BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 18 Oktober 2015

TSUMEB BESLUIT OOK

Hier is die besluit van die kerkraad  van die NGK TSUMEB wat geneem is in reaksie op die Algemene Sinode se besluite rondom homoseksualiteit wat soveel onmin veroorsaak.

VERKLARING  RAKENDE DIE BESLUITE VAN DIE ALGEMENE SINODE OOR SELFDEGESLAGVERHOUDINGS

1.     Ons die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb distansieer onsself in die sterkste moontlike taal van die Algemene Sinode van 2015 se besluite oor selfdegeslagverhoudings.

2.     Ons verwerp die gesag en besluite van die Algemene Sinode in soverre dit bots met die Woord van God, want ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense.

3.     Ons betreur die teologiese verwarring en morele verval in die NG Kerk en haar teologiese fakulteite wat die groeibodem is van onbybelse besluite en praktyke soos hierdie.

4.     Ons doen ‘n baie ernstige beroep op die Ring van die Noorde en die Namibiese Sinode om ‘n ondubbelsinnige Bybelse standpunt in te neem rakende die hele kwessie van selfdegeslagverhoudings.

5.     Ons herbevestig ons standpunt oor selfdegeslagverhoudings soos wat ons dit reeds in ons ope brief aan die Namibiese afgevaardigdes na die Algemene Sinode geformuleer het. (Sien Bylaag A)







Bylaag A

OPE BRIEF AAN NAMIBIESE AFGEVAARDIGDES NA DIE ALGEMENE SINODE VAN DIE NGK 2015.
1.Die Kerkraad van die NG Kerk Tsumeb is bewus daarvan dat die omstrede kwessie van selfdegeslagverhoudings by die komende sitting van die Algemene Sinode onder bespreking sal kom. Ons het veral ook met verbystering en skok kennis geneem van Beskrywingspunt B15 wat volgens ons radikaal van alle Skrifnorme afwyk en nie eens op ‘n sinodale agenda hoort nie. Indien genoemde beskrywingspunt aanvaar sou word, voorsien ons skrikwekkende gevolge vir die kerk.
2.Die kerkraad wil dit graag onder die aandag van ons Namibiese afgevaardigdes bring dat hierdie aangeleentheid vir ons ‘n saak van baie groot erns is. Daarom wil ons die onderstaande as nederige getuienis lewer oor hoe ons die saak van homoseksualiteit in die lig van die Skrif (probeer) verstaan:

WAT LEER DIE BYBEL OOR HOMOSEKSUALITEIT EN ONS OPTREDE TEENOOR DIESULKES?

Kom ons kyk na ‘n paar duidelike Bybelse merkers wat ons koers behoort te bepaal in die hantering van en ons houding teenoor homoseksualiteit en almal wat daardeur geraak word:

Die kind van God moet alle mense liefhê. God verwag duidelik van ons om ons naaste, wat alle soorte sondaars insluit lief te hê soos ons self. Dis sommer ‘n baie radikale liefde, dit sluit ook ons vyande in. Dis tog duidelik dat ons ons voorvaderaanbidder of Hindoe of Moslem bure moet liefhê en met ordentlikheid behandel, al verwerp ons hulle afgodery en valse godsdiens as ‘n gruwel. Hoe anders gaan ons aan hulle die evangelie van God se genade en vergifnis oordra? Presies dieselfde geld ook vir ons homoseksuele naaste. Vriendskap en liefde hoef mos nie noodwendig goedkeuring van hulle dade te beteken nie? Laat ons dit onomwonde duidelik stel, daar is geen plek in die kerk van Jesus Christus vir kwetsende taal of “gaybashing” nie! (Haatspraak teen gays soos veral in Amerika bedryf byvoorbeeld deur die Westboro Baptist Church is 'n tragedie en doen die beeld van die evangelie oneindig baie skade aan.)

Homoseksuele dade opsigself laat nie mense hel toe gaan nie, net so min as wat heteroseksuele dade vir my ‘n plek in die hemel verseker. “Gaan gays hel toe?” is ‘n vraag met ‘n valse vertrekpunt. Mense gaan nie hel toe oor een of ander spesifieke sonde nie, maar omdat hulle die enigste weg tot God, Jesus Christus verwerp. Mense word ook nie gered deur een of anders sonde nie te doen nie, maar omdat hulle Jesus as hulle Middelaar en Hoëpriester ken. Hierdie is ‘n noodsaaklike klem om ‘n gesonde perspektief te vind. So maklik kan iemand skouers optrek en hooghartig sê : “Gelukkig is ek nie ‘n homo nie, gelukkig is ek nie ‘n dronklap nie...” Dis nie die saak nie, die vraag is altyd primêr : “Het jy die Seun van God?” Wie Hom nie het nie, het nie die lewe nie... (1 Johannes 5:12) Maar juis HY nooi sondaars, ja alle sondaars om by Hom rus te vind. (Matteus 11:28) Dit sal die vertrekpunt moet wees in ons getuienis teenoor ons homoseksuele naaste, soos trouens ook teenoor alle ander mense!

Homoseksuele aangetrokkenheid (oriëntasie) is deel van die gebrokenheid van ‘n gevalle mensdom en ‘n skepping wat deur sonde geskend en gevolglik aan verganklikheid onderworpe is. Romeine 8 is hieroor baie duidelik. In hierdie skepping werk nie als soos dit moet nie. Ons het te make met ‘n stukkende mensheid en ‘n versteurde verganklike skepping weens God se straf op die sonde van die mens. Die direkte oorsake van homoseksualiteit kan moontlik baie kompleks wees: dalk geneties(?), gesinsomstandighede, molestering, groepsdruk, verkeerde keuses vroeg in jou lewe, die aantrekkingskrag van ‘n alternatiewe leefstyl... Beteken dit nou dat ons homoseksuele gedrag as normaal of reg moet tipeer? Die feit dat ’n bepaalde gedrag moontlik fisies-genetiese oorsake sou kon hê, maak dit nog nie reg nie. Sommige mense is geneties meer geneig tot verslawing – dit maak alkohol of dwelmmisbruik nog nie reg nie. Sommige mense mag fisies meer geneig wees tot onaktiwiteit – dit verhef luiheid nie tot ‘n deug nie. ‘n Lae drumpel van frustrasie of ‘n siekte toestand soos diabetes mag bydra tot woede uitbarstings – dit beteken nie dat ons padwoede en geweld mag goedpraat nie. Sommige se natuurlike seksuele drange weens (hoë?) hormoonvlakke is sterker as ander s’n en mag ‘n bydraende faktor wees in owerspel, pornografie verslawing of poligamie. Dit beteken tog nie, dat ons hierdie dinge nie meer sonde mag noem nie. Gemolesteerde kinders word dikwels self molesteerders, maar moet ons nou pedofilie probeer regverdig? Vetsug is ‘n gekompliseerde toestand waarin genetiese, omgewings en emosionele faktore beslis ‘n rol speel. Dit beteken nie dat mens nie daarteen kan veg en dit oorwin nie! Die punt is, alle mense ly op een of ander wyse onder die sonde gebrokenheid in hierdie wêreld. Maar deur die genade van God in Jesus kan ons ten spyte van hierdie gebrokenheid teen sonde kies en ons positief beywer vir ‘n heilige lewe volgens God se wil.

Homoseksuele gedrag en dade is nie alleenlik sonde nie, maar ook ‘n besondere simptoom van die wesentlike sonde om God se heerskappy en heerlikheid te ontken. Die feit dat daar komplekse oorsake en baie faktore betrokke mag wees, verander niks aan hierdie feit nie. Drie redes kan daarvoor aangevoer word: 

  - Die Bybel sê dis sonde. Alle pogings om met slim jakkalsdraaie Bybelse gegewens iets anders te laat sê, as wat dit sê, misluk. Die betrokke tekste is oorbekend... ‘n Homoseksuele verbintenis is sondig en kan nooit ‘n huwelik genoem of kerklik gesanksioneer word nie.

  - Die Bybel maak dit duidelik dat God se wil vir die uitlewing van die mens se seksualiteit, die instelling van die huwelik is. Dis ‘n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou. In die lig hiervan is buitehuwelikse en voorhuwelikse seks (saamblyery), egskeiding, owerspel, homoseksuele gedrag en alle vorme van seksuele losbandigheid sonde... al word dit met watter mooi name of edelmoedige motiewe gekamoefleer!

  - Romeine 1:18ev gee vir ons ‘n besondere perspektief oor die saak van homoseksualiteit. Dis onmiskenbaar opvallend dat die onnatuurlike verbintenisse tussen lede van dieselfde geslag hier vir besondere aandag uitgesonder word. Ja, al die ander sondes word ook verderaan genoem, maar homoseksuele verbintenisse kry beslis prominensie. Hoekom? Dit lyk asof Paulus sê dat die misplaaste eerbetoon van die mens om homself as skepsel te eer in plaas van die Skepper, daartoe aanleiding gee dat God die mens as straf oorgee aan ‘n verwronge misplaaste liefde – ‘n gerigtheid teen die natuur in op die (self) eie geslag in plaas van die teenoorgestelde geslag! Asof God wil sê : “Julle in julle rebelsheid draai alles verkeerd om, nou sal julle die konsekwensies daarvan op ‘n soortgelyke manier in julle diepste menswees, in julle seksualiteit ervaar.” Die verskynsel van homoseksualiteit is opsigself God se oordeel oor die rebelse menslike ras wat nagelaat het om Hom as God te vereer!

Homoseksuele moet opgeroep word tot geloof en bekering soos alle ander sondaars. Dit sluit aan wat reg aan die begin gesê is. Sondaars moet nie weg gewens of gehaat word nie, maar met liefde en erns tot bekering geroep word. (As die kerk nou homoseksuele verbintenisse gaan goedpraat of selfs wil, ontneem ons hulle in ‘n sin die voorreg van bekering.)

Homoseksuele hoef nie te wanhoop nie, daar is ook vir hulle soos vir alle sondaars wat hulle tot Jesus bekeer, vergifnis en verlossing. Die Woord is duidelik hieroor in Korintiërs 6:9-11. “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.”

Die implikasie is mos baie duidelik God is in staat om alle tipe sondaars te red, ook homoseksuele. Hulle WAS so...

Dis moontlik dat ‘n kind van God nog steeds ‘n stryd hê teen ‘n homoseksuele aangetrokkenheid.  Die duidelike onderskeid tussen vryspraak en heiligmaking moet altyd vasgehou word. Vryspraak (regverdiging) is ‘n eenmalige kwytskelding van skuld wat die sondaar onmiddellik en volledig ontvang as hy hom op Christus se soenverdienste werp. Heiligmaking is ‘n lewenslange stryd van die kind van God teen sonde en versoeking en sal eers finaal iets van die verlede wees, wanneer die kind van God verheerlik word by die wederkoms. Enige kind van God kan deur enige sonde (ook sondes van ‘n homoseksuele aard) versoek word en selfs ook val, maar moet opstaan en die stryd weer voortsit!

Die kerk van Jesus het ‘n besondere liefdesplig om haar lidmate wat in ‘n stryd teen sonde en twyfel gewikkel is by te staan; dit sluit mense in wat met homoseksuele versoekings worstel. In die stryd teen sonde en versoeking moet ons mekaar help, aanmoedig en mekaar se laste dra. ”Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself." (Galasiërs 6:1-3)

Die kerk van Jesus kan ‘n selibate leefstyl aan gebrokenes op hierdie terrein voorhou as ‘n heerlike manier om Christus se liefde te ervaar en toewyding aan Hom aan die wêreld te demonstreer! Dit blyk dat nie alle homoseksuele wat gered word, so herstel van selfde geslag aangetrokkenheid dat hulle ‘n huwelik kan sluit nie! Dit beteken nie dat hulle tweedeklas Christene hoef te wees nie. Die ongetroude staat is nie iets negatief volgens die Bybel nie. Dit kan die geleentheid skep vir ‘n standaard van diens en toewyding wat vir getroudes nie altyd moontlik is nie!

Die kerk van Jesus het ook ‘n plig om die heiligheid van die kerk tot eer van God te beskerm. Die Bybel aanvaar dit as vanselfsprekend dat ook die lidmate van die kerk steeds onvolmaakte mense is en in sonde kan val. Waar daar onberoulik in sonde volhard word, het die kerk egter ‘n liefdesplig om te vermaan en indien nodig verder te gaan deur afsnyding. Die motief bly die redding van die sondaar en die eer van God. As die kerk weens papbroekigheid, die soeke na mense eer, wêreldgelykvormigheid en die vrees vir vervolging (soos deur die goddelose media) terugdeins van hierdie plig, word die heil van die sondaar en die eer van God nie gedien nie! Op die ou end wen die kerk buitendien geen aansien deur ‘n pamperlang beleid nie, maar word nog meer ‘n voorwerp van bespotting omdat ons te bang is om die Woord waarin ons beweer ons glo, uit te voer!

‘n Lamsakkige kerk dwing geen respek af nie! So ‘n kerk verloor sy Bybelgetroue lidmate, terwyl sy in elk geval nooit genoeg aan die eise van die gay agenda kan voldoen nie! ONS MOET DIE WAARHEID MET LIEFDE VERKONDIG! So sal God verheerlik en sondaars gered word!

3.Ten slotte wil ons as kerkraad baie ernstig by ons Namibiese afgevaardigdes pleit om ‘n duidelik Bybelse standpunt in te neem, terwyl ons julle die wysheid en seën van die Here toewens.

Die Kerkraad
NG Kerk Tsumeb



14 opmerkings:

  1. Dankie Tsumeb. Mag baie gemeentes jul voorbeeld volg

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie broer Koos, elke stukkie ondersteuning, help en bemoedig God se kinders!

      Vee uit
  2. Innige dank en waardering aan Tsumeb! Mag vele julle volg en ons Hemelse Vader julle krag gee - ek glo die aanslag gaan vel wees.

    AntwoordVee uit
  3. 'n Ondubbelsinnige en Bybelse reaksie Tsumeb! Baie dankie vir jul getrouheid aan die evangelie van onse Here Jesus Christus! Mag die Here julle vertroue in Hom gee in die dae wat kom. En mag jul getuienis ander sterk om self standpunt te neem. O, mag die Here herlewing gee!

    AntwoordVee uit
  4. Ons is die Here dankbaar vir die getuienis waartoe Hy julle roep. Mag julle die reformasiepad in vrymoedigheid enduit stap.

    AntwoordVee uit
  5. Kosbaar. Dit behoort elke mens wat dit lees, te vul met dankbaarheid oor God se wonderbare genade in JESUS!..SY genade het 'n dubbel kuur..om ons te bevry van die vloek, die smet en houvas /slawerny van die sonde (Rom.6)..en ons die wonderlike honger na geregtigheid te gee..omdat ons HARTE gevul is met die GEES van Christus, wat LEWE gee..Rom.8:8-10. Mag ons een en elkeen nie terugdeins om mense te lei na genesing van ons sondige natuur nie..Jesus waarborg Hy sal NIEMAND wegwys wat opreg tot Hom nader nie.(Jh 6; Jak.4; Heb.11:6).En die feit dat iemand 'n sondaar aanspreek, soos Nathan vir Dawid, moet jou laat besef..die HERE is besig om jou te trek..Slaan ag op Sy oproepe..gaan drink uit Sy fontein!

    AntwoordVee uit
  6. Kosbaar Johannes en Tsumeb N.G. Kerk!!! Dankie vir jul getrouheid aan God ons Vader. Die Gees lei en genees. Vergifnis is by Jesus Christus en ek eer jul standpunt en waarvoor jul staan. Mag alle oe geopen word en mag jul ryklik geseen wees in jul kerk waar ware en waaragtige woord verkondig word. Dankie Johannes vir jou algehele gehoorsaamheid en onderskeiding vir dit wat voor God en nie mense, reg is.

    AntwoordVee uit
  7. Die krag van die woord kan nooit onderskat word nie. Meer as 3 jaar later lees ek hierdie en is dit die beste uiteensetting wat ek nog gelees het. Baie dankie Ds De Koning en die Tsumeb NG Kerkraad, mag die wat ore het hoor.

    AntwoordVee uit
  8. Tsumeb gemeente ek stem met my hele hart saam.
    Ds Ronnie Neveling

    AntwoordVee uit
  9. Antwoorde
    1. Amen, Tsumeb, welgedaan! Volhard op die smal weg!

      Vee uit
  10. Ds Johannes, Soos wat ek - 'n oud Tsumeber - hierdie lees, bevind ek meer en meer die genade van God. Ek sien Ds Oosthuizen (1984) se siel hierin. Ek ervaar so sterk God se liefde en genade. Mag jul Sy Woord weer en weer ontdek. Jesus-liefde, Zelda (gebore Venter)

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie vir jou terugvoer en goeie wense! Liefde in Jesus!

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.