BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 24 Januarie 2013

JOHANNES DIE PADSKRAPERDRYWER?

- hoe om Ou Testamentiese profesie reg te verstaan.

Het Johannes die Doper paaie gebou in Palestina en grondverskuiwingswerk langs die Jordaan behartig? Natuurlik nie! Maar as mens die Ou Testamentiese profesie in Jesaja 40:3,4 in die streng sin van die woord “letterlik” sou opneem sou dit dalk die gevolgtrekking kon wees. Dit sê : “ ‘n Stem van een wat roep : ‘Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God! Elke dal moet opgevul en  elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word.’” Almal sal saamstem dat ons uit ‘n gedeelte soos Lukas 3:3-5 weet dat hierdie profesie verwys na die geestelik voorbereidingswerk wat Johannes die Doper gedoen het. Deur sy bekeringsboodskappe het hy die aanvoringswerk gedoen vir Jesus se bediening. Hierdie Ou Testamentiese profesie is geestelike beeldspraak of ‘n metafoor wat ons in die lig van Johannes en Jesus se bedienings moet verstaan! Om dit tegnies letterlik te verstaan sou belaglik wees en teen die boodskap van die Skrif indruis.

Maar dis presies wat so baie studente van die Ou Testamentiese profesieë doen. Hulle roem hulle daarop dat hulle die Bybel letterlik glo en toepas.  Nou natuurlik is daar baie Bybelse gedeeltes wat ons nie anders as letterlik mag verstaan nie, spesifiek die historiese gedeeltes in die Skrif. Bybelgetroue Christene is heeltemal reg om in die letterlike kruisdood en die histories liggaamlike opstanding van Jesus te glo. Maar aan die anderkant daar is daar wel baie gedeeltes in die Skrif wat ‘n metaforiese verpakking het, soos die voorbeeld van die profesie oor Johannes hierbo duidelik bewys. *

Dis baie duidelik dat ons in ons uitleg van die Ou Testament profesieë erns moet maak met die verstaan van beeldspraak en probeer verstaan wat dit sê oor die evangeliegebeure.

Kom ons kyk na nog ’n voorbeeld. In Jesaja 32:15 word gesê: “Dan word die woestyn ’n vrugteboord en word die vrugteboord so dig dat dit vir ’n bos aangesien word” Iemand wat streng letterlik na hierdie uitspraak kyk, sou kon beweer dat dit ’n voorspelling is van ’n produktiewe vrugtebedryf in die land van Israel. (En sou so ’n uitleg kon ondersteun deur die feit dat die moderne Israeli staat inderdaad ’n groot produsent van vrugte is.) Maar is dit die regte uitleg? Die teks self gee duidelik te kenne dat dit hier gaan oor die oorvloedige werking van die  Heilige Gees. Wie die heilsgeskiedenis ken sal onmiddelik besef dat dit met Pinkster in vervulling gegaan het. Die ontwikkeling van woestyn tot vrugteboord en vrugteboord tot bos vertel maar net vir ons van die oorvloedige werk van die Heilige Gees en die heerlike gevolge daarvan veral nadat Hy aan die kerk geskenk is! Uiteindellik lei dit tot 'n nuwe bedeling van reg en geregtigheid!

 ‘n Paar riglyne om in gedagte te hou vir die verstaan van Ou Testamentiese profesie :

~ Hou rekening met die ontwikkeling van die  groot Bybelse storielyn. Die heilsgeskiedenis soos dit in Jesus Christus ’n hoogtepunt bereik. (Sien LUGFOTO VAN DIE BYBEL op hierdie webjoernaal) Sien raak hoe die temas van land en volk, ’n ontwikkeling deurgaan en groter en dieper betekenis kry vanuit Jesus as die klimaksopenbaring van God.

~ Hou rekening met die figuurlike taal en metaforiese aard van die profesieë. Veral in Bybel boeke soos Sagaria, Daniël en Openbaring word apokaliptiese beelde (perde, koppe, horings ens.) gebruik. Om dit letterlik te verstaan sal net tot nagmerries ly.

~ Hou rekening met die feit dat die profete woordeskat en gebeure wat vir hulle eerste lesers bekend was gebruik om toekomstige gebeure en geestelike warhede te beskryf. Destyds is daar oorlog gemaak met perde. Dit beteken nie dat orals wanneer die profete van perde praat, dat hulle daarmee sê dat toekomstige oorloë ook met perde gevoer sal word nie.

~ Hou rekening met die herhaling van Bybelse temas en gebeure wat aangewend word om toekomstige gebeure te beskryf soos die Skepping, Paradys, Sondvloed, die Uittog (Eksodusgebeure).  Daar kom ‘n nuwe skepping, die paradys word herstel, daar word weer ‘n verwoestende oordeel verwag (hierdie keer deur vuur), Jesus bewerk ‘n nuwe Eksodus ens. Nie net gebeure nie, maar ook historiese persone word gebruik om persone van die toekoms te beskryf. Elia word gebruik as ’n beskrywing vir Johannes die Doper. Josua, Dawid en Serubabel help ons om Jesus se persoon en werk beter te verstaan.

Wat van ‘n toekomstige tempel in Jerusalem?

Ook Ou Testamentiese instellings soos die hoëpriesterskap, offers en die tempel vind in Jesus hulle vervulling. ‘n Toekomstige tempel speel ‘n belangrike rol in die Ou Testamentiese profesieë soos byvoorbeeld in Jesaja 2:2 wat lees: “En aan die einde van die dae sal die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom.” Vind ons nie hier ‘n letterlike voorspelling of vereiste dat mense na die hedendaagse land van Israel moet reis om God te leer ken? Nee, ons leer God alleen ken deur Jesus, wat alle offers, alle priesters en ja die tempel self vervang het!  (Dis so duidelik uit die Johannes evangelie) Nooit weer sal die vrygekooptes deur die Bloed van die Lam behoefte hê aan ‘n fisieke tempel nie – ook nie die sogenaamde vierde tempel waarvan sommige praat nie! Daar skort mos niks met Jesus se werk nie! Watter bydra kan enige tempel nou lewer om ons nader aan God te bring?  Geen toekomstige tempel kan ons ook Jesus se werk beter laat verstaan nie, want dis die werk van die Heilige Gees om ons van die waarheid en genoegsaamheid van Jesus te oortuig! 

Die volle heerlikheid van God is sigbaar in Jesus Christus – ‘n aardse tempel sal dus nooit meer nodig wees nie!

Daarom meld Openbaring 21:22 uitdruklik ten opsigte van die nuwe Jerusalem : “ ‘n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige en die Lam.”

Mag niks ooit ons fokus wegneem van die volle genoegsaamheid van ons Verlosser, Jesus Christus nie!

*Om net te sê dat ons die Skrif "letterlik" moet verstaan is 'n oorvereenvoudiging. Daar is verskeie literatuursoorte in die Bybel (genres) en dit bepaal die wyse van interpretasie. So is dit logies dat ons nie 'n gelykenis letterlik moet verstaan nie (om te wonder wat was die barmhartige Samaritaan se naam of ouderdom is sinneloos), maar daar is wel baie dele wat inderdaad letterlik moet verstaan word omdat dit aanspraak maak om byvoorbeeld ooggetuie verslae  of geskiedskrywing te wees. 





Oppad na Tsintsabis

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.