BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 27 Maart 2014

AKTIVISME OF AFSONDERING OF....

- wat moet die Christen se agenda wees in ‘n heidense samelewing?

Die meeste van ons het groot geword in ‘n samelewing waarin die kerk baie voorregte geniet en invloed gehad het, ‘n sogenaamde Christen land...* Oor al die wanpraktyke en skyn (onthou ons nog Christelik-nasionaal?) wat daarmee gepaard gegaan het, hoef ons nie nou te debatteer nie, maar dis ‘n feit  dat baie wette van staatskant spesifiek darem Christelike waardes beskerm en bevorder het. Dinge soo pornografie en dobbelary was verbode... Dit het verander en is vinnig besig om verder te verander. Christelike instellings soos die monogame huwelik en die Sondag word nie meer beskerm en bevorder van staatskant nie. Die respek vir lewe het ‘n groot knou gekry met die aanvaarding van liberale aborsiewetgewing  en die afskaffing van die doodstraf. Die gemeenskap en sosiale strukture word al hoe meer gebou op sekulêre beginsels en selfs openlike anti-Christelik gekleur. Ons leef in ‘n Post Christelike samelewing. Miskien is dit meer korrek om op hierdie stadium te sê dis ‘n baster Christelike samelewing wat vinnig besig is om te verander na ‘n volbloed heidense samelewing

Ons as Christene word dus al  hoe meer  met die praktiese vraag gekonfronteer :  Hoe moet ons as kerk optree in ‘n heidense goddelose samelewing?
Waarvoor moet ons ons beywer?  Hoe moet ons te werk gaan?  Hoe kan ons ons Christelike invloed laat geld? Ons weet ons moet sout en lig wees, maar presies hoe?  Watter strategie is die effektiefste? Baie dinge wat in ons land gebeur en goedgekeur word is ‘n skok op ons gestel, dit maak ons hartseer, dit maak ons kwaad, ons voel ons moet iets daaraan doen. (natuurlik is daar 'n groot groep kerkmense wat soveel kompromie gemaak het met sonde dat hulle nie eers agterkom daars fout in die samelewing nie - hulle hou rustig partytjie saam met die wêreld) Kinders van God, wat aan die Here getrou wil bly kan nie maar net oë toe maak nie, ons voel ons moet optree, maar wat, hoe? Verskeie  moontlike modelle word voorgestel. Die een uiterste is aktivisme.  Volgens hierdie benadering behoort Christene drukgroepe, en selfs politieke partye te vorm  om die wetgewing in die land te probeer verander. Ons moet ons wend tot betogings, petisies en versetoptredes om morele veranderings af te dwing. Die ander uiterste is afsondering. Die wêreld is so sleg dat die enigste uitweg is om maar net een kant in Christen kommunes te gaan bly. Koop ‘n stuk grond in die Namib of Karoo, gaan bly daar en probeer so min as moontlik kontak te hê  met die goddelose samelewing daarbuite!

Is dit wat God van ons vra?  Wel, gelukkig beantwoord die Nuwe Testament die vraag.  Net eers : Ons moet tog altyd net onthou die Nuwe Testamentiese  gemeentes het in ‘n totaal heidense samelewing en omgewing gefunksioneer en nie net gefunksioneer nie, maar inderdaad gefloreer en gegroei.  Die vroeë gemeentes was as’t ware klein eilandjies in ‘n see van heidendom, immoraliteit en ‘n okkulties deurdrenkte omgewing.  Dis miskien  juis bemoedigend as ons dit weer besef! Die kerk kan inderdaad gesond wees en groei te midde van ‘n bose kultuur!  

DIE KULTUUR VAN KORRUPTE LUI VRATE

Die brief van Paulus aan Titus is veral insiggewend in die beantwoording van hierdie kwessie.  Ons sal volgende keer in detail na hoofstuk 3 vers 1 en 2 kyk) Net eers bietjie agtergrond. Titus was werksaam op die eiland Kreta wat ‘n heidense samelewing was en waar die mense volgens iemand uit hulle eie geledere nie juis van die voorbeeldigste was nie.  “Een van hulle mense, hulle eie profeet, het gesê: "Die Kretensers is altyd leuenaars, ongediertes, lui vrate." (1:12) Nogal sterk woorde! In hierdie omstandighede moes Titus leiding aan die onderskeie gemeentes gee. Die brief aan Titus handel oor die leef van die Christelike lewe, maar ook die grondliggende leerstellige waarhede wat daaragter sit. Leer en lewe. Die Christelike leer en lewe funksioneer nie in ‘n lugleegte nie maar binne in hierdie sondige wêreld. Christene bly nie in afsonderlike kolonies of beskermde enklawes nie.  Die drie hoofstukke in Titus hou daarom ook rofweg verband met drie hoof  kontekste waarin die Christelike leer en lewe beoefen moet word nl. die gemeente, die huis en die samelewing.

Ons wapen : 

VERKONDIG DIE GEKRUISIGDE CHRISTUS!

Terug by die vraag : Hoe moet ons die heiden wêreld konfronteer? Wat is ons doel en metode? Die Nuwe Testament as geheel maak dit baie duidelik dat ons primêre doel is om God te verheerlik en ons hoof taak, ons primêre agenda is om die evangelie te verkondig. Om Jesus as verlosser te verkondig en mense Sy dissipels te maak. (Matteus 28:19) Ons sien dit duidelik in Paulus se optrede. Het hy hom beywer vir die afbreek van tempels of wetgewing teen prostitusie en al die euwels van die dag? Nee, Paulus was nie ‘n aktivis wat met geweld of selfs beledigings veranderinge teweeg wou bring nie. Ons het getuienis hiervan uit die mond van ‘n heiden, tydens die oproer wat Demetrius in Efese veroorsaak het.  “Julle het hierdie mans hierheen gebring alhoewel hulle nie die tempel berowe of ons godin belaster het nie." (Handelinge 19:37) Dink ook aan Paulus se toespraak in Athene. Alhoewel hy diep verontwaardig was oor die afgodery, het hy geen beelde stormloop of enige vorm van aktivisme bepleit nie. Nee, Paulus het Jesus en Hom as gekruisigde verkondig. Dit was sy wapen teen die duisternis. Ook in 1 Petrus kry ons ‘n aanduiding van wat ons hooftaak as Christene in hierdie wêreld is... verkondiging!  “Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.”  (1Petrus 2:9) Die groot saak is dit : ons moet die evangelie verkondig sodat heidense ... en onbekeerde kerkmense gered kan word. Ons doel is die verlossing van mense, dit was ook die doel van Jesus self. Om ons omgewing moreel net ‘n beter plek te maak het min sin. Onbekeerde mense gaan hel toe of hulle in ‘n kommunistiese staat of onder ‘n demokrasie leef, onbekeerdes gaan hel toe of hulle nou vir of teen aborsie is, mense sonder Christus gaan verlore of hulle nou teen of vir homoseksualiteit is. Ons taak is om mense by Jesus Christus uit te bring en nie om ons omgewing moreel oppervlakkig  ‘n bietjie beter te laat lyk nie.  (Tussen hakies : as jy dalk staatmaak op  jou goeie moraliteit – weet, jy is verlore! Ons word nie gered deur ons navolging van goeie morele waardes nie, maar deur die geloof in Jesus alleen.)

NIE MORALISEER NIE, MAAR EVANGELISEER!

Ons moenie die samelewing probeer moraliseer nie, maar evangeliseer.  Die uiterlike handhawing van goeie morele waardes beteken nie noodwendig dat mense kinders van God is nie. Dink jy daar was meer ware Christene in ons land toe ons regering amptelik meer pro Christelik was?  Ek dink nie so nie.  Ook hier in die brief aan Titus kry ons geen aansporing tot aktivisme om die samelewing te probeer verander nie. Wat kry ons wel? Ons kry ‘n bevestiging van die doel en inhoud van die evangelie (3:3-7)  en baie belangrik ons kry voorskrifte vir Christene se gedrag in die kerk, huis en ook in die sekulêre lewe. Hoekom word spesifieke voorskrifte oor Christene se gedrag so beklemtoon? U sien ons hoof taak is die verkondiging van die kruis  evangelie, maar dis ontsettend belangrik dat hierdie verkondiging gerugsteun moet word deur ‘n lewenswyse wat hierdie evangelie geloofwaardig sal laat klink. Evangelie verkondiging, ons getuienis oor Jesus as Verlosser kan net effektief wees as ons op so ‘n manier leef dat mense vir hulle self kan sien dat die boodskap wat ons verkondig eg is, dat ons bedoel wat ons sê en dat dit prakties werk! Ons wil hê die wêreld moet weet Jesus kan red, hoe gaan ons hulle oortuig? Daar is net een feit wat hulle sal oortuig, ons veranderde lewens. Dit behels om ANDERS te lewe as hierdie wêreld wat vasgevang is in die verslawende mag van sonde... Daar word baie gepraat van transformasie.  Transformasie in andere sal net plaasvind as daar ‘n Godgewerkte evangelies gemotiveerde transformasie eers sigbaar word in ons eie lewens. Die beste manier om die samelewing te verander is om eers toe te laat dat God jou verander!

Eers as God jou verander het, sal mense jou boodskap begin glo!

Paulus gee dus raad aan Titus oor hoe Christene se lewenswyse moet lyk in die kerk, huis en ook in die openbare lewe. (By ‘n volgende keer kyk ons in meer detail hierna) Die manier hoe ons in die gemeente, by die huis en daarbuite leef moet dien as ‘n platform vir ons geloofwaardige verkondiging. 
Hoe lyk jou lewe – gaan jou huisgesin, jou vriende en jou werksmense jou glo as jy hulle van Jesus se verlossing vertel?

God se plan vir ons as sy kinders is nie aktivisme of afsondering nie, maar evangelisasie wat gerugsteun  word deur heilige lewens.

* Dit was die geval in beide Suid-Afrika en die destydse Suidwes-Afrika. In die moderne Namibië is daar tans groter beskerming van Christelike waardes as in Suid-Afrika met sy uiters liberale grondwet wat onder andere wetgewing wat huwelike tussen mense van dieselfde geslag veroorloof, moontlik maak.



[Die reënboog bokant die kerk. Simbool van God se getrouheid aan sy beloftes. Dit moet ons in moeilike tye van afvalligheid inspireer!]

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.