BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 12 Desember 2014

FEESTYD!

- vol vreugde en vergenoegdheid!


Hierdie tyd van die jaar is veronderstel om vreugdevol te wees. Ons vier mos immers die geweldige gebeurtenis van die vleeswording van God se Seun.* Vir baie mense is dit egter ‘n hartseer tyd, want dit onderstreep juis een of ander nood, gebrek of gemis. Ander het dalk geld om presente en lekker kos te koop en jy moet droë bek by die huis sit in groot verknorsing oor jou geldsake. Ander is omring deur vriende en familie en jy worstel met jou verwurgende eensaamheid eenkant ver! Ander lag in vrolikheid, jy huil van pyn in die feestyd of treur oor ‘n geliefde wat nie meer daar is nie! Jy plak maar ‘n gedwonge glimlag aan...

Moet ek nou maar bitter en sonder vreugde en vervulling bly? Is daar dan nie tog ‘n manier om jou blydskap te behou nie? Om eg tevrede en vreugdevol te wees ten spyte van een of ander stuk swaarkry nie?

Wees verseker, jy hoef nie ‘n vreugdelose feestyd te hê nie! 

Die brief aan die Filippense gee baie praktiese raad oor blydskap (lees hoofstuk 4) en dis eintlik ironies, want Paulus skryf dit vanuit die tronk. (nie juis 'n vreugdevolle habitat nie) Hy het reeds oor die opdrag tot blydskap geskryf en die belangrike raad in 4:6 gegee. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” Gebed en smeking met danksegging is die pad na blydskap!

VERGENOEGDHEID

Nou kom hy by ‘n verdere aspek en dis vergenoegdheid, tevredenheid. (dit gaan saam met blydskap) Vergenoegdheid is ‘n kosbare juweel wat ‘n Christen dra. Wat uniek is aan die Christen se vergenoegdheid is dat dit ‘n vergenoegdheid behels wat in alle omstandighede teenwoordig is. Hoor bietjie - “...ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.” (11,12 OAV) Vir Paulus was hierdie saak van vergenoegdheid nie ‘n stukke studeerkamerteorie nie, maar praktiese ondervinding. Hoe het hy dit reggekry? Die dikwels aangehaalde vers 13 gee die antwoord. “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” Let mooi op, hierdie krag wat Jesus gee is nie ‘n superkrag om dinge te doen wat my pas nie. Dis nie ‘n towerstaffie wat probleme laat wegsmelt nie. Dis nie ‘n reseppie vir gerief, geld en grootheid nie! Dis nie die sleutel tot menslike ambisie en sukses nie! Dis nie die fondasie van die Prosperity Gospel nie – allermins! In die Nuwe Testament is krag nie selfsugtige middel om vir my dinge maklik te maak volgens my smaak nie! “Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard.” (Kol 1:11) Dis ‘n krag wat my in staat stel om alle omstandighede te verdra met blydskap en tevredenheid! 

Christus gee my krag om alles te hanteer en te verduur... meer nog, om in alle omstandighede tevrede en vol vreugde te wees!

In wie werk hierdie krag van Jesus Christus en hoe werk dit? Ons kry reeds in die eerste hoofstuk ‘n praktiese voorbeeld van hoe hierdie krag van Jesus vir Paulus in staat gestel het om vreugde en vergenoegdheid in ‘n Romeinse gevangenis te beleef! Paulus se geheim kry ons in 1:21. “want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.” Sy lewe fokus en draai om Jesus Christus. Jesus self het sy ambisie en doelwit geword. Christus en om Hom beter te leer ken het sedert sy bekering sy hoof ideaal geword. Vat 'n tydjie om hieroor te dink... “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,” (3:10) Jesus self het sy vreugde geword. Omdat Jesus altyd dieselfde bly in alle omstandighede, stel dit hom in alle omstandighede in staat om vergenoeg te wees. Paulus se lewensgeluk, vreugde en ideale was nie afhanklik van eksterne faktore nie! Hy sê dat selfs al moes hy sterf, dit vir hom wins sal wees , want dan is hy mos by Jesus en dis verreweg die beste. Jy sien as die kosbare Jesus Christus die bron van jou blydskap en inspirasie geword het, dan kan dit nie deur omstandighede verander word nie. As jy oorvloed het, wel dan geniet jy die oorvloed wat die Here jou gee (sonder om skuldig te voel) Maar as jy deur ‘n tyd van gebrek gaan, kan jy nog steeds gelukkig wees. (sonder om verontreg te voel) Want in alle omstandighede bly Jesus jou fokus en heerlikheid!

Hierdie gefokusde afhanklikheid op Jesus, is ook Paulus se wens vir sy weldoeners in die gemeente van Filippi. " En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” (19) Deur Jesus Christus ontvang ons alles wat God volgens sy wil weet dat ons nodig het. Hierdie oorvloedige rykdom is ‘n rykdom van genade! (vgl. Ef 1:6)

Natuurlik maak hierdie krag van Christus nie dat mens ‘n gevoellose masjien word wat maar alles net met ‘n ystergestel verduur nie. Nee, Paulus het mens gebly en hy het hulp van ander mense ontvang wat hom weer opgebeur en bly gemaak het. Hy het in die tronk ‘n gawe/geskenk van die gemeente in Filippi ontvang en een van die redes vir die skryf van die brief was juis om dankie te sê. Die geskenk was vir hom ‘n bewys dat hulle hom nie hier in die tronk vergeet het nie. “Ek was baie bly in die Here dat julle na so ‘n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie.” (10) Jesus gebruik inderdaad ander dele van sy liggaam om ons by te staan, te versorg en te bemoedig. (Ja, daardie SMS, Kersmaaltyd, klein geskenkie, glimlag...is kosbare middele in God se hand...) Ons as kinders van God het dus wel ‘n verpligting om die wat minder het, siek is, eensaam is op praktiese maniere te ondersteun, ook in hierdie feestyd... Is jy oop vir die taak wat die Here vir jou het in ander se lewens, juis nou? Jesus gebruik inderdaad mense soos ek en sy om vreugde in ander se lewens te bring, maar die Bron bly Hyself. Ons gawes aan ander, kan juis help dat hulle dit sal besef en die Here meer sal vertrou en dank! En daar is 'n bonus - deur te gee word jyself ryker, ryker in jou belewenis en verstaan van God se genade! Dis waaraan Paulus die Filippense herinner as hy hulle bedank vir hulle geskenk : "Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker." (17)

Paulus sê in wese, “baie dankie vir julle geskenk – dit beteken vir my ontsettend baie, maar ek wil net hê julle moet weet my blydskap is nie afhanklik van uiterlike voorspoed nie, maar van Jesus wat my krag gee om in alle omstandighede vergenoeg en vreugdevol te wees.” Hierdie mense se gawe het Paulus se hart weer opnuut dankbaar teenoor die Here gemaak! Paulus het in die slegste omstandighede vreugde en vergenoegdheid beleef, Jesus gee vir jou ook die krag hiertoe...

WEES VERGENOEGD EN TEVREDE - DIS DIE POSITIEWE VAN DIE TIENDE GEBOD!

*Dit beteken nie dat ons dink Jesus is op 25 Desember gebore nie. (Kliek op KERSKOUS)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.