BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 01 Oktober 2019

DIE NUWE WYN


IS DIE BESTE! 

[Vir ‘n huweliksdiens, maar ook op elkeen van toepassing wat smag na 'n nuwe lewe...] 

Jesus verander water in wyn tydens ‘n bruilofsfees! (Johannes 2:1-12) Dis een van sy bekendste wonders. (Partykeer om ‘n verkeerde rede. Sommiges redeneer mos graag: “Ag, sien ons kan maar dronk word… Jesus self het mos wyn gemaak…” Jammer om hulle pret te bederf, maar hulle maak natuurlik ‘n groot fout, want die Woord van God is baie duidelik dat geen dronkaard die koninkryk van God sal binnegaan nie.) 

Wat beteken hierdie wonder dan wel? Wat wil die Johannes evangelie vir ons sê? En sê dit spesiaal ook iets vir julle wat vandag in die heilige eg verbind word? 

DIE GAS BY DIE FEES 

Die verhaal beweeg op verskillende vlakke. Dis natuurlik die wonderlike verhaal van die mens Jesus wat ‘n eg menslike fees, soos ‘n bruilofsfees saam met Sy dissipels bywoon en die gasheer uit ‘n groot verleentheid en verknorsing help. Sien vir Jesus vrolik rondbeweeg tussen die gaste! Jesus was geen askeet of kloosterbewoner nie, maar ware mens soos God bedoel het by die skepping. En onthou deel van God se goeie skepping was die skepping van die mens as man en vrou, van die huwelik… Dit moet ons tog duidelik laat verstaan : Die huwelik is ‘n kosbare geskenk van God aan die mens! Die huweliksverhouding en die intieme band tussen die twee geslagte is nie deur die duiwel uitgedink nie, maar deur God geskep! Geniet dit soos God dit bedoel het en vier fees! Maar vier fees op so ‘n manier dat ons Jesus as die belangrikste Gas in gedagte sal hou! 

TEKEN VAN SY HEERLIKHEID 

Maar daar is ook ‘n dieper vlak. Hierdie wonder word ‘n teken genoem. “Hierdie eerste een van sy tekens het Jesus te Kana in Galiléa gedoen; en Hy het sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels het in Hom geglo.” (11) ‘n Teken wat ons iets moet wys van die allesoortreffende heerlikheid van Jesus. Dis tipies van die Johannes evangelie om Jesus se wonders te beskryf as tekens wat ‘n dieper geestelike boodskap moes oordra en geloof opwek. Nou wat is die boodskap van hierdie teken? Kom ons kyk na twee aspekte: 

OORVLOED 

Dis ‘n teken van oorvloed. “Jesus sê vir hulle: Maak die kanne vol water. En hulle het hul tot bo toe volgemaak.” (7) Let op die beklemtoning - “tot bo toe volgemaak” Die nuwe bedeling wat Jesus bring – die vergifnis en verlossing wat ‘n kenmerk is van sy heerlikheid is ‘n bedeling/lewe van oorvloed. En ons hoef nie te wonder van watse oorvloed hier gepraat word nie. Dis die heerlike oorvloed van genade! Johannes het sy lesers reeds hierop voorberei in die inleiding! “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon--en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom--vol van genade en waarheid...En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.” (1:14,16) Jesus die Messias, die Gesalfde van God bring ‘n oorvloed van genade en vergifnis. Vir die grootste stukkendste sondaar...

Meer nog! Hy bring ‘n nuwe begin, ‘n nuwe skepping, herstel van die skade wat sonde gedoen het. Die tema van die skepping en herskepping (waarby die saak van die huwelik so goed pas) het Johannes reeds aangeraak met sy inleidende sin. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” (1:1) Duidelike parallel met Genesis 1:1! Natuurlik deel nie almal in hierdie oorvloed van genade nie, trouens die meeste verwerp dit , maar vir die wat dit aanvaar – beteken dit ek deel in die voorreg om persoonlik ‘n kind van God te wees! (Sien Johannes 1:11-13)* 

Dis ook nie toevallig dat Jesus juis wyn maak as simbool van die nuwe Messiaanse bedeling nie. Dis ‘n tema wat by baie Ou Testamentiese profete voorkom, byvoorbeeld Amos**. Wyn is ‘n simbool van oorvloed, vreugde, vervulling en versadiging! 

DIE NUWE BEDELING 

Dis ‘n teken van die nuwe bedeling in Jesus wat die ou bedeling by verre oortref! Johannes maak ons spesifiek attent daarop dat die klipkanne wat Jesus gebruik het deel was van die reinigingsgebruike van die Jode. Die klipkanne met die water was deel van die ou Joodse oorde van seremonies en wette. “Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou”. (6) 

Jesus maak nou iets beter! Hy maak wyn in die plek van water. Die beste wyn! Hy vervang die ou orde en bring iets beter! 

Ook hierdie aspek het Johannes reeds in sy inleiding aangeraak. (Sien 1:17) Kort hierna verduidelik Johannes ook hoe Jesus die tempel vervang wat ook deel van die ou orde was. Die ou bedeling van Moses en die wet kon nie waarlik verlossing bring nie, maar Jesus kan! En Hy wil dit vir JOU doen!

Die nuwe bedeling wat Jesus bring, die nuwe skepping is soveel beter as die vorige! Die nuwe wyn wat Jesus maak is die beste! “Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom en sê vir hom: "‘n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou." (9,10) Die hele teken wat Jesus hier doen is ‘n teken van sy heerlikheid. Hy wat deur sy kruis en opstanding vir ons ‘n nuwe en beter toekoms geopen het. Oorvloedige vergifnis, maar ook uiteindelik volledige herstel van die skepping! Herstel van die skade en verwoesting wat Satan en sonde aangerig het. Kom ons roep hardop uit in hierdie stukkende wêreld : “Jesus maak sondaars nuut!” 

Hierdie nuutheid begin nou maar sal eendag volkome sigbaar wees. Die wonder wat Jesus by ‘n bruilof doen is juis so gepas, want dit wys uiteindelik heen na die bruilofsmaal van die Lam wat wag vir almal wat Hom glo. Die hemelse fees! En dis dié fees om nie mis te loop nie! 

Die betekenis van Jesus se wonderteken om water ‘n wyn te maak is dus baie duidelik. Dis ‘n teken van die nuwe oorvloedige genadebedeling in Jesus wat die ou bedeling by verre oortref en uitloop op ‘n nuwe skepping! Juis op die gebied van huwelik en seksualiteit is die sondegebrokenheid en sondeskade die duidelikste sigbaar. Maar dis juis ook hier waar Jesus ‘n oorvloed van genade en heelmaking kom bring het. Mag ons dit in die moeilike tye onthou! 

Francois en Madelein julle is as kinders van God begenadigde sondaars, julle het die volheid van sy genade ontvang. Mag julle dit ook verder in julle huwelik beleef en ook uitleef in julle huis, in die gemeente waar die Here julle geplaas het en in julle alledaagse handel en wandel! 

En sommer net ‘n laaste, maar baie belangrike vraag aan elkeen wat nou hier lees: 

HET JY AL DIE NUWE WYN GEPROE? 



*Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 
Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore. (Johannes 1:11-13) 

**Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees. 
En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. (Amos 9:13,14)



Baie geluk Francois en Madelein!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.