BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 14 Oktober 2019

Namibië staan op!

Verklaring deur besorgde leraars van die NG Kerk in Namibië en Suid-Afrika*



Dit is met groot hartseer, verslaendheid en gebrokenheid voor God dat ons, as leraars van die NG kerk in Namibië, kennis geneem het van die Algemene Sinode van die NG Kerk se besluit (Benoni, 8 Oktober 2019) wat ruimte maak vir selfdegeslagverhoudings en selfdegeslagverbintenisse in die kerk. Ons is van mening dat dit nie ʼn besluit is wat deur die Heilige Gees bepaal is nie, maar eerder deur die heersende sekulêre humanistiese tydgees. 



Ons betreur hierdie besluit ten diepste as in stryd met God se Woord en dus as ’n minagting van die gesag van God se Woord. Dit is genadeloos en liefdeloos, omdat die Sinode met hierdie besluit sekere sondaars (1 Korintiërs 6:9 -10) ontsondig en vryspreek. Dit los hulle onder die toorn van God (Johannes 3:36; Romeine 1:18) en weerhou hul die geleentheid om God se genade te ervaar. Hierdeur word hulle die voorreg ontneem om deur geloof in Christus Jesus vrygespreek en vrygemaak te word van die sonde van homoseksualiteit (1 Korintiërs 6:11). 


Ons doen hierdie verklaring met ’n besef van ons eie gebrokenheid en worstelstryd teen sonde en met die vaste wete dat net die vryspraak van Christus ons red. Ons is oortuig dat homoseksualiteit, soos enige ander sonde, siekte, lyding en onvolkomenheid, die gevolg is van die gebrokenheid wat met die sondeval in die wêreld gekom het. Ons wil daarom medegelowiges wat worstel met hul homoseksuele oriëntasie, in liefde vashou en begelei om hul Godgegewe roeping as kinders van God uit te leef. Ware lewensvervulling as kind van God word immers nie gevind in die uitleef van enige seksuele oriëntasie nie, maar in gehoorsaamheid aan my Goddelike roeping en in die uitleef van my identiteit in Christus: 

 Ons glo heelhartig dat, in ons nadenke oor selfdegeslagverhoudings, ons alleen die Woord van God as ons vertrekpunt en finale gesagvolle bron kan gebruik om God se wil te onderskei. Die Woord, en nie die jongste navorsing uit die vloeibare menswetenskappe nie, het altyd die laaste woord te spreek. 

 Ons glo heelhartig dat die Bybel ons leer dat die huwelik tussen een man en een vrou, saamgebind deur die liefde van Christus, ’n lewenslange verbintenis is en God se wil vir sy kerk is. Dit is ook die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kan kom. 

 Ons glo heelhartig dat die Bybel alle seksuele verhoudings buite die huwelik as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. 

 Ons glo heelhartig dat die Bybel alle homoseksuele dade in die sterkste sin as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. Soos met alle ander sonde, is daar ook vir die sonde van homoseksuele dade vergifnis en vrymaking moontlik deur die krag van die bloed van Christus. 

 Ons glo heelhartig dat die integriteit, geloofwaardigheid en heiligheid van die kerk van Christus op die spel is wanneer mense wat bely dat hulle Christene is, terselfdertyd ook volhard in ’n lewenswyse van homoseksuele dade. Sodanige homoseksuele lewenswyse, soos trouens met volharding in enige ander sonde soos beskryf in 1 Korintiërs 6:9-11, diskwalifiseer sulke persone vir enige ampte in die kerk van Christus, sowel as vir die Koninkryk van God. 

 Ons bely en erken die menswaardigheid van alle mense voor God, omdat alle mense geskep is na die beeld van God en Jesus Christus vir alle mense gesterf het. Daarom staan ons deure en harte oop om met die deernis en liefde van Christus, alle sondaars, ongeag hul seksuele oriëntasie, te verwelkom, te bedien en pastoraal te begelei met die evangelie van liefde in Christus Jesus. 

Gedring deur Christus se liefde, moet ons mekaar se sonde ernstig opneem, sodat ook in die NG kerk ons op geen ander plek skuiling sal soek as in die vryspraak en bloed van Jesus Christus nie. In Christus wag die oorwinnaarskroon anderkant die graf en sal ons aardse stryd teen sonde vir ewig verby wees. 

Reeds onderteken deur die volgende leraars van die NG Kerk in Namibië: (38) Andries Gous, Christo Swarts, Christo van den Heever, Dirk Coetzee, Dries Burger, Dries Coetzee, Dubois du Toit, Düring Cornelius, Edwin Kakori, Erik van Zyl, Ernst Coetzee, Evert Strydom, Gerrie Cwi, Gerson Kuvare, Hector Jooste, Hein Schaaf, Hendrik van Zyl, Isaac Chameia, Jaco Rossouw, Jacob Schoeman, Jafet Moyo, Jason Ngambwe, Johan Combrinck, Johannes de Koning, Josef Gevers, Koos Engelbrecht, Leviet Kxao, Lukas van Vuuren, dr Manus Olivier, N!aici Komtsa, Petrus Kaimbi, Pierre Bosman, Richard Becker, Rudolf Smit, Shotty Mayebo, Thinus Coetzee, Vian du Plessis, Willie Coetzee 2 2 Reeds onderteken deur die volgende kerkrade van gemeentes in die NG Kerk in Namibië: (10) NG Kerk Otjiwarongo, NG Kerk Omaruru, NG Kerk Oewer, NG Kerk Opuwo, NG Kerk Tsumeb, NG Kerk Suiderhof, NG Kerk Warmbad, NG Kerk Maltahöhe, NG kerk Outjo, NG kerk Kalkrand

Reeds onderteken deur die volgende leraars van die NG Kerk in Suid-Afrika (84) Abrie Botha, dr Adré van den Berg, Alwyn Roux, Andre Fourie, Andre Lammertyn, Andrè Orffer, Andrea Werner, Andries Grobler, Arend Hoon, dr Banus Botha, Bertus Janse van Rensburg, Carel Smith, Cecilna Grobler, dr Chris Saayman, Chris Visser, Christie Smit, Clifford James, Corrie Greeff, Danie Murray, Dawie le Roux, Deon Senekal, Dr Dirk Venter, Emile Blommaert, Eric Swanepoel, Ernst Rischmuller, Evert Bergh, Fanie le Roux, Floors Ellis, Francois Botha, Frikkie Snyman, Dr.Gerard Olivier, Gert Badenhorst, Gert Barnard, Gert Delport, dr Gert Duursema, Dr Gideon Kok, Helgard Janse van Rensburg, dr Hennie Hoepfner, Ds Hermanus Crouse, Ian Dubery, Jan Louw, Jan Venter, Janlu Kuyler, Janus Roux, Johan Bloemhof, Johan Engelbrecht, prof. Johan Janse van Rensburg, Johan Koen, Johan Koen (jnr), John Holtzhausen, Jos van der Merwe, dr Leon Oosthuizen, dr Manie Taute, Marcel Vosloo, Marius Joubert, Marthinus Coreejes, Naledi Lehoko, Neels Steyn, Nicholas Botha, Nico Sennett, Ockie Olivier, Otto Clasen, PC Pretorius, Petrus Kriel, Philip Kuhn, Piet Fourie, Piet Otto, Pieter Badenhorst, Pieter J. Kotze, Pieter Prinsloo, Pieter Theron, Rhenier Nel, Roelf van Niekerk, Ronnie Neveling, Ruan du Plooy, dr Sas Conradie, Stefaan de Jager, Stefan van der Merwe, Theo Danzfuss, Tiaan Victor, Wessel Oosthuizen, Willem Badenhorst, Willem Botha, Willie Crous

Reeds onderteken deur die volgende kerkrade van gemeentes in die NG Kerk in Suid-Afrika: (8) NG Kerk Tafelberg in Kaapstad (Dolerend), NG kerk Kroonstad-Wes, NG kerk Clearview Maclear, NG kerk Delmas-Wes, Moreletapark Gemeente, NG kerk Sasolburg Tuinedal, NG Standerton-Suid (Dolorerend), NG Kerk Hoopstad

Reeds onderteken deur die volgende leraars van die Reformed church in Africa dr Gregory H. Denysschen, Kovilan Moodley, Theo Francis Reeds onderteken deur die volgende kerkrade van die Reformed church in Africa Reformed Church in Africa in Cravenby Cape Town - called Living waters

Reeds onderteken deur die volgende leraars van die Uniting Reformed Church of Southern Africa (URCSA) Johannes DG Murray , Louwrens van der Westhuizen 
[ Hier kan nog name bykom. Ook die van kerkrade. Die lys sal dus van tyd tot tyd aangepas word]


Mag ons rotsvas bly staan!

NS  Opregte dank aan ds. Erik van Zyl en almal wat hom gehelp het om leiding te neem in hierdie saak!

*Die verklaring was eers net 'n Namibiese verklaring , maar is later uitgebrei na Suid-Afrika.

5 opmerkings:

  1. Gawie Van der Merwe14 Oktober 2019 om 13:19

    Baie dankie aan julle standpunt inname en wil ek my heelhartig daarmee identifiseer as iemand wat self 14 jaar in Namibie in diens van die Here se Koninkryk gestaan het. Ons in die buiteland (Australie) volg met groot belangstelling en hartseer die optrede van die kerk waar ons eers gedien het. Ons bid vir leiding van die Heilige Gees op die pad vorentoe.

    AntwoordVee uit
  2. Dagsê Johannes,
    Dankie vir hierdie ongelooflike en ope brief wat julle Prdikante aan ons as kerkraad en lidmate saamgestel het.
    As ouderling voel ek dat julle nie kon stilbly oor hierdie sensetiewe saak wat sy kop in die N.G.Kerk uitgesteek het nie en glo ook dat baie van ons lidmate met my saamstem.
    Dit is 'n groot eer vir my om saam met 'n span Geesvervulde Leraars ook my stem by te voeg.
    Dankie vir die waarheid waarin die Heilige Gees elkeen van julle bygestaan het om by die Woord van God te bly.
    Groete in Christus

    AntwoordVee uit
  3. Dankie tog dat daar leraars, kerkrade en gemeentelede is wat gehoorsaam wil wees aan DIE HERE se leer. Hoe durf ons maak soos ons wil.

    AntwoordVee uit
  4. Homoseksuele drukgroepe argumenteer dikwels dat hulle so gebore is. Alle mense, ek ingeslote, is in sonde ontvang en gebore en totaal verlore Rom 1:24-32 Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie: hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid; nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers; onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig, mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen."

    Daarom roep God ons almal op: Openb 22:17 "laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet."

    Sal ek nadat Jesus my sondeskuld op Hom geneem, my straf gedra my sonde met Sy bloed afgewas en Sy geregtigheid aan my toegereken het, in sonde bly voortlewe? Rom 6:1-6 "Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel... sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.

    Wys Sy vrye uitnodiging van die hand en Sy toorn rus op jou Rom1:18 "Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk" "Maak sonde dood of sonde sal jou doodmaak" Begin deur nie sonde goed te praat nie, maar dit te sien vir wat dit is, en dit sluit homoseksualiteit in.

    Ons loop ons voete af op soek na predikers wat ons op ons sonde sal wys en ons sal begelei na verlossing en oorwinning oor alle sonde in Christus maar in teen deel is hulle die voorbokke om sonde goed te praat en dit te bedryf:
    Eseg 8:12-18 Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel in die duisternis doen, elkeen in sy kamers met beeldwerk? Want hulle dink: Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat. ... en kyk, by die ingang van die tempel van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar, was omtrent vyf en twintig man, met hulle rug na die tempel van die HERE en hulle gesig na die ooste, en hulle het hul voor die son neergebuig na die ooste. En Hy sê vir my: Het jy dit gesien, mensekind? Is dit dan vir die huis van Juda te gering om die gruwels te doen wat hulle hier bedrywe, dat hulle die land met geweld gevul en My nog meer geterg het? En kyk hoe hulle die druiwetak by hulle neus hou! Daarom sal Ék ook in grimmigheid handel; my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; en al roep hulle hardop voor my ore, nogtans sal Ek na hulle nie luister nie. "

    Dankie Dominees van Namibie dat julle die Here en Sy Woord eer. 1Tim 4:16 "Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor."

    AntwoordVee uit
  5. Baie dankie aan almal wat so dapper opstaan teen die liberale strominge en vals teologie. Hier in SA het die stroom van dolerendes sterker geword na ´n spesiale beraad by Moreletapark in Februarie 2020 . Mag die Here julle krag gee om julself los te maak van die Algemene Sinode.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.