BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 14 Junie 2018

“GESEËNDE” DWAAS


- vol skure en reuse bankbalans, maar vir ewig bankrot! 



“Kyk net hoe geseënd is hy, hy het al weer sy besigheid uitgebrei, al weer ‘n nuwe motor gekoop, nog ‘n luukse eiendom by Langstrand, Kampsbaai of Clifton... Die Here is baie goed vir hom...” Dis hoe mense praat en dink. Die harde realiteit is dat hierdie sogenaamde geseëndes egter dikwels op pad is na die verderf. Hierdie “seëninge” is baie keer net ‘n mooi woord vir hebsug en gierigheid. 

Hebsug is die hoofpad na die hel! 

Gierigheid is die groot gevaar wat lei na die ewige vuur! Dis juis so gevaarlik omdat ons dit nie as ‘n sogenaamde groot sonde soos egbreuk of moord sien nie. Tog is dit een van die sake waaroor Jesus die meeste teen gewaarsku het. Waarom is gierigheid of hebsug so subtiel gevaarlik en vernietigend? Ons kry hier in LUKAS 12:13-21 (die gelykenis van die ryk dwaas) ‘n paar belangrike insigte oor die gruwel van gierigheid en hebsug. 

DIE VROOM GESIG VAN HEBSUG. 

“En een van die skare sê vir Hom: Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.” (13) Ai, tog hoe respekvol, vroom en eerbiedig klink dit! Hierdie man vra raad by Jesus. Maar luister mooi, hy roep Jesus se hulp in ter wille van sy hebsug. Nie om van sy hebsug bevry te word nie, maar om dit te bevorder. Dis tipies van baie godsdienstige mense. Hulle misbruik Jesus om hulle eie belange te bevorder. Die Here moet my nou help, want ek het nog nie genoeg nie... Natuurlik het Jesus Hom nie laat vang nie en gebruik hierdie versoek nou as aanknopingspunt om te wys op die gevaar van gierigheid/hebsug. 

DIE MISVERSTAND VAN HEBSUG. 

Die saak waaroor Jesus nou wil praat raak almal, nie net die vraagsteller nie. Hy rig Hom tot die skare met hierdie diepsinnige waarheidstelling: "Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie." (15) Jesus waarsku teen hebsug/gierigheid/liefde vir geld. Die lewe vind sy sin en betekenis nie in die omvang van mens se besittings nie! Sukses is nie gelyk aan besit nie! (al dink die meeste mense so) Die volheid van die lewe kan nie gemeet word in terme van aardse bates nie. Dis die groot misverstand van hebsug. Kom ons kyk bietjie na die konteks van Jesus se woorde. Die werk van Jesus in Palestina op daardie stadium was juis gerig op die lewe. Hy het baie wonders gedoen en verleng mense se lewe deur die genesing van siekes ens. Maar dit beteken nie dat lewe as sodanig alles is nie. Dit kom daarop neer dat mense nie moet dink as hulle nou gesondheid ontvang het dat hulle nou alles het nie. “Ek is nou weer pure perd, nou kan ek gaan geld maak!” “Nee”, wil Jesus sê, “julle lewe word verleng dat julle by God kan uitkom en Hom kan ken.” 

Die sin en inhoud van lewe, lê nie in gesondheid en besit nie, nie in materieel meetbare suksesse nie, maar in ons deelwees van God se Koninkryk. 

Dis die groot punt wat Jesus in die gelykenis maak. Dis baie duidelik dat die ryk man nêrens in die verhaal berispe word oor sy rykdom as sodanig nie. Daar is ook geen sprake van oneerlikheid nie. Hy was nie skelm nie, hy was hardwerkend, maar hy het die doel van die lewe gemis! Hy het God gemis! 

DIE VERSKONINGS VIR HEBSUG. 

Hierdie man was volgens alle sigbare aanduidings ‘n geseënde van die Here. Dit lyk asof alles in sy guns was... Goeie grond en sekerlik goeie reën! Hy sou eerlik kon sê: “Die Here seën my so wonderlik! Kyk die goeie talente wat Hy my gegee het om so suksesvol te boer, dis die Here wat my seën met grond, reën en goeie oeste . Ek kan net nie anders nie, ek moet net groter gaan en uitbrei, uitbrei...” Ons steek hebsug weg onder baie vroom praatjies – “Ag, dis die Here wat so goed is vir my, ek moet mos vir my vrou en kinders sorg.” Ja, dis so, maar dis baie keer net ‘n verskoning om meer en meer in te palm. Sorg jy ook geestelik vir jou vrou en kinders? Sorg jy nou so “goed” vir jou vrou en kinders dat hulle en jy nie meer tyd het om by die kerk, huisgodsdiens en gebed uit te kom nie? 

DIE BANKROTSKAP EN ELLENDE VAN HEBSUG. 

Hebsug laat jou eindig met niks. Dis die bitter skokkende ironie. Baie mense wat als het, het eintlik niks. Hulle is so arm hulle het net geld! Hierdie man het baie skatte gehad, maar hy gaan die ewigheid tegemoet sonder enige bates, sonder enige hoop! Hy het groot skure op aarde ja, maar het hy ‘n hemelse tuiste? Baie het hom dalk sy rykdom beny, maar eintlik moes hulle hom bejammer het! Hebsug is die verkeerde en gevaarlike opsie in die lig van die eindtyd. Jakobus spel die gevaar konkreet uit : “En nou, julle rykaards, kerm en kla oor al die swaar wat oor julle gaan kom. Julle rykdom sal tot niet gaan en julle klere sal deur motte opgevreet word, julle goud en silwer sal verroes. Die roes sal teen julle getuig en aan julle vreet soos ‘n vuur. Julle maak skatte bymekaar, en dit terwyl dit die laaste dae is.” (Jakobus 5:1-3) Dis nie woorde wat ons graag wil hoor nie, maar God het besluit dat ons dit moet hoor en gewaarsku moet wees... 

GOD SE BEOORDELING VAN HEBSUG. 

Hierdie man voel baie tevrede met homself. Sy aftreeplanne is in plek. Hy kan gaan op vervroegde pensioen. Hy hoef nie meer te werk nie; hy kan nou sonder sorge gholf speel en na Thailand toer! Maar wat is God se opinie? “Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’” (19,20) Skokkend! God self noem hierdie slim, vlytige, flukse en vooruitstrewende entrepreneur, ‘n dwaas! God kyk so anders as ons. God se beoordeling van ‘n suksesvolle gierigaard verskil hemelsbreed van mense se siening. Die wêreld en sy vriende sê : “Kyk wat ‘n sukses!” Die prosperity gospel aanhangers mymer baie vroom : “Kyk hoe geseënd!” God sê: “Kyk wat ‘n dwase mislukking!” Mense het hom dalk geprys, maar God beskou hom as ‘n swaap! Daar was dalk pragtige huldeblyke by sy begrafnis, maar God se opinie is dat hy ‘n pateet was. Wat gaan God oor ons lewe sê, as jy of ek vannag sou sterf? Hebsug het van hierdie man ‘n dwaas gemaak. Hebsug is ‘n skrikwekkende sonde, dit laat ons ons ware doel op aarde mis. En vir ewig...

DIE LEWE!

En wat is dan die ware sin van ons bestaan en ons eintlike doel? Wat is LEWE? Om na te jaag om God te ken! Om Hom te eer en Hom te geniet vir altyd! As my hoof ambisie en lewensdoel word om geld en besittings bymekaar te maak dan verloor ek visie op my eintlike doel om God te leer ken. Ook op ‘n praktiese vlak verhinder hebsug kennis van God. Ons bestee soveel tyd om ons onversadigbare dors na besittings te bevredig, dat ons nie tyd het om God se aangesig te soek nie. Hebsug maak ook dat ons nie lus het vir God nie. Al die mooi en blink dinge, bring ‘n skyn versadiging, dis eintlik net ‘n aptyt bederwer vir die ware voedsel, en dis om God te ken en sy wil te doen. 

Hierdie gelykenis stel ons voor ‘n vraag. Die eintlike vraag is nie vandag hoeveel geld jy het nie, die vraag is : Is jy ryk by God? Ken jy Hom? Is jy geseënd met die ewige lewe? Is dit dalk juis hebsug en gierigheid wat keer dat jy Hom ken? Gelukkig is daar ook vergifnis vir hebsug! Wees ryk by God, leef vir Hom deur Jesus te volg!




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.