BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 25 April 2019

TERWYL ALLES WANKEL...

WEET DAN JY IS ‘N ONTVANGER VAN ‘N ONWANKELBARE KONINKRYK EN WEES DANKBAAR! 


Een van die rykste biljoenêrs in Denemarke verloor drie van sy vier kinders in die onlangse bomaanvalle deur Moslem ekstremiste in Sri Lanka.* Tragies! Ook ons hier op Tsumeb is die afgelope tyd amper op ‘n wrede manier herinner daaraan dat die geskape werklikheid wankelbaar, tydelik, broos en verganklik is : Die onsinnige moorde op Arandis, die !Uris Lodge wat afgebrand het en talle ellendes en siektes! O, ja en dan is daar ook nog die Notre Dame... 


In HEBREËRS 12:25-29 lees ons van wankelbare en onwankelbare dinge. Daar is inderdaad net twee soorte goed in die ganse heelal : wankelbaar en onwankelbaar! Ons kan alles onder hierdie twee noemers indeel. Reeds in die Ou Testament word hierdie feit duidelik gemeld. Psalm 102:27,28 vertel : "Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly. Soos ‘n kledingstuk verslyt, so sal alles vergaan, soos klere wat uitgedien raak, so sal U alles laat verdwyn. Maar U bly dieselfde, u jare het geen einde nie." 

Die geskape sigbare werklikheid is wankelbaar, eindig, nietig, tydelik! God alleen daarteenoor is onwankelbaar, ewig, onvernietigbaar! 


WEES GEWAARSKU! 

Ongelukkig spandeer mense meestal hulle tyd en energie op die wankelbare dinge. Die hartseer feit is, meeste mense plaas al hulle hoop en toekomsvreugde op die wankelbare dinge. Met kinders van God moet dit anders wees – ons is die ontvangers van ‘n onwankelbare koninkryk. Kom ons kyk mooi wat die skrywer hier vir ons wil leer: 

Hy rig ‘n kragtige waarskuwing! “Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie?” (25) 

Pasop! Luister na God! Dit was een van die bittere lesse wat uit die woestyntog geleer is – keer op keer het Israel nie op God se waarskuwings ag gegee nie en die skrikwekkende gevolge gedra! 

Dis nou nog belangriker om te luister. Hy stel hier ‘n kontras met die Sinaï gebeure : destyds het God se stem gekom van ‘n aardse berg om die bepalings van die Ou Verbond af te kondig, nou word die Nuwe Verbond (evangelie) vanuit die onsigbare Sion uit die hemel afgekondig! Hoeveel minder sal ons die oordeel nou vryspring as ons hierdie Woord van God verwerp. Ongehoorsaamheid aan die evangelie bring nog ‘n erger oordeel as ongehoorsaamheid aan die wet van die Ou Verbond! Die Goeie nuus het ‘n keersy,’n anderkant van die muntstuk. Die genade is groter in die Nuwe Verbond, maar die skrikwekkende konsekwensies as ek my nie aan hierdie genade steur nie is ook groter! 

Toe God vanaf Sinai gepraat het was daar ‘n aardbewing. “Destyds het sy stem die aarde laat wankel, maar nou het Hy aangekondig: "Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel." (26) Nou met die aankondiging van die Nuwe Verbond gaan dit nog verder. Hy haal aan uit die profeet Haggai. “So sê die Here die Almagtige: Nog een keer, binnekort, sal Ek hemel en aarde, see en land laat bewe.” (Haggai 2:6) Die aankondiging van die begin van ‘n nuwe bedeling! Die bedeling wat deur Jesus aangekondig en ingelui is!

Vir die skrywer is hierdie woorde ‘n duidelike bewys - Die materiële dinge (wankelbare, tydelike dinge) gaan geskud word, gaan tot niet gaan, om plek te maak vir ‘n hele nuwe onverganklike bedeling. Alle geskape dinge is tydelik. Maar daar gaan ‘n herskepping plaasvind! Die koninkryk van God wat aan die kom is, is onwankelbaar en ewig! (Dink sommer aan die droom van Nebukadnesar - die groot klip wat die beeld vernietig!) God se koninkryk is nie maar net ‘n verbygaande tydelike instelling soos alle aardse dinge nie! Dis nie ‘n lugkasteel of bedrogspul nie. Dis nie maar die lee beloftes van ‘n Obama, Trump, Zuma of Ramaphosa wat almal uiteindelik weer gaan teleurstel nie... God se koninkryk is onaantasbaar, volmaak, onwankelbaar... 

WEES DANKBAAR! 

En nou die heerlike ongelooflike nuus : Ons wat glo in ons volmaakte Hoëpriester Jesus is ontvangers hiervan! Ons wat staatmaak op sy offer en nie op ons eie goedheid nie, is burgers van die onwankelbare koninkryk! Ons het ‘n vaste belegging in ‘n ewige onverganklike bate! 

Die enigste logiese, redelike reaksie : Wees dankbaar! “Laat ons wat ‘n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil” (28) Die essensie van ons reaksie op God se genade is altyd dankbaarheid. Dankbaarheid is natuurlik iets konkreet, nie net teorie of gevoel nie... Dit moet behels dat ons God dien met eerbied en ontsag! Eerbiedige respek is nie onvanpas in die konteks van dankbare liefde vir God nie. (God is ‘n Vader, ja maar ‘n Vader vir wie ons respek het, nie ‘n speelmaatjie nie!) Prakties : Ons moet Hom dien soos Hy dit wil. Dit druis direk in teen die humanisme wat die mens in die middelpunt stel. Ons moenie God dien soos ons voel of soos dit vir ons lekker of voordelig is nie, maar soos Hy dit wil! Ons kry konkrete voorbeelde van hierdie dankbare diens in hoofstuk 13 : Broederliefde, gasvryheid, praktiese medelye, respek vir die huwelik en seksuele reinheid, ‘n lewe vry van gierigheid en vol vergenoegdheid, die bring van lofoffers! 

GOD IS VUUR! 

Nou hoekom is die dien van God in dankbaarheid en respek so ‘n ernstige saak? Die skrywer draai gee doekies om nie! “want ons God is ‘n verterende vuur.” (29) Nooit mag ons vergeet wie God is nie – ‘n verterende vuur! Ook in die konteks van die Nuwe Verbond waarop die Hebreërskrywer soveel klem lê! God se karakter is nie nou skielik anders nie! Hy het nie skielik in die Nuwe Testament ongeërg en slap oor sonde geword nie! Vuur simboliseer die angswekkende heiligheid van God, sy onverdraagsaamheid en toorn oor alle sonde. Dink aan: Sodom en Gomorra (met vuur uit die hemel verwoes), doringbos (die vuur wat brand), Sinaï (vuur en rook). Ook in die profete kry ons hierdie waarheid: 

“Die Lig van Israel sal die vuur wees, die Heilige van Israel die vlam: in ‘n enkele oomblik sal die vlam hulle geringes, die dorings en dissels, verbrand en verteer, en ook hulle aansienlikes, die vrugteboorde en die vrugbare velde. Dit sal hulle volkome vernietig.” (Jesaja 10:17,18) 

God is ‘n verterende vuur! Hierdie aspek van sy karakter word vandag feitlik volkome verswyg... 

Wanneer laas het ‘n sinode lidmate hieraan herinner? Ons sal oneerlik wees en ontrou aan die Woord as ons dit verswyg! 

God as vuur en God as liefde is nie teenstrydig nie, maar deel van dieselfde werklikheid. Respek en verwondering oor sy groot genade gaan saam met ‘n besef van sy skrikwekkende heilighed! 

Who can behold the blazing light? 
Who can approach consuming flame? 
None but Thy wisdom knows Thy might; 
None but The word can speak Thy name. (Isaac Watts) 

Is jy ‘n ontvanger van hierdie onwankelbare koninkryk? Wys jou lewe dit? Onthou weer die onwankelbare koninkryk van God is die enigste vaste bate in die heelal wat ware sekuriteit bied! (Terloops - Materialisme is die aanbidding en verering van hierdie einste wankelbare dinge...dis nie net afgodery nie, dis dwase afgodery!) Maak ons skatte in die hemel bymekaar of is al ons aandag steeds gefokus op die koorsagtige gejaag na aardse bates en aansien? Bates wat gaan brand...

Dien ons God met eerbied en ontsag? Of dien ons die eie ego en eie ek? 

Leef soos mense wat ‘n onwankelbare bate besit wat God ons gegee het! Leef heilig, leef dankbaar!  En wees nou eerlik:

Waar is jou hart, jou hoop, jou belangstelling, jou beleggings...?

*Anders Holch Povlsen is die eienaar van die klere kettinggroep Bestseller en grootste aandeelhouer in die klere reus Asos. Hy is ook volgens Times die grootste grondeienaar in die Verenigde Koninkryk.



Saterdag 20 April 2019

DIE MOEDSKEP VISIOEN

(Vir Israel Folau)*

Een prentjie is meer werd as ‘n duisend woorde! Hier in Openbaring 1:9-20 kry ons ‘n besondere prentjie – ‘n Moedskep-visioen** wat die swaarkry Christene van die destydse Klein Asië moes vertroos en bemoedig. En dis heerlik aktueel… dis vir ons! Vir Christene wat ly in Noord-Korea of Iran, maar ook kinders van God wat in die materialistiese en goddelose Westerse wêreld deur hulle eie families of die samelewing gespot, uitgestoot en vervolg word. Ouens soos Israel Folau wat weens hulle getrouheid aan die Woord skade ly en beledig word... 


TROOSBOEK

Onthou Openbaring is ‘n troosboek en nie ‘n detail voorspellingsboek nie. Die Christene aan wie Johannes geskryf het, het ‘n groot behoefte aan troos en bemoediging gehad. Hyself natuurlik ook. (Johannes deel in die swaarkry wat insluit vervolging en onregverdige behandeling, armoede, uitbuiting, geweld – Johannes self is immers verban na die eiland Patmos ter wille van sy geloof) En wat ‘n heerlike troos kry hulle… Dié troos is nie oppervlakkige clichés soos : “Ag, toemaar dinge is nie so erg nie.” Nie, “Ag onthou elke donker wolk het ‘n silwer randjie” nie. Nee! Dit gaan oor grondige evangeliese troos. Die troos wat Jesus se kruis en opstanding en ewige heerskappy ons bied. Die prentjie wat Johannes sien en waarmee hierdie Christene bemoedig word is die prentjie van die verheerlikte en oorwinnende Christus! Hy wat wel dood was maar nou vir ewige lewe! 

JESUS BY ONS!

In hierdie moeilike omstandighede moet kinders van God weet, Jesus is nie ver of afsydig nie, maar midde in sy kerk – tussen die staanlampe! By ons in ons nood en smart! Jesus is vir altyd betrokke by sy kerk en teenwoordig in sy ware kerk! (13) Jesus is die Seun van die Mens – (Daniël 7) Hy is die Messiaanse bevryder wat beloof is! 

KYK!

Nou word sy voorkoms vir ons in detail beskryf. Natuurlik moet ons dit nou nie verstaan as ‘n letterlike foto van Jesus nie, maar as funksionele beeldspraak om iets van sy ONBESKRYFLIKE HEERLIKHEID EN MAJESTEIT EN MAG te beklemtoon! Woorde ontbreek! 

Net kortliks (maak self jou Bybel hier oop by Openbaring 1): 

Die lang kleed en goue band (13) – Jesus se hoëpriesterlike waardigheid! Sy werk as Hoëpriester is voltooi! 

(14) – witheid dui op sy wysheid, insig, kennis. Hy weet van als en Hy het die oplossing en raad wat nodig is. 

Oë soos vuur – deurpriemende insig, alwetendheid, niks bly vir Hom onsigbaar en niks kan vir Hom weggesteek word nie! 

(15) Voete soos gloeiende geelkoper – Gepoleerde kopervoete beeld Jesus se standvastigheid en krag uit. Hy kan nie wankel nie. (Hy sal nie koue voete kry en vlug en ons in die steek laat nie...) Ook sy volmaakte suiwerheid. Wat ‘n troos in ‘n wankelende onsekere en onreine vuil wêreld! Jesus se heerlike andersheid staan uit! ‘n Magtige stem soos baie waters – dink aan die gedruis van ‘n indrukwekkende en asemrowende waterval! ‘n Gerusstellende geluid, God se stem! Goddelike gesag en Goddelike ontsagwekkende heerlikheid. 

(16) Die sewe sterre in sy regterhand – dui op die sewe leraars van die sewe gemeentes. Sy regterhand is sy sterk hand. Hy alleen beskerm en beheer sy kerk, soewerein! ‘n Skerp swaard – Jesus het die bevoegdheid om met sy woorde te oordeel. Jesus is die Een wat sy kerk aanspreek, bemoedig en oproep tot bekering. Jesus se woorde sal uiteindelik staande bly, Jesus het die laaste sê! Sy hele voorkoms is soos die son op sy helderste – Hierdie verblindende heerlikheid van Jesus herinner mens aan die gebeurtenis toe Moses van die berg Sinai afgekom het (toe sy gesig so geblink het) en ook aan die gebeurtenis by die verheerliking op die berg. Jesus se gesig wat van heerlikheid blinkende skyn. (Matt 17) Die onbeskryflike heerlikheid en majesteit van Jesus kan nie met mensetaal geteken word nie! 

Hierdie angswekkend heerlike visioen laat Johannes verstom en verbyster! Geen woorde nie! Hy val neer soos ‘n dooie. 

SY VERTROOSTENDE HAND EN WOORDE

Wat nou? Nou is dit so vertroostend. Jesus vat aan Johannes. ‘n Gerusstellende hand op sy skouer en gerusstellende woorde : “Moenie bang wees nie!” Hoe dikwels het Jesus hierdie woorde vir sy bang dissipels op aarde gesê – nou na sy opstanding hoor Johannes dit weer! Mag ek en jy dit hoor… en moed skep! Mag jy nou op hierdie oomblik in jou toestand van vrees, hartseer, verwerping of eensaamheid sy hand voel, sy stem hoor... 

DIE EERSTE EN DIE LAASTE

Asof die visioen nie genoeg was nie, gee Jesus in woorde weer ‘n bevestiging waarom Johannes en al God se kinders nie hoef te vrees nie. “Ek is die EERSTE EN DIE LAASTE!” Dieselfde betekenis as die “Alfa en die Omega” (8) Hierdie term kom uit die profeet Jesaja. 

Kom ons blaai bietjie na Jesaja: 

“Wie het dit gedoen en tot stand gebring? Hy wat die geslagte roep van die begin af; Ek, die HERE, die Eerste, en by die laaste is Ek dieselfde.” (Jesaja 41:4) 

“So sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.” (Jesaja 44:6) 

“Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook is Ek die Laaste. Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam.” (Jesaja 48:12,13) 

In al hierdie kontekste gaan dit oor God wat die Skepper is van als en almal, oor God wat volkome in beheer is van sy Skepping. God is die oorsprong van sy Skepping en bereik self sy doel met sy Skepping. Niks en niemand kan Hom keer om sy doel te bereik en sy planne uit te voer nie. Absolute soewereine gesag. Jesus, as ware God het hierdie Goddelike gesag en mag! 

Jesus se oneindige gesag en onbeperkte mag word bevestig deur die feit van sy OPSTANDING! 

Die opstanding is die onomstootlike bewys van Jesus se Goddelike heerlikheid en almag. Sonder die opstanding sou dit als maar net mooi woorde wees! Niks kan Jesus se gesag en mag inperk of belemmer nie! Hy lewe vir ewig! Hy en Hy alleen het die sleutels van die dood en die doderyk. Juis dit wat die grootste vrees en onsekerheid by die mens bring – die dood, staan nou onder beheer van Jesus! Wat ‘n heerlike troos vir hierdie Christene wat doodgemaak is vir hulle geloof. Jesus het beheer oor die dood, so selfs as ons sou sterf bly die dood skadeloos, want ons is dan by Hom in heerlikheid! Dis nie die duiwel of ander magte of enige aardse tiran wat finale beheer oor die dood het nie. 

Die Opstandingswaarheid bevry ons van 
ALLE VREES! 


(Maar onthou, die duiwel lieg vir ons en wil ons laat glo dat hy in beheer is en dat hy kan dood en verwoesting saai soos hy wil....) 

Al die heerlike waarhede oor Jesus – sy volledige versoeningswerk aan die kruis, sy almag, sy beloftes oor die ewige erfenis en volmaakte heerlikheid wat vir ons wag… is gebou op die kernwaarheid van die letterlike liggaamlike opstanding uit die dood! ( Twyfel jy oor die opstanding? Kliek – ENIGSTE VERLOSSER) Jesus se opstanding uit die dood op die derde dag is die fondasie van die verlossingsevangelie. Omdat dit waar is, is die evangelie waar. Dis waarom ons feesvier. Ons weet Hy het sonde, Satan, dood en hel oorwin! 

Sy dissipels was daarvan oortuig… hulle het aan Hom gevat, gesien hoe eet Hy brood en vis…. Ons is ook daarvan oortuig deur die Woord en die werk van die Gees in ons harte! 

Kyk vandag weer opnuut na die verheerlikte Jesus, voel sy hand, hoor sy Woorde en skep moed! 

* Israel Folau is die Australiese rugbyspeler wat vervolg word, bloot omdat hy Bybelse waarhede op Instagram herhaal het. Dit het die gay aktiviste die harnas ingejaag. Dis ook heel moontlik 'n voorskou van die tipe vervolging wat nog op alle evangeliese en Bybelgetroue Christene wag.
**Jan du Rand, p131


Sondag 14 April 2019

DIE KANKER VAN PARTYDIGHEID


“Versigtig, hy speel mos vir die eerstespan...” 

“Sy gee darem heelwat vir die kerk...” 

“Hy borg immers altyd ons jaareindfunksie...” 

“Pasop dat julle hulle nie aanspreek of kwaad maak nie, want...!” 

Ons weet mos dat alle mense nie dieselfde is nie. Ook binne die gemeente en in die breë gemeenskap van die gelowiges is daar groot verskille... Alreeds in destydse gemeentes van die Vroeë kerk was daar verskille... (baie lidmate het immers uit ‘n slawe agtergrond gekom...) Minder welvarend en meer welvarend, minder aantreklik en meer aantreklik, minder invloedryk of meer... Daarom vind Jakobus dit nodig om te waarsku teen partydigheid. “aanneming van die persoon” soos die Ou Vertaling dit stel. Hy praat uitvoerig hieroor in Jakobus 2:1-13. Partydigheid! Watse ding is dit? Ons behandel verskillende mense onregmatig op verskillende maniere en volgens verskillende maatstawwe. Dit gaan hier oor die sonde dat ons bevooroordeeld staan en diskrimineer teenoor mense op grond van een of ander uiterlike rede. Ons maak ’n sondige onderskeid tussen mense, wat maak dat ons sommige benadeel en ander bevoordeel. Ons klassifiseer mense op grond van hulle sosiale status, welvaart, voorkoms, afkoms, intelligensievlak, “nuttigheid” en behandel hulle dan onregverdig. Ons verdeel mense eintlik in twee groepe - belangrikes (in ons oë belangrik) en onbelangrikes (in ons oë onbelangrik). Belangrikes (soos ‘n skool se eerste rugbyspan of die invloedrykste persone in die dorp) word voorgetrek en goed behandel, terwyl die onbelangrikes (diegene wat nie borgskappe kan voorsien of sosiale aansien geniet nie) minder goed en minder regverdig behandel word. Hierdie praktyk van voortrekkery is reeds in die Ou Testament veroordeel, spesifiek in die konteks van die regspraak. “Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God.” (Deut 1:17) 

DISKRIMINASIE SKREEU TEEN DIE GELOOF IN JESUS! 

Partydigheid, uiterlike beoordeling of onregverdige bevoordeling...Geliefdes hierdie dinge gebeur ook onder ons. Binne in die gemeente van Jesus. Ons moet ons nou nie vaskyk teen hierdie spesifieke voorbeeld in Jakobus en maklik sê ons is nie skuldig nie. Ons het voortrekkery en diskriminasie tot ’n subtiele kuns verfyn. Hoe lyk diskriminasie onder ons? Spesiale aandag, vriendelikheid, behandeling en voordele word gereserveer vir die wat EK as belangrik beskou en uit wie ek dalk een of ander tyd voordeel kan trek. 

Praktiese voorbeelde: 

~ Deur ons manier van doen en praat word sekere mense uitgesluit. Ons sal nooit direk sê jy is nie welkom nie, maar ons optrede laat sommige mense uitgestoot voel. Ons sal miskien ‘n funksie reël wat net vir die rykes haalbaar is... Ons hou daarvan om eksklusief te wees. Ons houding sê ons is eintlik beter as ander Christene . 

~ Met sommige mense praat jy uit die hoogte. Jy sê niks verkeerd nie, maar jou houding en manier van aanspreek wys sommer net: “Ek is beter en belangriker...” 

~ Soms is dit ’n geheime sonde van die hart. Hierdie diskriminasie veroorsaak dat ons mense in ons harte veroordeel, afskryf, verag, degradeer... weereens sonder dat ons iets negatief sê. (Gewoonlik voel hulle dit aan vanuit ons lyftaal en algemene optrede) 

~ Sommige mense se opinies, probleme en klagtes word ernstig opgeneem, maar  ander s'n word feitlik geïgnoreer. Ons luister net met ’n halwe oor of glad nie... Aan die anderkant voor die magtiges, invloedrykes en belangrikes kan ons baie maklik ’n kruiperige houding openbaar, oordadig vriendelik of tegemoetkomend wees en dis net so verkeerd. 

~ Sommige mense word baie maklik en direk aangespreek. Ja, ons sal sommer ronduit die swakkes en die onbelangrikes uittrap, maar die rykes en die wat status het se misstappe word meer geredelik oorgesien. Die reëls word maar bietjie gerek en aangepas in hulle geval... 

Jakobus stel dit baie duidelik dat sulke optrede nie strook met ons geloof in Jesus Christus nie. Dit pas hoegenaamd nie by gelowiges nie. Kom ons kyk na drie redes waarom Christene nie so behoort op te tree nie. 

Partydigheid: 

1) is ’n gesindheid wat indruis teen God se karakter en optrede. “Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie?” (5) God is nie partydig nie en Hy trek nie mense voor nie. Dit word ook baie duidelik gestel deur Paulus in Romeine 2:11! “God trek immers niemand voor nie.” (NAV) “Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie.” (OAV)* Hy het ons gekies uit genade nie volgens voorkoms of prestasie nie. Sy onbevooroordeeldheid blyk juis uit die feit dat Hy die armes uitkies as erfgename van die Koninkryk. 

“Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. 
En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, 
en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie.” (1 Kor. 1:26-28.) 

God kies anders as wat die wêreld kies! Watter skande dat ons as sy kinders, wat onverdiende ontvangers van genade is weer die wêreld se standaarde en denkwyse wil toepas - en die armes en swakkes benadeel of uitstoot ter wille van die rykes of belangrikes. Partydigheid en diskriminasie is wêreldgesindheid van die eerste water! 

2) is teen die koninklike wet van God. “As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself," dan doen julle reg. Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders.” (8,9) Hierdie wet sê : “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” Gehoorsaam ons hierdie wet as ons mense uitstoot, verag, teen hulle diskrimineer of volgens ons eie standaarde klassifiseer? Nee! As ons mense voortrek en beter behandel as ander omdat hulle menslik gesproke belangriker lyk dan oortree ons die wet van naasteliefde. Dan doen ons nie wat God van ons vra nie. Dan staan ons dus skuldig teenoor die hele wet van God! 

3) is ’n uiters gevaarlike praktyk in die lig van die komende oordeel. “Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak. Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.” (12,13) Onbarmhartige en gevoellose optrede weens ons beoordeling van mense sal ernstige gevolge hê by die eindoordeel. “Praat en tree op soos mense wat baie ernstig is om presies te doen wat God van hulle vra. Julle weet mos dat God julle dade by die finale oordeel volgens sy wet gaan toets... Iemand wat ander mense sonder werklike liefde behandel, sal dieselfde liefdeloosheid en gevoelloosheid by die finale oordeel ervaar.” (Blye Boodskap) “Jakobus sluit aan by dit wat Jesus geleer het : Salig is die barmhartiges want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. 

VAT SAAM! 

-Partydigheid en onregverdige diskriminasie is verwoestende kankers wat hartseer en dood bring in ‘n gemeente. Behalwe dat dit die Heilige Gees bedroef lê dit ’n gemeente lam want dit werk in alle opsigte direk teen die liggaamsbeginsel. As die lede wat volgens ons oordeel swak is en minder belangrik lyk uitgesluit word, of weggedryf word dan sal die hele liggaam uiteindelik daaronder ly. (God gee immers van sy kosbaarste geestelike gawes juis aaan die geringstes...) Deur partydigheid, al is dit hoe subtiel word kosbare ledemate geamputeer en bly daar net ’n verminkte liggaam oor. (Terloops, is dit nie wat ons moet erken apartheid ook aan die kerk gedoen het nie? Val ons nie egter maar nog steeds in dieselfde strik nie?) 

-Om onpartydigheid na te streef beteken nie dat ons sê mense is almal dieselfde nie - daar sal altyd armes en rykes, sterkes en swakkes, “dommes en slimmes, lelikes en mooies” en inderdaad verskille in vermoëns of kultuur... Dis ‘n gegewe in ons onvolmaakte wêreld. Onpartydigheid en Christelike liefde beteken egter dat ons niemand op grond van hierdie verskille as onbelangrik sal ag nie, niemand op grond van status, voorkoms of iets dergeliks sal minag en benadeel nie. (En natuurlik onpartydigheid beteken nie dat ons ooit sonde moet goedpraat nie! Dit moet aangespreek word, op ‘n regverdige manier onder almal sonder onderskeid!) 

- DIE GROOT VRAAG : Geliefde is ons bereid om te doen wat God van ons vra? Wat vra Hy? Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Dit beteken dat alle vorme van diskriminasie - hoe subtiel ook al verkeerd is. Maar positief beteken dit - om alle broers en susters ten volle te aanvaar! Kom ons kyk positief na hierdie saak, ons het ‘n regverdige God wat nie ’n aannemer van die persoon is nie, Hy aanvaar ons volkome in Jesus Christus, ons kan dit bekostig, dit WAAG om andere volkome te aanvaar. Dis waar dit moet begin - ons moet besef en raaksien wie God is, ons moet glo dat ons in Jesus volkome aanvaar word; as ek hiervan seker is dan word dit sinvol, logies, bevrydend, heerlik om ander te aanvaar as God se skepsels in die algemeen, maar spesifiek ons broers en susters in Jesus wie hulle ook mag wees! 

"Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God." (Romeine 15:7)

 
*Dieselfde woord in Grieks wat ons in Jakobus kry. proswpolhmyia


Vrydag 05 April 2019

AFSPRAAK BY BET-EL


- DIE GETROUE GOD ONTMOET MET ‘N SKELM VLUGTELING! 

Dis ‘n donker en harde tyd vir Jakob! Die nag het hom ingehaal en hy slaap met sy kop op ‘n klip! Soos ons weet is hy op hierdie stadium ‘n vlugteling, want hy het saam met sy ma Rebekka, bedrog gepleeg en sy bejaarde pa Isak mislei en sy tweeling broer Esau woedend gemaak. Jakob is ‘n bedrieër en sy skelmgeit het hom nou ingehaal! Hy vlug vir sy lewe... 

Die wonderlike van hierdie verhaal in GENESIS 28:10-22 is dat God nie hierdie glibberige skelm vergeet nie, maar Homself aan Jakob openbaar op ‘n onverwagte plek op ‘n onverwagte tyd! God is inderdaad alomteenwoordig, orals! Hy kan Homself enige tyd en enige plek aan enige mens openbaar. Hy reël ’n ontmoeting soos en wanneer Hy wil... Ook juis met mense wat aan die hardloop is, wat dalk juis probeer wegvlug van God. Ook aan mense in die grootste nood en ergste krisis. Bang mense, benoude mense, stukkende mense, skuldige mense, sondige mense... Jakob sou kon dink dat hy ver is van sy voorvaderlike heiligdom by Berseba, net om hom nou vas te loop in God self. Dit verbaas hom en dit laat hom eintlik skrik. “Jakob het wakker geskrik en gesê: "Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie." Jakob het bang geword en gesê: "Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel." (16,17) Dit laat mens dink aan Psalm 139:7-12.* Jakob moes ontdek, ook hier ver van sy huis is God naby, hier is God aktief, hier staan hy voor die poorte van die hemel! 

God kan jou enige tyd, enige plek ontmoet! 

Dis opmerklik dat die skelm vlugteling Jakob nie hier ‘n skrobbering of teregwysing van God kry nie. Hy kry nie raas nie. Inteendeel, Hy kry ‘n bemoediging en versekering. God verskyn aan Hom as die getroue en genadige God. God verskyn aan die bedrieër nie omdat hy ‘n bedrieër is nie, ook nie omdat hy tog wel oor goeie eienskappe sou beskik nie, maar omdat God getrou is aan sy verbond! God se verbond wat hy aan sy oupa Abram gemaak het, aan sy pa Isak oorgedra is word nou herhaal aan Jakob! “Toe kom staan die Here by Jakob en sê: "Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees.” (13,14) Dis ‘n basiese herhaling van die drie elemente van die belofte aan Abram : ‘n groot nageslag, ‘n land en die seën aan alle nasies! Dis ‘n oorvloedige ruim belofte. Die grondgebied sal “uitgebrei” word soos ‘n dam wat sy walle oorstroom! Jakob se sonde en mislukkings kon nie die waarheid van God se verbondsbeloftes uitwis nie! 

Jakob kry ook meer as net ‘n algemene herhaling van God se beloftes. God praat met hom baie persoonlik in sy situasie binne die raamwerk van sy verbond. “Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het." (15) Detail maak vir God saak. God sien die nood van sy vlugteling kind raak. Hy het ’n besondere behoefte aan God se teenwoordigheid, leiding en beskerming en dis waarvan God hom nou verseker! 

God werk baie intiem en persoonlik met ons. 

Jakob se hart kon nie onaangeraak bly teenoor die goedheid en genade van God nie. Dit wek ’n reaksie by hom en hy maak ’n gelofte aan God en stig sommer daar en dan ’n aanbiddingsplek.(20-22) Na sy ontmoeting met die lewende God kon Hy nie anders nie, hy verbind homself daartoe om God te dien, ook met sy besittings. Natuurlik is ’n gelofte aan God ’n bitter ernstige saak! Die Skrif waarsku op baie plekke teen onnadenkende geloftes. Tog gebeur dit dat sondaars se harte so oorweldig word deur God se goedheid en genade dat hulle nie anders kan as om hulleself aan Hom oor te gee en trou aan Hom te beloof nie! Natuurlik ons redding is nie gebou op ons geloftes nie, ons geloftes is ’n reaksie op God se redding! 

Beleef jy nood, is jy dalk besig om van God weg te vlug, het jou sondige keuses of onverantwoordelike besluite jou ingehaal? God het nie sy beloftes aan jou vergeet nie. God ontmoet met jou by Bet-El, nou! 

VRAAG : Waar is jou Bet-El, jou huis van God? Weet jy dis nie in die eerste sin ’n plek nie maar ’n PERSOON. Jesus! 

Jesus self is nou die tempel, die huis van God (Bet-El) in die finale sin! Dis merkwaardig dat Jesus self na hierdie stukkie geskiedenis van Jakob verwys. 

Verder sê Jesus vir hom: "Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op— en afklim na die Seun van die mens toe." (Johannes 1:51) 

Die engele wat heen en weer op en af gegaan het op die trap/leer in Jakob se droom was die aanduiding dat hy met n Goddelike heiligdom en teenwoordigheid te make gehad het.` n Hemelse bevestiging dat God hier is! Die engele gaan opwaarts na die hemel om aan God te rapporteer en daal weer af om God se bevele uit te voer. As Jesus na hierdie gedeelte verwys is om vir sy dissipels te laat verstaan dat hulle hemelse bevestiging sal kry dat Hy die Messias is wat deur God aangestel is. Soos elke Jood vir Jakob as die stamvader van Israel geëer het, moet almal nou Jesus as die Messias erken!** God openbaar Homself nou nie meer in besonder op ‘n fisiese plek en heiligdom soos Bet-El nie, maar in Jesus self! Hy vervang die tempel. (vgl. Joh 2:18-22) Al God se beloftes het in Jesus waar geword. As jy jou vertroue op Jesus alleen plaas, is al hierdie beloftes joune! In Jesus word jy deel van Abram se nageslag, in Jesus word jy ‘n erfgenaam van die nuwe Kanaän, in Jesus is jy ‘n ware geseënde! In Jesus kan jy nou ook hoor: “Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan...” Hierdie beloftes is nie vir goeie mense bedoel nie, maar vir skelms en sondaars soos Jakob en ek en jy! Hierdie beloftes kom na jou in hierdie moeilike tyd van verspeelde kanse, verkeerde keuses, mislukte planne, sonde verskeurdheid, ellendes van droogte, siekte en gebrek... 

Deur vertroue op Jesus alleen, kry ek deel aan die volle rykdom van God se beloftes! 

En as ek en jy hierdie beloftes glo en sy genade aanvaar kan ons nie anders nie as om onsself aan God toe te wy nie. Soos die ongelowige Thomas wat ook ’n genadige ontmoeting met Jesus beleef het na die opstanding. Mag sy reaksie : “My Here en my God!” ook my en jou reaksie wees. Jakob het ‘n kortstondige ervaring gehad, jy kan deur Jesus God se majesteit, sy liefde, sy redding permanent beleef! Want Jesus is daagliks by sy mense deur die inwonende Heilige Gees! 


*Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?
Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas.
Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig. (Psalm 139:7-12)



** Carson, The Gospel according to John, p164



Enige tyd, enige plek... daar waar Jesus met jou ontmoet is die heiligdom van God!




Vrydag 29 Maart 2019

AS DIE SATAN JOU BEETPAK

MET SY SUBTIELE VERSOEKINGS! 



Die duiwel is ‘n werklikheid. (Al wonder party sinodes soms daaroor.) En hy is aktief. Baie besige kêrel. Hy los veral nie God se kinders uit nie. Hy het nie eens vir Jesus uitgelos nie, maar homself daarop toegespits om Jesus se Godgegewe program en doel te vernietig! Jesus het Goddelike goedkeuring en toerusting ontvang vir sy sending toe die Heilige Gees op Hom neergedaal het tydens sy doop deur Johannes. Sy Godgegewe missie was om mense deur sy kruisdood en lyding van sonde te verlos. Hiermee sou Satan natuurlik nie gelukkig wees nie. 



Jesus bevind Homself nou in die dorre wildernis waarheen die Gees Hom gelei het. Hier vind nou dramatiese en deurslaggewende gebeure plaas. (MATTEUS 4:1-11) Jesus vas. Nie omdat daar nie kos in die woestyn was nie, maar om Homself volkome aan God se wil te onderwerp. Hy bid vir sy volk en sy mense. Jesus is een met sy mense. Net soos Hy nie te hoog was om saam met sondaars gedoop te word nie so bid en vas Hy ook nes hulle. En sy volkome mensheid word juis verder onderstreep deur die feit dat Hy honger is. Sy vereenselwiging met sy mense gaan nog dieper. Matteus teken Jesus as die verteenwoordiger van die volk wat die volk se geskiedenis herhaal. Hy was eens ook in Egipte. Nou trek Hy ook deur die woestyn. Na veertig dae toe Jesus swak en kwesbaar was kom die duiwel na Hom. (Soos ‘n roofdier wat verkies om op ‘n verswakte prooi toe te sak) 



Kom ons kyk na die drie versoekings en hoe Jesus dit hanteer: 


EERSTE  "As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word." 

Die versoeking klink so onskuldig. “Jy is mos die Seun van God, maak vir jouself brood, jy is mos honger." So subtiel. Wat kan nou daarmee verkeerd wees? Dit klink so vroom. So ordentlik, asof die duiwel goeie raad wil gee in 'n noodsituasie. Satan suggereer nie dat Jesus moet steel of homself dronk drink of iets dergeliks nie… 

Waaroor gaan hierdie versoeking? Die Satan daag Jesus uit om van sy mag as Seun van God tot sy eie voordeel gebruik te maak. Inderdaad het Jesus as Seun van God, Goddelike Skeppingsmag. Hy kan uit klippe brood maak, net soos God uit klippe kinders van Abram kan maak! (Joh 3:9) Die implikasie is : Laat Jesus vir Homself doen wat God kan doen! Die versoeking gaan daaroor dat Jesus sy houding van ‘n nederige afhanklike Israeliet moet laat vaar. Meer nog Hy moet God se plan laat vaar en sy eie wil begin doen en vir Homself sorg. 

Doen jou eie ding tot jou eie voordeel! 

Jesus oorwin hierdie subtiele versoeking. Hy antwoord uit die Skrif. “Daar staan geskrywe: ‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom." (Terloops as die Bybel vir Jesus se volharding so nodig was, hoeveel te meer vir ons?) Deur sy antwoord uit Deut 8:3 neem Hy weer sy plek in as afhanklike Israeliet, afhanklik van God in. Jesus onderwerp Homself aan sy Vader, Hy wag op God se Woord, want daar is meer in die lewe as net sigbare brood. Hy gaan nie ‘n plan van die duiwel uit probeer nie, Hy gaan wag vir God se plan en God se tyd. En natuurlik het Sy Vader sy geloof beproef, maar Hom nie beskaamd laat staan nie. Inderdaad het die Vader engele gestuur om Hom te versorg! (11) God gee uitkoms op SY tyd! 

VERTROU GOD EN WAG VIR SY PLAN EN SY TYD!

TWEEDE. "As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: Hy sal sy engele oor jou opdrag gee en: Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie." Die volgende versoeking is nog meer subtiel en sluit by die vorige een aan. Asof die duiwel wil sê, nou goed jy vertrou mos op God, kom wys nou jou vertroue : spring! En luister mooi, die geslepe Satan gebruik sommer die Heilige Skrif vir sy versoeking. (Dis ‘n ou taktiek – kliek op DUIWEL SE BYBEL) Hy haal Psalm 91:11,12 aan. En dis mos waar! (Die waarheid van hierdie belofte sou juis bewys word deur die koms van die engele in vers 11.) Gelukkig val Jesus nie vir die Bybelversie truuk nie!* Jesus kom met ‘n teenantwoord uit die Skrif. "Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie." (Deut 6:16.) Dit gaan daaroor dat mens nie God op die proef moet stel nie. God se beloftes vra om net vertrou te word en verbied ‘n wantrouige uitprobeer. Jesus onderwerp Homself weer aan God se wet soos enige vroom Israeliet sou doen. Ja, Hy glo in God en glo in God se beskerming, maar Hy het geen opdrag om van die tempel se dak af te spring nie. Jesus bepaal nie sy eie agenda nie, maar wag vir die opdragte van sy Vader. God het nie vir Jesus gestuur om bewonderaars rondom Homself te versamel en populêr te word nie. Nee, Hy moes kruis toe gaan! Dis wat die duiwel wou verhoed en natuurlik sien Jesus deur sy planne. Jesus staan vas soos ‘n ware Israeliet. Hy val in by God se plan, Hy het geen ambisie van sy eie nie! 

DERDE Met die derde versoeking sit die duiwel nie meer ‘n vroom maskertjie op nie. Nie meer die woorde “As U die Seun van God is nie…” Hy kom met ‘n kort en kru voorstel terwyl hulle op ‘n hoë berg staan: "Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid." Al die koninkryke en hulle heerlikheid! Hier is nou ‘n geleentheid wat niemand deur die vingers moet laat glip nie! Jesus kon dit als besit. Die drang tot rykdom, besittings en mag is so groot in elke mens. (Vgl. 1 Joh 2:15) 

Die duiwel wys vir Jesus ‘n kortpad na die koninkryk! Jesus se hele bediening is gerig op die koms van die koninkryk van God. 

Ja dis juis ook God se wil om alle mag en heerlikheid aan Jesus te gee. Jesus moes dit egter verkry deur alle geregtigheid te vervul deur die pad van lyding en vernedering! Die duiwel wys ‘n makliker pad. Al wat Satan vra is net een knieval voor hom. Wat ‘n vreeslike versoeking! Hier is ‘n eenvoudige pad na mag en heerlikheid, maar dit vra ‘n ontsettende prys. Erkenning van Satan. En kom ons herinner mekaar : 

Pasop maar vir kortpaaie na ...geluk, gesondheid,gerief, sukses, rykdom, ...daar’s ‘n vangplek! 

(Dit sluit in om te val vir bedenklike gou-ryk-word-skemas en alternatiewe geneeskunde met okkultiese wortels en ander hulpmiddels wat so mooi lyk maar nie volgens God se wil werk nie – byvoorbeeld waterwys met ‘n stokkie. Maar dit gaan ook oor die krag en geweld wat ons wil gebruik om vyande en ongemaklike situasies uit die pad te probeer kry...) 

Ons word so maklik gevang as die Satan die smaaklike geelwortel van geld of geluk voor ons neuse hou! Wat doen Jesus? Jesus redeneer nie lank met die duiwel nie. Kort en kragtig praat Hy hier vanuit ‘n posisie van krag en gesag: Gaan weg, Satan! Jesus se antwoord is baie duidelik. Daar kan geen plek wees om enigiemand anders te aanbid as God alleen nie. Maak nie saak die woestynomstandighede en sy eie hongerte nie! Geen kompromie mag eers oorweeg word nie. Sy antwoord kom weereens uit die Skrif: "Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien." (Deut 6:13.) 

WAT LEER ONS? 

1.Ons leer van Jesus. Jesus slaag waar Adam en Eva misluk het. Die woorde “Gaan weg Satan” het by hulle ontbreek! Jesus slaag ook waar Israel misluk het. Jesus is die (enigste) volmaakte mens, volmaakte Israeliet! Daarom kan Jesus ons ware Verlosser wees. Ons het ‘n Verlosser wat sonder sonde is, maar wat weet hoe kragtig en slu die duiwel se versoekings is sodat Hy medelye met ons kan hê. Ons word ook versoek, maar juis omdat Jesus ons Hoëpriester is wat alle versoekings deurstaan het kan ons na Hom gaan in die moeilikste tye! Ons moet die kragtige aansporing in Hebreërs rêrig ernstig opneem. Hierin lê ons hoop en bevryding! 

"Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 

Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 

Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word." 

(Hebreërs 4:14-16) 

2.Ons leer van die Satan se taktiek. Hy is wreed en slu. Hy slaan toe wanneer ons op ons swakste en kwesbaarste is. Sy subtiele versoekings is die gevaarlikste. Ook juis hier in nou se droogte en druk kom hierdie versoekings en suggesties dalk sterker as ooit na ons toe… “Doen jou eie ding. Sorg vir jouself en vergeet van God. Hy wil jou tog nie help nie…” Gebruik jou godsdiens tot jou eie voordeel, kies kortpaaie en maak kompromieë. Vul maar daardie hulpvorm oneerlik in...

Kom ons luister alleenlik na Hom wat namens ons alle versoekings oorwin het en Satan beslissend op Golgota verslaan het! 

*Dwaalrigtings is baie goed om rye en rye Bybelverse aan te haal veral buite konteks. Dink veral aan die ISRAELVISIE en HEBREW ROOTS

Woensdag 20 Maart 2019

ROEP MY AAN IN DIE DAG VAN BENOUDHEID!


‘N HEERLIKE BELOFTE AAN GOD SE GETROUE GUNSGENOTE 



“Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer." (Psalm 50:15) 



Wat ‘n wonderlike belofte! Beleef ons nie juis nou dae van benoudheid nie? Dis droogte,  nee, RAMPDROOGTE (tans ongekend erg hier in Namibië), dis siekte, dis onheile en bekommernisse (ESKOM?) en wie weet wat alles wat ons kwel en bedreig... Ja, ook die benoudheid oor onbekeerde eggenotes, kinders...

Kom ons kyk mooi na hierdie wonderlike versekering. Kyk na die konteks. Psalm 50 (maak gerus jou Bybel hier oop) was waarskynlik deel van ’n seremonie van verbondshernuwing. (Sien die verwysings na “verbond” in verse 5,16) Dit was nodig, nie omdat Gód sy verbond vergeet nie, maar omdat mense hulle verantwoordelikheid binne die verbond vergeet. Dis natuurlik ook so vandag. Daarom die belangrikheid van die Woord en sakramente... Dit herinner ons telkens aan God se verbondsgetrouheid. Dit gee ons geleentheid om onsself opnuut aan Hom toe te wy. 

Die psalm val uiteen in drie dele : 

Oproep tot aanbidding. (1-6) In die Hebreeus begin hierdie psalm met ’n kragtige opeenstapeling van Godsname : El, Elohim, JHWH! Die hele wêreld, hemel en aarde en spesifiek sy gunsgenote, die wat aan Hom getrou is word opgeroep tot aanbidding! Dit bly altyd die hoofsaak : God moet aanbid word. Hiervoor het Hy ons gemaak en gered. God self is in die middelpunt! Sy heerlikheid, nie ons behoeftes nie! Sy AGENDA nie ons s'n nie!

Die ware betekenis van die offers. (7-15) Israel moet nou luister! Die Here spreek hulle verkeerde verstaan van offers aan. In essensie kom dit daarop neer – Julle moet besef God het geen offers nodig nie, want als behoort in elk geval aan Hom. God is nie honger of arm nie. Hy het óns nie nodig nie, ons het Hom nodig. In die verhouding met God gaan dit nie daaroor dat ons iets vir Hom moet doen omdat Hy een of ander behoefte het nie, maar die essensie van die offerdiens gaan oor dankbaarheid en dat ons getrou sal bly aan ons geloftes teenoor Hom! Binne die konteks van die verbond staan Hy in ’n verhouding met ons. En juis binne hierdie verhouding, as dit ’n gesonde verhouding is, kan ons Hom aanroep in ons nood en benoudheid en sal ons sy uitredding ervaar. (15) 

Die ware betekenis van die wet. (16-23) Hierdie woorde word nou gerig tot die goddeloses tussen die verbondsmense! Dis hulle wat God se wet ken, maar dit nie gehoorsaam nie. Voor die seremonie van verbondsvernuwing moet almal hulle harte ondersoek. Drie sake word uitgelig as voorbeelde van ontrou teenoor God se gebooie. Die agste, sewende en negende gebod! (18-20) Nou moet daar mooi geluister word. Diefstal, huweliksontrou, leuens en skinder! Jy doen dalk nie self hierdie dinge nie, maar jy geniet dit saam. (Is dit nie maar wat gebeur as jy so vasgenael voor die sepies sit nie? Wat gaan oorbly van jou sepie as sonde nie met kleur en geur uitgebeeld word nie?) Dis die probleem in die kerk. Sonde is nie meer so erg nie! Die punt is net : Sonde is erg vir God! Hy gaan jou tot verantwoording roep! “"Moet Ek stil bly as jy sulke dinge doen? Dan sal jy dink Ek het soos jy geword! Nee, Ek eis rekenskap van jou, Ek kla jou aan!” (21) 

Die groot bedreiging vir die kerk van Jesus is nie die droogte of ESKOM nie, maar die feit dat mense nie meer rekening hou met God nie! 

As jy steel en egbreuk pleeg en skinder (of geniet as andere dit doen) is dit ’n simptoom van iets dieper – jy vat nie meer God en sy wil ernstig op nie! Om God se gebooie te vergeet is gelykstaande om Homself te vergeet! “Julle moet luister na hierdie waarskuwing, julle wat nie met God rekening hou nie, anders verskeur Ek julle sonder dat iemand kan red.” (22) Dis ’n baie ernstige saak om God weg te laat uit jou lewe! God sal jou verskeur! 

Agter hierdie waarskuwing lê die metafoor van God as ’n vreesaanjaende leeu wat verskeur. Hosea 5:14- “Ek is soos ‘n leeu teenoor Efraim, soos ‘n roofdier teenoor Juda. Dit is Ek wat verskeur en my koers gaan, wat wegdra sonder dat iemand dit kan keer.” Vers 23 herbeklemtoon weer vers 14. 

"Die mens wat My eer, is die een wat lof as ‘n offer bring. Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red." (23) 

“Lof is die offer wat jy aan God moet bring. Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste.” (14) 


Dankbaarheid en gehoorsaamheid is die pad waarop gebedsverhoring en God se redding ervaar word! 

As ons nie God se uitsprake oor sonde ernstig opneem nie, kan ons beslis ook nie aanspraak maak op sy beloftes nie!


Terug by vers 15. Kyk bietjie nader na hierdie heerlike en bekende belofte. Hierdie belofte is natuurlik bedoel soos ons gesien het vir diegene wat God se verbond ernstig opneem. As jy Jesus aanvaar het, is jy nou deel die Nuwe Verbond. As ek die verlossing deur sy kruisdood gesmaak het, het ek juis nog groter rede om dankbaar te wees en my geloftes aan Hom te hou. (Terloops, hoe ernstig is jy nog oor jou doop, belydenisaflegging, huweliksbeloftes?) Onthou, nie net die “voordele” van die Nuwe Verbond nie, maar ook die verantwoordelikhede is baie groter nie! In hierdie belofte staan twee sake uit: 

God sal ons UITHELP en ons sal Hom EER! 

Kom ons begin by laasgenoemde. Ons weet tog dat die groot doel van die Skepping is die eer en verheerliking van God. God het alles gemaak tot Sy eer. Hy wil hê dat Sy heerlikheid en majesteit erken, bewonder en vertel sal word. God se eie eer is die hoogste doel waarna Hy streef, want omdat Hyself die hoogste goed is in die heelal kan daar geen hoër ideaal as dit bestaan nie. 

En tog beloof hierdie groot God om ons te help in tye van benoudheid. Hoe pas ons welsyn, geluk en blydskap dan nou in by sy eer? Dis baie belangrik om te besef is dat ons blydskap nie bots met hierdie strewe van God tot Sy eer nie. God se passie vir Sy eer is ten diepste nie skadelik vir ons geluk as mense nie. (Dit mag wel so lyk vir die sonde gevalle mens) Hoekom sê ons so? God word juis geëer deur die blydskap van Sy skepsele wat Hom met vreugde aanbid en bewonder. ’n Pa word geëer en is gelukkig juis as sy kinders gelukkig is!

 “God is most glorified in us when we are most satisfied in Him” (John Piper) 

God word geëer juis wanneer ons ons geluk, vrede en uitkoms in Hom vind! Ten diepste is hierdie twee sake nie teenstrydige doelwitte nie, maar een doelwit. Dit word baie duidelik sigbaar in die werking van gebed. 

Wat gebeur wanneer ons volgens God se wil bid en so verhoor word en bly is? Ons kry die hulp en die Gewer kry die eer! Dis waarom gebed so onmisbaar belangrik is. Gebed het dus te make met hierdie twee sake : ons blydskap deurdat ons hulp van God ontvang en God se eer en heerlikheid. Omdat ons deur gebed Hom dank en erken as Gewer. Kom ons toets dit aan die lering van die Nuwe Testament. Hierdie waarheid word baie duidelik deur Jesus in Johannes 14:13 en 16:24 bevestig : 

“Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.” 

“Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” 

God se belofte hier in Psalm 50:15 is steeds waar! Onthou net die hele konteks. Hierdie belofte is nie vir die wat in sonde volhard nie. Hierdie belofte is ook beslis nie 'n kitsreseppie om my probleme op te los nie. Dit funksioneer alleenlik binne ‘n dankbaarheidsverhouding met God in die konteks van die Nuwe Verbond waarvan Jesus die Middelaar is. Dis 'n kragtige hulpmiddel binne die raamwerk van God se agenda, naamlik die eer van Sy Naam! Hierdie verhouding binne die nuwe verbond is moontlik gemaak deur Sy kruis en opstanding. Elkeen wat in gehoorsame dankbaarheid teenoor Jesus leef kan hierdie belofte glo en toepas! Hy sal jou gebed beantwoord en jou uitred, help en antwoord op ‘n manier wat eer sal bring aan sy Naam! 

Kantaantekening. Weereens wat ’n verskriklike ding is biddeloosheid! Ons sny ons eie blydskap af, nog erger ons ontneem God van Sy eer. Deur nie te bid nie misluk ons in God se skeppingsdoel met ons. Positief gesê, wat ‘n heerlike middel is gebed! Deur gebed beantwoord ons aan God se skeppingsdoel. Gebedsverhoring bring vreugde en as ons bly is word God geëer. Gebed is inderdaad die vernaamste deel van ons dankbaarheid! * 

*Heidelbergse Kategismus , Sondag 45, Vraag 116



Maandag 11 Maart 2019

EK HUIL OOR DIE NG KERK

[Dis onder hierdie opskrif dat ek verlede week ‘n brief van mevrou Louisa Louw uit die Kaap ontvang het. Ek het haar toestemming om ‘n uittreksel uit die brief te plaas. Sy is die weduwee van ds. Willem Louw wat ook vir ‘n aantal jare in Suidwes (Namibië) werksaam was onder andere by die Weskus Sending in Walvisbaai onder die Topnaars en ook as predikant van die NG Kerk Gochas. Ek plaas ‘n uittreksel van haar brief omdat dit so ‘n aangrypend raak verwoording is van die hartseer en worsteling van baie NG lidmate en voormalige NG lidmate.] 

Liewe Johannes, 

Ek lees gereeld jou blog en wou al meermale kommentaar gelewer het, maar my elektroniese vermoëns laat my in die steek! .... Maar dit daar gelaat. Ek skryf nou maar aan jou privaat-e-posadres. 

Ek kan net sê ek is hewig ontsteld oor die gebeure by Kraaifontein en nou die hooggeregshof se uitspraak. Ek is in my persoonlike Bybelstudie besig met Jeremia en ek sidder as ek sien waarmee Jeremia te kampe gehad het en die boodskappe wat God vir hom gegee het. Ek herken soveel van die situasies in sy tyd ook in ons tyd in SA – en elders. Ek sien dat God op ‘n stadium vir Jeremia verbied het om vir sy mense te bid. Ek weet net dat daar grense is en daar kan ‘n tyd kom dat genoeg genoeg is! Maar wat my die meeste ontstel, is dat so baie van ons goeie, lojale NG lidmate nie ‘n idee het wat aangaan nie en dit raak hulle nie. Apatie bring geestelike verlamming mee. 

Dan is daar lidmate wat wel ontsteld is en nie langer in die NG Kerk wil bly nie, maar waarheen moet hulle gaan? Die wat wel uit die kerk gaan, spat in alle rigtings. Oom Willem was al oor baie jare heen diep besorg oor die rigting wat die Kerk inslaan en ons het heelwat rondgeloop en gesoek na ‘n geestelike tuiste, want in .....gemeente waar ons was, het ons die afgelope jare al hoe meer geestelik ontuis gevoel. Oom Willem het briewe geskrywe, gesprekke gehad, maar hy en die leier-predikant het net by mekaar verbygepraat. Aan die begin van 2015 het hy gesê dat indien die sinode aan die einde van daardie jaar die besluit neem (wat hy toe wel geneem het), is hy uit die NG Kerk. Ek het gesê ek is saam met hom uit. Op 25 Junie 2015 het die Here hom toe kom haal en ek het na worsteling en baie trane in die loop van 2016 by .....gemeente bedank en aangesluit by een van die kerke van REACH; “Reformed Evangelical Anglican Church in South Africa”, ‘n kerk wat ek en oom Willem meermale besoek het. Ek sou in my lewe nooit kon droom dat ek by ‘n Engelse kerk sou aansluit nie, maar die evangelie wat ek daar hoor en die Here Jesus wat verkondig word, laat vir my baie dae nie eers meer die Engels hoor nie; die Skrif word so oopgebreek en God word verheerlik! Daar is baie Afrikaanse mense en ekself is in ‘n Afrikaanse omgeegroep. Ek kan eerlik sê dat ek geestelik tuisgekom het. 

Tog is daar diep in my hart nog ‘n liefde vir die NG Kerk wat ek geken het en my wortels lê daar. En ek bid nog vir die NG Kerk. Ek dank die Here vir die enkele gemeentes en predikante wat die Here en Sy Woord liefhet en ek bid dat hulle ook die moed aan die dag sal lê om te sê waar hulle staan. Ek wil vir jou en ander predikante soos jy bemoedig en bid dat julle sterk sal staan ter wille van Christus en Sy gemeente. Ek is veral belas vir die gewone lidmate wat soos skape sonder herders is. Hulle is baie verward en baie keer so oningelig. 

.............................. 

Seënwense vir jou en jou gesin, 

Tannie Louisa Louw



[Sendelinge in die destydse Suidwes. Ds. Willem Louw is in die voorste ry tweede links.]

Die hartseer, worsteling en verslaentheid van duisende NG lidmate word nie gehoor nie. (En dit terwyl DIE KERKBODE ‘n luide spreekbuis vir die gay aktiviste geword het!) Dit gaan natuurlik oor baie meer as oor die gay saak... Dit gaan oor ‘n kerkverband wat haar evangeliese koers verloor het... Oor teologie dosente wat nie meer aan die Bybel en die opstanding van Jesus glo nie... Oor kwynende getalle en leiers wat nie die moed het om profete te wees nie... En ja, ons is almal skuldig...


Ons treur saam met Jeremia. 

“My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk,....” (Klaagliedere 2:11)

Sondag 10 Maart 2019

GEWAARBORGDE GEBED!

Kom luister na Jesus se duidelike lering oor gebedsverhoring. 

Gebedsverhoring. Of dan nou die gebrek aan gebedsverhoring. Daar is seker min praktiese sake in die Christen se lewe wat soveel vrae laat ontstaan as gebedsverhoring. Ons bid dan vir reën, genesing, gesondheid, beter wiskunde punte... Daar is min onderwerpe wat tot soveel menings en opvattings en wanopvattings aanleiding gee. Hier in Johannes, praat Jesus self oor gebedsverhoring. Ons kan dus nie anders as om ons ore te spits nie. Luister net wat sê Jesus self oor gebedsverhoring : 

"En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen." (Joh 14:13,14) 

"As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry." (Joh 15:7) 

“Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.” (15:16) 

Bedoel Jesus dit wat Hy hier sê? Werk dit so in die praktyk? Is hierdie beloftes waar vir ons nou en hier? Weet ons nie almal van baie mislukkings in hierdie verband nie? 

Wel, Jesus bedoel seker definitief wat Hy sê. As ons nie hierdie uitsprake glo nie, wat kan ons dan glo? Kan ons dan hoegenaamd ons ewigheidstoekoms in Sy hande laat? Jesus bedoel dus verseker wat Hy sê. Die vraag is net wat presies sê Hy? Ek dink dis so moeilik nie, ons moet net erns maak met die konteks waarin Hy dit sê. 

GROTER WERKE AS JESUS 

Kom ons kyk eers na Sy voorafgaande uitspraak in vers 12. “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo--die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.” Dis natuurlik opsigself omstrede en word baie uit verband geruk, maar ek wil nie te veel aandag hieraan bestee nie. 

Net die volgende : Jesus het so pas ‘n oproep tot geloof gedoen. “Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self.” (11) Hierdie appèl word nou voortgesit in vers 12-14 deur te fokus op die vrug wat elkeen wat in Hom glo sal voortbring en geniet. Dan koppel Jesus ‘n ongelooflike, ‘n verbysterende belofte (wat mens se asem wil wegslaan) aan geloof. Die wat in Hom glo sal nog groter werke doen as Hy. Nie omdat so ‘n persoon groter as Jesus sal wees nie, maar omdat Jesus na Sy Vader gaan. 

Wat presies beteken groter werke? Dit kan nie beteken dat die kerk (in aantal) meer werke as Jesus sou doen nie. As dit die bedoeling was sou Jesus dit gesê het. Daar is Griekse woorde om dit te sê. Groter werke kan tog ook nie beteken meer spektakulêr of meer bonatuurlik nie. Watter Christen deur die eeue het al iets meer opspraakwekkend en bonatuurlik gedoen as die opwekking van Lasarus (vier dae dood), die vermeerdering van brood of het op die water geloop? 

Die sleutel* tot verstaan is die frase “omdat ek na my Vader gaan” Jesus se dissipels gaan groter werk as Hy doen omdat Hy na Sy Vader gaan - dit beteken nie dat hulle nou groter ruimte vir aktiwiteit sal hê omdat Hy nou weg is en as‘t ware die turf aan hulle oorgegee het nie. Nee, dit beteken die basis vir hulle groter werke is Jesus se weggaan na die Vader. Hulle werke sal juis groter wees as gevolg van die nuwe bedeling wat Sy weggaan na die Vader tot gevolg sal hê. Die dade en woorde van die dissipels na Jesus se weggaan behoort tot die nuwe bedeling. 

Voor Jesus se verheerliking (kruis, opstanding en hemelvaart) was alles nog versluier en vaag. Die dissipels self het ten spyte van die wonderwerke nie alles duidelik verstaan nie. Hulle sou byv. nooit kon droom dat alle nasies moet deel kry aan die kerk en koninkryk nie! (Dink aan die keer toe hulle vuur uit die hemel wou afbid om die Samaritane te verteer; eers na Jesus se verheerliking en die uitstorting van die Heilige Gees verstaan hulle dat Samaritane hulle kan bekeer en deel word van die kerk as nuwe Messiaanse gemeenskap)** Selfs direk voor Jesus se hemelvaart, was hulle visie beperk en het hulle nog ‘n aardse koninkryk verwag met Jerusalem as sentrum. (Handelinge 1:6) 

Eers as gevolg van Jesus verheerliking en na Sy verheerliking sal Sy volgelinge Hom in alles wat Hy is en doen werklik ken en dit aan ander bekend maak. Hulle werke is groter want dis werke wat voortvloei vanuit die afhandeling van Jesus se werk aan die kruis en die opstanding. Dan eers sal hulle die volle heerlikheid van Jesus besef en dan sal hulle Hom so kan verkondig. (Deur hulle lewenswyse, wonders en veral prediking!) Die gevolg van hierdie groter werke na Jesus se verheerliking sal wees dat baie meer mense in die Messiaanse gemeenskap, die kerk ingebring sal word. Jesus self het maar net ‘n bediening van drie jaar beperk tot Palestina gehad met ‘n klein klompie ware volgelinge. Dit gaan natuurlik nie net oor getalle as sodanig nie, dit gaan oor die krag en die helderheid van die evangelie boodskap en sy konsekwensies wat sal opbloei in die nuwe fase wat sou volg na Jesus se weggaan. 

Groter werke gaan dus oor die totale vrug van die dissipels binne die konteks van die nuwe bedeling wat sou aanbreek met Jesus se verheerliking. (Sy weggaan na die Vader en die koms van die Gees) 

Weereens, onthou die tyd voor Jesus se kruis en opstanding was nog ‘n tydelike fase, die prys was nog nie betaal nie, die Gees het nog nie gekom nie, die kerk het nog nie begin vorm aanneem nie, die evangelie is maar nog net so stuk-stuk verstaan. Dit alles sou verander met sy weggaan! Dit het. Ons leef voorwaar nou in ‘n bedeling van groter werke! 

GEBED EN VRUG 

Nou kom ons by die eintlike saak van die gebed Die rede waarom groter dinge na die weggaan van Jesus gedoen sal word nou gegee in 13 en 14. Die dissipels se groter werke, naamlik vrugdra is die produk van hulle gebede. Gebede in Jesus se Naam. Dit bewys verder dat die kontras nie lê in die finale sin tussen Jesus se werke en sy dissipels se werke nie, maar tussen Jesus se werke wat Hy self op aarde gedoen het en dit wat Hy nou deur Sy dissipels gaan doen na Sy dood en verheerliking. Jesus gaan voort met Sy werk met groter werke deur Sy dissipels - die hele boek Handelinge is ‘n bevestiging daarvan.*** 

Die uitsprake van Jesus oor gebed moet verstaan word in die konteks van hierdie groter werke van die huidige bedeling - of anders gesê die vrugdra van ons as dissipels. Dis ook baie duidelik uit die ander twee gedeeltes. Vrugdra en gebed word telkens aan mekaar gekoppel. (15:8,16) 

Vrugdra vloei voort uit gebed in Jesus se Naam. 

IN DIE NAAM VAN JESUS TOT VERHEERLIKING VAN DIE VADER 

Twee ander temas wat konstant genoem word, en ons verder insig gee in die aard van die gebed wat Jesus bedoel,  is : Gebed in die Naam van Jesus en tot die verheerliking van die Vader. 

Gebed in Jesus se Naam behels nie bloot dat ons ons gebede in Sy Naam afsluit nie. Jesus se Naam is nie ‘n magiese woord wat dinge laat gebeur nie. Gebede in SY naam is gebede wat in ooreenstemming is met alles waarvoor Hy staan. In lyn met sy bedoeling en karakter. Waarvoor staan Jesus? Vir die wil van SY Vader. Daarom is een van die vereistes vir ware gebed - “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.” (1 Joh 5:14) Pas dit waarvoor ek nou bid by Jesus se wese en karakter? 

Bring hierdie dinge eer aan God of wil ek God misbruik vir my mensgerigte skemas en ambisies? 

Verder gaan dit daaroor dat ons in ons gebede erken dat Jesus die enigste weg na die Vader is. Hy self is ons toegang tot die Vader. Sy teenwoordigheid aan die regterhand van God maak die troon van God ’n genadetroon. (Hebr 4:14-16)

Die doel van die gebed, die gerigtheid van die gebed is die verheerliking van die Vader. Gedurende Sy aardse lewe was dit die konstante doel van Jesus om Sy Vader te verheerlik, eer aan hom te bring.**** Met die oog hierop gaan Hy na die kruis. Jesus weier selfs om vir Homself brood uit klippe te maak, want dit sou beteken dat Hy nie meer gerig sou wees op die wil van die Vader nie. God se wil vir Sy Seun was volmaakte gehoorsaamheid en lyding! Na Jesus se verheerliking gaan Jesus se doel nie verander nie. Deur gebed in Sy Naam gaan Hy nou Sy dissipels in staat stel om groter werke te doen, om vrug te dra sodat Sy Vader daardeur verheerlik kan word. 

Ons sit Jesus se werk voort, of liewer Jesus sit Sy werk op nog ‘n heerliker skaal voort deur ons. Deur gebed in Sy naam word ons in staat gestel om vrug te dra en so Sy doel naamlik die verheerliking van die Vader te verwesentlik. Deur gebed word ons ingeskakel by Jesus se werk om die Vader te verheerlik! Onbegryplik diep en heerlik! 

Hier kom dus ‘n paar belangrike stukke lering oor gebed na vore: 

‘n Ware dissipel bid vir vrug. Vrug is dit wat eer bring aan God se naam. Wat bring eer aan God se Naam? Deur Jesus te leef en te verkondig... Ook ten spyte van en binne-in my moeilike omstandighede! Hierdie soort van gebed se sukses word deur Jesus gewaarborg. Gebed in Jesus se Naam is die sleutel tot vrug. Vrugdra is nie moontlik sonder voortdurende gebedsafhanklikheid nie. Te min vrug in jou lewe wys daar is te min gebed, gebed in ooreenstemming met dit waarvoor Jesus staan. Te min gebed dui daarop dat daar te min afhanklikheid van Jesus is in my lewe. 

Hier word ‘n hele paar valse idees oor gebed ontbloot: 

Gebed is nie ‘n koue tegniek (wat volgens sekere vaardighede uitgevoer word) nie, maar funksioneer net in ‘n verhouding met God deur Jesus. Ons bid immers tot ons VADER! 

Gebed gaan nie oor persoonlike belange nie, maar het as einddoel die verheerliking van die Vader in die oog. 

Gebed is geen resep wat ons persoonlike gerief waarborg of van vervolging vrywaar nie. (Inteendeel, diegene wat baie bid gaan baie vrugdra en juis swaarkry en vervolg word soos Jesus. Johannes 15:20,21) 

As ons die lering van hierdie gedeelte in ag neem kan mens verstaan waarom baie skyn dissipels teleurgestel word en verklaar dat gebed nie werk nie: 

‘n Skyn dissipel bid nie vir vrug nie maar vir sy eie voordeel en dikwels sondige eie belange. 

‘n Skyn dissipel kan nie werklik in Jesus se Naam bid nie, want Sy motiewe en doel staan teenoor dit waarvoor Jesus staan.

‘n Skyn dissipel bewaar nie Jesus se gebooie nie, daarom sal Sy gebede misluk. Sulke mense verklaar maklik dat Christenskap nie werk nie. (Die ware probleem is egter opstand teen God se gebooie) 

HEERLIKE POSITIEWE MOONTLIKHEID 

Ons is almal in staat om vrug te dra, almal wat waarlik in Jesus glo. Laat ons daarvoor bid. 

Gewaarborgde gebed volgens Jesus se belofte is nie towerstaffie gebed om my op ‘n selfsugtige mensgesentreerde koers aan te help nie, maar is gebed met die hoofdoel om vrug te dra en dit is om ‘n Godverheerlikende lewe te lei! 

Ons gaan gebedsverhoring begin beleef wanneer ons vergeet van onsself en opreg begin bid : “Here, laat my vrugdra!” 

* Daar is 'n soortgelyke uitspraak in Johannes 5:20,21. "Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen. En groter werke as hierdie sal Hy Hom toon, sodat julle verwonderd kan wees. Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil."  Die konteks van 5:20 wys dat die groter werke wat die Vader die Seun sal wys en wat die Seun sal toon aan Sy volgelinge, het te make met Sy opstanding. Dit gaan oor die lewendgewende mag van Jesus. Die lewegewende mag van Jesus is afhanklik van Sy dood, opstanding en verheerliking. Hierdie groter ding sluit ook die mag in van Jesus as die Een aan wie die oordeel toevertrou word. Die dade en woorde van die dissipels na Jesus se weggaan behoort tot die nuwe bedeling van lewendgewende evangelieverkondiging. 

** Lukas 9:51ev 

*** “Die eerste verhaal, Theófilus, het ek opgestel oor alles wat Jesus begin doen en leer het tot op die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy aan die apostels wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het;” (Hand 1:1,2) Die implikasie is dat die evangelie gaan oor die werke wat Jesus BEGIN doen het. Die boek Handelinge gaan oor die werke waarmee Jesus nou AANGAAN deur Sy Gees met die apostels as instrumente.

Martin Rautanen, die pionier sendeling in Owamboland se gebede het nie tot gerief en gemak gelei nie (ses van sy nege kinders is vroeg dood), maar wel tot blywende vrug!