BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 16 April 2012

DIE DUIWEL SE BYBEL

- Satan se slinkse misbruik van die Skrif

Ja, jy het reg gelees. Die duiwel het ook ’n Bybel! En, nee, dis toe nie die Huisgenoot nie! Die skokkende feit is juis dat Satan heel dikwels van  presies  dieselfde Bybel as ons gebruik (eerder misbruik) maak. As dit dalk vir jou vreemd klink, gaan lees maar gerus weer die gedeelte in Matteus 4:1-11 waar Jesus in die woestyn deur die duiwel versoek is. In vers 6 lees ons hoe Satan twee aanhalings uit Psalm 91 maak om Jesus te probeer oorreed om van die tempel se hoogste punt af te spring. Ewe manhaftig sê die duiwel dan vir Jesus : “Daar staan mos geskrywe...” Natuuurlik kon Jesus Hom terug antwoord uit die Woord deur te sê : “Daar staan ook geskrywe: ‘Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.’” Satan haal die tekste uit Psalm 91 wel korrek aan, maar gee ’n vals betekenis daaraan asof God se beloftes van beskerming sou beteken dat ons opsetlik maar kan toets of dit wat God sê waar is. Jesus wys hom dan duidelik uit die Woord dat sy gebruik van die teks teen God se bedoeling is. Satan het doelbewus Jesus probeer mislei uit die Bybel om Hom weg te hou van God se bedoelde lydensweg. Hy stel Jesus voor ‘n maklike pad van kitsroem, want as Jesus van die tempel sou afspring, sou almal Hom as iets besonders geëer het. So sou Jesus weggelok word van die doel van sy koms naamlik sy plaasvervangende sterwe aan die kruis.

Satan misbruik God se Woord veral deur dit buite konteks te gebruik en ’n vals op-die-klank-af betekenis daaraan te heg. Kom ons kyk net na vier voorbeelde:

Matteus 7:1 “Moenie oordeel nie” Hierdie is ’n geliefkoosde skuiwergat wat Satan bied vir mense wat nie aangespreek wil word oor hulle sonde nie. As hulle tereggewys word,  is hulle gou om terug te kap : “Onthou die Bybel sê  jy mag nie oordeel nie.” Dis ook ’n gerieflike verweer vir die morele relatiwis wat beweer dat die Bybel geen norme en standaarde het nie en dat niks meer sonde is nie. Maar wat sê Jesus regtig hier? Hierdie vers kan onmoontlik beteken dat Christene geen sedelike beoordeling of onderskeid tussen reg en verkeerd mag maak nie. Sonder enige norm sou dit in elk geval sinneloos wees om van “balk en splinter” te praat, want dan is als mos maar ewe reg! Verder aan in Jesus se gesprek is dit baie duidelik dat daar van ons  inderdaad verwag word om onderskeid tussen reg en verkeerd te maak as Jesus waarsku teen die vals profete. (Vers 15)  “Pas op vir die vals profete” Beoordeling van hulle dade is belangrik, want Jesus gaan voort om te sê : “Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ’n slegte boom dra slegte vrugte.”  So ’n uitspraak van Jesus sou geen sin maak, as ons nie instaat kon wees om te onderskei tussen goed en verkeerd nie!  Wat Jesus wel verbied is skynheilige foutvindery van mense wat self nie ontsag vir God se oordele het nie. Ons moet besef dat onsself ook deur God beoordeel word. Wie die erns hiervan besef sal allereers erns maak met sy eie lewe. Paulus se opdragte in 1 Korintiërs 5 stel dit ook duidelik wat die regte vorm van “oordeel” is wat God se kinders moet beoefen. Daar moet dissipline, toesig en tug binne ’n gemeente wees. (1 Kor 5:13 NAV)  “Maar julle moet oor julle eie mense oordeel : ‘Verwyder die slegte mens onder julle uit!’” Snaaks dat niemand hierdie teks aanhaal nie!? Is die rede dalk mensevrees? En om hierdie mensvrees weg te steek skuil ons maklik agter ‘n oppervlakkige lees van Matteus 7:1?

1 Tessalonisense 5:21 “Beproef alle dinge...”  (OAV) ‘n Kansvatter sou dalk hierdie teks as verskoning wou gebruik om al wat ‘n sonde is, uit te probeer! Hier staan tog immers “alle”  dinge! Kan dit wees? Moet ek proe aan dronkenskap of ‘n slag my geluk by die dobbelhuis toets? Die belangrikheid van die konteks vir ‘n gesonde verstaan van die Skrif word hier weereens duidelik gedemonstreer. Wie net die vorige vers lees sal agterkom dat dit hier gaan oor die beoordeling van profetiese uitsprake. Ja, ons moet erns maak met die profesie, maar ons het die verantwoordelikheid om dit te beoordeel. En die maatstaf van beoordeling is God se Woord. Dis nie nou die plek om in te gaan op wat die Nuwe Testament met profesie bedoel nie. Maar ongeag mens se opinie oor hierdie saak is dit baie duidelik dat hier geen groen lig gegee word om allerhande sondes of skadelike dinge uit te toets nie. As iets teen God se Woord is moet ons alleenlik maar daarvan af wegvlug en dit met alle mag vermy! (2 Timoteus 2:22)

Johannes 10:28  “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”  Dis inderdaad ’n wonderlike belofte wat waar is, maar die duiwel gebruik dit om ’n valse gerustheid aan onbekeerde (of vals bekeerde) mense te gee. Hoe so? Hierdie belofte gee Jesus  nie sommer aan elke Jan Rap en sy maat  nie, maar net aan Sy skape. Die vers net voor vers 28 is baie duidelik, waar Jesus sê : “My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My.”  Van hulle - gehoorsame volgelinge van Jesus,  en net hulle word gesê dat hulle onaantasbaar veilig in Jesus se hand is. Die stelling : “Eenmaal gered, altyd gered” is ’n kosbare Bybelse waarheid, maar as daar hoegenaamd nie ’n “eenmaal” in my lewe was nie, kan ek tog ook nie die “altyd” op my van toepassing maak nie. Wat bedoel ek? Baie mense het op ’n stadium een of ander oppervlakkige emosionele ervaring (dalk op ’n kamp of tydens ’n moeilike tyd in hulle lewens)..., maar dit was in die verre verlede en hulle huidige lewe toon geen tekens van ’n wandel met Jesus nie. Oor ’n lang tydperk blyk dit dat daar geen diepgaande lewensverandering plaasgevind het nie. Dit was bloot ’n verbygaande gevoel en ’n kortstondige belewenis. As sulke mense op ’n teks soos hierdie vertrou, is dit ’n gevaarlike mistasting. Hulle leef ver van God af, maar troos hulleself met ’n belofte wat eintlik glad nie op hulle van toepassing is nie. Die oplossing is om eerlike selfondersoek te doen en met opregtheid na Jesus te kom, alleenlik op Hom my vertoue te stel en in dankbaarheid Hom te begin gehoorsaam. Dan kan ek op hierdie kragtige belofte en ander soortgelyke beloftes (soos Filippense 1:6) staatmaak!

Spreuke 18:21 “Dood en lewe is in die mag van die tong” Dis ’n basisteks van die “Spreek Lewe” dwaling  wat tans baie mense (en ook opregte Christene) op sleeptou het.  Hierdie dwaalidees kom nie uit ’n gesonde nugtere verstaan van die Woord nie, maar is versinsels van die Word of Faith Movement. Satan misbruik hierdie teks om mense te laat glo dat ons skeppingskrag in ons woorde het. Dis natuurlik ’n New Age leuen!

Laat ons dit duidelik sê : Die mens het nie bonatuurlike skeppingskrag in sy woorde nie. Net God kan ’n magswoord spreek soos byvoorbeeld by die skepping : “Laat daar lig wees!” (2 Korintiërs 4:6) Net God kan ook die lig in ‘n donker hart laat skyn!

Wat beteken  hierdie teks in Spreuke dan?  Onthou die boek Spreuke gaan oor praktiese alledaagse wysheid. Dit gaan hier bloot oor ’n waarskuwing om versigtig te wees wat ons sê. Los (en baie ) pratery, skinder, beledigings en leuens het verskriklike gevolge. Verkeerde woorde uit ’n mens se mond kan groot skade aanrig en ja, selfs die dood veroorsaak. (’n Koning kon byvoorbeeld ’n doodsvonnis oor iemand uitspreek en so ’n persoon se lewe beëindig of dwase rebelse  praatjies kan jou in die moeilikheid by die owerhede laat beland en dit kon ook jou lewe kos) Dis die konteks waarin hierdie uitspraak gemaak word. (Sien ook vers 6-8) In die Nuwe Testament spreek Jakobus hoofstuk 3 wat handel oor die tong hierdie selfde tema aan en die boodskap is : “Beheer jou tong!”

Dit beteken hoegenaamd nie dat ons woorde ’n soort van magiese krag  het nie. As dit dan nou kwansuis ’n “geestelike wet” is, hoekom gaan hierdie ouens nie na hospitale en begraafplase en wek almal wat dood was weer op nie? Hierdie mense het inderdaad al groot hartseer en verwarring  met hulle dwaalleer veroorsaak. Ds. Maritz van Koppies, wat self pynlike ondervinding hiervan het,  vertel : “Toe ek die tyding gekry het dat my seun verongeluk het en reeds breindood is, het ek op die stoel neergesak en gebid: ‘Ag Here, tog nie nog ‘n kind van my wat sterf nie!” Iemand sê toe: ‘Moenie so dood spreek nie; spreek lewe oor die kind!’ My seun se brein was reeds drie ure sonder suurstof en ek het geweet wat dit medies beteken.” 

Die Word of Faith Movement dink dat mens God kan beveel, eintlik gaan sommige nog verder en dink dat die mens self ’n klein godjie is! Die kernmotief agter  hierdie dwaling is die menslike soeke na mag. (dink maar aan wat in die tuin van Eden gebeur het) Hy wil graag vir homself die lewe so gerieflik moontlik te maak en misbruik geloof om vir homself gesondheid en welvaart op aarde te verseker. Vir meer agtergrond oor hierdie dwaling lees gerus : “Man as God - The Word of Faith Movement” deur Rev. Curtis I. Crenshaw.

Ten slotte : God se Woord is kosbaar en lewegewend. Maar pasop in die hand (mond) van die Satan bring dit die dood! Daar is soveel tragiese voorbeelde hiervan. Daarom is dit nodig dat ons die Woord binne sy konteks, bedoeling en geheelinhoud sal verstaan. (kliek : LUGFOTO VAN DIE BYBEL) God het vir hierdie doel die gawe van waarheidsleraars deur al die eeue aan sy kerk geskenk. Vir die kind van God is dit dus uiters belangrik om deel te wees van ‘n gemeente waar die Woord in waarheid verkondig en uitgelê word.

6 opmerkings:

  1. Ek gaan nie aalval nie, net my eie ervaring deel.

    Bitter moeilik om te sê en oor te dink. Uit ondervinding glo ek in positiewe energie - nou nie chakras nie. Maar lewe spreek - ja. Nie om God te beveel nie - ek stem saam. Maar om positief te bly.

    "The Lord giveth, the Lord taketh away. Blessed be the name of the Lord". Dit kan wel in hartpyn wees, maar let wel dat dankbaarheid nog steeds gegee word aan God. Wanneer ons in Christus bly dan is ons blydskap volledig - ons hoef nie negatief te praat nie want ons het DIE geluk in die lewe, die LEWE en dit alles in oorvloed.

    Ek lei aan depressie vir baie jare en praat uit ondervinding uit negativiteit. Ek gaan nie die evangelie "sugar-coat" nie maar bly by die blye boodskap van die Bybel, dit is nuwe lewe in Christus. Ek is tans op anti-depressante en het besef dat ek nie "dood" oor myself moet spreek nie. Christus het my vry gemaak en ek is verlos deur Sy bloed - waarom moet ek myself dan nog laster en myself jammer kry? En con tre! Wanneer ek in Christus bly is my blydskap volkome.

    Moenie dood spreek nie - spreek CHRISTUS want hy is die lewe!

    Liszt

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Anoniem, ek hoop regtig dat ons mekaar goed sal verstaan. Baie beslis het 'n kind van God rede om positief en bly te wees in ALLE OMSTANDIGHEDE! Baie beslis pas negatiewe praatjies en klaery nie by 'n kind van God nie! Ons positiewe blydskap is gebou op die evangelie feite, naamlik Jesus se plaasvervangendxe sterwe en opstanding! Die gevolg hiervan is dat ons volkome vergewe is en dat God ons as sy kinders aangeneem het en dat ons kan uitsien na 'n ewige erfenis! Dis wat jy heeltemal, korrek die nuwe lewe in Christus noem! Jy is ook heeltemal reg dat ons nie onsself moet laster en jammerkry nie! Die Lewe spreek fenomeen gaan egter daaroor dat dit as 'n suksesresep ('n tipe towerstaffie) gebruik word om probleme op te los! Dis 'n heidense geloof in die magiese krag van woorde. Dit lei tot hartseer gevolge as mense byvoorbeeld in ontkenning leef oor 'n siekte en dink hulle kan dit regmaak deur net lewe te spreek! Nee, ons kan wel bid en die Vader vra om ons te help, maar dit bly Sy besluit volgens Sy wil! Die lewe in oorvloed, is nie 'n aardse superlewe nie - dis volkome vrede, vergifnis en aanvaarding in Jesus... en ja die belofte van 'n nuwe liggaam hierna wat in ewige heerlikheid by die Here sal wees! In hierdie aardse lewe is ons lewens nog stukkend - ons lei aan siektes, ons word soms geteister deur armoede, dis die realistiese werklikheid, maar BINNE in hierdie dinge leef ons reeds as oorwinnaars deur God se liefde!

      Ons moet inderdaad nie negatief praat nie, maar ons kan maar eerlik wees - dis nie verkeerd vir 'n Christen om byvoorbeeld te erken as hy siek is nie!

      Depressie is 'n komplekse saak. (lees gerus PROFEET ONDER DIE BOS) Baie liefde, sterkte en vrede vir jou!

      Vee uit
  2. Liewe Johannes

    Jy raak nou 'n baie teerpunt aan wat baie (Die oorgrote meerderheid van die kerk vandag) warm onder die kraag sal maak. Ek verwys nou spesifiek na jou uitleg van Spreuke 18:21. Hulle wil hulleself daardie mag toeeien. Hulle wil nie in volle afhanklikheid op God in gebed vertrou nie. Hulle wil hoor dat HULLE die mag het om enige werklikheid te skep (natuurlik volgens HUL wil nie noodwendig God sin nie). Hulle (sondaar mense uit genade gered) wil hoor dat HULLE NET SOOS God dinge kan skep (ROM 4:17 uit konteks geruk) want hulle is klein gode. Dit is die evangelie van SELF. SELF se mag, SELF se krag. Hulle het die ontsag vir God verloor.

    Hoekom het hulle in elk geval God nodig as Hulle op HULLESELF en HULLE woorde kan vertrou. Ek het juis gisteraand die radio (tot my spyt) aangeskakel op 'n christen stasie en 'n klomp jong manne het juis oor die dwaaling "Wysheid" met mekaar gedeel. Die opsoming van die radio program en wat ek baie uit die Spreuke 18 kringe hoor is dat as jy jou realiteit erken dat jy in ongeloof en dooie geloof handel. Jy moet byvoorbeeld al voel jy siek dit ontken (LIEG in ander woorde), want as jy dit erken maak jy dit erger en gaan jy nie genesing kry nie omdat jy 'n "negatiewe woord" daaroor gespreek het. By hulle bestaan daar nie iets soos jou ongewenste realiteit na God toe te neem, te bid daar oor en te glo dat HY jou realiteit bonatuurlik kan verander in 'n beter realitiet nie. Dis mos hoekom 'n getuienis so bemoedigend is want jy hoor hoe het God iemand se ongewenste realiteit bonatuurlik verander in iets beter. En wie kon die Eer toe? God natuurlik want hyt die werk gedoen, nie die mens met sy "kragtige" woorde nie.

    Die vrou met bloedvloeeing het erken sy het 'n probleem (nie gelieg daar nie) en in geloof na Jesus toe gegaan. Syt nie in die huis gebly en op haar uie positive confession vertrou nie. En dis die probleem met die kerke (waarin ek self was vir baie jare was) wat die goed preek. God is nie meer God nie. Hy is 'n buddy wat ek rond kan order volgens "geestelike wette" en die kragtelose buddy is verplig om rond te spring volgens MY WIL en wat EK IN DIE GEESTELIKE realm "inspreek". Ek sal erken baie mense wat die goed glo is regtig lief vir die Here maar dit maak nie hulle dwaling reg nie.

    My gebed is dat mense die leuen agter dit sal sien, om jou artikel te sien is 'n groot vreugde vir my wat ek min kry in vandag se misleide kerk.Hopelik sien ander dit ook raak. en natuurlik is al jou ander punte ook in die kol maar die spreuke 18 dwaling is iets wat my na aan die hart le.

    Groete in Christus

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie broer/suster vir die bemoediging! Ek sal darem tog graag wil weet wie jy is...
      Groetnis

      Vee uit
  3. Hi Johannes, My naam is Theodore van Bellville in Kaapstad. Groete,

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.