BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag, 13 Desember 2011

PAUL KRUGER SE SENDINGHART

Paul Kruger die welbekende volksheld, kommandant en latere president van die ZAR was ook ’n diep gelowige kind van God. Wat meer is, hierdie lidmaat van die Gereformeerde Kerk het ook ’n vurige sendinghart gehad. Die onderstaande aanhalings uit twee briewe gee sterk getuienis hiervan.


Ds. Andrew Murray van die NG Kerk het Komdt. Kruger genader om hulp in verband met die kerk se sendingpoging in Transvaal. Kruger het ’n groot invloed onder die swart bevolking gehad. In ’n brief aan sy kinders beskryf Murray vir Kruger as “a, good, pious man” en dan sê hy ook die volgende oor Kruger se gesindheid teenoor sendingwerk : “Mr. Kruger says that when God gave him a new heart, it was if he wanted the birds and the trees and everything to help him praise his Saviour; and so he could not bear that there should be any poor black people not knowing and loving the Saviour whom he loved.”


Op 13 April 1863 skryf Mev. MacKidd *(gebore Bosman) vrou van die NG. Kerk se sendeling in Transvaal, Alexander MacKidd aan die susters van Worcester as volg: (uit Nederlands vertaal) “Hierdie oggend het ons nog ’n besoek gehad van ’n waardige broeder in die Here naamlik, Paul Kruger, die kommandant van Rustenburg. Hy het ons besonder bemoedigend toegespreek oor ons sendingsaak, hoe dit ons roeping is om God se wil te doen, al sou ons van tien duisend heidene slegs vyf of tien tot middel wees van bekering, dat ons ter wille van hierdie paar vertroos mag word in verdrukking, of al sou daar geen een tot bekering kom nie, dan is dit ons plig om God se wil te doen, om aan hulle die evangelie te verkondig al sou dit dan ook niks anders wees as tot ’n getuienis tot hulle op die dag van die oordeel.”

Ons as Afrikaners het sekerlik baie sake in die verlede om oor te treur en daar is baie voorbeelde van roepingsversaking, maar ons kan ook dankbaar wees vir die godsmanne in ons voorgeslagte, bemoediging put uit hulle visie en voorbeeld en voortbou op die fondasies wat hulle gelê het.

*Sien 'n volgende Blog vir 'n kort lewensskets van haar

 

(Bron : W.L. Maree, Lig In Soutpansberg)
















Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.