BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 19 Augustus 2021

Dit is onregverdig!

Ek is ontsteld : NOU MAAK GOD DAREM NIE REG MET MY NIE!

Dit is onregverdig! Onbillik! Nou maak God darem nie reg met my nie! Ek wonder of God se beloftes waar is? Kyk hoe goed gaan dit met daardie goddelose ou… hy is skelm, hy het al ‘n paar huwelike opgebreek, maar sy besigheid floreer! Hy steur hom nie aan God en sy gebod nie, maar hy is perdfris en sy kinders presteer… En ek? Ek dien die Here getrou, ek probeer reg leef, maar vir my loop alles skeef. Ek begin sommer nou my vertroue in God en die Bybel verloor… Jy voel dalk so… verbitter, teleurgesteld, ontsteld en die twyfel groei al groter....

Dis presies die gevoel wat Asaf beskryf in Psalm 73. (Maak gerus jou Bybel oop by Psalm 73 om beter te kan volg.) Hy merk op - dit gaan goed met die goddeloses en sleg met hom wat ’n regverdige is. Toe hy dit sien het dit ‘n geweldige effek op hom gehad. Hy het begin twyfel… (1-5)



Hy ervaar die lewe as onregverdig. (12,13) M.a.w. God is onregverdig! (Dis waarop dit neerkom.) 




Hy as iemand wat opreg is en reg leef ondervind net teenslae en moeilikheid. (14) Om reg te leef het hom dus niks gebaat nie!


Tog het hy besef dat dit nie die regte gesindheid is om so verbitterd en wantrouig te wees nie. En daarom het hy diep nagedink, selfondersoek gedoen. Dit lei tot ‘n ontmoeting met God, tot ‘n nuwe insig, ‘n vergenoegdheid met God, ‘n vreugde in en ‘n vars vertroue op God! Ja, hy het ‘n antwoord gekry wat vir hom rus gebring het en hom weer ‘n gemotiveerde getuie van God se goedheid gemaak het! (28c)– “Ek sal van al U werke bly vertel.” Mag ek en jy ook die regte ANTWOORD kry! 

Hoe het hy by die antwoord uitgekom en wat was die antwoord wat vir hom rus gebring het?

Hy het ‘n ontmoeting met God. (16,17) Hy het God se aangesig gesoek en perspektief by God gekry. Wat was die perspektief en insig? Die werklikheid is wyer as net hierdie oomblik en hierdie omstandighede. Hy sien daar kom wel ’n dag van afrekening. (19) Ja dit lyk soms asof God blind is vir onreg, asof God nie omgee wat die goddeloses doen nie, asof God nie onderskeid maak tussen regverdiges en goddeloses nie, asof God nie in beheer is nie. Maar daar kom ’n tyd dat God ingryp en die goddelose straf. Dit kan ook nou reeds wees, maar beslis eendag. Uit die Nuwe Testament weet ons daar kom ‘n finale oordeel met die wederkoms van Jesus. Die oordeel voor God se troon wanneer alles oop en bloot voor God sal wees en Hy sal oordeel en afreken met die goddelose!. Daar kom ’n tyd dat God finaal die goddeloses sal straf en sy kinders sal beloon. Ja, die kind van God wat volhard het sal dan hoor: “‘Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’ (Matteus 25:21)

God is nie onregverdig nie!

God het sy eie plan en tydskedule, dit beteken egter nie dat Hy onregverdig is nie. Dis nog nie die tyd vir God se finale oordeel nie. Dit kom nog. Maar dit beteken nie Hy het nou van jou en jou swaarkry vergeet nie. Weet jy, dis nou die tyd wanneer God besig om sy kinders te vorm, te verander en te leer! God wil jou leer wat volharding is, gehoorsaamheid is, wat vertroue is - om Hom blindelings in alle omstandighede te vertrou.(Soos tydens Sy opdrag aan Abram om sy enigste seun Isak te offer.) 

Hoe kry ons insig in wat God ons wil leer deur swaarkry? 

Hier is praktiese raad : Geliefde, hierdie insig kry ons as ons na Jesus se lewe kyk. Ons kry vrede as ons deur God se genade begin verstaan wat met Jesus gebeur het. Onthou bietjie.... Hy is die volmaakte sondelose Seun van God, Hy net goed gedoen, net ander gehelp... tog...... laat God toe..... dat Hy beledig word... verontreg word, gemartel word, onskuldig sterf... Dis als deel van God se plan. As jy opstandig raak oor jou lyding, onreg..... gaan dink na oor die lewe van Jesus op aarde! God het ook lyding EN ONREG in Jesus se lewe gebruik - Hebreërs 5:8 “Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is.”

Die psalmis besef en bely nou sy dwaasheid. (21,22) Noudat Hy ’n beter perspektief het, besef hy sy verkeerde gesindheid en het berou! Ons moet dit ook doen. Bely dat jy God verkeerdelik beskuldig het. “Here, ek is jammer dat ek gedink het U het my nie lief nie, dat ek U verdink het van onregverdigheid...” Bely jou opstand. 

Dis tog wonderlik - selfs in sy opstand het God Hom nie gelos nie. (23) Gelukkig is God genadig - as Een van sy kinders verbitter word, skryf Hy ons nie af nie, Hy laat ons nie aan onsself oor nie! Hy rig ons weer op! SKEP MOED MEDEGELOWIGE!!!

GOD SELF IS VIR MY GENOEG!

Hierdie kind van God vind rus in die feit dat God self vir hom genoegsaam en vervullend is! "Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie." Vers 25 (OAV) Die 1983 Vertaling omskryf dit so - "Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie." (OORDINK DIT!) Hy vind sy vreugde nie in omstandighede of besittings nie, maar in God se persoon, sy heerlikheid. Dit gaan nie meer vir my oor die byvoordele wat my diens aan God my gee nie, maar oor God self! God self is my erfdeel (vers 26 - 2020) Dit kom daarop neer - Ek ken U en dis vir my genoeg. (U is vir my genoeg en dit wat U verder vir my wil bygee is ’n bonus.) Hy vind rus in Wie God is, ja solank ek God ken en vertrou kan maar gebeur wat wil gebeur. Ek behoort aan God vir ewig en altyd en dis vir my genoeg. Dis inderdaad my troos in lewe en sterwe! Net ’n ware kind van God kan tot hierdie slotsom kom. 

Is jou groot vreugde geanker in God self? Verheug jy jou in sy volmaaktheid, sy heerlikheid, sy liefde soos dit geopenbaar is deur Jesus? (want onthou die volle heerlikheid van God het sigbaar geword in Jesus)

Hy stel opnuut sy vertroue in God. Dalk eerder - Hy ontdek opnuut God se getrouheid. (28) Hy kom skuil by God. En dis die moeite werd…God sal elkeen van sy kinders veilig by hulle ewige bestemming bring. God sal jou deurdra deur al die ellendes en versoekings hier op aarde! Ons is meer as oorwinnaars sê Paulus IN hierdie swaarkry dinge. "Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het."  (Romeine  8:37) Ons gaan nie die ellendes vryspring nie, maar ons sal te midde van dit alles instaat wees om in die geloof te volhard!

God self is vir my genoeg, my lewe is in sy hand, wat Hy toelaat op my pad aanvaar ek, want ek weet : Hy is ’n liefdevolle Vader en ek hoef nie sy besluite te bevraagteken nie. Ek hoef nooit oor sy liefde te wonder nie. Hy het dit beloof en geen omstandighede kan dit onwaar maak nie. Op Golgota is dit vir eens en altyd bevestig!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.