BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 14 Februarie 2012

SIEK EN SAT VIR "CELEBRITIES"

Ons liggame verduur ongelukkig baie tipes besoedeling. Dis lugbesoedeling, waterbesoedeling, geraasbesoedeling... en vele meer. Nog erger en dalk met erger gevolge is die “Celebrity besoedeling” waarmee ons sintuie en siele gepynig word! Tot satwordens toe, word ons gebombardeer met sepiesterre, sangsensasies, rugbyreuse en politieke ikone en wie weet watter ander glansganse se onbenullige lewensbesonderhede en onbybelse lewensbeskouings! Nou dat die Woord van God grotendeels sy plek in ons volkslewe verloor het, is hulle die groot lewenskenners en beraders! Ons word opgesaal met hulle skandes en skeisake, hulle hofgedinge en bekgevegte! Om een of ander rede is hulle babas mooier, hulle hartsere belangriker en hulle sondes sappiger as ons gewone sterflinge s’n. Dit moet eenvoudig op die voorblaaie... (Nou ja, Huisgenoot se joernaliste moet seker ook eet...)

Op ’n ernstiger noot. Waarom dink ek behoort ’n Christen nie mee te doen aan Celebrity verering nie? Oorweeg en bedink die volgende :

Die “Celebrities” het die de facto gode van ’n groot deel van die Afrikanervolk geword! (en seker die meeste ander Westerse gemeenskappe) Wat hulle sê is belangriker as wat God in sy Woord beveel. Hulle bly mos ons mense se helde al minag hulle God se opdragte deur hulle onsedelikheid en lastering. Die “Idols” kompetisie is eintlik ’n baie raak beskrywing. Arrogante mensgemaakte afgodjies. Om enige mensgemaakte god te vereer is ’n gruwelike sonde wat God se toorn oproep. Dis ’n konkrete voorbeeld van die verering van die skepsel in plaas van die Skepper! (Romeine 1:25) Laat ons net weer onthou : God deel sy eer met niemand nie. Dit moes koning Herodus op die harde manier leer toe hy wurmkos geword het! (Handelinge 12:22,23) Is dit dan snaaks dat soveel van Suid-Afrikaners se afgodjies baie hard van hulle troontjies afgestamp word?

Die “Celebrities” teken vir ons ’n valse defenisie van sukses en geluk. Hulle is die mense wat nou kastig die “lewe” ervaar! Hulle het so ongemerk ons (en ons kinders se) rolmodelle geword. As ons motors, huise en lywe nie soos hulle s’n kan lyk nie, voel ons soos mislukkings. Die Celebrities met hulle blink motors en (skamelgeklede) blink lywe propageer egter ’n boodskap wat direk indruis teen die Bybelse boodskap van wêreldversaking. (1 Johannes 2:15-17; Jakobus 4:4) “Lewe” is om God te ken en is nie afhanklik van die oorvloed van ons besittings nie!

Die “Celebrities” kom weg met “moord” en maak ons gewoond aan morele verval as aanvaarde norm. ’n Celebrity mag maar ’n roekelose rokjagter met ’n rekord van ‘n streep gebroke vroue (en buite egtelike kinders) wees! En selfs ’n Christelike radiostasie speel nog steeds sy musiek! Solank ’n Celebrity kan sing of drieë druk bly hulle mos ons helde! En so geleidelik het hulle optrede ’n groot rol gespeel om sondes soos homoseksuele lewensstyle, huweliksontrou, losbandigheid (saamblyery) en materialisme aanvaarbaar te maak!

Die “Celebrities” en hulle media meelopers is sensasiebeluste geldjagters wat ons “besteel”. (En hulle vang ons so maklik). Hulle ken die kuns om na ’n koerant of tydskrif te hardloop met ’n tranetrekker skinderstorie as die geld om hulle uitspattige leefstyle voort te sit bietjie min word. (Of skryf ’n niksseggende voortydige outobiografie!?) Hulle weet baie goed om kunsmatig ’n mark te skep vir nuuskieriges wat bereid is om te betaal vir die bevrediging van daardie nuuskierigheid. Dis ’n skreiende aanklag teen die agteruitgang van ons waardesisteem, dat ons bereid is om miljoene Rande aan vermaaklikheidsterre te bestee, maar daar is nie geld beskikbaar vir ordentlike onderwys in ons land nie.

Die “Celebrities” verkondig ’n verdraaide evangelie. Die gevaarlikste “Celebrities” is nie die wat openlik goddeloos is nie, maar die wat slim genoeg is om ’n Christelike sousie oor hulle beeld te gooi en so die harte te wen van liggelowige Christene. Dis kom neer op die uitbuiting van die (oorblywende) Christelike sentimente van die Afrikaner. By nadere ondersoek is dit duidelik dat hulle idee van Christenskap nie strook met die Woord nie. Die variasie van Christenskap wat hulle aan ons opdis gaan hand aan hand met gewildheid, rykdom en mensgesentreerde sukses! O, en kerke nooi hulle so graag vir praatjies! En inderdaad is dit leë praatjies! Kom niemand dan agter dat Jesus nie met hierdie tipe Christenskap versoen kan word nie? Hy was nie gewild nie, maar verworpe, nie ryk nie, maar arm... in die oë van die wêreld eindig sy lewe in die grootste mislukking, die skandedood aan die kruis! Ons word opgeroep om saam met Hom as uitgeworpenes buite die laer te ly en sy smaad te dra! (Hebreërs 13:13,14)


Dis dalk tyd dat Jesus se volgelinge duidelik laat hoor : “Ons is siek en sat vir Celebrities!” Dis tyd dat ons eerlik raak oor morele naaktheid en waag om te sê : “Die keiser(s) is kaal!” Ons moet hulle raaksien vir wie hulle is, mensgemaakte afgode! En ons moet bely (ek ook) : “Here vergewe ons dat ons so maklik mense op ’n troon plaas of onsself met hulle ongeregtighede besoedel!

Skryf ek nou alle “Celebs” af? Is alle glansganse gans en al af te skryf? Natuurlik nie! Ook vir hulle is daar genade, as hulle hulle bekeer! Kan ons alle openbare figure onder dieselfde kam skeer! Nee, ek glo nie so nie, orals kry mens God se kinders. Hy alleen ken die harte.

Maar dis wel baie duidelik : Die kind van God moet ver bly van die Celebrity kultuur en verering. Die Woord van God lei ons direk in ’n teenoorgestelde rigting as ons lees :

“Skaar julle by die nederiges...”
(Romeine 12:16)


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.