BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 15 Oktober 2015

KAOKOLAND SENDELING SE DUIDELIKE STANDPUNT


  • "Dit is alleen met die donkerbril van humanistiese eksegese en teologiese gimnastiek dat sekere NG Kerk teoloë dié Woord van die Here kan afwater en verdraai totdat dit sê wat hulle wil hoor!"


Wat dink ek oor die feit dat die NG Kerk se Algemene Sinode homoseksuele-burgerlike verbintenisse goedgekeur het en predikante nou toelaat om sulke verbintenisse in die kerk te bevestig?

Ek antwoord graag en begin deur te wys op Jesus as ons Here en enigste Hoop!

"Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29) roep Johannes die Doper uit toe hy vir Jesus sien. Ek onthou nog goed die woorde van prof Flip Theron in die Dogmatiek klas , “Menere moet nooit toelaat dat iemand jou sonde van jou af wegneem nie, want dan kan Jesus Christus dit nie wegneem nie!”  As ons mekaar se sonde wegneem, mekaar ontsondig, mekaar regverdig in ons sonde, mekaar se sonde institusionaliseer, mekaar se sonde wettig dan kan Jesus ons nie meer verlos nie. Die NG Kerk het sopas die sonde van homoseksuele dade gewettig, geïnstitusionaliseer, weggeneem en vrygespreek! Diegene wat die NG kerk se vryspraak aanvaar, MIS die vryspraak van Jesus al het HY daarvoor met sy kruisbloed betaal! Dit is die toppunt van liefdeloosheid!

Miskien argumenteer jy dat sekere homoseksuele dade nie sonde is nie, want Paulus was onbewus van die “kern-homoseksualiteit” in die 21ste eeu se homoseksuele-verhoudings gekenmerk deur liefde en trou. Dan was  Paulus seker ook onbewus van “kern-gieriges”, “kern-egbrekers”, “kern-pedofiele” , “kern-alkoholiste”.....
Daarom bly hy ongemaklik konsekwent wanneer hy ons sonde aanspreek, “Laat julle nie mislei nie: geen onsedelikes of afgodedienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer, of diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters of rowers sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie! [Nie een van die sondes is erger as die ander nie, maar ons durf nie waag om enige een van hulle te wettig nie, want dan geld die volgende vers nie meer nie!] So was sommige van julle ook, maar julle is gewas, julle is geheilig en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God!” ( 1 Korintiërs 6:9-11; Nuwe Direkte vertaling)

Dit is alleen met die donkerbril van humanistiese eksegese en teologiese gimnastiek dat sekere NG Kerk teoloë dié Woord van die Here kan afwater en verdraai totdat dit sê wat hulle wil hoor! Dit laat my sidder en herinner onmiskenbaar aan Jesaja 5:21, “ Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter.” Spr16:25

Oor die vraag wat Jesus sou gedoen het en of hy vir prof Carson sou beaam het?
Jesus het alle sondaars met ope arms ontvang en liefgehad, want dit is vir hulle sonde wat hy gesterf het. Jesus het ook vir die sonde van homoseksuele dade gesterf. Wanneer die owerspelige vrou wat op heterdaad in egbreuk betrap is voor Jesus staan en die skare haar wil stenig, dan spreek Jesus haar vry met die woorde,  “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” (Johannes 8:11) Ek reken dat Jesus min of meer dieselfde sou sê vir ’n homo-seksuele persoon wat op heterdaad betrap sou word, “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” 

In die evangelies sien ons dat Jesus die snykant van God se wet in die nuwe bedeling veel skerper kom maak het! In Levitikus 20:10 lees ons, "Iemand wat egbreuk pleeg met die vrou van ’n medeburger, moet doodgemaak word. Dit geld vir die man en ook vir die vrou wat egbreuk pleeg.”
In Matteus 5:27 sê Jesus, "Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ [aangehaal uit Eksodus 20:14] Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.”
Ek wonder wat sou Jesus gesê het van Levitikus 20:13, "Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.”

In die lig van Jesus se uitspraak in Matteus 5:27 sou Jesus waarskynlik min of meer iets soos die volgende gesê het, "Julle het gehoor dat daar gesê is: Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Maar Ek sê vir julle: Elke man wat na ’n ander man kyk en hom begeer, het reeds in sy hart met hom ’n homoseksuele daad gepleeg.”

Om terug te kom by die vraag of Jesus prof Don Carson sou beaam het?  
Kom ons kyk weer waarmee prof Carson sy antwoord afsluit.  “Homosexuality has become in our day, in many denominations a trigger for a very simple issue; will we live under the authority of the word of God or will we not? And that is absolutely everything. You just can’t duck that one. Sooner or later you face that issue or you die.”

Kom ons luister nou na Jesus se woorde in Matteus 5:18-19  waar hy kommentaar lewer oor die vervulling van die wet wat onder andere Levitikus 20:13 ook insluit en daarby ons ook vermaan om die Woord te gehoorsaam. “ Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is. Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel.” Ek dink tog Jesus sou prof Don Carson beaam het as iemand wat onmiskenbaar buig voor die gesag van die Woord om dit te gehoorsaam.

Jy verwys in jou epos na die Algemene Sinode se besluit as wonderlike nuus, maar weet jy daar is vele NG Kerk lidmate wat anders op die Sinode besluit gereageer het. Die algemene gevoel is ’n gevoel van verslaentheid en hartseer omdat die Woord van God geminag is  in hierdie saak. Baie lidmate voel na die besluit nie meer tuis in die NG kerk nie.

Verder gee die Algemene Sinode ruimte dat albei standpunte binne een denominasie gehandhaaf kan word (kerkrade moet self besluit), dit is nie alleen onhoudbaar nie, maar ook vals en skynheilig. Hier het ons twee  Skrif-interpretasies wat ligjare van mekaar verwyder is (sien dr JI Packer se artikel aangeheg) en onmoontlik binne dieselfde geloofsgemeenskap geakkommodeer kan word. Een predikant sal twee gays binne in ’n stabiele verhouding oproep tot bekering en ’n ander een sal hulle bemoedig om hulle homoseksuele identiteit met vrymoedigheid uit te leef. Dit is blatante skynheiligheid en grens aan godslastering.

Dus moet lidmate en gemeentes van die NG Kerk nou self kies watter lewenswyse en praktyk hulle wil navolg. Watter een sal ons kies?

Wanneer ons kies moet ons net besef dat God se Woord nie verander het nie,  “Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.” (Jesaja 40:8).  Daarmee saam moet ons kies met die wete dat “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Hebreërs  13:8).

Daar is ’n lewenswyse wat vir ’n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood.” (Spreuke 16:25)

Vriendelike groete in Christus

Erik van Zyl (VDM - NG Kerk Namibië)



(Boegenoemde brief is 'n duidelike antwoord van ds. Erik van Zyl, sendeling in Kaokoland en dosent by NETS in 'n brief na aanleiding van 'n onderhoud met DA Carson oor wat Christene te doen staan wanneer 'n denominasie ten gunste van homoseksuele leraars besluit)

ALGEMENE SINODE OP RAND VAN AFGROND

Lui die doodsklok vir die Algemene Sinode van die NG Kerk? 


Dis die vraag wat toenemend die afgelope dekade reeds groeiend in mens se bekommerde gemoed kom lê. Sedert sy ontstaan in die vroeë sestigerjare was die rol van die Algemene Sinode vervullend en betekenisvol om eenheid te bevorder tussen die streeksinodes, leiding te gee in internasionale verhoudinge en verbintenisse met die Kerk van Christus wêreldwyd, harmonie te verseker en leiding te gee in huishoudelike kerksake en aktuele vraagstukke, ens.

Veral sedert 2004 se Hartenbosvergadering het hierdie eens vaste fondament begin om krake te vertoon. Wat mens waarneem is ‘n groeiende vertrouensbreuk tussen die Algemene Sinode, sy spreekbuise en Moderatuur aan die eenkant, en streeksinodes en gemeentes aan die ander kant.

Hierdie vertrouensbreuk is gestook deur 4 gebeure:

1. Die hantering rondom die kosbare saak van kerkeenheid sedert 2004.

Die persepsie wat by die gewone lidmaat op straat en by die familiekerke die NGKA en die RCA begin groei het, is dat die VGKSA die NG Kerk-moderatuur aan die korthare beet het. Die VGKSA stel eise, en die NGK skarrel om daaraan gehoor te gee. Die pleidooie van die NGKA en die RCA word nie gehoor nie. Trouens, lg kerke het ervaar hulle is nie eens deel van die onderhandelingstafel waar oor kerkeenheid gepraat word nie. Die NG Kerk se moderatuur het kant gekies, sê hulle.

Die kern van hierdie eise van die VGKSA het veral gewentel om die aanvaarding van die belydenis van Belhar. Hulle eis dit as ononderhandelbaar tot kerkeenheid, terwyl veral die NGKA en die RCA dit afwys.

Lidmate en gemeentes binne die NG Kerk het hoegenaamd nie akkoord gegaan met die styl van die VGKSA tydens hierdie onderhandelings en die NGK-onderhandelingspan se hantering daarvan nie. Daar kon gewoon nie begryp word hoe dit moontlik is dat die VGKSA die gesprekke deurlopend kon intimideer en soveel greep op ons onderhandelaars kon bekom nie. Dit het al meer begin lyk of Kerkeenheid, binne ‘n scenario waar een lidkerk al die ander lidkerke gaan domineer en intimideer, nie die ‘n ideaal van ‘n Christus-gesentreerde Eenheidskerk gaan dien nie. Die persepsie by lidmate het ontwikkel dat kerkeenheid vir die onderhandelaars meer gaan oor Belhar as belydenisskrif (dus polities) en nie oor Christus, die Verlosser in Wie ons almal saamgebind is nie.

2. Die referendum einde 2014/15 rondom die verandering van Artikel 1

In kort: Dit was ‘n groot oordeelsfout en groot verleentheid. Dit het duidelik gedemonstreer dat die NGK-moderatuur in geen werklike voeling met die groeiende agterdog en wantroue by lidmate oor die moderatuur se hele bestuur van die eenheidsgesprekke tot op daardie stadium gehad het nie. Die moderatuur het, ten spyte van waarskuwings, eenvoudig voortgegaan en het die fiasko net nie sien kom nie. Die referendum self was verwarrend en het enorme onsekerheid by lidmate te weeg gebring. Wat verder tot die groeiende wantroue meegewerk het was die vermoede by lidmate dat die moderatuur hule eie agenda agter die skerms bedryf het: “Julle moet stem oor Artikel 1, NIE oor Belhar nie”, is gesê. En na elke uitslag word die uitslag beoordeel as : “Soveel stemme vir Belhar en soveel daarteen” Lidmate en gemeentes het gewoon gevoel hulle is nie met deursigtigheid en eerlikheid behandel nie.

Die skade hiervan gaan nie maklik herstel nie.

3. Toestemming aan Wes-en-SuidKaap Sinode by die Oktober 2015-vergadering om hul eie belydenisskrifvasstellings te doen.

Dit kan nie. Hermee is die deur nou oopgemaak dat elke sinode in die toekoms oor enige saak waaroor hul sterk voel, hul eie pad kan loop. Die primêre funksie van die Algemene Sinode om as een spreekbuis te dien vir die hele NG Kerk en om sodoende eenheid en eenstemmigheid tussen al die gemeentes en streeksinodes te bevorder, is hierdeur ‘n groot knou toegedien. Op langtermyn gaan die Algemene Sinode hierdie nuutgekose weg nie oorleef nie.

Veel eerder moes die Algemene Sinode die Wes-kaap vasgevat het en nie die stout seuntjie hul sin gegee het nie. Hulle is deel van die Algemene Sinode, ‘n proses om Artikel 1 te verander en waarby hulle ingekoop het, is deurloop. Nou moet hulle, ter wille van die eenheid binne die NG Kerk, die uitslag daarvan aanvaar.

Terloops: Die voorstel van die RCA wat tot hier in die wind geslaan is, se wysheid blyk nou meer en meer duidelik te word: Laat die te stigte nuwe Eenheidskerk self die besluit neem oor sy belydenisskrifte.

Indien hierdie raad gevolg is deur die Moderatuur en hulle hierdie standpunt saam met die RCA die afgelope jare ferm gehandhaaf het, was ons vandag baie verder op die pad van Kerkeenheid en was die Moderatuur heelwat verleentheid gespaar.

4. Jongste besluite van die Algemene Sinode oor homoseksualiteit

Hierby hoef ons nie veel te sê nie. Genoeg verklarings deur gemeentes, lidmate, leraars en selfs susterkerke het reeds die lig gesien om ons te laat besef dat by verre die meerderheid gemeentes baie sterk standpunt teen die besluite van die jongste vergadering van die Algemene Sinode inneem. Gemeentes gaan nie toelaat dat ‘n handjievol teoloë wat onder die invloed van die post modernisme is hul sieninge op hul afdwing nie.

Dit bring die Algemene Sinode voor sy grootste bestaanskrisis nog: Gemeentes kan nie meer die Algemene Sinode vertrou om Skrifgetroue standpunte en in lyn met haar eie belydenisskrif te gee in aktuele sake nie. En wanneer gemeentes hul Algemene Sinode nie meer met die Bybel en getroue Skrifuitleg kan vertrou nie, is die doodsklok besig om te lui.

Dis duidelik dat die taakspan wat die verslag en aanbevelings aan die sinode bedien het, hul laat lei het deur ‘n vooropgestelde antwoord wat hul graag as besluit van die vergadering wou sien, nl dat seksuele homoseksuele verhoudings aanvaar moet word en nie as sondig of in stryd met die Skrif beskou moet word nie. Die invloed van die post modernisme is duidelik. Daarvoor het hul selektief te werk gegaan deur eers hul antwoord te vind in geselekteerde navorsingstukke uit die biologiese en natuurwetenskappe, en daarna na die Skrif. Skriftekste oor homoseksualiteit word dus beoordeel vanuit ‘n geselekteerde bril wat die menswetenskappe hul gee. Dit veto dus die Skrif. In die Reformasie werk ons anders om: Die Skrif veto. Sola Scriptura.

Die selektiewe aard van die taakspan se navorsing word ook bevestig deur die afwysing van ‘n ope brief aan die Sinode deur ‘n genootskap van gelowiges wat almal in homoseksuele praktyke vasgevang was en deur die krag van Christus se verlossing oorwinning verkry het en nou in gelukkige, normale heteroseksuele verhoudings/huwelike leef. Hoekom? Moet hierdie wonderlike getuienisse nie gehoor word nie? Hulle het selfs ‘n webbladwww.LearnToLove.co.za. In stede daarvan, raak mens al gewoond dat by haas elke kerkvergadering waar homoseksualitiet aan die orde kom, die vergadering net eensydig blootgestel word aan die getuienisse van homoseksuele mense wat getuig van hul pyn en lyding en die verwerping wat hulle ervaar. Natuurlik het mens deernis hiermee, en is hulle welkom in die Kerk en moet die Kerk hul met oop arms aanvaar en koester. Dis egter liefdeloos om hul die verlossing in Christus te ontsê. Die getuienisse van die ander word egter nooit gehoor nie, asof hulle nie bestaan nie.

My waarneming is: gemeentes gaan nie die Sola Scriptura beginsel prysgee nie. Gemeentes sal voortgaan om homoseksuele gelowiges te omhels en welkom te laat voel in gemeentes, maar sal ook voortgaan om hul te bedien met die volle boodskap van verlossing van hierdie sonde in Christus. Om net die “label” van sonde van homoseksualteit af te haal soos die jongste besluit van die Algemene Sinode dit nou wil doen, los nie hierdie gelowiges se probleem op nie. Die krag van die evangelie wil hul waarlik vrymaak, nie net “label-free” maak nie.

Groot werk en baie gebed lê voor. Om vertroue te herstel in ‘n verdere rol en bestaansreg van die Algemene Sinode, gaan nie maklik wees nie. Die Algemene Sinode sal homself moet bewys as ferm, met duidelike leiding, versiendheid en dissipline, onwrikbaar getrou aan God en die Woord.

Ons bid vir die nuwe Moderatuur in hierdie verband. Hulle sal die vertroue moet wen van die moderature van die groter NG Familie, ons Susterkerke, en bowenal, die lidmate van die NG Kerk. Anders lui die doodsklok.

Christus hou Self sy kerk in stand.

[Uitstekende artikel, ek is net nie seker wie dit geskryf het nie. As iemand my kan laat weet sal ek bly wees en die naam vermeld. Volgens opmerking hieronder het ds. Dȕring Cornelius dit geskryf.]


Woensdag 14 Oktober 2015

DANKIE DOPPERS!




KLASSIS MOOT VAN DIE GKSA SE MOSIE VAN LEEDWESE, SKOK EN AFKEUR TEEN DIE NGK SE BESLUIT AANGAANDE HOMOSEKSUALITEIT

Die Gereformeerde Kerke in Klassis Moot (BetEl, Daspoort, Meijntjieskop, Elofsdal, Innesdal, Kandelaar, OosMoot, Bronkhorstpruit, Pretoria(d), Wonderboom Suid, Totiusdal, Andeon, Bergsig) het die volgende mosies eenparig aanvaar by vanaand se vergadering:

Die Gereformeerde kerke in klassis Pretoria-Moot neem met leedwese, skok en afkeur kennis van die onlangse besluite van die Sinode van die NG Kerk, wat homoseksualiteit aanvaar en goedkeur in so mate dat mense wat ‘n openlike homoseksuele leefwyse beoefen, selfs as predikante toegelaat word en dat verbintenisse tussen sulke mense kerklik bevestig mag word.

Die Bybel wys homoseksualisme onvoorwaardelik af, soos duidelik onder meer uit Romeine 1: 26 en 27. Die besluit van die NG Kerk word diep betreur en noodsaak herbesinning van die ooreenkoms met die NG Kerk soos goedgekeur op die laaste algemene sinode van Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

Ons as Gereformeerde Kerke se ekumeniese verhouding met die NG Kerk het verlede week ‘n praktiese werklikheid in ons lewens geword met die NG Kerk Sinode se pro-homoseksualisme besluit.

Na aanleiding van hierdie besluit van die NG Kerk spreek hierdie vergadering van Gereformeerde Kerke in Pretoria-Moot sy kommer uit oor ons ekumeniese verhouding met die NG Kerk, asook ons hartseer oor genoemde besluit se liefdelose veragting van die HERE, sy Woord, en ons naaste.

Dit doen ons terwyl ons harte uitgaan na ons broeders en susters in die NG Kerk wat die geestelike aanslag en dwingelandy van afvallige Kerk-strukture baie erg beleef.

Hierdie vergadering se bede is dat die HERE al sy ware gelowige kinders in die NG Kerk en ook in die Gereformeerde Kerke deur sy Gees sal vul en lei (Efes 5:19; Rom 8:13-14; Gal 5:16) om hulself te verloën en sy Naam en waarheid teenoor die NG Kerk se pro-homoseksualisme besluit te bely, en haar oor haar euwels te bestraf (Mark 8:34-38; HK Sondag 12 v/a 32).

[Ons Gereformeerde broers se duidelike standpunt is vir ons 'n troosvolle bemoediging in 'n tyd wanneer ons eie Algemene Sinode ons in die rug steek - Johannes de Koning]

Dinsdag 13 Oktober 2015

OTJIWARONGO STAAN OP VIR DIE WAARHEID!

BESLUIT

DIE KERKRAAD VAN DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK OTJIWARONGO HET OP ‘N BUITENGEWONE VERGADERING GEHOU OP DIE 13DE OKTOBER 2015 DIE VOLGENDE BESLUIT GENEEM:
                                                                                                                

ONS STANDPUNT TEENOOR DIT WAT DIE PAS-AFGELOPE ALGEMENE SINODE VAN DIE NG KERKVERBAND BESLUIT HET OOR SELFDE-GESLAG-VERHOUDINGS (Bewoording met vergunning aan die NG Kerk Moreletapark).


1.      Ons is oortuig dat die Skrif ons leer dat ‘n huwelik die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is, wat mekaar met die liefde van Christus versorg.  Ons aanvaar dat die enigste wyse waarop ‘n Christelike huwelik tot stand kom is tussen een man en een vrou waar Christus in die middelpunt is.
2.      Ons glo dat die Skrif daaroor duidelik is dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik teen God se wil en plan is.
3.      Ons glo dat die beoefening van homoseksualiteit teen God se wil en plan is soos alle ander sondes waaroor die Skrif praat. Vir al hierdie sondes is daar vergifnis en vrymaking deur die bloed van Jesus Christus.
4.      Die gemeente se deure staan met die liefde en deernis van Christus oop vir alle mense. Wanneer ‘n persoon egter in enige sonde volhard kan hy/sy nie in ‘n leiersposisie (leraar, personeel, bestuurslid, bedieningsleier of aanbieder)  in ons gemeente  dien nie.
5.                Ons wil steeds as kerk die oop arms van Jesus wees wat vir alle mense genade, vergifnis en heling bied.
                                                                                                                
WAT ONS NOU PRAKTIES TE DOEN STAAN.


1.   Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo verbreek onmiddelik alle bande met die Algemene Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika.

2.   Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo behou voorlopig kerkverbandelike verbintenis met die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië. Die eersvolgende sinode van die Nederduitse Gereformeede kerkverband in Namibië sal bepaal of die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo haar verbintenis met die NG Kerkverband in Namibië sal handhaaf al dan nie.

(Nota: Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo betreur die feit dat die afgevaardigdes van die NG Kerkverband in Namibië die landswette van Namibië moes voorhou as rede waarom nie akkoord gegaan kan word met die besluite van die Algemene Sinode nie. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo sou verkies dat enkel en alleen op suiwer Bybelse beginsels gestaan sou word wanneer die NG Kerkverband in Namibië se betrokkendheid by die AS se besluit, oorweeg word.)

3.   Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo staak met onmiddelike effek alle finansiële bydraes aan die Algemene Sinode. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo gaan wel huidiglik voort met sy finansiële bydraes aan die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië met die duidelike en pertinente voorwaarde dat geen deel van hierdie bydra aan die Algemene Sinodale Verband oorbetaal mag word nie. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo vra dat die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië via sy sinodale kantoor asseblief aan ons die versekering sal gee dat geen so ‘n oorbetaling aan die Algemene Sinode gedoen sal word nie. Indien die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië dit nie moontlik vind om aan die NG Kerk Otjiwarongo se versoek te voldoen nie, sal die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo verplig wees om voorlopig sy finansiële bydraes aan die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië te staak tot tyd en wyl die NG Kerkverband in Namibië se standpunt betreffende selfde-geslag-verhoudings bekend is. In so ‘n geval sal die NG Kerk Otjiwarongo die betrokke betalings in ‘n aparte rekening deponeer, en indien die NG Kerkverband in Namibië dan wel uiteindelik aandui dat sy die weg van God se Woord gaan volg betreffende selfde-geslag-verhoudings, sal die teruggehoude gelde dan volledig aan die NG Kerkverband in Namibië oorbetaal word (So ‘n besluit deur die NG Kerkverband in Namibië sal vanselfsprekend beteken dat die NG Kerkverband in Namibië haarself losmaak van die Algemene Sinodale verband in SA). Indien die NG Kerkverband in Namibië egter sou besluit om in die spore van die Algemene Sinode te volg, is dit vanselfsprekend dat die NG Kerk Otjiwarongo ook sy bande met die NG Kerkverband in Namibië sal verbreek.


Nota:                    Daar moet baie sorgvuldig in gedagte gehou word dat volgens die basiese beginsels van die Skrif en die gereformeerde kerkreg is die plaaslike kerk (gemeente) volwaardige kerk. Christus is die enigste Hoof en Hy regeer sy kerk deur sy Woord, Gees en die ampte. Die kerkverband kom voort wanneer twee of meer plaaslike kerke op ‘n bepaalde beginsel-grondslag met mekaar in verband tree. Daardie beginsel-grondslag word in die kerkorde omskryf. Die kerkverband hanteer dan ook alleenlik daardie sake wat van gemeenskaplike belang is en wat nie sinvol deur die plaaslike kerk alleen gehanteer kan word nie. Dit is verder ook belangrik om altyd in gedagte te hou dat daar binne die gereformeerde kerkreg en verstaan van kerkwees geen sprake is van hierargie nie. Die ring is nie ‘n hoër vergadering as die kerkraad nie, en die sinode is ook nie ‘n hoër vergadering as die kerkraad en die ring nie. Die ring is wel ‘n meerdere vergadering as die kerkraad, en die sinode is ‘n meerdere vergadering as die kerkraad en die ring. Dit beteken dat op ‘n ringvergadering is daar meerdere ervaring en kennis van die Skrif teenwoordig as op ‘n kerkraad en eweneens so op die sinode as op ‘n kerkraad en ‘n ringsvergadering. Wanneer ‘n ring en/of ‘n sinode egter kennelik en duidelik wegbeweeg van die Skrif af (soos wat nou gebeur het met die Algemene Sinode) dan verloor daardie vergadering onmiddelik en logies sy status as meerdere vergadering, en het die kerkraad (plaaslike Kerk) die reg om sy posisie betreffende die betrokke meerdere vergadering in heroorweging te neem. Ons is immers daartoe verbind om eerder aan God gehoorsaam te wees as aan mense (Hand. 4: 19 en Hand. 5: 29).


[Omatako - sinoniem met Otjiwarongo]

Lees ook : Waarom is dit belangrik om standpunt in te neem? Kliek op SKANDE

En lees ook : DANKIE DOPPERS!

“WAS HIERDIE SKANDE VAN DIE GESIG VAN CHRISTUS AF!”

- onderskei tussen verleiding en liefde.

Die aangrypende verhaal van die bekende martelaar vir Jesus in die tyd van die koue oorlog en die ystergordyn, Richard Wurmbrand, het so baie vir ons vandag te leer te midde van die stryd wat woed vir die siel van die NG Kerk.

Die onderstaande kom uit die merkwaardige verhaal van sy onmenslike lyding, “VIR CHRISTUS GEMARTEL” :

Toe die Kommuniste eers eenmaal aan die roer was, het hulle op knaphandige manier die middele van verleiding teenoor die Kerk gebruik. Die taal van liefde en die taal van verleiding is dieselfde. Die man wat ‘n meisie as vrou wil hê en die een wat haar slegs vir een nag wil hê om haar later weg te gooi sê albei: “Ek het jou lief!” Jesus het ons geleer om te onderskei tussen die taal van verleiding en die taal van die liefde en om die wolwe in skaapsklere van die regte skape te onderskei.

Toe die Kommuniste aan bewind gekom het, het duisende priesters, pastore en predikante nie geweet hoe om tussen die twee stemme te onderskei nie.

Die Kommuniste het ‘n kongres van alle Christelike liggame in ons parlementsgebou (van Roemenië) belê. Daar was vierduisend priesters, pastore en predikante van alle denominasies. Hierdie vierduisend priesters, pastore en predikante het Josef Stalin tot erevoorsitter van hierdie kongres gekies. Terselfdertyd was hy president van die Wêreld beweging van die Goddeloses en ‘n massamoordenaar van Christene. Biskoppe en pastore het die een na die ander in ons parlementsgebou opgestaan en verklaar dat die Kommunisme en die Christendom fundamenteel dieselfde is en naas mekaar kan bestaan. Die predikante het die een na die ander die Kommunisme geprys en die nuwe regering van die lojaliteit van die Kerk verseker.

Ek en my vrou was teenwoordig op hierdie kongres. My vrou het gesê : “Richard, staan op en was die skande van die gesig van Christus af! Hulle is besig om in Sy aangesig te spuug.” “As ek dit doen,” het ek gesê, “verloor jy jou man.” “Ek wil nie ‘n lafaard vir ‘n man hê nie”, het sy gesê.

Ek het opgestaan en die kongres toegespreek. Ek het nie die moordenaars van Christene geprys nie, maar Christus en God en gesê ons lojaliteit is in die eerste plek aan Hom verskuldig Die toesprake op hierdie kongres is uitgesaai en die hele land kon van die spreekgestoelte van die Kommunistiese parlement die boodskap van Christus hoor. Later moes ek hiervoor boet, maar dit was die moeite werd.


[Inderdaad moes Wurmbrand ‘n baie hoë prys betaal vir sy dapper opstaan vir Jesus. Hy moes veertien jaar van byna ondenkbare foltering deurmaak.]

Dis nou in die NG Kerk ‘n tyd van beslissing en noodsaaklik om tussen die taal van verleiding en ware liefde vir God en sy Woord te onderskei. Die begeleidende brief wat die Algemene Sinode uitgestuur het om almal te paai na hulle skokbesluit om homoseksuele gedrag reg te verklaar drup van hierdie verleidende liefde! Gaan ons val daarvoor? Gaan ek en jy opstaan vir die eer van ons Verlosser?

Maandag 12 Oktober 2015

GEVOLGE VAN DIE GAY AGENDA

- die NGK moet weet dat haar opklim op die gay agenda se wa  ernstige gevolge gaan hê.

Die gay aktiviste en hulle meelopers op ons teologiese fakulteite sal natuurlik niemand hieroor inlig nie. Lees dus self wat met die Reformed Church in America gebeur het, toe hulle die pad weg van die Skrif begin stap het. 

The RCA has seen a decline in Dutch Reformed Church Christian membership in recent years from 300,000 members to 240,000, due to increasingly liberal denominational positions on issues like ordination of homosexual and lesbian clergy, and same-sex marriage, according to The Gospel Coalition and other reports. 
Vir meer hieroor kliek op GEVOLGE.

Lees gerus hoe hierdie tragiese verhaal ontvou het en let veral op waar dit begin het...

Sondag 11 Oktober 2015

ONS SAL NIE STILBLY NIE!

Oor die skande wat die Algemene Sinode van die NG Kerk oor ons gebring het mag ons nie swyg nie.


Dit raak soveel gelowiges binne en buite ons kerk. Mens se hart wil breek oor die gevolge van hierdie onbesonne daad!

Ek hoor soveel stemme van hartseer, ontnugtering, vertwyfeling...

Saterdagaand sê ‘n jongmens vir my : “Dit voel of die duiwel in die kerk inkruip”

Sondagoggend in my finale jaar katkisasieklas het die katkisante self hierdie saak aangeroer en ons kon ‘n lekker gesprek hê. EK vra hulle toe oor hulle gevoel/mening oor die AS se besluit. Hulle antwoorde raak jou diep. Dit was min of meer die volgende:

“Geskok.”

“Ek het dit verwag, omdat die wêreld in daardie rigting beweeg en die kerk raak al hoe meer soos die wêreld.”

“Teleurgesteld, as een sonde goedgekeur word, wat is die volgende?”

“Dis boos, dis ‘n gruwelike sonde.”

“Deurmekaar.”

“They were not following the Lord, but became like the world.” (Portugeesprekende katkisant)

Ons kon toe ‘n verrykende gesprek voer uit 1Korintiërs 6:9-11. Ons moet sonde sonde noem, juis sodat daar vergifnis en herstel kan kom!

Die kommentaar van ‘n Rooms Katolieke vriend van my maak mens skaam. Sy reaksie – “Ek het net een woord hieroor : skokkend”

Iemand skryf  soos volg (gedeeltelike aanhaling):

“O, my hart skeur vir wat ons aan Jesus Christus doen.

Ons is veronderstel om Sy rein bruid te wees wat Hy sonder vlek of rimpel aan die Vader wil voorstel. Maar, die Woord is waar wat sê smal is die weg, en min vind dit. Ons gaan 'n baie groot verassing kry op die oordeelsdag. Mens dink hulle is op weg na die Hemel, maar hulle wil nie met hulle sonde breek nie. Stry jy dan om in te gaan by die nou poort, sodat jy nie ook een is wat moet hoor "Gaan weg van my af, julle werkers van ongeregtigheid".

Ek gooi hierdie humanistiese sogenaamde liefde en deernis waarmee die NG Kerk sinode hulle besluite geneem het van my af weg. Ek wil niks daarmee te doen hê nie. Ek distansieer my uit en uit van dit. Wat my aanbetref het die NG Kerk sy eie god geword en kan ek nie meer na hom luister nie.

Mag God ons genadig wees.”

Ja, mag Hy ons genadig wees. Mag hierdie ontsteltenis ‘n impetus tot ware hervorming en herlewing wees!

STEMME 

Baie dankie ook aan so baie stemme wat mens hoop gee...
Ek waardeer dit en besef opnuut die kosbaarheid van Jesus se Bruid wat haarself gereed maak vir die Bruidegom. Laat ons mekaar daartoe aanspoor!

Ja, ek hoor die stemme van smart, ontnugtering en teleurstelling, MAAR ek hoor ook bemoedigende stemme van die wat bereid is om op te staan vir die waarheid en hulle liefde vir Jesus. By gisteraand se Bybelstudie oor Reformasie (ons behandel Nehemia - wat 'n fantastiese Bybelboek!!) hoor ek ook "stemme" wat dui op 'n nuwe begin, 'n nuwe toewyding aan ons Here en aan mekaar!

Kom ons stap die pad saam! Die Here van die kerk sal ons wel op die regte plek laat uitkom!




Saterdag 10 Oktober 2015

DIT GRYP AAN DIE HART...

Die afskuwelike besluit van die Algemene sinode veroorsaak soveel ellende en ontsteltenis... Meer as dit, pyn, werklike pyn. Slapelose nagte. Om te beleef dat ons geliefde kerk, die kerk wat soveel seëninge beleef het en tot soveel seën vir ander was, gekies het vir radikale humanisme teen God se Woord...


[Die liberales hierteenoor juig! Dit herinner weer sterk aan die bekende John Piper se stelling : "At this moment in history, contrary to the other sins listed..., homosexuality is celebrated by our larger society with pioneering excitement. It’s seen as a good thing, as the new hallmark of progress."]

Soveel telefoonoproepe, e-posse*, gesprekke... verbasing en verbystering, vrae en vertwyfeling... "wat nou, moet ek bedank? En waarheen dan?" Die oplossings is nie eenvoudig nie, die antwoorde nie maklik nie... Daar is skape van die Here wat gaan skade ly, as ons oorhaastig optree,  (Daar is seker nou 'n hele paar aspirant praktiserende homoseksuele wat beroepe soek... en kan mens jou indink die skade wat dit aan God se kudde gaan doen! Dis om van te sidder!) Aan die anderkant moet ons nie vergeet dat God heilig is nie! Die realiteit is ook dat die kanse op bekering vir die NG Kerk skraal is solank die teologiese fakulteite wat die voorbokke van verval is, toegelaat word om hulle gif onder ons studente te versprei en hulle immuun teen die Woord te maak! En tog kan God in sy soewereine almag bekering skenk, as Hy besluit om te werk, wie kan Hom keer?

WAT NOU?

Voorlopig dink ek... [dis voorlopig, want ek moet nog met my kerkraad saam besin...]

Moenie oorhaastig optree en juis so in die hande van die liberale kerkvernietigers speel nie! (Gaan lees maar op sosiale media hoe van die grootste NG haters juig oor die AS se besluit...hoekom?)

Teken hard en duidelik protes aan. Daar is te veel leraars en lidmate wat tevrede is dat ander ouens namens hulle die stryd stry. Neem die aansporing van Judas vers 3,4 baie ernstig op : " Geliefdes, ek was vas van plan om aan julle te skrywe oor die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het.
Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus."
Terloops. Die kastige pastorale brief van die Algemene Sinode walg my, dis net mooi woorde sonder betekenis. Hulle paai nou hard, want hulle weet die kerk gaan nou lidmate verloor. Ons moet nie mislei word nie, maar duidelik opkom vir die waarheid!

Daar rus 'n plig op ons elkeen wat die waarheid liefhet om juis nou meer as ooit tevore die skape van die Here Jesus te versorg. Hulle is verward, geskok, stukkend, want ons kerk steek ons in die rug, die kerk waarvoor hulle hard werk, opgeoffer het, vir wie ons opkom in 'n vyandige omgewing. Ander kerke verdink ons nou van als wat sleg is (kan mens hulle kwalik neem?), ja selfs die Rooms Katolieke verstaan die Woord nou beter as ons op hierdie bepaalde punt! Ons moet mekaar vashou en bemoedig. Ek het vele bewyse van die diepe geskoktheid en volslae verbystering wat getroue lidmate nou beleef...

Wees voorbereid op vervolging! Vanoggend in my stiltetyd is ek getref deur Jesus se woorde in Johannes 15:18,19 - "As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat.
As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle."
Dieselfde manne wat so mooi oor verdraagsaamheid praat, gaan die eerste en die hardste byt... Gaan lees die sosiale media.

Dink nugter oor wat gebeur het. Die Algemene Sinode se besluit verteenwoordig 'n minderheid in ons kerk. Ek het geen twyfel dat as ons gemeentes hieroor sou stem soos in die geval van die voorgestelde Artikel 1 wysiging, die meerderheid teen hierdie verval sou stem nie! En buitendien, ons weet dat die Woord en die Belydenisskrifte aan ons kant is, waarom sou ons terugdeins? Wat ek wil sê, moenie te gou skrik vir die AS nie. Hulle is nie die kerk nie!

Soek God se wil biddend saam met medegelowiges! Die Here sal sy getroues nie in die steek laat nie en sal aan ons genade en wysheid skenk...Hy doen dit veral binne die gemeenskap van gelowiges. As ons dan moet vlug, dan sal Hy vir ons bekendmaak wanneer en waarheen deur die gesamentlike wysheid wat die Heilige Gees ons gee.

Intussen, laat ons die Woord tydig en ontydig bring...

[Laat weet hoe jy dink en kom ons bemoedig mekaar, maak gerus gebruik van die kommentaar funksie hieronder]

*So skryf 'n kosbare broer wat die Here in die sendingveld dien : 

Beste Johannes,

Ek is nou erg ontsteld en verward – inderdaad in ‘n krisis - n.a.v. gister se besluit deur die Algemene Sinode dat homo-paartjies OK is en nou mag “trou” en dat teologiese studente en leraars nie meer selibaat hoef te wees nie."


[Mariental NG Kerk - oudste gemeente van die NGK in ons land, eers bekend as die Gibeon gemeente]

Vrydag 09 Oktober 2015

AS DIE HUIS VAL

- die dringende noodsaaklikheid van ‘n onwankelbare fondasie! 


Die fondasie van ‘n huis is lewensbelangrik! ‘n Onveilige fondasie is lewensgevaarlik en kan lei tot ‘n ontsettende ramp. ‘n Huis wat kraak en selfs heeltemal inmekaarval as daar ‘n storm is. So is baie mense se "Christenskap" op ‘n vals onveilige fondasie van sand gebou. Hulle dink hulle is kinders van God, hulle dink als is reg en dan sal hulle as dit te laat is tydens die storm van die oordeelsdag uitvind als was nie reg nie. Die oordeelsdag sal ‘n dag van onaangename verrassings, groot skok en verbasing wees! 

ROTS OF SAND?

"Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.

Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.

En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het.

Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes." (Matt 7:24-27)

Die metafoor van die fondasies (Matt 7:24-27) vorm die afsluiting van Jesus se Bergrede soos ons dit vind in Matteus 5-7. In die Bergrede gaan dit oor ingaan in die koninkryk. Wie sal eendag kan deel in die ewige heerlikheid van die koninkryk van God? Wie is in en wie is uit? Kyk na die Saligsprekinge in 5:3,10, ook na 5:20, 6:33, 7:13. As jy in die koninkryk van God wil ingaan, moet jy Jesus se lering in die Bergrede baie ernstig opneem!

VALSE SEKERHEID GEBOU OP VALS FONDASIES

Daar wag ‘n wrede ontnugtering vir diegene wat die lering van Jesus nie ernstig opneem nie:

"Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.

Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’

Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree." (7:21-23)

Die groot tragedie is dat baie sal dink hulle gaan in, maar uitgesluit gaan word. In hierdie gedeelte ontbloot Jesus verskeie valse fondasies:

~ Mense dink hulle is Christene want hulle was mos deel van die kerk. Hulle was gewoond om te sê: “Here, Here” (21)

~ Mense dink hulle is Christene , want het hulle lank gelede ‘n keuse gemaak vir Jesus, maar dit het nooit tot ‘n nuwe lewe gelei nie. (21) So baie wat hulle “harte vir Jesus gegee het” gaan uitvind dat hulle Hom nooit geken het nie!

~ Mense dink hulle is Christene, want hulle voel seker oor hulle Christenskap. Daarom die groot verbasing as hulle toegang geweier sal word. (22)

~ Mense dink hulle is Christene, want hulle het een of ander wonderwerk of gebedsverhoring beleef. (22) Dis wonderlik as die Here jou gebede verhoor het, jou in ‘n krisis gehelp het of jou genees het, maar dit beteken nog nie dat jy God se kind is nie. (Dink aan koning Saul wat verskeie gebedsverhorings en wonders beleef het, maar uiteindelik as ‘n godverlatene gesterf het of duisende wat in Jesus se tyd genees is of wonders soos die vermeerdering van die brood beleef het, maar nooit volgelinge van Jesus geword het nie.)

DOEN,DOEN,DOEN...

Ons het nou gesien wat is vals fondasies, maar wat is dan ‘n veilige vaste fondasie wat sal standhou in die storm van die oordeelsdag? Die klem val in hierdie gedeelte baie duidelik op DOEN, die doen van die Vader se wil, die doen van Jesus se woorde. Vgl. 21,24,26*

Die uitdaging van die Bergrede is : Dink en doen anders! Die groot vraag wat by mens opkom is : Word ons dan nou deur dade gered? Wat van die Bybelse lering dat ons deur geloof in Jesus gered word? Hoe werk dit dan nou?

Die Bergrede as geheeleenheid fokus op Jesus self. Als draai rondom Jesus. Die Bergrede is dus nie 'n klomp lostaande morele reëls nie. Dis alreeds duidelik in 5:11. “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.” Die klem is nie op een of ander neutrale moralisme nie, maar op Jesus! Jesus self is die nuwe Moses, die finale profeet**, die ware Middelaar tussen God en sy volk. Geloof in Jesus is dus die kern van die hele Bergrede. Redding word alleenlik verkry deur persoonlike geloof in Jesus! Maar die Bergrede wil ook vir ons sê, geloof in Jesus het drastiese gevolge. Geloof in Jesus word sigbaar in ‘n vernuwing van totale lewensingesteldheid en praktyk.*** Die Bergrede spel hierdie nuwe lewe prakties uit. Kyk na ’n paar voorbeelde. Die nuwe lewe van geloof in Jesus is ‘n lewe van :

  • Radikale vergifnis (gaan versoen jou eers met jou broer voor jy na die altaar kom) Het ek en jy al begin om dit toe te pas? Moeite gedoen om ‘n kwaaivriendskap uit die weg te ruim? “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.” (5:23,24)
  • Radikale reinheid (om te kyk na ‘n ander vrou, m.a.w. die eerste stap is al gelykstaande aan egbreuk) Het jy al begin om dit toe te pas en plekke (soos die dansbaan), flieks en tydskrifte te vermy wat daartoe lei? "Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. "As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland." (5:27-30)
  • Radikale liefde (jy moet selfs jou vyande liefhê) Het jy al begin om ontslae te raak van al jou wraakgedagtes? “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg,” (5:44)
  • Dis ‘n nuwe lewe voor die aangesig van God. Ek sal goeie dade doen, bid en vas, nie om deur mense gesien te word nie, maar net my beloning van God te verwag. “Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.” (6:1)
  • Dit behels ‘n nuwe siening oor geld. Om nie meer gedryf te word deur die bymekaarmaak van aardse skatte nie, maar om ‘n ewige visie te hê! “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees." (6:19-21)
  • Geloof in Jesus lei tot nuwe vertroue. Om te kies teen bekommernisse wat my tyd en kragte opvreet en my eerste te beywer vir sy koninkryk en wil. “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee." (6:31-33)
Hoe bou ek ‘n veilige fondasie? Glo in die Here Jesus en begin sy woorde toepas in praktiese situasies in jou lewe! Dan weet jy jou huis is op die rots gebou! Laat jou geloof in Jesus sigbaar wees in jou lewe. Dis ’n opwindende pad...ja, ons struikel, maak foute, maar ons staan op en gaan aan.

Die vaste fondasie wat sal staande bly in die oordeelsdag is geloof in Jesus die Seun van God, maar belangrik dis ‘n geloof wat jou anders sal laat begin doen! Ware geloof is lewensveranderende geloof! 

Die vaste veilige fondasie is met ander woorde Jesus self, wie Hom ernstig opneem sal duidelik anders begin lewe!


*In Grieks dieselfde woord poiew

** Van Bruggen, Matteȕs – Het evangelie voor Israël, p135

*** Vergelyk Deuteronomium 18:15-19 met Handelinge 3:22-26