BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag, 03 September 2013

KRUIS EN SWAARD

die onhoudbare en ongemagtigde bondgenootskap.






Hierdie gedenkteken op Swakopmund wys duidelik die "huwelik" tussen kruis en swaard uit!













MANNE OP DIE GRENS VAN ‘N CHRISTELIKE LAND?

Baie mense verlang waarskynlik terug na die ou bedeling in Suider-Afrika (weens ‘n verskeidenheid van redes), maar onder andere ook omdat hulle van mening is dat dit darem meer Christelik of bevorderlik vir die kerk was. “Ons het darem immers in ’n Christelike land gewoon” en “ons manne op die grens het ‘n Christelike stryd gestry” klink die moontlike nostalgiese mymering. Nou is dit so as mens verskillende politieke bedelings wil beoordeel raak dit baie moeilik om ’n objektiewe afstand te behou. Ons eie subjektiewe belewenisse speel onteenseglik ’n groot rol. Dis te verstane dat mense wat in die ou bedeling bevoordeel is, geneig sal wees om eensydig die Christelikheid daarvan raak te sien en blind sal wees vir die onregte wat gepleeg is. Dis ook te verstane dat mense wat voel dat hulle nou vir die eerste keer menswaardig behandel word, dalk kan dink dat die koninkryk van God deur die nuwe bewind bevorder word en geneig sal wees om kritiekloos die euwels in die nuwe bedeling mis te kyk. As ons egter erns maak met die Woord dink ek sal dit ons help om tot ’n baie meer nugtere en gebalanseerde verstaan van die werklikheid te kom. Die radikale en betekenisvolle uitspraak van Jesus in Johannes 18:36 kan ons baie hierin help.

"My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie," antwoord Jesus. "As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie."

Met hierdie uitlating van Jesus teenoor Pilatus tydens Sy verhoor wou Jesus hom laat verstaan dat al is Hy inderdaad ‘n koning, Hy nie skuldig is aan ‘n politieke opstand of ondermyning van die owerheid se gesag nie. Sy koninkryk is in ‘n ander sfeer en hou dus geen bedreiging vir Pilatus of die keiser in nie. Die bewys hiervoor is dat Sy volgelinge hulle geensins tot wapengeweld gewend het nie. Die frase “nie van hierdie wêreld nie” beteken Jesus se koninkryk is in ’n ander klas, maar ook van ’n ander oorsprong. (Johannes 8:23)

Hierdie woorde van Jesus bevat egter ook ‘n opspraakwekkend belangrike beginseluitspraak oor die aard en gestalte  van Sy koninkryk binne die konteks van die huidige aardse bedeling waarin ons leef. Hierin vind ons implikasies van hoe ons die koninkryk moet verstaan, ons verwagtings oor wat die koninkryk vir ons inhou in hierdie bedeling en die manier en middele waardeur ons Christus se koninkryk mag bevorder en uitbrei.

Jesus se woorde aan Pilatus was nie maar net sommer ‘n gerieflikheidsuitspraak om uit die moeilikheid te kom nie. Sy hele lewe en optrede het hierdie stelling gedemonstreer. Jesus se koninkryk is inderdaad nie van hierdie wêreld nie. Dit word deur talle voorbeelde in die Nuwe Testament uit sy lewe en woorde gestaaf :

~ Hy het nie toegegee aan die verwagtings van mense wat Hom koning wou maak nie; ‘n aardse aspirant koning sou so ‘n geleentheid aangegryp het. (sien Johannes 6:15)
~ Anders as ‘n aardse leier het Jesus nooit deur goedkoop propaganda of deur omkopery aanhangers  probeer werf nie. In vandag se taal : Jesus was nooit ‘n populis nie! Inteendeel Sy reguit ongewilde uitsprake het mense laat aanstoot neem en wegdraai van Hom.  (In Johannes 6 lees ons hoe Jesus se harde woorde die meeste van sy dissipels laat omdraai het)
~ Die konings van hierdie wêreld bou paleise en versamel rykdom. Jesus het in radikale kontras hierteenoor geleef. Hy is gebore in ‘n stal en het as volwassene beweer dat Hy nie eens ‘n plek het om sy kop neer te lê nie.
~ ’n Aardse koning vergader die vernames, sterkes en slimmes rondom homself. (en hou van fotosessies saam met “celebrities”) Mense wat nuttig kan wees in ’n magstryd, mense met invloed - maar Jesus? Hy roep die swakkes, eenvoudiges en uitgeworpenes... Ja, ’n kern groep van twaalf manne van wie een ’n verraaier sou word en die ander Hom almal in sy diepste nood in die steek sou laat.
~ Jesus se uitsprake oor die koninkryk, spesifiek die Saligsprekinge maak dit baie duidelik dat sy koninkryk radikaal verskil en in ’n totaal ander kategorie val. Hy sê byvoorbeeld dat die sagmoediges die nuwe aarde sal erf. Volgens menslike logika is dit eerder die sterkes en hardhartiges  soos Alexander die Grote, Napoleon en  Hitler wat ryke opbou en mag in die hande kry.
~ Aardse konings gebruik wapengeweld en bied teenstand teen alle opposisie. Jesus bied homself eintlik aan vir arrestasie en toe een van sy dissipels wel van die swaard wil gebruik maak, berispe Hy hom. (Johannes 18:10,11)
~ ’n Koning met ideale vir ’n aardse koninkryk wil so sterk as moontlik wees en so lank as moontlik lewe en aan bewind bly. Jesus lê die fondasie vir sy koninkryk deur swak te word (mens te word) en gedwee na die kruis te gaan om te sterf!

As onderdane van koning Jesus, is dit uiters belangrik om kennis te neem van ons Koning se houding teenoor hierdie wêreld. As burgers van hierdie buite wêreldse koninkryk moet  ons weer grondig nadink oor ons verhouding met hierdie wêreld en sy verwagte lojaliteite, sisteme en verbande.

GESKIEDENIS

Die tragiese geskiedenis van die kerk deur die eeue wys egter dat hierdie woorde van Jesus grootliks geïgnoreer is. As die kerk hierdie woorde ernstig opgeneem het en die praktiese implikasies daarvan  begryp en gehoorsaam het, sou die tragedie van die Kruistogte nie plaasgevind het nie. Dink ook aan die bloedige godsdiensoorloë tussen Katolieke en Protestante. (Inderdaad was die konteks en samelewingstoestande uiters kompleks en radikaal anders as vandag en moet ons baie spaarsamig wees met kritiek en tog mag ons nie blind wees vir die foute van ons helde nie) Die feit bly staan, die kerk het dikwels direk teen Jesus se voorbeeld en lering gegaan en haar tot die mag van die swaard gewend of goedgekeur dat andere dit namens haar doen. Deur die eeue het nasies God opgeeis vir hulle eie belange en selfs onbeskryflike wreedhede in die naam van God en Christendom gepleeg. Nog erger, die kerk het dikwels gehuiwer of heeltemal versuim om teen so ‘n valse staatsteologie te waarsku.

WAT VAN NOU?

Jesus se uitspraak is bepalend vir ons denke oor kerk en wêreld in verskeie opsigte :

Bepalend vir ons verstaan van die koninkryk en hoe dit ons verhouding met alle vorms van nasionalisme raak. Jesus se koninkryk is nie van hierdie wêreld nie en dus ook nie nasionaal of etnies gebonde nie.  Jesus se koninkryk is nie ’n politieke of ’n geografies/nasionale koninkryk nie. Dis nie net Pilatus wat onkundig was oor hierdie aangeleentheid nie, maar selfs Jesus se eie dissipels het lank gevat voordat hulle dit gesnap het. (Luister maar na hulle vraag in Handelinge 1:6) Die saak van die koninkryk mag dus nooit gelykgestel word aan die saak van enige land of volk nie. Wie dus stry vir die “Afrikanersaak” (of watse goeie saak ook al) kan dus nie sommer in dieselfde asem beweer dat dit outomaties oor die saak van God gaan nie. Ons kan dus ook nie sommer beweer dat die ou SA deel was van die koninkryk en die nuwe SA nie, of andersom nie... Om dus te sê dat die “manne op die grens” geveg het vir die behoud van die Christendom is nie Bybels heeltemal korrek nie*, maar om te beweer dat die sogenaamde bevrydingsbewegings in diens van God gestaan het en sy seën weggedra het, is natuurlik ewe absurd. Jesus het in elk geval nie aardse soldate en wapens nodig om die behoud van sy Koninkryk te verseker nie.  

Baie insiggewend, die kapelaansdiens van die ou SAW se kenteken was die bekende woorde wat met die visioen van keiser Konstantyn geassosieer word “in hoc signo”. (In hierdie teken m.a.w. die kruis sal jy oorwin**) Dis ‘n klassieke voorbeeld van hoe die kruis en die swaard saamgevoeg is. Meer nog, Konstantyn word in die kerkgeskiedenis gekoppel aan die begin van die ongesonde verbintenis tussen kerk en staat. (alhoewel die Christelike kerk eers in die tyd van keiser Theodosius staatskerk geword het)

Ongebreidelde nasionalisme en die selfsugtige soeke na eie belang doen baie skade aan die koninkryk se beeld. My oordrewe  nasionale trots en lojaliteite kan ’n hindernis vorm in die uitdra van die evangelie. Dit geld beslis nie net Afrikaners nie, maar ook Amerikaners wat byvoorbeeld na Afrika as sendelinge kom met ‘n houding van “back in the States” weet ons van beter en is alles groter!

Bepalend vir ons lojaliteite. Ons is mense en ons is dus deel van aardse koninkryke en ons moet gehoorsame burgers wees wat op geen manier aanstoot gee en die saak van die evangelie belemmer nie. Inteendeel ons optrede teenoor alle mense (ingesluit owerhede met wie ons dikwels nie saamstem nie) moet van so ‘n aard wees dat dit tot hulle bekering sal lei. Petrus was baie duidelik hieroor : “Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.
 Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is  of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys. Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, ‘n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat.” (1 Petrus 2:12-15) Ons werklike burgerskap is egter in die hemel. God se koninkryk. (Filippense 3:20) Ons lojaliteit aan koning Jesus moet dus voorrang geniet bo alle aardse affiliasies. Ek is dus in die eerste plek ’n Christen en dan eers Afrikaner, Duitser of Herero... Naaste aan my hart moet God en sy volk wees! (En ek sê dit as iemand wat baie lief is vir my Afrikaanse volk, geskiedenis en taal!)

Bepalend vir ons verwagtings ten opsigte van die staat.*** Jesus se Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie en Hy het ook nie die middele van aardse heersers gebruik om sy koninkryk te vestig nie. Hy het nooit gebruik gemaak van politieke vernuf, geweld en magspel nie. Hy het dus nie staatgemaak op menslike instellings soos regerings, wetgewing en die howe om Sy saak te dien en te bevorder nie. Ons moet dus ook nie onder die illusie leef dat wetgewing die evangelie en die Koninkryk kan bevorder nie. Natuurlik sal ons nooit kan bly wees oor anti Christelike wetgewing en staatspraktyke nie, maar aan die anderkant moet dit ons nie moedeloos maak asof die voortgang van die evangelie van die staat se goedgesindheid afhanklik is nie. Ons moet altyd onthou dat die lewenskragtige kerk van die Nuwe Testament geen amptelike ondersteuning van staatskant ontvang het nie. Inteendeel vir die eerste driehonderd jaar van die kerk se bestaan is die kerk dikwels in mindere of meerdere mate deur die staat teengestaan en bedreig en tog het die kerk gegroei. Natuurlik moet ons wel dankbaar wees as die lidmate van die kerk van Jesus in hulle aardse sfere van verantwoordelikheid (soos ook in owerheidsinstellings) die beginsels van die koninkryk uitleef en ‘n getuienis uitdra, maar die kerk as instituut mag nie ‘n magsliggaam word of homself in ‘n politieke party met aardse aspirasies omvorm nie.

Bepalend vir die metodes wat die kerk mag aanwend vir bevordering van die koninkryk van God. Jesus gebruik nie geweld, omkopery, magspel nie...die kerk mag dus ook nie. Jesus gebruik prediking en diens. Dis waarmee ons moet besig wees. Die groot troos is aan die anderkant, dat geen wapengeweld en menslike instellings die Koninkryk van Jesus kan uitwis nie. Menslike wapens is nie effektief teen die koms van die koninkryk nie! Die geskiedenis het dit bewys...

Bepalend vir ons verwagting met betrekking tot die huidige tyd en die toekoms. Jesus se koninkryk is nie van hierdie wêreld nie! Jesus  se koninkryk is iets heeltemal nuut en anders.  En hoor hier : Jesus se koninkryk is in streng aardse terme gemeet nie ’n voordelige koninkryk vir sy onderdane nie. Jesus het nie wapengeweld of ander magsmiddele gebruik om homself te beskerm en gerief of voordele te verseker nie. Hy doen dit ook nie vir sy volgelinge nie. Baie van Jesus se volgelinge verloor juis hulle burgerskapvoorregte, besittings en selfs hulle lewens weens aardse vyande. Jesus se volgelinge gaan verder ook gebuk onder dieselfde aardse ellendes wat alle mense teister soos siektes, rampe en misdaad. Weereens, Sy koninkryk is nie van hier nie. In hierdie bedeling, in hierdie wêreld moet ons nie gerief nie, maar eerder verdrukking verwag. (Johannes 15:19)  Toestande op aarde gaan nie verbeter nie, maar versleg! Gelukkig vind God se kinders te midde van alles vrede; weliswaar nie in verbeterde aardse lewensomstandighede nie, maar in Jesus self. Hy verklaar immers baie duidelik : “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin." (Johannes 16:33) Jesus se uitspraak beteken nie dat sy volgelinge apaties staan teenoor die wêreld nie, nee ons oorwin die wêreld deur getuienis, ons is ligdraers in die wêreld deur dade. Die koninkryk breek in die wêreld in en ons lewe in hierdie wêreld volgens die norme van die koninkryk. As koninkryksmense is ons sout en lig in die wêreld, juis omdat ons ons aan die wil van ons Koning Jesus onderwerp. Ons het ’n positiewe invloed op ‘n verskeidenheid van gebiede. Maar die koninkryk van God is van ’n ander oorsprong,  orde en aard as aardse koninkryke. Hierdie koninkryk van Jesus behels nie maar net ’n gedeeltelike hervorming van hierdie wêreld nie. In die finale sin behels sy koninkryk ’n nuwe hemel en nuwe aarde waarin geregtigheid sal woon. God sal tussen ons woon. Die finale koms van die koninkryk is daarom ‘n buite aardse Goddelike ingryping en iets waarna ons met verwagting uitsien, terwyl ons nou reeds ons ligte laat skyn. Om dit anders te sê : Die NOU is vir ons as Christene onteenseglik belangrik – ons moet nou reeds nuut leef, maar daar is ook ‘n sterk klem en verwagting op die EENDAG in die Nuwe Testament. Jesus se opstanding en kruisdood open ‘n nuwe toekoms wat eers met sy wederkoms volledig sal realiseer. Ons finale verlossing! Die twee sake mag nie van mekaar losgemaak of teen mekaar afgespeel word nie. Dis tog juis diegene wat ‘n lewendige toekomsverwagting het, wat ook met ‘n heilige lewe hier op aarde die grootste erns sal maak. (Johannes 3:1-3) In hierdie wêreld is ons vreemdelinge en bywoners wat uitsien na ons ewige vaderland, maar terwyl ons nog nie daar is nie, lewe ons positief op so ‘n manier dat ons die evangelieboodskap versier, om ander ook so na ons Verlosser te trek!

Mag Jesus se houding teenoor aardse mag en invloed ons weer nuut laat dink en leef!

*Hiermee wil ek hoegenaamd  nie insinueer dat dit verkeerd is om as Christen jou land teen ‘n Kommunistiese (of watter ander ook al) bedreiging te verdedig nie. Deelname aan die destydse diensplig was myns insiens ook nie ‘n sonde nie. Dit gaan in hierdie stuk oor kritiek op die naatlose gelykstelling van ‘n nasionale stryd aan ‘n stryd vir die koninkryk van God. Hieraan het baie nasies hulle al skuldig gemaak.
Dis baie interessant om te kyk na die vroeë Christene se houding teenoor militêre diens in die Romeinse leër. Wat die eerste 170 jaar betref is daar stilswye, maar daar is verskeie faktore wat in ag geneem moet word in die interpretasie van hierdie feit. Daar was redelike vrede in daardie jare in die Romeinse Ryk en gevolglik kon die leër deur vrywilligers aan die gang gehou word. Hierbenewens moet mens ook in gedagte hou dat die eerste Christene hoofsaaklik vanuit die geledere van Jode, slawe en vroue gekom het en hulle is in elk geval nie toegelaat in die Romeinse leër nie. Na 170 nC is daar wel berigte oor Christene wat diens in die leër gedoen en hulle getuienis daar uitgeleef het. Eusebius vertel van ‘n interessante gebeurtenis in 173 nC. toe die Twaalfde Legioen deur die vyand omsingel is. ‘n Ernstige waternood het ontstaan. Christensoldate in die Legioen het op hulle knieë geval en gebid. ‘n Donderstorm het losgebars en die soldate kon hulle dors les. Die weerlig het ook die vyand op die vlug laat slaan.
Kerkvaders soos Tertullianus en Origines het wel geskryf dat geen Christen militêre diens mag verrig nie. Hierdie houding moet mens egter verstaan vanuit die versoekings wat die religieuse aktiwiteite in die Romeinse leër meegebring het. Een hiervan was keiseraanbidding. Soldate moes ook deelneem aan teregstellings van Christene en ander heidense rituele. Die gevaar van kompromie was dus baie groot. Tog was daar in hierdie tyd Christensoldate wat vasgestaan het in hulle geloof. ‘n  Christen offisier, ‘n sekere Marinus is bevorder. Een van sy mededingers het hom toe gaan verkla omdat hy ‘n Christen was en nie offers aan die gode gebring het nie. Toe Marinus hiermee gekonfronteer is, het hy dit erken. Hy het die doodstraf gekry en sy mededinger die rang! Die vroeë Christene was dus nie pasifiste (anti weermag) nie, maar ook nie rewolusionêre (terroriste) nie! (inligting met erkenning aan Prof. Hennie Stander)

** in hoc signo vinces

*** Ek is deeglik bewus van die kompleksiteit van die beginsel oor die skeiding van kerk en staat en dat daar teen uiterstes gewaak moet word. Om artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis wat in ‘n totaal ander omgewing as ons huidige pluralistiese samelewings geformuleer is, vandag sinvol en Bybels te verstaan en toe te pas, is geensins eenvoudig nie. Jy is baie welkom om meer lig op die saak te werp en dit met ons te deel.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.