BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 15 Desember 2014

BLOEDRIVIER

- se geestelike dimensie. 

‘n Christen kan nooit bloot uit ‘n sekulêre oogpunt na die geskiedenis kyk nie. Allermins nog na ‘n gebeurtenis soos die Slag van Bloedrivier as mens die plegtige Gelofte in ag neem wat die Voortrekkers in diepe nood tot God gemaak het. (Kliek op AGTERGROND VAN DIE GELOFTE) Die geestelike betekenis van Bloedrivier is nie sommer ‘n stuk verdigsel of wensdenkery nie. Dit kom duidelik na vore uit ’n verhaal van R.B Hully, die tolk van die sendeling Owen wat hom in 1837 in Zoeloeland gevestig het. Dit handel oor die eerste diens wat Owen vir Dingaan en sy mense gehou het. 

Nadat Owen omtrent ’n halfuur gepraat het, het die koning hom stilgemaak en gesê “Ek het ’n paar vrae wat ek jou wil vra sodat ek jou kan verstaan. Sê jy dat daar ’n God is en net een God? Die sendeling antwoord : Ja. Sê jy dat daar ’n hemel vir goeie mense is en net een hemel? Antwoord : Ja. Sê jy dat daar ’n duiwel is? Antwoord : Ja. Sê jy dat daar ’n hel is vir slegte mense? Antwoord : Ja. Toe sê die koning : ‘As dit jou geloof is, dan is jy vir my en my mense van geen nut nie. Ons het al daardie dinge geweet voordat jy vir ons kom preek het. Ek en my mense glo dat daar alleen een god is - ‘Ek is daardie god’ Ons glo dat daar net een plek is waarheen alle goeie mense gaan - dit is Zoeloeland. Ons glo dat daar net een plek is waarheen alle slegte mense gaan. Daar! Terwyl hy na ’n rotsagtige heuwel in die verte wys. ‘Daar is die hel waar al my slegte mense heen gaan. Die kaptein wat daar bly is Matiwane, die hoof van die Amagwane. Ek het hom doodgemaak en hom die hoofduiwel gemaak van al die slegte mense wat doodgaan. Jy sien daar is net twee kapteins in hierdie land, Matiwane en ekself. Ek is die groot kaptein, die god van die lewendes, Matiwane is die groot kaptein van die slegte mense. Ek het jou nou my geloof vertel. Ek wil hê jy moet my nie weer pla met die stories van julle Engelse mense nie. Jy kan in my land bly solank jy jouself behoorlik gedra. 

Dit was blykbaar die eerste en laaste geleentheid wat Owen toegelaat is om die evangelie aan die Zoeloes te bring. Dingaan se despotiese mag was dus ’n duidelike struikelblok in die weg van die evangelie. Kan jy sien, by Bloedrivier was daar meer op die spel as net die politiek van die dag?

Met dit alles as agtergrond kan mens twee aspekte van die geestelike dimensie van die oorwinning by Bloedrivier uitlig*:

~ Bloedrivier open die weg vir die evangelie in Zoeloeland. Vyf dae na die moord op Retief skryf die sendeling Owen in sy dagboek : “Die regverdige Regter ... sal nie toelaat dat hy (Dingaan) in vrede rus nie ... Dit wil voorkom asof hy self nie verstaan nie, maar as hy die karakter van sy teenstanders, die Voortrekkers, ken soos wat omstandighede onlangs uitgewys het in hulle oorloë met Silkaats, dan sal hy weet hoe verskriklik dit is om hul grimmigheid uit te lok en watter vasberade en magtige vyande hy gemaak het deur hierdie daad van aggressie wat onbesonne en onwys, verraderlik en wreed was.
Maar al hierdie dinge sal ten goede werk, ook vir die verspreiding van die Evangelie. Ons het gebid dat ‘n weg geopen mag word vir die bekendstelling van die Evangelie onder die Zoeloevolk. En nou, op ‘n manier wat ons nie verwag het nie, is God besig om sy eie planne uit te werk. Die hoogmoed en brutaliteit van die Zoeloekapteins, is die hoofstruikelblokke vir die verkondiging van die waarheid. Wanneer die hoogmoed verflou het, sal die weg vir die Evangelie makliker wees. God is nou besig om die trots van die volk in die algemeen en die kapteins in besonder, te verneder. Hy het toegelaat dat hulle deur hulle eie hoogmoed, verwaandheid en boosheid in sulke afskuwelike gruwelikhede verval, wat hoog waarskynlik hulle eie ondergang en dié van hul volk sal meebring, waarvan hulle nooit sal herstel nie en wat die weg sal voorberei vir die sendelinge van die wêreld.” Owen het dus al iets van die geestelike dimensie raakgesien.

~ Bloedrivier is ‘n bewys dat God ’n geestelike doel het met die Afrikaner se voortbestaan in Afrika. Ons glo dat God ’n wonder bewerk het en die oorwinning gegee het... Natuurlik het Hy middele en omstandighede gebruik....die mis wat opgeklaar het, die feit dat die Zoeloes nie in die nag aangeval het nie... In elk geval sê die Skrif duidelik : “Perde kan afgerig word vir die oorlog, maar dit is die Here wat die oorwinning gee” (Spreuke 21:31).... God is in beheer van die geskiedenis (“His story”), God bepaal die lotgevalle nie net van enkelinge nie, maar ook volke en nasies. Nou as ons sê dat God die oorwinning gegee het, het Hy dit met ’n doel gegee, en die doel is die uitbreiding van sy Koninkryk. En daarom is Geloftefees nie ’n poltieke fees nie, nie ‘n fees om mense te vereer nie, maar ’n Godgesentreerde fees. (Terloops God se doel was nie politieke mag nie... Na slegs  ’n paar jaar het die Trekkers in Natal  hulle onafhanklikheid verloor.) Geloftedag gaan nie oor nasionalisme nie, maar herinner ons aan die Goddelike roeping, spesifiek aan die sendingroeping wat God aan Christen Afrikaners gegee het in Afrika. 

Christen Afrikaners was nog altyd bewus van hierdie sendingroeping wat God aan ons volk in Afrika gegee het. Ware Christen Afrikaners sal altyd sendingmense wees!

Een van die jong seuns wat die Groot Trek meegemaak het was Paul Kruger. Het jy geweet hy was ’n uitgesproke sendingondersteuner? (Kliek op PAUL KRUGER)


FEES VIR ALLE CHRISTENE

Wanneer die geestelike dimensie en betekenis van Geloftedag en Bloedrivier besef word, styg hierdie gebeure uit bokant die konteks van blote etniese konflik, vergelding en volksbelang. God het immers die noodroep van die Voortrekkers verhoor, nie omdat hulle Afrikaners was nie, maar omdat hulle (ten minste 'n beduidende deel van hulle) Christene was wat hulle vertroue op Hom gestel het en nie slegs op wapens vertrou het nie! God se uitverkorenes is nie een of ander etniese groep nie, maar almal wat aan Jesus Christus behoort. Daarom kan die gebedsverhoring by Bloedrivier en die positiewe Koninkryksgevolge wat daaruit voortgevloei het, deur ALLE Christene, hetsy Afrikaners, Zoeloes of wie ook al gevier word deur danksegging aan God op hierdie wonderlike dag van 16 Desember. Die misbruik van hierdie kosbare dag deur sommige, verhoed nie God se kinders om Hom op die regte manier te eer en te dank nie! 

*Vir hierdie artikel in geheel is ek in groot mate dank verskuldig aan Prof. Billy Heiberg vir 'n Geloftefees toespraak wat hy gelewer het.


                                                                Dingaan

2 opmerkings:

  1. Die Here het uit genade en vir sy doel die oorwinning gegee - nie op grond van die "Gelofte" nie. Hy is nie verleë oor 'n "huis" nie en hy het nie behoefte aan 'n "Sabbat" nie. Dis 'n groot vraag of "die Afrikaners" ooit in hierdie doel ingepas het - wel die wedergeborenes onder hulle wat die evangeliseringsroeping nagekom en ondersteun het. Daarom vier ek op "Geloftedag" nie die "gelofte" nie, maar God se trou, sy onwankerlbare koninkryk en die feit dat hy sy Plan deurvoer ondanks mense. DC Coetsee

    AntwoordVee uit
  2. Dankie vir jou perspektief en jy is natuurlik 100% reg, die uitkoms was uit genade en is beslis nie deur 'n Gelofte verdien nie. Redding kom ook uit genade en dis beslis nie ons gebed of geloof wat dit verdien nie! Wat ons voorouers gedoen het was om hulle in hulle nood na God te wend (soos ek en jy seker ook al dikwels gedoen het) en dit aan 'n gelofte te koppel (wat sekerlik nie verkeerd is nie). Ons as nageslag kan dit vier en God dank vir sy trou (stem so saam met jou!) sonder om van die dag 'n ikoon te maak van selfsug en eiebelang! Dankie vir jou bydra!

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.