BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 07 Mei 2013

Maak ’n pad vir die Here in die woestyn!

(Verslag van besoek aan Kaokoland 29 April - 3 Mei 2013 deur ds. Erik van Zyl) 

Die profeet Jesaja profeteer, Iemand roep: "Maak vir die Here ‘n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ‘n grootpad vir ons God! "(Jesjaja 40:3) 

Die droogte is vir ’n 2de jaar besig om van Kaokoland ’n woestyn te maak, .....eers het die Ova-Himba geveg om hul beeste te red, nou is daar ’n verslae gelatenheid. "Koka" in Herero beteken dood, dit is wat jy hoor wanneer jy vra hoe dit gaan. Daar is reeds beeste dood en baie wat veg om oorlewing staar die dood in die oë.... 

Die enigste hoop is die hoop van die evangelie! Mag God in die droogtetyd ’n pad oopbreek vir die evangelie in die mense-harte van ’n dorre Kaokoland. Hoe bemoedig jy mense wat op die punt staan om in aardse terme alles te verloor? 

Hester en Frederick vergesel my en in Opuwo voorsien die Here wonderlik! Selma van der Merwe (nooiensvan), nasaat van ouma Willemiena van der Merwe, dorslandtrekker, is ons gids! Haar aansteeklike lag en humorsin en liefde vir die Here maak haar teenwordigheid ’n vreugde. Ons maak beurte, twee sit agter op die bak van die Cruiser en twee sit voor. 

Die pad na Etanga oor die berge na Okaanga oor die vlakte van Ondije, vertel ’n eie storie: die opvolgreëns het nie geval nie, die bekke is baie en die verskroeide vlakte gras is net te kort en te min en die tiende en elfde maand lê nog ver en daarby is die damme by Ondije dorleeg. 

Die krale by Ondije staan leeg en by hoofman Uasuvisa Tjavara se tydelike afgeleë staning kry ons sy vrou, Uazamuani, ’n toegewyde kind van die Here. Dit wemel van die kinders, 16 van hulle, maar net een is haar eie! ’n Himba kleuterskool of bewaarskool, noem dit wat jy wil, die ander Himbas vertel ons sy is net ongelooflik lief vir kinders. Haar vriendelikheid en positiewe ingesteldheid is aansteeklik. Die enigste Herero Bybel by ons gee ons vir haar, maar sy bemoedig ons meer as ons vir haar. 1Thessalonisense 5: 16 - 18 is haar getuigskrif, Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. Bid vir Uazamuani, want sy is besig om te midde van die droogte ’n pad vir die Here oop te maak in Himba kinders se harte. 

Die aand kamp en kuier ons in ’n droë rivierloop naby Tjise Tjambiru se kraal in Okaanga. Die boodskap trek ver, sommiges word aangery, daar is omtrent 30 bymekaar wat na die Jesusfilm kyk. Donderdagoggend, met die kruisgebeure vars in ons geheue, vier ons nagmaal; soos met die laaste avondmaal was ons 12 gelowiges. Die Here lê op my hart ’n boodskap van hoop uit die boek Job, met Jakobus (1:3) se woorde as inleiding: My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 

Die geheim is om God te midde van beproewings, swaarkry, droogte ..... met blymoedigheid te dien, want dan gaan dit oor Hom en nie oor Sy seëninge nie! Bid vir die Ova-Himba gelowiges, dat hulle in die droogte-tyd ’n pad vir die Here sal oopmaak en die Here sigbaar sal maak deur die blymoedigheid en vreugde waarmee hulle die Here volhardend dien en liefhet. 

Ons vertrek na hoofman Langman Muhenje, ’n vriend. Hy is nie by Omuatjivingu nie, maar oppad na die Ovivero-dam tussen die berge. Een van Kaokoland se slegste paaie, dalk die slegste! Selma sê dit is nie ’n pad nie! Die twee seuns wat langs die pad opklim is ook die twee engele wat afklim om die pad na hoofman Muhenje se tydelike kraal-staanplek te wys. Tagtig meter van die pad af daar onder in ’n kloof. Te voet kry ons die hoofman waar hy in laaste lig by sy vuurtjie sit. “Ek het gesien dit is my vriende ” sê hy. Ons groet en gesels. Ek kyk na die kloof en berg en bosse en wonder hoe gaan die Here dit vir my moontlik maak om vanaand die Jesus-film hier te wys. “Kan ’n mens met die kloof in die rivierloop terugry tot hier?” vra ek. 

Ons stap terug en ry verder, maar ons soektog na ’n pad is tevergeefs, die rivierloop in die kloof is onrybaar. Met ons terugtog stop ons, die bokwagtertjies langs die pad kan ons boodskap aan die hoofman oordra. “Ons het ’n probleem” sê Selma wanneer sy terugstap van die bokwagters. “Himba seuns is besig om ’n pad met pangas oop te kap !” “Dan ry ons die pad!” 

Voetjie vir voetjie en tree vir tree ry ons die pad tussen die afgekapte Mopanie boompies wat soos spiespunte ’n hinderlaag lê vir die Land Cruiser se bande. Hoofman Langman Muhenje het ’n grootpad gemaak vir die Here!, want ’n uur later staan die Cruiser in die rivierloop terwyl ongeveer 30 mans, vrouens en kinders na die Jesus-film kyk. Selma getuig baie van hulle het die Jesus film vir die eerste keer gesien! 

Vrydagoggend sit ons in die beeskraal en luister na die Woord van die Here uit Jesaja 40. Die hoofman het pad gemaak vir die Here, maar daar is ook ’n nou pad en breë pad. Selma getuig van God se liefde in haar lewe. Bid dat die Here ’n pad vir die evangelie sal oopmaak in die harte van die hoofman en sy hele kraal. Nadat Hester en Selma die hoofman se vrou se seer voet verpleeg en verbind het, vertrek ons terug met die hoofman se pad. 

Vrydagaand oornag ek en Hester op Queen Sophia, ’n hervestiging plaas van die regering tussen Outjo en Otjiwarongo. Die Here het vir Chris en Jessie van Rooyen geroep om daar te gaan bly. Met die regering se goedkeuring en seën het hulle as deel van ’n Kunene vir Christus projek reeds daar ingetrek en is hulle daartoe verbind om ten minste vir die volgende 5 jaar betrokke te wees om die lewenskwaliteit van die ongeveer 400 mense wat op Queen Sophia woon, te verbeter. Landbou, gesondheid en opvoeding is van die terreine waarby hulle betrokke sal wees. Bid ook vir hulle dat hulle blote teenwoordigheid daar ook ’n pad vir die Here sal oopmaak na die harte van die mense van Queen Sophia. Chris en Jessie noem die projek, projek Sagaria (6:4), want hulle weet in eie krag sal hulle nie slaag nie, alleen deur die Gees van die Here!


Ds. Erik van Zyl aan die woord.


Himba weduwee.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.