BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 26 Mei 2013

MAAK DIE HEILIGE GEES BLY!

en ervaar sekerheid en blydskap in alle omstandighede.

Die Heilige Gees bewerk wedergeboorte en bekering en skenk blydskap aan die verlosde sondaar. Hy maak die verlossingswerk van Jesus aan die kruis ‘n vreugdevolle werklikheid in ons lewens! Die heerlike boodskap van Pinkster is juis dat Jesus die Heilige Gees aan sy kerk geskenk het. Elke wedergeborene!

Tog is ons lewens dikwels sonder krag, sonder oorwinning, sonder vreugde. Waarom?

Efesiërs 4:30 gee vir ons ‘n baie belangrike leidraad. En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.” Wat is snaaks aan hierdie vers? Die plek waar dit staan. Dit duik sommer hier skielik op tussen ’n klomp praktiese etiese vermanings. (Lees dit gerus in Efesiërs 4:1-5:5.) Hoekom? Wel dit lyk asof Paulus insinueer dat hierdie dinge waarteen hy waarsku soos leuens, woede, vuil taal, verbittering, opvlieëndheid... hierdie dinge bedroef die Heilige Gees. Hierdie dinge is so ernstig, dit maak die Heilige Gees hartseer! Kom ons kyk bietjie in groter detail na hierdie stelling van Paulus en wat ons daaruit kan aflei:

~ Die Heilige Gees is ’n persoon en nie bloot ’n mag of ’n gevoel nie - ’n onpersoonlike mag kan tog nie bedroef raak nie!

~ Moenie die Heilige Gees bedroef nie. Wat is baie opvallend hier? Sy woordkeuse – “bedroef”. Hy sê nie, moenie die Heilige Gees kwaad maak nie. Die woord bedroef veronderstel ’n konteks van liefde. Waar daar ’n breuk in ’n bloot tegniese verhouding kom, raak mens kwaad, maar as daar ’n haakplek kom in ’n verhouding waar liefde ter sprake is, kom daar droefheid. As jou vrou wegloop gaan jy tog bedroef wees, meer bedroef as kwaad. Aan die anderkant as jy ‘n verkeersreël oortree maak jy die staat (en die spietkop) nie bedroef nie, maar kwaad! Ons dink nie dikwels so daar aan nie, maar die Heilige Gees het ons lief!  Ons praat meer dikwels van die liefde van die Vader en die liefde van Christus, maar die Heilige Gees is ook waarlik God en Hy het ons lief.

Hoe so? Wel, dis baie duidelik uit Sy betrokkenheid by ons.

Dink bietjie daaraan : Wie het in jou hart gewerk toe jy nog ’n onaantreklike rebelse vuil sondaar was? Wie het met jou gepraat, wie het jou oortuig van sonde en van die heerlikheid van Jesus? Die Heilige Gees, ja. Die Heilige Gees het ons lief. Nie net as individue nie, maar as een liggaam van Christus. Hier in Efesiërs val die klem nogal sterk op die liggaamsaspek en onderlinge verbondenheid van God se kinders! Hy bewerk en smee die eenheid tussen God se kinders.(4:1) Dit is daarom te verstane dat enige onenigheid Hom ontsettend hartseer maak. Onthou - Hy woon in jou, Hy het jou lief ten spyte van wie jy is, maar Hy woon ook in jou broer en suster. En nou? Nou lieg jy vir jou broer, jy beskinder hom, jy benadeel hom.... dit bedroef die Heilige Gees.

Heiligheid gaan nie net oor persoonlike toewyding, Bybelstudie en gebed nie, maar ook baie beslis oor my verhouding met my medemens!

~Ons moet ook net weer kennis, neem ons het te doen met die Heilige Gees. Hy is heilig en alle onheiligheid en boosheid stuit Hom teen die bors. Hy woon in jou en Hy weet alles van jou, Hy ken jou diepste motiewe en gedagtes. Daardie verborge jaloesie, daardie afguns, daardie subtiele vyandskap, daardie geheime onrein begeertes of pornografiese verslawing, daardie growwe en vuil taal… Hy weet dit alles en Hy word bedroef.

Wil jy regtig die Heilige Gees wat jou liefhet, wat die verlossing in jou ’n werklikheid gemaak het....bedroef? Geen Christen by  sy volle verstand sal so iets wil doen nie. Hoe dwaas, hoe ondankbaar.

Daar is egter nog ’n rede hoekom die bedroef van die Heilige Gees so ’n ernstige saak is.   Hy verseël ons. (Ons vind hierdie gedagte reeds in Efesiërs 1:13,14) Die Heilige Gees in ons is die merk of teken dat ons werklik aan God behoort en dat ons finale verlossing gewaarborg word. Hy is ’n stempel van egtheid. Die Heilige Gees in ons is soos ’n deposito dokument wat die volle afbetaling waarborg. Wie dus die Heilige Gees bedroef, sal blydskap en sekerheid en vastigheid inboet.

Wie in sonde volhard, maak die Heilige Gees hartseer en verloor sy sekerheid en vreugde.

As die Heilige Gees in jou, hartseer is, gaan jy ook hartseer en sonder vreugde wees.

Hoe kan ons dit verhoed en hoe kan mens dit  regstel as dit reeds gebeur het? 

In Efesiërs 5:18 gee Paulus uiters belangrike raad hoe om onderlinge onenigheid en onrein spraak of optrede teenoor mekaar te voorkom. Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul.”  Die implikasie is : Kinders van God, julle moet leef onder die invloed van die Heilige Gees soos die kinders van die hel onder die invloed van alkohol leef. ‘n Dronk mens se aksies word deur die alkohol in sy bloed en sy brein aan hom voorgeskryf. So moet die kinders van God deur die Heilige  Gees se begeertes en standaarde gelei word. Leef onder die invloed van die Heilige Gees. Laat sy karakter, sy waardes, sy prioriteite jou gedrag teenoor jou broers en susters bepaal. Terloops - Die Heilige Gees se invloed is presies die teenoorgestelde as die van alkohol. Die Gees maak my verantwoordelik, bedagsaam en versigtig. Die dronkaard tree onverantwoordelik, onbedagsaam en roekeloos op!

Maar wat nou as ons reeds deur woorde en dade ons broers en susters skade aangedoen het en so die Heilige Gees bedroef het. Ons kry ’n leidraad in 4:32 waar Paulus sê: “...vergewe mekaar...”  Belydenis en vergiffenis is die antwoord.  Dis die gevolg van die Heilige Gees se oortuigingswerk,  maar juis dit maak Hom bly, want dit herstel weer eenheid.

Hoe dikwels beleef ons tye van kragteloosheid,  dorheid, onvrugbaarheid, geestelike depressie en ’n gebrek aan blydskap. Daar kan seker baie oorsake wees, en ons mag nooit veralgemeen nie.  Maak egter seker dat jy nie die Heilige Gees bedroef nie. Kom ons stel dit liewer positief - maak die Heilige Gees in jou bly - deur eensgesindheid, integriteit, liefde, reinheid teenoor jou broers en susters uit te leef.  Doen wat die Gees gelukkig sal maak! 

As die Heilige Gees in jou bly is, sal jy sekerheid, 
vreugde en blydskap ervaar!

(hierdie preek het ek by my broer Jacobus de Koning gehoor)


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.