As jy 35 is, is jy al verby die halfpadmerk... En dikwels staan ons by die graf van 'n jonger persoon...nie almal bereik ees die halfpadmerk nie... En nou weet ons genade is bedoel om in hierdie lewe ontvang te word. Die Bybel leer geen tweede kans nie... (Hebreers 9:27) 

- Die spesiale geleenthede wanneer God met ons praat gaan verby. God is nie altyd te vinde nie en nie in hierdie sin altyd naby nie. God praat nie elke dag ewe duidelik nie. Daar kom tye wanneer ons sy stem baie duidelik hoor, maar dis nie sommer elke dag nie... Ons lees maar van een keer wat Samuel as seun God se stem so duidelik gehoor het...wie weet wat hy sou gemis het as hy nie geantwoord het nie? Jesus het sover ons weet net een keer vir die Ryk Jongman gesê : “Volg my.” Hy wou nie, en ons lees nie dat hy ooit weer geroep is nie...

HOE LATER HOE KWATER...

Die gevaarlikste verskoning wat ‘n mens kan uitdink as die Here jou roep is om te sê : “Later, Here dis nie nou die regte tyd nie!” Want jy sien jou lewe stap aan en dit gaan nooit die regte tyd wees nie. Daar is altyd iets wat nou maak dat dit nie die regte tyd is nie. Hier in Jesaja 55: 2 kry ons ‘n verwyt van God dat mense al hulle aandag,tyd en moeite spandeer aan dinge wat geen ware bevrediging vir die dorstige sondaarssiel kan bring nie. Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is.”  Op elke stadium van mens se lewe is daar omstandighede wat kan aanleiding gee tot verskonings en uitstel.  Verskonings soos: “Ek is ...”

TE JONK. My lewe word in beslag geneem deur maats, deur speel en pret. Soveel dinge om te geniet en die tyd is so min, want iewers moet ek nog huiswerk ook doen. Als is nou so lekker, ek kan nie nou aandag gee aan Jesus se uitnodiging nie. Ek is bang ek mis iets van die lewe... Miskien later...


TE VERLIEF. Ek het nou die groot liefde van my lewe ontmoet. Ek moet nou alle tyd aan hom of haar bestee... As ons eers afgekoel het, miskien as ek eendag getroud is, dan kan ek besluit wat ek met Jesus se uitnodiging gaan maak. Nou gebeur dinge te vinnig... Ja, miskien later...

TE PLESIERIG. So baie redeneer, "ek wil darem eers die lewe geniet voor ek my saak met God regmaak! Ja, later..." Wat 'n leuen van Satan en tog sluk sovele dit. Dis 'n belediging vir God, asof Hy as volmaakte Vader nie volkome vervulling aan sy kinders kan bied nie. Om die lewe sonder God te probeer geniet is 'n hersenskim, 'n illusie, 'n lugspieëling in 'n woestyn van leuens...

TE BESIG. Ons het so pas huis opgesit, ek moet nou eers my besigheid opbou en jy weet, die kompetisie is sterk, daar is ‘n lening om af te betaal en naweke moet ek die kinders rondry vir sport, daar is net nie nou tyd om by die kerk uit te kom nie, en ook nie by die Here nie... Miskien later, as die kinders net eers uit die huis is...

TE MOEG. Ek het nou ‘n top posisie by my firma en ek het soveel verantwoordelikhede... Ek moet maar hard werk, jy weet aftrede is nie goedkoop nie en ek wil nie ander mense eendag in die oë kyk as ek oud is nie. En boonop het ek nog kinders op universiteit, dit ruk my sak...ek moet maar planne maak vir ‘n ekstra geldjie. Wag net dat ek eers rustig aftree, dan sal ek erns maak met die Here en dan sal ek by die kerk betrokke raak... Ek is nie teen die Here nie, maar jy moet verstaan ek is net te moeg.... Miskien later.

TE OUD.  Voor jy dink het die ouderdom jou bekruip... Jong ek hoor nie meer so lekker, my rug is te seer om op die harde kerkbanke te sit... Weet jy hierdie ding van bekering en verandering is eerder vir jonger mense, ek is nou maar soos ek is, ek kan nie meer verander nie... Maar miskien later, die moordenaar aan die kruis het tog darem op die laaste oomblik genade gekry... Miskien tog voor ek sterf, sal ek wel reg voel vir 'n verandering...


TE SWAK. As ek eers in die hospitaal lê, gemartel deur pyne en vol morfien is dit moeilik om op die Woord te konsentreer, dis nog moeiliker om te bid, want ek voel ek het nie eens meer krag om asem te haal nie... Die lastige suurstofmasker en allerhande pypies maak diepgaande geestelike gesprekke eintlik onmoontlik... 

Dis 'n illusie om te dink jy gaan God noodwendig in die hospitaal te ontmoet...

TE LAAT!!!   Mooi woorde, baie blomme en bedroefde familie op ‘n begrafnis gaan niemand red nie! Geen predikant,pastoor, priester of pous kan jou met 'n vleiende lofrede red nie... Jy is nou reeds op net een van twee plekke...  Jy het kanse en geleenthede gehad en as jy dit nie benut nie, wel Lukas 16 leer vir ons dat daar nie ‘n tweede kans is nie... vir die Ryk man was dit vir ewig te laat. Die GROOT KLOOF bring ewige skeiding...  Daar is nie weer ‘n later nie...

Hierdie voorbeelde is nie voorbeelde uit sprokiesverhale of bangmaakstories nie, dis alledaagse werklikheid... dis die algemene waarneembare patroon. Die grafte roep dit uit!

VANDAG IS DIE DAG VAN JOU REDDING!

Daar is net een manier om doodseker te maak dat ek nie God se genade verpas nie en dis om vandag op die roepstem van Jesus te reageer. Nie môre nie, maar vandag. God se tyd is altyd vandag, nou...

Hebreërs 4:17 - "Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie."

2 Korintiërs 6 :1,2 - "As medewerkers van God doen ons ‘n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. Hy sê: "Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp." Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding."

OM TE DINK DAAR SAL ALTYD MAAR WEER 'N KANS WEES IS 'N VREESLIKE VERGISSING! 'N AFGRYSLIKE FLATER!



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.