- verstaan die agtergrond en aanloop.*
Vir baie moderne Afrikaners maak die Gelofte voor die slag van Bloedrivier nie meer sin nie. Vir sommige het dit ietwat van ‘n oorlas en stuk bagasie uit die verre verlede geword. Vir ander selfs ‘n verleentheid. Heel moontlik is die oorsaak dalk skryende onkunde oor die geskiedenis... Dis daarom dalk nuttig om net weer eerlik na die verwikkelinge wat as aanloop tot die Gelofte en Bloedrivier gedien het, te kyk. Stel jouself bietjie in die skoene van ons voorvaders... Die Voortekkers in Natal was op ’n laagtepunt van hulle bestaan, op die randjie van mislukking en totale uitwissing. Dit het voorwaar gelyk asof alles wat verkeerd kon loop inderdaad verkeerd gegaan het. Die jaar 1838 was ‘n jaar van ontstellende benoudheid en ellende:
~ Op 6 Februarie 1838 word Retief en sy ongewapende manne koelbloedig en wreed vermoor nadat hulle eerlik en opreg oor grond onderhandel het en ‘n ooreenkoms met Dingaan gesluit is. (Ongeveer 70 mans waaronder ’n paar seuns verloor hulle lewens op uiters wredaardige manier.) Francis Owen ’n sendeling onder die Zoeloes was nog die oggend besig om uit sy Bybel te lees toe daar ’n boodskapper van Dingaan kom met die skokkende nuus dat Dingaan besluit het om Retief hulle te laat vermoor. Voordat Owen nog kon besluit wat om aan die saak te probeer doen, wys die boodskapper na die heuwel buite Umgungundlovo waar die Zoeloes reeds besig was om die moorde te pleeg. Die Voortekkers verloor dus hulle groot leier op barbaarse wyse.
~ Dan volg die nag van verskrikking, 17 Februarie toe die Zoeloehordes op die niksvermoedende slapende laers van die Voortrekkers toesak en almal voor die voet probeer uitwis. Niks en niemand word ontsien nie. Onbeskryflike treurspele en kloekmoedige heldedade... Selfs suigelinge is in die arms van hulle moeders deurboor. Volgens J.N Boshoff se skatting het nie minder nie as 40 mans, 56 vrouens, 185 kinders en oor die 200 bediendes gesterf. Uiters grusaam gesterf! Die Voortrekker leraar Erasmus Smit skryf : “Dit was sug op sug, klag op klag. Ag God, Ag Heer! Hoe gedug, hoe groot is U oordele oor ons! Die gekerm van die gewondes en die angs en die skrik van die ander het ten hemel opgestyg”
~ Nou volg daar die verdere tragedie van Italeni op 10 April. Die Voortrekkers se strafekspedisie teen Dingaan misluk, toe hulle sterk kommando die onderspit delf teen Dingaan se impi’s en nog ’n leier, Piet Uys sterf. Dinge wou maar net nie reg loop nie. (Terloops, hier het ons ‘n bewys, gewere wen nie sommer vanselfsprekend teen assegaaie nie!)
~ Kort hierna was daar ’n verdere terugslag vir die Nataltrekkers toe Hendrik Potgieter Natal verlaat en sowat die helfte van die trekkers hom gevolg het. Dink aan die moedeloosheid van die groepie agtergeblewenes!
~ Verdere ellende is veroorsaak deurdat die oorlewendes in beknopte laers saamgetrek is uit vrees vir nog Zoeloe aanvalle. (wat inderdaad plaasgevind het) As gevolg van aanhoudende reën het siektes uitgebreek en tientalle kinders het aan masels en koors gesterf. Daar was ook ’n vreeslike haelstorm wat hulle watente en seile aan repe geslaan het. Dit moes seker vir sommige gelyk het asof die land vervloek was.
~ Nog was dit het einde niet! Op 23 September het ’n nuwe laagtepunt aangebreek toe die laaste erkende groot leier Gerrit Maritz op die jong ouderdom van 41 jaar gesterf het na ’n kort siekbed. Die laaste van die bekende leiers was daarmee heen.
Die trekkers kon nie nog 'n nederlaag of ramp bekostig nie!
Teen hierdie agtergrond is dit duidelik waarom die oorwinning by Bloedrivier so deurslaggewend was. ’n Mens kan jou die vrae en vertwyfelinge in menige hart voorstel – “Wie sê dinge sou nou regloop nadat dit gelyk het asof alles teen ons was - miskien was God self teen ons?” Aan die anderkant, dis nogal verstaanbaar dat gelowige mense wat fyngemaal is deur soveel beproewinge in hulle nood hulle vertroue op God gestel het en selfs so ver gegaan het om ‘n plegtige gelofte aan Hom af te lê. Die oorlewing en voortbestaan van hierdie groepie dapper pioniers was op ’n mespunt gebalanseer. Laat diegene wat die aflê van die Gelofte aan God kritiseer, belaglik wil maak of maar sommer net wil vergeet, liewers weer mooi dink...
God het inderdaad in hierdie uiterste toestande ’n wonderwerk bewerkstellig nadat die Voortrekkers hulle vertroue in Hom verwoord het deur die Gelofte onder leiding van Sarel Celliers. Dit gaan oor die Goddelike verhoring van gebed, en daarom kan ons weet dit gaan hier oor meer as net 'n stukkie Afrikanersgeskiedenis, ja dis wel gesiedenis, maar met 'n besondere geestelike dimensie. (Kliek op BETEKENIS VAN BLOEDRIVIER) Aan God alleen die eer en dank!
Sarel Celiers gedenkteken op Kroonstad.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.