BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 01 Oktober 2012

LIEFDE DEUR DIE LIGGAAM

- Jesus is so aktief op aarde.

Die kinders van God op aarde vorm saam een liggaam.  Dis ‘n diep Bybelse  waarheid, met geweldig heerlike praktiese implikasies.
Dis nie maar net ‘n mooi teorie nie. As julle my sal verskoon om persoonlik te raak : ons het hierdie waarheid die afgelope tyd (met my Pa se afsterwe en begrafnis) op ‘n besonder positiewe manier beleef. In die ondersteuning, meelewing en sorg wat ons ontvang het van ons eie gemeente, die NGK Tsumeb, maar ook van die NGK Kerk Meersig in Walvisbaai en van ‘n ryke verskeidenheid van God se kosbare kinders. Kom ons dink bietjie oor hierdie belangrike saak vanuit die bekende 1 Korintiërs 12.*  Ons kyk na ‘n paar feite oor die liggaam, ‘n paar foute wat reggestel word as ons die realiteit hiervan besef,  en die voorreg en vreugdes wat deelwees van die liggaam meebring...

FEITE 

Kinders van God vorm nie net ‘n liggaam in die algemene sin van die woord nie, maar  spesifiek die liggaam van Jesus Christus  op aarde. (12;27) Dis ’n feit.  Ja, Jesus het opgevaar hemel toe, maar in ‘n sekere sin is Hy steeds daagliks sigbaar en tasbaar hier op aarde  teenwoordig. Natuurlik deur sy Heilige Gees, maar ook in die sigbare gestalte van die ware kerk. 

Die oomblik as jy wedergebore word, word jy deel van die liggaam van Jesus. Dit raak sigbaar en formeel bevestig as die Here jou by ‘n  gemeente voeg. (Handelinge 2:47) En wonderlik, so  is Jesus self  betrokke deur jou. 

Jy word inderdaad ‘n kanaal van Jesus se liefde!

Ons moet die kerk as liggaam van Jesus ernstig opneem. Vir Jesus self is dit geen geringe saak nie. Ons kry ‘n treffende bewys hiervan  as Jesus die onbekeerde Paulus oppad  na Damaskus ontmoet en konfronteer : “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” (Ons weet Paulus het nooit eers vir Jesus op aarde gesien nie. Hy het wel die kerk vervolg en Jesus beskou dit as vervolging van homself.) Dis duidelik : Wat jy aan die kerk doen, doen jy aan Jesus, wat jy vir die kerk voel, voel jy vir Jesus - dis sy liggaam!  Ons durf nie Jesus losmaak van sy kerk nie. 
Dis onmoontlik om te sê : “Ek neem Jesus ernstig op, maar ek voel nie veel vir sy liggaam nie.”  Dis absolute onsin om te beweer :“Ek het Jesus lief”, maar ek het nie Sy liggaam die gemeente lief nie. Of, “ek het Jesus lief”, maar ek beoefen my totale Christenskap voor die TV as ek daar na ‘n diens kyk en ek wil nie by ander kinders van God betrokke raak nie.

Twee verdere belangrike feite oor die liggaam word hier uitgelig : Eenheid en diversiteit. Anders gestel : ons is ten nouste saamgebind, maar ons is nie presies dieselfde nie, ons verskil in baie opsigte. 

Die eenheid word beklemtoon deur die feit dat ons met dieselfde Gees  gedoop is en dat alle kinders van God dus deur dieselfde Gees deurdrenk word. Dis so heerlik! As ek ‘n kind van God is, woon die Heilige Gees mos  in my. As jy ‘n kind van God is woon die Heilige Gees ook in jou - dis dieselfde Heilige Gees. Hy is een.  So ontstaan daar ‘n diep band van eenheid tussen God se kinders. Dis groter en sterker as kulturele of selfs familiebande.  Hierdie eenheid is dus nie ‘n kunsmatige geforseerde saak nie, maar ‘n bonatuurlike band en eenheid wat deur die inwonende Heilige Gees bewerk word!

Maar daar is ook ‘n heerlike en nuttige diversiteit in die liggaam van Jesus. (14) Dis nie maar ‘n toevallige verskynsel nie, dis deel van die essensie van liggaam wees. Dis ‘n onontbeerlike noodsaaklikheid. Geen enkele lid kan volledig liggaam op sy eie wees nie!  Immers hoe lank dink jy sou ‘n oog of hand op sy eie kon oorleef? Die verskillende gawes en funksies in die liggaam moet ons nie jaloers maak of minderwaardig laat voel nie, maar laat juig!

FOUTE

As ons die feite oor Jesus se liggaam ernstig opneem sal dit ons van ten minste twee foute of  bose sienings bewaar. Aan die eenkant  van hoogmoed en baaspelerigheid. Ek durf nie myself bo ander lede met ander funksies en gawes ag nie. Ek mag onder geen omstandighede hoogmoedig raak oor die gawes wat ek ontvang het nie, want die Here het vir elkeen van sy kinders gawes gegee om ‘n spesifieke rede. Wat my gawe ookal is, ek het dit ontvang om die res van die liggaam te dien. Die oog kyk nie net ter wille van homself nie, maar hy kyk juis sodat die hand en voet hulle werk kan doen. Ons gawes is bedoel vir diens aan ander en nie om ons eie eggo’s op te pomp nie. (Vgl. 1 Petrus 4:10) Geen leraar mag ook dink : "Hierdie is my kerk nie" Nee, dis bloot 'n deel van die liggaam van Christus ir wie ek moet bedien!

Die feit van die verskeidenheid van gawes moet ons ook bewaar van minderwaardigheid en gevolglike onbetrokkenheid. As jy deel van die liggaam is, het jy beslis ’n funksie. Net soos ’n oor, oog, been, hand vanselfsprekend elkeen ’n werk het, kry jy onmiddellik ’n werk en ’n plek in die gemeente, die oomblik as jy deur die geloof aan Jesus verbind word. Dis daarom nie ‘n kwessie  of jy ’n werk het nie, jy het dit, miskien voer jy dit nog net nie uit nie! Miskien is jy in opstand teen jou taak. 

As ons nie erns maak met ons plek en funksie nie, is daar twee ernstige negatiewe gevolge. Dit gebeur ongelukkig elke dag voor ons oë!

Onbetrokkenheid het ernstige gevolge vir die liggaam. As ’n enkele liggaamsdeel disfunksioneel word, is daardie hele liggaam gebreklik en minder effektief. Ander dele word ook oorwerk, moedeloos of raak geestelik siek weens jou afsydigheid. Ons lewer dan maklik kritiek oor die gemeente wat dit of dat verwaarloos, maar dis dan al die tyd my eie skuld dat die liggaam nie behoorlik funksioneer nie!

Onbetrokkenheid het ook ernstige gevolge vir jou as onaktiewe liggaamsdeel. Ons weet as ‘n liggaamsdeel nie meer gebruik word nie soos byv. ‘n been wat baie lank in gips is, atrofeer dit. Dit krimp sommer weg! Onbetrokke lidmate, raak dikwels heeltemal weg en uiteindelik los van Jesus self! 

Weet dit : 

As jy onbetrokke in die gemeente is, verkeer jy in gevaar!

VOORREG EN VREUGDE

Dis ‘n groot voorreg en geleentheid om deel te wees van Jesus se liggaam. Alles wat jy as Christen in gehoorsaamheid aan Christus doen is belangrik. Jy vervul so ‘n praktiese funksie van Jesus namens Hom, as deel van sy liggaam. Sterker gestel : Jy, ja, jy broer en suster  is vir iemand anders Christus se stem, hande, voete... Prakties gesê : As Jesus een van sy mense (‘n ander deel van die liggaam) met kos wil bedien, laat val Hy dit nie uit die lug nie. Hy stuur iemand soos jy met ‘n mandjie. As  Jesus een van sy volgelinge wil troos, stuur Hy jou om jou arms om daardie persoon te slaan. (jy word Jesus se arms) As Jesus ‘n boodskap van bemoediging of waarskuwing aan ‘n medegelowige wil oordra, gebruik hy gewoonlik nie ‘n engelkoor nie, maar jou menslike stem. Jy is Jesus se stem. Wat ‘n vreugde om te kan weet dat ek ‘n verlengstuk is van Jesus se aksie op aarde! Dit gee sin aan die lewe. Maar dit gaan ook verder. Jy gee namens Christus, maar jy ontvang ook soveel van Hom via sy liggaam. Die gemeente as liggaam van Jesus  beskerm en voed en ondersteun jou. So beleef jy dan hoe Jesus Christus self jou versorg, beskerm, bedien...sy liefde is ‘n daaglikse realiteit in die liggaam.

Is jy werklik al deel van die liggaam van Christus? Is jy besig om jou God bepaalde funksie te verrig?

*Hierdie is net enkele praktiese gedagtes en nie 'n volledige uitleg van die betrokke hoofstuk nie.


Broers in die Here van NGK Meersig in Walvisbaai, vir wie ons beleef het as die hande en voete van Jesus. Dankie, Wynand, ds.Peet en Pieter!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.