BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 03 Augustus 2012

GERAAMTES WAT RAAS

- maak ‘n Christen se verkeerde verlede nog saak?  

Maak my verlede nog saak? Daardie gruwelike geraamtes in die kas? Spesifiek nou, as ek ’n kind van God geword het, moet ek nog nadink oor my verlede, moet ek al die sondes en mislukkings onthou, moet ek daarmee rekening hou? Elkeen van ons het ’n donker verlede! Ja, ja, elkeen... ons is mos in sonde gebore en ons het almal aktief sonde gedoen. Ons het oortree teenoor God en teenoor ons medemens! Ons het almal dinge gedink, gesê en gedoen waaroor ons (as ons kinders van God geword het) nog steeds skaam is! Deur ons sondige besluite het ons dikwels onherroeplike  skade aangerig aan onsself en aan ander. En ja, ander se sonde het ook weer letsels op ons gelaat.

Ek vra hierdie vraag spesifiek as kind van God : Maak my verlede nog saak as ek ’n  vrygespreekte kind van God geword het? Die antwoord is NEE, maar die antwoord is ook JA! Dis baie belangrik vir elkeen se geestelike gesondheid en vreugde om te verstaan waarom die antwoord NEE is, maar dis net so belangrik om ook te verstaan waarom die antwoord, JA is!

Kom ons kyk na die perspektief wat twee gedeeltes uit die Hebreërs brief vir ons gee:

~ Eerstens die NEE antwoord. Maak die kind van God se verlede saak? Die antwoord is NEE. Hoekom nie? Hier in Hebreërs  8 word die heerlike implikasies van die Nuwe Verbond verduidelik en vers 12 stel dit baie duidelik oor hoe God  oor ons sondige verlede voel.

 “Oor hulle ongeregtighede sal ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.”

 Geliefde, verstaan dit mooi : As jy jou vertroue as sondaar op Jesus gestel het, as jy nie meer staatmaak op jou eie prestasies nie, maar op Jesus se offer aan die kruis, dan sê God vir jou dat Hy nooit meer aan jou sondes dink nie. Dis die gevolg van die vryspraak wat ons ontvang as ons Jesus aanvaar as Verlosser en Middelaar - ons sonde, ja ook al die aakligste sondes en gruwelikste mislukkings van die verlede word glad nie, hoegenaamd nie, meer teen ons gehou nie! GOD DINK NIE EERS MEER DAARAAN NIE! Ons oortredings bestaan nie meer in God se boeke nie! Dis uitgewis vir eens en altyd! Al die beskuldigings teen ons is eintlik alreeds by die kruis vernietig! (Kol 2:14) Daarom kan Paulus so duidelik verklaar in Rom 8:1 : “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie!” As jy in Jesus is, sien God  jou as ’n volmaakte skuldlose  mens! Ek hoef dus nie meer skuldig of minderwaardig te voel nie!

So : Maak die kind van God se verlede nog saak, moet ek nog daaroor tob en bekommerd wees? Wat betref ons nuwe status voor God, is die antwoord ’n baie duidelike NEE!

~ Maar nou die JA antwoord. In Hebreërs  12:1-3 is dit baie duidelik dat die Christelike lewe met ’n wedloop vergelyk word.   Dit gaan dus hier oor mense wat reeds vergewe en reeds vrygespreek word. Maar nou word hierdie Christene (en ons) sterk aangemoedig om al die "laste en sonde wat ons so maklik verstrik" en ons wedloop belemmer, af te gooi! Hoor nou mooi : Ja, God dink nie eers meer aan ons sonde nie, Hy hou dit glad nie meer teen ons nie, maar in ons elke dag se Christelike lewe is dit nodig dat ons sekere oorblyfsels van ons sondige verlede moet afgooi sodat ons die Christelike wedloop met sukses kan voltooi! Ons sondige verlede, agtergrond en neigings is ‘n belemmering vir ons geestelike wedloop.
In hierdie opsig is dit duidelik dat ons sondige verlede wel saakmaak en dat ons beslis daarmee moet rekening hou!

Die punt is : Daar is oorblyfsels van ons sondige verlede, daar is gevolge van ons sondige natuur en agtergrond, wat nog steeds ’n effek op ons het! 

Ons moet dit weet en ons moet iets daaraan doen! Ons sondige agtergrond, ons ou sondige lewenspatrone beïnvloed steeds  ons daaglikse lewens as Christene in ons persoonlike lewe, in ons huweliks en gesinslewe, in ons verhoudinge by die werk en in die gemeente!          

 Kom ons raak prakties met enkele voorbeelde :

Ons het almal ’n onvolmaakte sondebevlekte opvoeding gehad (ja, ek weet by verre die meeste mense wat hier lees het ’n baie goeie Christelike opvoeding gehad, maar ons weet ook ons almal se ouers was ook net mense en het ernstige foute gemaak met ons opvoeding al het hulle dit nie bedoel nie.)   Jy het dalk selfsugtig grootgeword en altyd jou sin gekry... nou word jy ’n Christen en die Here het al daardie selfsug en al daardie  vloermoere vergewe! Maar weet jy wat, daardie selfsugtige neigings dra jy nou in jou huwelik in... nou verstaan jy nie : “Ek is dan ’n Christen en my vrou is ’n Christen, maar hoekom sukkel ons so, hoekom is daar soveel konflik?”  Dis dan wanneer jy moet besef : My verlede maak saak! Ek moet ernstig daaraan aandag gee en hierdie selfsugtige neigings uitroei met die krag van die Heilige Gees!

Dalk het jy grootgeword met ’n alkoholis pa wat altyd gelieg en bedrieg het of ander ongelukkige huislike omstandighede. So het daar ’n diepgewortelde wantroue teenoor ander mense in jou lewe ontstaan... Jy het intussen ’n kind van God geword, maar in jou agterkop dra jy nog hierdie wantroue rond en jy vertrou niemand nie, jy is oorkrities op ander mense. Hierdie wantroue het ’n effek op jou huweliksmaat, jou kinders, jou werksmense... Jy moet besef, jou verlede maak saak! Deur die Heilige Gees en dalk met behulp van Christen vriende sal jy moet leer om van hierdie kritiese gesindheid van wantroue ontslae te raak.

Moontlik is daar een of ander verslawing of hardnekkige gewoonte vanuit jou verlede... pornografie, nikotien, vloek, allerhande vrese... noem maar op. Toe jy ’n Christen geword het, het God jou op een oomblik als vergewe. Jou verlede maak nie meer saak nie, want God aanvaar jou volkome as sy kind! En tog maak jou verlede saak, want dit werk nie altyd so dat hierdie verslawings en gewoontes  onmiddellik gebreek word nie. (Anders sou sulke opdragte soos hier in Hebr 12 mos nie nodig gewees het nie) Dis waar baie Christene die fout maak en in ontkenning leef : “Ag, ek is nou God se kind en als is wonderlik!”  Maar dis nie waar nie! Daar is nog laste en sondes wat ek moet aflê! Deur die kragtige werking van die Heilige Gees, deur gebed, deur die Woord, deur die hulp van ander Christene moet ek ontslae raak van hierdie verslawings en ou patrone uit die verlede. In hierdie opsig maak my verlede saak en moet ek dit hanteer!

Miskien is jy deur die hartseer van egskeiding, dalk het jy weer getrou. God het jou al jou sondes op hierdie terrein vergewe, maar in jou daaglikse wandel met Hom en ander mense sal jy moet rekening hou met die gevolge van hierdie verlede. Om byvoorbeeld in ‘n hersaamgestelde gesin te leef, met ontwrigte kinders wat seergekry het is nie so eenvoudig nie en verg baie geduld, gebed, aanpassing en volharding. Jy gaan dalk ook die hulp nodig hê van ervare en kundige medegelowiges om jou te begelei. Dis normaal. Moenie skaam wees daaroor nie. Vertrou bo alles die Heilige Gees om jou te help om aanpassings te maak en verdraagsaam te wees met jou huweliksmaat, gesin en familie.

Voor my bekering het ek dalk baie mense te na gekom en skade aangedoen. Wanneer ek Jesus aanvaar word al hierdie misdade vir my volkome vergewe. Maar nou moet ek realisties wees. Ek sal waar nodig en waar moontlik  ook hierdie verontregte mense om verskoning moet vra en dinge moet regstel, anders sal my getuienis ongeloofwaardig en kragteloos wees. Ek kan nie maar net aangaan asof hierdie slegte dinge nooit gebeur het nie.

 In my daaglikse stryd moet ek rekening hou met die effek wat my ou sondige lewe nog op my kan hê en dit dan deur die vernuwende krag van die Heilige Gees hanteer!

MAAK MY VERLEDE SAAK?

Kom ons vat net weer saam. Kind van God, wees verseker God het jou heeltemal vergewe, NEE, jou verlede maak nie saak nie! Dank God en wees bly!

Kind van God, ons is besig met ’n harde wedloop, daar is laste en sondes wat uit ons verlede voortkom, JA, ons verlede maak saak, ons moet dit besef en ons moet dit hanteer soos God  se Woord vir ons voorskryf. Laat ons eerlik wees en mekaar hierin help! Laat ons bo alles die oog hou op Jesus! 

Wat betref ons status  voor God en ons aanvaarding by Hom  speel ons verlede genadiglik hoegenaamd geen rol nie! Die kruis van Jesus het daardie verlede vir eens en vir altyd uitgewis. Wat betref my daaglikse keuses, besluite en stryd, moet ek deeglik rekening hou met die gevolge en oorblyfsels van my vorige sondige leefwyse. Gelukkig, deur die krag van die Heilige Gees kan ek oorwinnend daaroor leef. 

Om dit teologies korrek te stel : Wat ons vryspraak (justification)  betref, maak ons verlede glad nie saak nie! Wat ons daaglikse stryd van heiligmaking (sanctification) betref, maak ons verlede saak en moet ons eerlik daarmee rekening hou en daaraan werk! Daartoe stel God sy kinders instaat, deur die bekragtiging van die Heilige Gees!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.