BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 20 November 2012

TOEGANG

- tot in God se teenwoordigheid!

Wat ‘n aangrypende gebeurtenis vind ons hier in Eksodus hoofstuk 24. Moses, Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers kom in die teenwoordigheid van God! Ja, hulle sien Hom en hulle het geëet en gedrink! As’t ware saam met die lewende God aan tafel. Natuurlik, dit was slegs moontlik nadat hulle met bloed besprenkel is!

Drie groot sake kom uit hierdie gedeelte na vore :

1. God is angswekkend heilig en asemrowend heerlik! 

God is waarlik God. Heilig, hoog en verhewe.  Dis ‘n kernboodskap in beide die Ou en Nuwe Testament. Eeue later het die profeet Jesaja ‘n openbaring van hierdie heiligheid beleef toe hy die Here in sy tempel gesien en gehoor het hoe die serafs roep :”Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!” (Jesaja 6:3) Terloops, dit het hom platgeslaan in berou en belydenis voor God.  Dit  was egter ook die begin van sy belewenis van versoening en die daaropvolgende roeping. Ons as mense moet ons plek ken voor God en wegbly van alle arrogansie en hoogmoed. God gee hier  die duidelike opdrag aan Moses : “As julle nog ver is, moet julle al voor My buig.” (1) God is nie ons speelmaatjie nie! Ons kan nie met ons onheiligheid en verwaandheid by Hom instorm en vir Hom hiet en gebied nie. Ons kan nie vir Hom beveel nie, Hy beveel ons! Hy alleen gee opdragte!  Hy gee die gebooie waarvolgens Hy gedien moet word. God verwag gehoorsaamheid. Op God se bevel het Moses al die gebooie van die Here neergeskryf en dit aan die volk voorgelees. (4,7) Die hedendaagse rebelse en outonome mens wil mos self besluit wat reg en verkeerd is - ons maak ‘n dodelik gevaarlike fout. God alleen mag besluit wat reg en verkeerd is en Hy alleen bepaal hoe Hy gedien moet word. God se heiligheid en heerlikheid word op verskeie maniere hier onderstreep.  Sy  heerlikheid word verberg deur ‘n wolk wat die berg omhul. Sy heiligheid lyk soos ‘n gloeiende vuur! (16,17) Vuur is meermale ‘n simbool van God se heiligheid in die Skrif. Dink maar ook aan Hebreërs  waar die Sinaï gebeure in herinnering geroep word, en die skrywer dit weer onder ons aandag wil bring : “Ons God is ‘n verterende vuur!”  (Hebreërs 12:29) Mag ons kennis neem : die ware God is ‘n angswekkend heilige God!

As daar nou een uitstaande nood en behoefte in die kerk van ons tyd is, is dit om weer duidelik 
te besef wie God is!

2. God begeer gemeenskap en saamwees met sy mense.

Dis wat so merkwaardig is : die groot heilig verhewe God verlang na gemeenskap met die klein sondige mens. God wil by sy mense wees en in ‘n verhouding met hulle staan. God het sy volk uit Egipte verlos en  gelei met ‘n baie duidelike doel en spel dit uit in Eksodus 19:4-6.  (lees)  Hy het hulle op arendsvlerke gedra en na Homself gebring!  Ja, om by Hom te wees! God neem hier in Eksodus 24 ook die inisiatief en nooi uit : “Klim die berg op na My toe...” (1) God verlos vandag nog mense sodat ons in ‘n verhouding met Hom kan staan. Dis die uiteindelike doel waarop sy redding van sondaars afstuur. Dit word so mooi gestel in Openbaring 21:3 “Kyk, die woonplek van God is by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” 

Weet dit, God wil ook  in ‘n innige verhouding met JOU staan!

3. God maak self voorsiening dat sondaar mense saam met Hom kan wees en sy heerlikheid kan aanskou.

Die eerste twee feite wat ons raaklees in hierdie gedeelte veroorsaak ‘n probleem. God is ontsagwekkend heilig, maar Hy wil in ‘n verhouding staan met mense. Die probleem is - hierdie mense is sondige mense!  Dis die groot dilemma wat die Bybel vir ons stel, maar gelukkig ook self antwoord en oplos : Hoe kan sondaars in die heilige teenwoordigheid van God kom sonder om verteer te word en te sterf?  Hoe vind ons genade by God? Die antwoord kom baie duidelik uit  hierdie gedeelte (die antwoord is die evangelie self) : God maak in sy verbond voorsiening dat die sondes deur offers versoen kon word. Die verbond word deur bloed bevestig. Hierdie bloed is toe op die volk gesprinkel. Na die besprinkeling kon Moses en sy metgeselle die berg uitklim na die teenwoordigheid van God.

Vers 10 en 11 vertel ‘n uitsonderlike opwindende gebeurtenis - ‘n hoogtepunt. “Hulle het die God van Israel gesien ; onder sy voete was ‘n plaveisel van saffiersteen, so blou soos die hemel self. God het geen hand teen die leiers van Israel gelig nie : hulle het geëet en gedrink.”

Mense sien God! Hulle beleef God se teenwoordigheid op ‘n besondere manier. Die heerlikheid van God is natuurlik te groot vir ‘n sterfling om te verstaan en te beskryf - daarom word net gemeld van die plaveisel onder sy voete wat blou siersteen was.  Baie belangrik : hierdie manne eet en drink in God se teenwoordigheid. Om saam met iemand te eet het besondere betekenis. Dis eintlik vandag nog so ook in ons kultuur. Mens nooi nie sommer enige een vir ete nie. Dis ‘n veelseggende teken van aanvaarding en opregte vriendskap en belangstelling! Dit word uitdruklik gemeld dat God geen hand teen hulle opgelig het nie!  Hoekom is dit so buitegewoon?  Dit beklemtoon net weer God se verterende heiligheid. Eintlik mag geen mens naby God kom sonder om te sterf nie, maar God laat hulle toe naby Hom kom op grond van sy groot genade, op grond van die bloed van die verbond waarmee hulle besprinkel is!

Die boodskap vir ons wat Nagmaal gebruik as God se kinders  is baie duidelik. Daar is net een manier hoe ons toegang kan kry tot die heilige God! Ons moet gereinig word deur die bloed van die Middelaar van die Nuwe Verbond, Jesus Christus. (Dis evangelie!) Dit eis van ons dat ons Jesus se offer persoonlik moet aanvaar as genoegsaam vir my eie sondes. Elkeen wat so gereinig is, deel ook in die voorreg van ewige tafelgemeenskap met God.  In Eksodus 24 is daar duidelike lyne wat deurloop na die Nagmaal. In die Nagmaal word die genoegsaamheid van Jesus se offer persoonlik, sigbaar en “proebaar” baie persoonlik aan elkeen bevestig wat glo. “Dis vir julle!”  In die Nagmaal beleef ons  nou reeds tafelgemeenskap met die lewende Here  as ‘n voorskou tot en ‘n voorsmaak van die ewige bruilofsmaaltyd van die Lam. Amen!

Donderdag 15 November 2012

MISLEIDING VAN DIE MAANKYKERS

- die duiwelse dwaasheid van die Hebrew Roots Movement (HRM) se Tora leraars.

Van alle dwaalleringe op die Satan se moderne spyskaart (New Age Gnostisisme, Prosperity Gospel, Mormone, Jehova Getuies, Nuwe Hervormers en noem maar op...) dra die Hebrew Roots leraars die twyfelagtige onderskeiding dat hulle dwaling die duidelikste in die Nuwe Testament self geïdentifiseer en ontmasker word. So lees ons baie duidelik oor hierdie mense en hulle onkunde in 1 Timoteus 1:7 (OAV) “hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beweer, nie verstaan nie.”  (NAV)  “hulle verstaan nie hulle eie woorde of die dinge waaroor hulle so selfversekerd praat nie.”

Die twee uitstaande kenmerke van die HRM se lering word hier uitgelig naamlik : Die objek van hulle lering. Die standaard van hulle kennis.

Die objek van hulle lering, is die wet. (tora, Engels : torah) Dit plaas hulle onmiddellik reeds in opposisie teen die apostel Paulus en alle ander evangelie dienaars dwarsoor die eeue. Paulus (en elke ware gesant van Jesus Christus) se kernboodskap is die boodskap van die kruis. (1 Korintiërs 2:1-5) Geen HRM leraar kan dit sê nie. Luister maar waaroor praat hulle die graagste. Hulle kerm dat mense nie kreef en vark moet eet nie. Hulle sanik oor die Shabbat, en raak opgewonde oor Joodse feeste en mane, maar hulle swyg oor die genoegsaamheid van Jesus se kruis en opstanding. Hulle skryf lang stukke waarin hulle nou vir ons wil vertel of dit Yashua, Yeshua of YaHusha moet wees... Daarom is dit  dat hulle lering, oral waar dit posvat,  net twisvrae bevorder en nie tot stigting lei nie. (1 Timoteus 1:4) Ek vra julle, al julle skynslim HRM leraars, waarom verkondig julle die wet van Moses (tora) terwyl ons net vergifnis deur Jesus Christus kan ontvang, juis omdat die wet van Moses ons nie van sonde kon vrymaak nie? (Handelinge 13:38,39) Natuurlik,  sal julle sê dat julle ook  Jesus verkondig, maar die punt is julle verkondig Hom nie as algenoegsaam nie. Julle meng altyd die tora by in julle gevaarlike resep van dwaaldisse.

Die gebrekkige standaard van hulle kennis. As jy verby kan kyk by hulle tentoonstelling van hoogdrawende en irriterende transliterasies van Hebreeuse name dan kom jy gou agter dat daar min Skrif (en taal) kennis is. Dis nie deeglike Skrifstudie nie, maar ‘n naïewe najaag van visioene en ‘n meusleuring van op die klank af argumente wat hierdie arme mense op sleeptou geneem het.

Natuurlik is die tora deel van die Heilige Skrif en is daar ook vir die Nuwe Testamentiese kerk nut in, as ons dit reg gebruik. (1 Timoteus 1:8) Wat is hierdie regte gebruik?  Breedweg gestel : Ons verstaan die tora vanuit die vervulling deur Jesus. Ons kan nie meer die tora lees asof Jesus nie gekom het nie. Die besnydenis, offers, feeste en sabatte was heenwysings na Hom en nou dat Hy gekom het, kan ons nie meer daarby stilstaan nie. Die beskrywing van hierdie dinge in die tora help ons om die heerlikheid en genoegsaamheid van ons Here Jesus en sy werk te verstaan. En wat van die tora se morele voorskrifte?  Ons kyk daarna deur die vergrootglas van Jesus. Ons lees en verstaan die hele tora via Jesus. Hy vervul die tora (laat die tora sy ware bedoeling bereik deur sy koms as Verlosser), maar vernuwe en verfyn dit ook. Dit kan duidelik gesien word as Hy net soos Moses die berg bestyg en die nuwe standaard van die Koninkryk afkondig in Matteus 5-7.  Hyself oortref die tora, want Hy doen wat die tora nog nooit kon doen nie. Dit word treffend geïllustreer in Matteus 8 as Jesus ‘n melaatse genees! Die tora was gemik op die afsondering van melaatses, maar Jesus gaan verder, raak aan hom (in stryd met die tora) en maak hulle gesond! (En so vervul Jesus die diepste bedoeling van die tora, juis deur die tora te “oortree”) Jesus self is nou ons finale gesag. Jesus verklaar alle voedsel rein, omdat niks wat van buite die mens ingaan hom onrein kan maak nie. (Markus 7:15) Daarom handhaaf ons nie meer die tora se voedselvoorskrifte nie.

Die HRM se wetsleraars teister ons met Toeka se Tora, maar verloën Vandag se Verlosser, ons Here Jesus Christus. 

Jesus self is ons Tora binne die heerlike  Nuwe Verbond, die finale Openbaring van ons Hemelse Vader se wil. (Hebreërs 1:1-3) Jesus as finale Tora is ons Verlosser, maar ook die norm van ons lewe as verlostes!

Die HRM leraars is diewe, slawedrywers  en misleiers. (En ja, soms nog ‘n klomp narre ook!)

Geestelike diewe  wat ons vreugde en  vryheid in Jesus wil steel deur weer spesiale betekenis aan sekere dae, maande en jare te gee. (Galasiërs 4:8-11) Hulle is diewe wat groter ooreenkoms met Islam as met Christenskap vertoon. Net soos die Islam glo hulle ook in Jesus, maar  in praktyk is  Hy ‘n afgewaterde Jesus. Maar nog erger, die  tora leraars met hul voedselvoorskrifte  stel hulself  direk teen Jesus wat alle voedsel rein verklaar het.

Geestelike slawedrywers wat mense se gewete in knegskap wil plaas. Hulle wil ons veroordeel oor wat ons mag eet en nie. Hulle wil weer sabatte en nuwemane op ons afdwing. (Ja, regtig  nuwemane ook! Ek sien Elim Ministries adverteer ‘n new moon service. Praat van die maan gepla!) Dis mos nou woordeliks presies waarteen die apostel Paulus, die uitverkore werktuig van Jesus (Handelinge 9:15 )  ons so duidelik waarsku in Kolossense 2:16,17.* Hierdie HRM leraars wil weer ‘n juk op ons lê. (Handelinge 15:10)

Geestelike misleiers (en maankykers) wat die boodskap van bose geeste aan ons verkondig deur hulle verbod op sekere voedsel. Klink dit dalk bietjie rof? Wel, laat ons gerus kennis neem van die sterk uitsprake in 1 Timoteus  4:1-4.  "Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang...Hulle verbied mense...om bepaalde soorte kos te eet."  Hiervolgens is dit baie duidelik : Die boodskap van die HRM en sy tora tiranne is nie gegrond op nuwe insigte in die Woord nie, maar is die direkte gevolg van demoniese misleiding! Hulle haal graag Bybeltekste aan, maar in wese verwerp hulle die Nuwe Testamentiese kanon. Hulle wil probeer beter weet as die Nuwe Testament wat die name Here (Kurios), God (Theos) en Jesus (Iesous) gebruik. So tas hulle die Heilige Skrif aan!

‘n Mens behoort seker te huil oor al hierdie dwaling, maar partykeer sal mens seker ook nie anders kan as om te lag vir sommige van die geestelike entrepeneurs wat nou op die HRM wa van verwarring spring nie! Ek dink aan die bebaarde Mosesfiguur, ene Michael Rood, wat ‘n “Rood Awakening” propageer. (bemark?) Hy verteenwoordig die sensasionele en teatrale kant van die HRM.

Saam met Paulus wil ek en alle gelowiges van alle denominasies  roem in die genoegsaamheid van die kruis. Vir die kruisboodskap sal ons vervolg word, ook deur die tora kenners. Hier skei ons paaie onherroeplik.  Hulle wil “Torah observant” wees, ons wil “Christ observant” wees!  

Misleide broers en susters, ons roep julle op tot bekering. Kom terug na Jesus Christus. Sien raak wie Hy is. Hy is algenoegsaam, want die volheid van God woon in Hom. En elkeen wat aan Hom behoort het deel aan hierdie volheid.  (Kolossense 2:8-10)  Die kind van God hoef dus nie die volle belewenis, die volle blydskap of die volle waarheid in iets anders soos die tora  te gaan soek nie. Nee, ons oë moet net al meer geopen word om die volheid van Christus raak te sien, dit beter te verstaan en meer daaroor te juig!

My vriend, mag jy waarlik Jesus, die Gekruisigde leer ken!

Naskrif : Die HRM is nie maar net nog ‘n variasie van Christene wat effens anders dink oor sekere sake nie. Dis ‘n totaal ander geloof en ‘n gruwelike dwaling gelykstaande aan die Jehova getuies! Dis tyd dat hulle ontmasker word vir wie hulle is. John Wahl een van hulle ywerige woelgeeste in Vishoek (Elim Ministries) noem die lering oor die Drie-eenheid, wat die fondasie is van die historiese kerk van alle tye, die “magtigste misleiding waarmee die Christendom vorendag gekom het” Dis maar net ‘n bevestiging dat hulle bron nie God se Woord is nie, maar leringe van bose geeste.

*Sien verder oor hierdie saak - kliek op STILSTAAN BY DIE SKADUWEE

Dinsdag 13 November 2012

GOD SE BOME IS KOSBAAR

- bewaar hulle!

God se kinders het respek vir Hom - vir sy heiligheid, almag en  koningskap. Dit sal verseker ook respek insluit vir sy skepping. Dis tog net logies : as ek die Skepper eer en aanbid sal ek ook sy skepping bewonder en oppas. Natuurlik het ons as Christene ‘n gebalanseerde benadering. Ons verafgod en aanbid nie die natuur nie. Ons het nie ‘n onrealistiese Greenpeace houding wat dikwels meer skade doen as goed nie. Ons erken met dankbaarheid dat God vir ons plante en diere gegee het om verantwoordelik te gebruik!

Namibië is geseënd met ‘n goeie grondwet wat voorsiening maak vir die bewaring van ons natuurlike erfenis. In praktyk werk dit ongelukkig nie altyd so op voetsoolvlak  nie. As boomliefhebber is ek baie bekommerd oor die uitroei van kosbare inheemse bome in ons relatief boomskaars en droë land.

Wes van Otavi vind mens pragtige groot mopanie (Colophospermum mopane) savanne. Reuse oeroue bome wat in harde omstandighede die toetse van die tyd, baie droogtes en veldbrande deurstaan het. Hierdie bome word nou teenstrydig met die wet vir die maak van houtskool afgekap. (Ek praat van groot bome, nie van struikmopanies nie!) Nie almal in die houtskoolbedryf beperk hulle blykbaar tot die ontginning van indringerbos soos sekelbos of swarthaak  nie! Vir kortstondige kontant word onherstelbare skade aangerig!





Nog ‘n bekommernis. In die Kavango streek vind die grootskaalse kap van pale plaas. Dis skaars stadig groeiende boomsoorte soos Vals Mopanie, hier ook genoem Osiwi (Guibourtia coleosperma) wat hiervoor aangewend word. In praktyk is dit ‘n bron wat nie hernubaar is nie. Veldbrande veroorsaak dat baie min nuwe jong boompies ooit sal oorleef. Dis ‘n pyn in die siel om die hope pale langs die paaie van ons pragtige land so te sien!


Hierdie pale word opgelaai in die Kavango deur 'n vragmotor met 'n Vrystaatse registrasienommer. Wonder of die eienaar daarvan weet?


Mag ons mense tog leer om respek vir bome te hê! Dis immers God se bome! “Die bome van die Here...” (Psalm 104:16)


GOD'S TREES ARE PRECIOUS
- protect them!

God’s children respect Him. His holiness, His omnipotence and Lordship. That will include respect for His creation. It rather goes without saying. If I honour and worship the Creator, I would also care for his creation! Off course, we as Christians have a balanced approach. We don’t  idolize or worship nature. We don’t support a Greenpeace type of attitude, which causes more harm than  good. We acknowledge with gratitude that God has  provided plants and animals for us to use in a responsible way!

Namibia is blessed with a good constitution which provides for the protection of our natural heritage. Unfortunately this doesn’t always have the desired effect in real life. As a lover of trees, I am very much concerned about the exploitation of our precious indigenous trees in our country which is quite dry and has relative few trees.

To the west of the town of Otavi, one finds a beautiful example of mature mopane (Colophospermum mopane) savannah. Ancient trees which survived the onslaught of ages, droughts and fires! These trees are cut in defiance of the law and used for the production of charcoal. (I refer to mopane trees and not mopane shrubland) It seems that the charcoal industry doesn’t always confine itself to the harvesting of encroaching species like sicklebush and swarthaak. The allure of quick bucks causes irreparable damage to our environment.

Another concern. Large scale harvesting of poles takes place in the Kavango region. Rare slow growing species like African Rose, locally known as Osivi (Guibourtia coleosperma) are exploited. This is for all practical purposes a resource that is not renewable. Annual fires prevent most sapplings to mature. It is painful to see the heaps of poles from these rare trees along our country’s roads for sale.


May our people learn  to respect our precious trees! In fact, these trees are God’s trees! “The trees of the Lord...” Psalm 104:16

Saterdag 10 November 2012

JUIG SAAM MET JUDAS

- God bewaar ons onbevlek en veilig  tot die voleinding!

(maak gerus oop by die brief van Judas)

Sal die kerk van Jesus bly voortbestaan? Kyk net die aanslag van Satan, van vals profete, die baie misleidings... Sal ek as kind van God veilig by my finale bestemming aankom? Kyk hoe sterk is die versoekings en teenstand… Hierdie kort briefie van Judas (nie Judas Iskariot nie, maar waarskynlik Judas die broer van Jesus) is ‘n goudmyn van troos en bemoediging, maar ook ‘n sterk vermaning en oproep tot aksie. Hierdie boodskap raak elke kind van God baie prakties. Kom ons blaai vinnig deur hierdie brief:

Judas  maak God se kinders attent op ‘n bedreiging. (3-4) Judas wou graag op die positiewe aspekte van die geloof konsentreer, maar daar is nou ‘n dringende saak wat hy eenvoudig op die tafel moet plaas. Dis die bedreiging van  valse lering wat die genade misbruik as ‘n dekmantel om losbandig te leef. Die redenasie van diesulkes is : “Ag, sonde is nie so erg nie, want God is vol genade en liefde. Ag, ons kan maar leef soos ons wil, want die Here sal mos maar verstaan.”  Ons kry dit in baie vorme : “niemand is mos volmaak nie, ons is mos maar net mense, ons voel wat ons doen is reg...” (Dis ‘n siekte van ons tyd. Dit wat mense subjektief “voel” is vir hulle baie belangriker as wat die Bybel objektief duidelik beveel.)

Judas beklemtoon die belofte van God se bewaring. Judas begin sy brief op ‘n baie ernstige donker swaar klank, maar  sluit sy brief af op ‘n heerlike triomfantelike noot in vers 24,25.

 “Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou…” 

Ons hoop lê in die almag van God!  Dis waaroor Judas juig! Ook ons mag bly wees oor God se bewaring!  Ten spyte van Judas se ernstige vermanings is hy positief hoopvol oor die kinders van God se ewige sekuriteit. Ons kry ‘n soortgelyke sekerheid by Paulus. (Filippense 1:6) Maar baie belangrik : God se beskerming van sy kinders is nie iets wat net onsigbaar gebeur nie, maar het ‘n praktiese menslike sy waarvan ons moet kennis neem.

Judas  herinner ons dat Goddelike bewaring ook ons gehoorsame betrokkenheid vereis. Die vaste belofte van God se almagtige bewaring van sy kinders is ‘n heerlike troos. Maar hoe gebeur dit in praktyk? Hoe bewaar God ons? Die brief in geheel gee die antwoord. God bewaar ons:

- deur ons  te waarsku. (5-7) Soos deur die vermanings van Judas en ander Nuwe Testamentiese briewe, o.a. Hebreërs. Judas gebruik drie voorbeelde in sy waarskuwing  om aan te dui dat God nie losbandigheid en dwaling sal duld nie. Die eerste voorbeeld is die volk Israel vir wie God uit Egipte verlos het. Al het God hulle verlos deur sy liefde het Hy nie gehuiwer om diegene wat daarna afvallig geword het nie, in die woestyn te laat sterf nie! Pasop om terug te val op ‘n genadewerk in die verre verlede, terwyl jy nou in sonde volhard!  ‘n Tweede voorbeeld is die van die gevalle engele. Ons moet ook onthou dat God die engele wat teen Hom in opstand gekom het, veroordeel het en in kettings gevange hou. Dit verwys moontlik na die “seuns van God” wat met die dogters van die mense gemeenskap gehad het in Genesis 6. Ons hoef nie vas te val in spekulasies  oor wat presies daar gebeur het nie. Die punt wat Judas wil maak is dat opstand en losbandigheid deur God gestraf word. Wees gewaarsku, as God engele nie gespaar het nie, moet julle nie dink dat julle kanse met God kan vat oor sonde nie! Derdens : God se onverbiddelike straf oor sonde in die welbekende oordele oor Sodom en Gemorra. Dit moet ons laat sidder! 

Ons mag nie met sonde speel nie. 
Ons durf nie God terg nie!

- deur ons op te roep tot die stryd vir die waarheid. (3) Geloof gaan nie hier oor ons aksie van geloof  nie, maar oor die inhoud van die boodskap wat ons moet glo.  Dis die basiese waarheid wat aan ons oorgelewer is en waarby ons moet bly.  Hierdie waarheid is “een maal oorgelewer”; dit dui op die finaliteit en onveranderlikheid daarvan.  Die Christelike boodskap is normatief en mag ook nie gewysig word nie. Die hoogtepunt van die openbaring is Jesus Christus, wat ons verlossing bewerk het deur sy sterwe aan die kruis en fisiese opstanding uit die dood. Ook op ‘n onderliggende etiese vlak staan God se boodskap vas. Jesus se lering oor die huwelik het nie verouder nie. God het nie 2000 gelede gesê, homoseksuele gedrag is verkeerd en nou sê Hy weer iets anders nie. Hy het nie toe gesê, “geen dronkaard sal in die Koninkryk van God ingaan nie”, maar dit nou weer gewysig nie. Die waarheid van die Bybelse boodskap  bots met die valse lering van die dwaalleraars wat sê dat ons maar lustig kan sondig, want God sal altyd genadig wees. Hierdie waarheid moet bewaar en gehandhaaf  word.  Judas sê : Stry vir die waarheid, neem standpunt in, moenie skaam wees nie, bewaar die suiwer boodskap van die Bybel. Ja, dit is die boodskap van God se genade en liefde, maar dis ook die boodskap van heiligheid en gehoorsaamheid. 

- deur groei in ons heilige geloof  en gebed, deur te fokus op die liefde van God en die barmhartigheid van Jesus. (20-21) Ons moet op ‘n positiewe manier ons beskerm teen die vals profete se aanslag. Vorder in heiligmaking, maak erns met die vrugte van ware geloof. Prakties sal dit beteken om ontslae te raak van slegte dinge, gewoontes en gesindhede in ons lewens en heerlike nuwe dinge, die vrugte van die Gees te vertoon. Maak erns met ware gebed, gebed wat deur die Heilige Gees bekragtig en gelei word. Fokus op die liefde van God. Bedink God se liefde, wees bewus daarvan, reageer daarop. Onthou ons het God lief omdat Hy ons eerste liefgehad het. Wie bewus bly van God se liefde kan nie maklik sommer sondig nie. Ons moet ook gedurig ons hoop en verwagting stel op Jesus se barmhartigheid. Hy sal ons nie in die steek laat nie, Hy gee aan ons die ewige lewe, sy sterwe en opstandig waarborg dit! Dit gaan hier oor aktiewe voortdurende toewyding aan God en sy Woord omdat Hy ons liefhet en genade aan ons bewys het deur Jesus.

- deur ons betrokkenheid bymekaar. (22-23) Ons moet wegbly van valse leraars, maar ons moet broers en susters help wat deur valse lering beïnvloed is. In ons betrokkenheid bymekaar moet ons sag en genadig optree teenoor mense wat twyfel. Ons moet die wat twyfel geduldig bemoedig en versterk en nie sommer net afskryf nie.  In hierdie konteks van Judas gaan dit moontlik oor die wat nog nie heeltemal deur die dwaalleraars meegevoer is nie, maar nog net begin wankel. Teenoor ander moet ons meer energiek en sterker optree : ruk hulle uit die vuur! Sommige se situasie vereis kragtige besliste optrede. Dis miskien die mense wat al heeltemal vasgevang is in dwalinge en losbandigheid.  As ons ander mense help moet ons dit met versigtigheid en oorleg doen. Moenie sommer net instorm in ‘n situasie nie, pasop jy kan self ook daarin val. Anders gesê : as jy ‘n drenkeling red, maak baie seker dat jyself nie verdrink nie. Pasop om nie by ander se sonde betrek te word nie! Haat elke vorm van sonde!

Wees bly en positief oor God se bewaring, maar maak erns met die opdragte in die Woord, want dis juis hoe Hy jou bewaar.

Sondag 04 November 2012

WONDERWERKE OF WAARHEID?

- wees gewapen teen die Antichris.

As die Antichris kom gaan die groot meerderheid van mense hom aanhang en volg. (Ook die meerderheid van mense wat ons kerke vol sit!) Die Bybel leer natuurlik ook dat daar nou reeds baie antichriste is.  (1 Johannes 2:18)  Elke geslag lewer sy kwota antichriste op en hulle verblind en verlei die massas. Ook nou in ons dag op hierdie oomblik! Hoekom het die finale Antichris en ook al sy voorlopers so ‘n groot aantrekkingkrag? Waarom val so vele vir die valse “christusse”?

Ons kry hier in 2 Tessalonisense 2:9-12, twee belangrike hoofredes waarom mense soos vlieë agter die Antichris sal aanswerm. Paulus verwys hier na die Antichris as die “wettelose mens” of “mens van sonde”.(OAV) Sien 2 Tessalonisense  2:3.

Kom ons kyk na die redes:

EERSTE REDE. Die Antichris se koms sal gepaard gaan met sigbare en opwindende vertoon - ongelooflike wonders! En dis juis wat mense gaan vang, want die goddelose mens wil graag sien en voel en ‘n ervaring hê! Dit staan reëlreguit teenoor die pad van geloof wat God uitgestippel het vir sy kinders. Paulus stel dit so  in 2 Korintiërs 5:7 : “want ons lewe deur geloof,  nie deur sien nie.”  Die Antichris gaan mense dus maklik aan die hoek kry met die aanloklike aas van oorweldigende magsvertoon en “showbusiness”.  Hy sal beslis gebruik maak van meesleurende  reklame foefies, massamedia beïnvloeding, oortuigende retoriek en indrukwekkende wonderwerke.  Die maklik verleibare massas sal verstom en verbyster word deur die valse wonders wat die Antichris se opgang sal ondersteun. Volgens Openbaring sal die valse profeet hierin ‘n groot rol speel.  Die vals profeet as simbool van alle antiwaarheidsgodsdiens se bonatuurlike mag om wonders te doen sal miljoene mislei. Openbaring 13:13,14 stel dit so : “Hy doen groot tekens, sodat hy selfs vuur van die hemal af op die aarde laat kom vir die mense om te sien. Aan hom is daar mag gegee om wondertekens namens die dier te doen, waardeur hy die bewoners van die aarde mislei.”  Alle wonders is nie Goddelike wonders nie!  Alle bonatuurlike dade het nie ‘n suiwer bron nie. Ja, daar is ware egte wonderwerke, spesifiek die wonders wat Jesus en sy apostels gedoen het, om Jesus se Godheid te demonstreer en om die evangelie in sy kinderskoene dae te sanksioneer. En natuurlik  is God die almagtige vir wie niks onmoontlik is nie, vandag nog! God vereis egter nou van ons om te glo sonder om te sien. Jesus se woorde aan Tomas is vol betekenis : “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”  Ons moet deeglik daarvan kennis neem dat die Satan en sy agente konsentreer op wonders, want hulle ken die mens se hart. Die mens wil graag sien, wil graag vermaak word, wil graag wonders hê om sy eie lewe maklik en gerieflik  te maak. Alle mense hou van wonders en sensasie, ook die mees goddelose rebel. Daarom sal die Antichris dit met groot welslae gebruik. Wees maar eerlik - as ons sou afkondig dat hier volgende Sondag defnitief vuur uit die hemel sal kom, sal almal op Tsumeb hier wees. Maar as ek vandag vir julle sê dat ek volgende Sondag die heerlike evangelie van genade in Jesus sal verkondig...dan is daar maar min belangstelling! Mense soek opwinding en vermaak - die Antichris sal dit in oormaat verskaf en hulle met ‘n slap riem vang!

TWEEDE REDE. Mense val vir die valsheid van die Antichris omdat hulle die waarheid nie liefhet en aanvaar nie! (10)  Die “waarheid” is die waarheid van God, wat Hy geopenbaar het,  naamlik die evangelie van Jesus Christus.  Hierdie evangelie kom na ons deur die Woordverkondiging wat ons hoor en so word saligmakende geloof in ons gewek. Die mens wat nie erns maak met die Woord en doelbewus die evangelie aanvaar nie, is ‘n oop teiken vir die Antichris. Daarom sal  selfs baie kerklidmate deur die Antichris en sy leringe meegesleur word, aangesien hulle nog nooit redding deur die evangelie gevind het nie. Ja, dis selfs moontlik dat die sogenaamde kenners van die eindtye deur die einste Antichris oor wie hulle so fluks spekuleer,  geflous gaan word, want hulle het hulleself nog nooit aan die Waarheid (Jesus) onderwerp nie! 

Inderdaad, wemel dit in sommige kringe van beweerde en gewaande wonders, terwyl die waarheid onder hulle so skaars soos sonskyn in ‘n Arktiese winter is!

Gaan ek en jy veilig wees teen die Antichris? Die beste beskerming teen die leuen is om die waarheid baie goed te ken. Hoe word mense opgelei om valse banknote uit te ken? Daar word nie gekonsentreer op voorbeelde van vals note nie - die vervalsers maak in elk geval altyd nuwe planne en uitvindings, nee, die beste beveiliging is om die kenmerke en eienskappe van die egte note baie goed te bestudeer! Dan sal jy als wat daarvan afwyk, gou kan opmerk. Hoe beter ek die evangelie ken en die boodskap daarvan my eie maak, hoe minder kwesbaar sal ek wees vir die wolhaarwonders van die Antichris. Hoe meer ek die volheid in Jesus ontdek, hoe minder sal ek val vir die valsheid en leegheid van die Antichris en sy trawante.

Eintlik is hier ‘n DERDE REDE  waarom soveel mense vir die Antichris sal val. Dit hou direk verband met hierdie tweede rede, waarna ons nou net gekyk het. Ons vind dit in vers 11. “Dit is ook waarom God hulle aan die mag van dwaling sal oorgee, sodat hulle die leuen sal glo.” Om die waarheid van die evangelie te verwerp het skrikwekkende gevolge. God self word jou vyand en Hy bring jou onder die oordeel. Hoe doen Hy dit? Hy gee jou oor aan die mag van die dwaling. Het jy al gewonder hoe dit moontlik is dat selfs intellegente mense deur dwaalleraars aan hulle neuse rondgelei kan word? Hier is die antwoord. Wie God se Woord van waarheid verwerp en die ongeregtigheid verkies word as’t ware deur God self aan die Bose se mag oorhandig. Die straf oor sonde is nog erger sonde. Ons kry dieselfde gedagte in Romeine 1:28. “En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings...”  Dis asof God sê : “Julle het my waarheid doelbewus verwerp, daarom is dit julle straf om die leuen te glo en so julle eie lot te verseël!”

Verwerp die Waarheid en God sal jou verwerp!

Maar positief : Ons kan veilig wees teen die aantreklike verleiding van die Antichris! Hoe? Vat die Woord en volhard daarin! Dis hoe God jou sal bewaar! 

Kies die Waarheid bo wonders! 

Die Waarheid is die Woord, die Waarheid is die evangelie, die Waarheid is Jesus self. (Johannes 14:6)

Donderdag 01 November 2012

EIENDOM IN ANATOT


- bobaas belegging in ‘n ramp scenario.


Lonmin. Marikana. Malema. Moody’s. Zuma. Zimbabwe scenario... Praatjies oor bloed en grond. Dalende Rand... dit plus die “normale”  korrupsie, stakings en nimmereindigende renosterstropery (waarin wildbewaarders ook hulle deel het om dit tot dusver ‘n rekordjaar te maak)... en natuurlik die daaglikse moorde... plaasmoorde, stadsmoorde, gesinsmoorde, kapingsmoorde met die onlangse moord op die matriekmeisie, Minke Aucamp as nog ‘n hartseer voorbeeld wat mens aan die hart ruk.  Die wêreldbekende blad “The Economist” in ‘n artikel, “Sad South-Africa : Cry, the beloved country”* sê dit wat ons almal lankal reeds weet: “South-Africa is sliding downhill...” Genoeg vertrouevreters om die mees patriotiese Suid-Afrikaanse optimis te laat steier en te laat wonder : “Waar belê ek in sulke omstandighede?” of   “Watter ekomomiese besluite neem ek nou as denkende Christen?” Hoe nou en waarheen?

Die Bybelse argief van eiendomstransaksies gee ons ‘n insiggewende vars perspektief op ‘n tyd soos hierdie. Ons lees hiervan in Jeremia 32.  Kaart en transport : Grond in Anatot. Koopsom : Sewentien sikkels silwer. Geregistreer in die naam van die profeet Jeremia. Gekoop van sy neef Ganamel volgens die lossingsreg. Datum: tiende regeringsjaar van Sedekia...

In Jeremia 32:10 vertel die profeet verder :

“Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op ‘n skaal.”

Wat die transaksie verbysterend merkwaardig en onbegryplik maak is die datum en die gepaardgaande omstandighede waartydens dit plaasvind. Sedekia se bewind en die  koninkryk van Juda is besig om te wankel. Jeremia self is onder huisarres, want hy word van dislojaliteit verdink, juis weens sy negatiewe boodskappe rakende die toekoms van sy land. Geen slim Clem Sunter van sy dag met jakkalswysheid en al, sou Jeremia kon oortuig van ‘n moontlike positiewe scenario vir Koning Sedekia en sy land Juda nie!  Nebukadneser se weermag het reeds rondom Jerusalem stelling ingeneem. (2) Belangriker : God het immers self met die profeet gepraat en die oordele wat oor Juda wag aan hom geopenbaar. Daar was geen moontlikheid dat Sedekia die bedreiging van die Galdeërs sou vryspring nie. Allerhande planne van die optimiste om op Egipte te probeer steun, ten spyt. Want ons moet onthou, hierdie donker scenario  was nie maar ‘n toeval van die geskiedenis  nie, maar God se aangekondigde straf oor sy afgedwaalde volk. (3,4) 

Die oordeel oor Juda was  ‘n uitgemaakte saak. Nou waarom maak Jeremia dan ‘n belegging in vaste eiendom in ‘n gedoemde land? Is hy dalk mal? Finansieël onverantwoordelik? Koop ‘n denkende mens tans wildsplase in Zimbabwe???

Nee. God het Jeremia  dit beveel en hy gehoorsaam maar net. Trouens, die verloop van die geskiedenis maak dit baie duidelik dat die arme Jeremia geen persoonlike voordeel ooit uit die transaksie sou trek nie. Hy sou nie ‘n enkele koringkorrel op sy grond plant of oes nie!

God verskaf self die rede vir hierdie uitsonderlike, oënskynlik dwase transaksie. In Jeremia 32:15 lees ons: “want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel : Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.” Jeremia koop die grond in Anatot (naby Jerusalem) as ‘n sigbare getuienis teenoor koning Sedekia en sy landgenote. Dit dien as ‘n bewys dat Jeremia nie maar net bloot ‘n swartgallige pessimis was, soos Sedekia dalk gedink het nie. Hy was maar net die eerlike aankondiger van God se oordeelsboodskap. Maar, hy wat Jeremia is het ook eerlik geglo in God se goeie beloftes van vergifnis en herstel.

Jeremia 32:42 : “So sê die Here: Soos Ek hierdie  groot ramp oor hierdie volk gebring het, so sal Ek ook al die goeie wat Ek hulle beloof het, na hulle toe bring.” 

ENIGSTE SEKURITEIT : GOD SE BELOFTES!

Jeremia gehoorsaam God se beleggingsopdrag omdat hy geglo het in die sekuriteit wat God bied, die God wat die toekoms bepaal. Ons wat ook glo in God se beloftes, se toekoms lê nie in ‘n bepaalde geografiese gebied of ‘n  spesifieke politieke bestel op aarde nie, maar in die waarborge wat die onfeilbare God bied.  Ja, die lewe by God self. Hoe so?

Die essensie van God se beloftes aan Jeremia is die Nuwe Verbond. Ja, daar was ‘n tydelike voorlopige vervulling met die terugkeer van die ballinge uit Babel en die heropbou van die verwoeste Jerusalem. (Iewers sou ‘n verlangse familielid van Jeremia dalk dus voordeel uit sy geloofsdaad getrek het) Maar, die Nuwe Verbond vind egter eers volledige  vervulling in Jesus Christus wat ‘n ewige koninkryk kom vestig, eers in ons harte, maar ‘n koninkryk wat uiteindelik sigbaar gestalte sal vind in die nuwe hemel en nuwe aarde. Jeremia 31:33 stel dit so : “Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here : Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”  Ons word so mooi in Openbaring 21:3 vertel hoe die Nuwe Verbond tot finale vervulling kom as daar oor die voleinding gepraat word in  verbondstaal : “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” Dis in wese die vervulling van die ewige genadeverbond wat God reeds met Abraham gesluit het! (vergelyk Genesis 17:7)

Alleenlik God se beloftes verskaf ewige beleggingssekuriteit! Dit wat geen aardse regering kan waarborg nie. Maar juis ook dit wat geen Malema, Mugabe of Zuma kan beskadig nie!  Ons vertroue is gebou op die Middelaar van die Nuwe Verbond, ons Here Jesus Christus! In sy koninkryk moet ons belê en ons vertroue in Hom demonstreer deur “grond  in Anatot” te koop! Die Nuwe Testamentiese ekwivalent hiervan is nie luukse  beleggings aan die Weskus of in die Tuinroete se Gholflandgoedere nie. (Bied daardie plekke  hoegenaamd meer sekuriteit as  geweldadige Gauteng?) Ook nie soos sommige dink ‘n plaas in Kanada, ‘n loopbaan in Brittanje of ‘n nuwe toekoms in Australië nie, maar die duidelike opdrag : “Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie.”

Is jy ‘n ewigheidsbelegger deur geloof in Jesus, gehoorsaamheid, goeie werke en dankbaarheidsdiens? Weerspieël hierdie beleggings jou vertroue op God se beloftes en ‘n Goddelike toekoms?

Wie weet dat sy vaste eiendom in die koninkryk onaantasbaar veilig is, sal ook met groter gerustheid hier en nou kan leef... ten spyte van die Malemas en Zumas... en dalk selfs iewers ‘n grondjie aanskaf (welwetende  ons is net pelgrims hier op aarde en nie permanente inwoners nie)... ja, moontlik ook  in  onstuimige Suid-Afrika, as die Here jou daartoe lei en instaatstel.

Die punt is maar net : Wie skatte in die hemel het, kan met groot vreugde en vertroue ook op aarde voluit leef, in alle omstandighede! As my skat in die hemel is kan ek met vreugde my aardse roeping uitleef, waar ookal  God my in sy voorsienigheid plaas,  hier in Afrika of iewers oorsee! Maak net seker waar jou skat is...

* In die uitgawe van 20 Oktober 2012

Sondag 28 Oktober 2012

WIE GOD KEN

... vrees nie vlamme of leeus nie.

Wat is die ewige lewe?  Is dit bloot die inhoud van ‘n “polis” wat uitbetaal as ek die dag sou sterf? Nee, by verre nie! Die ewige lewe is om God en sy Seun Jesus  te ken. Jesus sê dit self in sy aangrypende gebed: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U die ware God ken en Jesus Christus wat deur U gestuur is!” (Johannes 17:3)  Om in gemeenskap met God te wees is ware  lewe, ewige lewe! Dis die grootste opwindendste voorreg wat die mens beskore is : om die ewig heerlike en ontsagwekkende God te kan ken!  

As iemand God ken is dit nooit bloot ‘n teoretiese of akademiese saak nie. Dit het ingrypende praktiese  implikasies. Dit word daagliks  sigbaar. Mense wat God ken en dus gereed is vir die wederkoms, sal anders optree! Ander sal dit sien en kan sê : “Daardie man, vrou, kind, ken God!”  Hoe lyk iemand in die alledaagse lewe wat God ken? Die boek Daniël antwoord dit op ‘n praktiese manier. Blaai gerus saam met my deur hierdie wonderlike boek!* 


Daniël was nie ‘n professionele leeutemmer nie, Daniël was ‘n man wat God waarlik geken het. 

Dit word op ten minste drie maniere duidelik :

1. Mense wat God ken besef, bedink en bely sy heerlikheid.

Die hele boek Daniël is ‘n getuienis oor die grootheid, soewereiniteit en almag van die Lewende God! Dis veral merkwaardig as mens die omstandighede van destyds in agneem. Die  magtige Babiloniese ryk het die klein volkie van Juda ingesluk en baie is weggevoer na die groot wêreldstad Babel. Dit het gelyk asof die Babiloniërs kon maak net wat hulle. Maar Daniël het God geken en geweet dat God, en nie die heersers van Babel nie, die geskiedenis bepaal! Ons kry al ‘n voorbeeld hiervan in Daniël se gebed, toe hy God geprys het dat Hy  hom insig in Nebukadneser se droom  gegee het. “Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel...” (Daniël 2:20-22) Nie Babel nie, maar God is soewerein in beheer!  Dis ook hierdie heerlike wete van wie God is, wat Daniël daartoe bring om die heidense koning se opdragte te minag en God meer gehoorsaam te wees as mense. Ons sien dit al in hoofstuk 1 waar hy en sy vriende weier om die heidense kos te eet, ons sien dit in Daniël 6:11-13 waar hy weier om die koning se opdrag te gehoorsaam wat hom wou verbied om tot die ware God te bid! Dekreet ten spyt! Leeus ten spyt! Daniël se besef van wie God is bewaar hom daarvan om met die stroom saam te gaan! Daniël besef nie net die grootheid van God nie,  maar ook sy regverdigheid, genade en getrouheid. Ons sien dit in Daniël se roerende gebed in hoofstuk 9. (Kyk na vers 4,7,9,14) “Ag, Here groot en ontsagwekkende God....U is regverdig Here ...” Hierdie heerlike wete wie God is laat Daniël vertrou en maak hom vreesloos! Wat is ons siening oor God? Wat vertel ons gebede oor wat ons van God dink? Het ons ‘n besef van God se almagtige heerlikheid, sy heilige volmaaktheid en sy genadige getrouheid? As ons God ken en bewus is van hierdie eienskappe sal dit duidelik wys in die bewondering wat ons vir Hom het, ons nederige afhanklikheid van Hom en ook in daaglikse gehoorsaamheid. Daniël se dapper gehoorsaamheid aan God, tot binne die leeukuil kom uit sy diepe besef van wie God is en sy groot respek vir hierdie God ! Weet ek en jy al wie God is? Is ons proefondervindelik bewus van sy attribute (eienskappe) soos sy almag, alomteenwoordigheid, alwetenheid, soewereiniteit, heiligheid, getrouheid, liefde, genade... en maak dit ‘n verskil in ons lewensbeskouing en leefstyl? So baie mense wat beweer dat hulle Jesus aangeneem het se denke en dade openbaar na jare nog steeds ‘n totale onkunde oor God! 

Ware bekering bring ‘n besef van wie God werklik is!

2.  Mense wat God ken is vergenoeg en tevrede  in God.

Die mens wat God ken het vrede, vervulling en rustigheid in God. Ook in gevaarlike en onstuimige tye. Toe Daniël hoor van die nuwe wet/dekreet wat bedoel was om hom skade aan te doen het hy rustig soos altyd voortgegaan om te bid. (6:11) Geen paniek of vrees! Ongestoord! Ons sien ook hierdie vrede en tevredenheid in die gesindheid van Daniël se drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego toe hulle met ‘n brandende oond gedreig is omdat hulle nie Nebukadneser se goue beeld wou aanbid nie. Hulle dapper maar kalm antwoord in die flikkering van die vlamme,  spreek boekdele van rustige vergenoegdheid in God. Luister bietjie : “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.” (Daniël 3:16-18) Die koning word wit van woede, maar dié  drie manne wat God ken is vol berusting en vrede in die aangesig van die dood. Hierdie vrede is ‘n vrede onder alle omstandighede. Dit word so treffend in Romeine 8:35-39 (lees) 
Beleef ek en  jy ‘n tevredenheid in God? Ook in die aangesig van slegte landsomstandighede of persoonlike krisisse?  Dit sal wys tot watter mate ek en jy Hom waarlik ken!

3. Mense wat God ken vertoon dapper standvastigheid en lojaliteit teenoor God. 

Hierdie beginsel word pragtig gestel in Daniël 11:32 “...maar dié wat God ken sal vasstaan.”  Dit was waar van Daniël self. Hy en sy vriende weier dapper om die koning se heidense kos te eet en hulle  met afgodery te besoedel!** Daniël verseg vreesloos om die koning se wet dat hy nie tot God mag bid nie, te gehoorsaam. Hy bid voor sy venster, oop en bloot daar waar almal dit kan sien! Diegene wat God ken het ‘n passie vir sy eer! Hulle wat God ken is lojaal en radikaal in hulle toewyding.  Ware Godskennis bring ons in beweging tot gebed, diens en  getuienis, maak nie saak wat die gevolge is nie!  Ware kennis van God gee ons ‘n ywer om Hom in ons lewe te eer en ons nie met sondekompromie te besoedel nie.  Wie God ken, kan NEE sê! Dwarsdeur die eeue was dit ‘n kenmerk van God se kinders.  So was die gesindheid van die apostels.(Handelinge 5:29) Dit was die dapper houding van Paulus. “Ek weet dat die Heilige Gees  my in elke stad verseker dat gevangeneskap en vervolging op my wag. Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van Jesus Christus gekry het, kan klaar maak : dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.”  (Handelinge 20:23,24) 

Natuurlik kan God se kinders ook in ‘n oomblik van swakheid swig, soos Petrus. (Wie van ons was nog nooit lafhartig nie?) Maar as hulle God waarlik ken, kry hulle deur die genade weer nuwe moed en volg Hom daarna weer met groter dapperheid soos Petrus se verdere geskiedenis bewys. (Hy het uiteindelik ‘n marteldood vir sy Verlosser gesterf)

‘n Ander voorbeeld hiervan is die bekende Thomas Cranmer. Cranmer was ‘n leidende figuur in die Protestantse Reformasie in Engeland. In die tyd van Mary Tudor is hy gevange geneem. Hy is gedwing om die verbranding van twee ander Protestantse leiers, Latimer en Ridley te aanskou. Cranmer het uiteindelik onder druk geswig en ‘n dokument waarin hy sy Reformatoriese oortuigings terugtrek geteken. Ten spyte hiervan het Mary voortgegaan met sy teregstelling op die brandstapel. Cranmer se dapperheid het genadiglik teruggekeer. Kort voor sy martelaarsdood het hy  sy verloëning van sy geloof teruggetrek en teen die Pous te velde getrek. Toe die vuur  aangesteek is, het hy sy regterhand wat die dokumente onderteken het, uitgestrek sodat dit eerste kon brand. By herhaling het hy gesê : “This unworthy right hand” Cranmer het dapper geëindig, want hy het God geken!

Ken ons God? Die heerlike almagtige lewende God? Wie Hom ken sal ‘n ander gesindheid en lewensstyl hê. Ons sal sy almag besef, ons sal sy vrede beleef, ons sal dapper weier om kompromie met die wêreld en sonde te maak!  Diegene wat God ken kan vlamme blus, leeus oorwin, ook die Brullende leeu wat soek om te verslind...

* met erkenning aan JI Packer, “Knowing God”
** Die heidense kos was waarskynlik eers aan die Babiloniese afgode gewy.

Maandag 22 Oktober 2012

ROOMSE RAAISELS EN RELIKWIEË

- Kateri word ‘n “heilige”.

Verlede Sondag (21 Oktober 2012)  het Pous Benediktus XVI, ‘n Indiaanse meisie  wat alreeds in 1680 in Quebec,  Kanada oorlede is, tot  heilige verklaar oftewel gekanoniseer. Catherine (Kateri) Tekakwitha is die eerste inheemse Noord-Amerikaner wat hierdie “eer” te beurt val.  Die geskiedenis van Kateri voor haar dood as jongmeisie, maar ook wat na haar dood met haar (nagedagtenis en beendere!) gebeur het, laat mens diep aangeraak, hartseer, maar juis ook met dankbaarheid teenoor God dat Hy die Reformasie van die 16de eeu gebruik het om ons van baie Roomse dwalinge te bevry.

Kateri was die dogter van Kenneronkwa, ‘n Mohawk hoofman en Tagaskouita, ‘n Alogonquin Indiaanse vrou wat tot die Roomse geloof behoort het. Haar ouers is beide oorlede weens pokke en sy het as weeskind by haar oom grootgeword. Sy het die pokke aanslag, wat in daardie jare onder die inheemse bevolking gemaai het, oorleef, maar dit het merke op haar gesig gelaat en haar sig belemmer. In 1667 toe Kateri 11 jaar oud was, het sy met Jesuïte sendelinge in aanraking gekom. Haar oom was gekant teen kontak met hulle, want hy wou nie dat sy ‘n Christen word nie. In die lente van 1675 ontmoet sy vader Jacques de Lamberville en hy begin haar katkiseer. Hy het haar op die ouderdom van 20 jaar gedoop op Paassondag, 18 April 1676. Sy het teenstand van die ander Mohawks ondervind en het op die Jesuïte sendingstasie van Kahnawake, suid van Montreal gaan woon.

Kateri het haarself aan ekstreme selfkastyding onderwerp soos om langdurig te vas, haarself te slaan, met kole te brand, op ‘n bed met dorings te slaap... Dit wil voorkom asof sy van hierdie praktyke vanuit die Mohawk kultuur oorgeneem het. In 1679 het sy die eed van kuisheid afgelê en onderneem om nooit te trou nie.

Die jong Kateri is op die ouderdom van net 24 jaar oorlede. Vanaf haar dood het gerugte van wonderwerke die rondte begin doen. Die Jesuïte by haar sterfbed het beweer dat die pokke letsels op haar gesig heeltemal verdwyn het en kort daarna het mense visioene van haar begin sien. (Eeue later, in 1943 het Pous Pius XII die verdwyning van die pokmerke op Kateri se gesig as ‘n outentieke wonder verklaar.)  Vader Chauchetière, wat ook by haar sterfbed was,  het ‘n kapel naby haar graf gebou en teen 1684 het pelgrims haar begin vereer.

Daar is aansprake dat relikwieë* wat verband hou met Kateri genesings tot gevolg gehad het.  So is ‘n seun, Joseph Kellogg na bewering in die 18de eeu van pokke genees deur ‘n stukkie hout van Kateri se kis. Tot vandag toe is daar mense wat wonderwerke aan haar toeskryf. In 2006 het daar na bewering so ‘n genesingswonder deur haar plaasgevind toe ‘n jong seun, Jake Finkbonner van ‘n potensieël dodelike bakteriese infeksie genees is. ‘n Sekere Suster Kateri (!) Mitchell het ‘n stukkie van Kateri se polsbeen na die seun in ‘n hospitaal in Seattle geneem, wat sy teen sy liggaam gesit het en toe saam met sy ouers gebid het. Jake is nou 12 en het nog steeds mediese aandag nodig, maar sy herstel word deur sommige Rooms Katolieke as ‘n wonderwerk beskou. Dis hierdie wonder wat Kateri laat “kwalifiseer” het vir die status van Heilige** volgens die Roomse vereistes.

In die lig van komende Hervormingssondag, voel dit vir my dat Kateri se lewensverhaal die steeds diepgaande verskille tussen ons as Protestante en die Rooms Katolieke opnuut beklemtoon. Anders gesê, die kort maar  veelbewoë lewe van hierdie meisie en die Roomse interpretasie van haar lewe,  maak mens opnuut dankbaar vir die kosbare kernwaarhede wat die Reformasie van die 16de eeu vir ons nagelaat het.  Kom ons vergewis onsself weer hiervan:

SOLA SCRIPTURA. Die Woord van God  alleen is die enigste basis en bron van dit wat ons glo en hoe ons moet lewe. (2 Timoteus 3:14-17) En die Woord is genoegsaam!  Sogenaamde of beweerde wonders bewys nog nie dat ‘n bepaalde persoon of lering aan die kant van die waarheid is nie! Valse profete vanaf die  Egiptiese towenaars in die tyd van Moses tot die Antichris self is instaat tot buitengewone wonders. (Vgl.  2 Tessalonisense 2:9-12) ‘n Menigte Roomse tradisies soos die rol van Maria, gebruike soos relikwieë  of die verklaring van sekere persone as heiliges het geen steun vanuit God se Woord nie!

SOLA GRATIA. Ons word gered uit genade alleen sonder enige menslike verdienste of bydra. (Romeine 3:23,24)  Geen selfkastyding of selfopgelegde strafmaatreëls kan my saak by God bevorder nie. Omdat alle kinders van God alleen op grond van sy genade in Jesus vryspraak ontvang het, is ons status gelyk voor God.  Ja, die Bybel leer immers duidelik dat alle gelowiges, “heiliges” is in Christus (1 Korintiërs 1:2 OAV). Geen Pous hoef ons eers heilig te verklaar op grond van beweerde wonderwerke nie. Kinders van God, as geheiligdes in Jesus Christus is seker van hulle ewige saligheid op grond van sy soenverdienste en die beloftes van God en hoef nie te wag op een of ander amptelike  kerklike bevestiging hiervan nie.

SOLA FIDEI. Redding geskied uit genade alleen deur die geloof alleen. (Efesiërs 2:8)  Geloof is ook nie ‘n stuk menslike verdienste nie, maar ‘n leë hand waarmee ons God se geskenk van vergifnis ontvang. Ons geloof en verwagting is gerig op God en dit wat Hyself deur Jesus vir ons gedoen het en nie op besondere mense of sogenaamde heiliges nie. Nog minder is ons hoop op enige goeie werk van ons kant af, terwyl ons die belangrikheid besef dat ons geloof goeie werke as vrug moet voortbring.

SOLUS CHRISTUS. Ons verlossing geskied alleenlik deur Jesus Christus as volkome en unieke  Middelaar tussen ons en God. (1 Timoteus 2:5) Roomse teologie en trouens alle ander dwalings en afwykings (soos ook die Hebrew Roots Movement)  struikel juis op hierdie vraag : Was Jesus se eenmalige offer aan die kruis volledig genoegsaam vir ons versoening en ewige geluksaligheid? Die sondaar wat besef dat hy vrye toegang tot die genadetroon van God het deur ons volmaakte Hoëpriester, Jesus Christus,  het geen verdere behoefte aan hulpmiddels soos rosekranse, relikwieë en heiliges nie. Ons gebede in die naam van Jesus op grond van sy verdienste is genoeg en benodig nie die magiese versterking van stukkies hout en been nie! Inteendeel, alle menslike krukke van verdienste bedreig ons belydenis oor Jesus se algenoegsaamheid en verlei ons maklik om ons oog van Hom weg te neem.!

SOLI DEO GLORIA. Aan God alleen kom alle eer en aanbidding  toe. God is gesteld op sy eer - Hy deel dit met niemand nie. Een praktiese implikasie van hierdie waarheid is  dat ons Hom slegs sal aanbid op die manier wat Hyself in sy Woord vir ons voorskryf. Watter logiese redes nou ook al deur die Roomse tradisie uitgedink kan word vir die gebruik van relikwieë of die rol van gestorwe heiliges, bly dit vir ons onaanvaarbaar en grens dit aan afgodery, want God het nie opdrag gegee dat ons Hom op sodanige maniere moet aanbid nie.

En wat nou van Kateri? Ek het baie simpatie met haar. Ek hoop dat sy ten spyte van baie mensgemaakte tradisies en onkunde tog die genade ontvang het om haar persoonlike vertroue op Jesus alleen as enigste Verlosser te plaas. Haar laaste woorde voor sy gesterf het,  was immers  na wat berig word : “Jesus, ek het U lief.”   Met die Roomse kerk as instituut het ek egter weinig simpatie. Ek verwyt hulle dat hulle nie die suiwer eenvoudige evangelie van genade in Jesus aan mense soos Kateri duidelik verkondig  nie. Ek dink dis afgryslik tragies dat hulle vandag nog waarde kan heg aan onskriftuurlike praktyke soos relikwieë en die verering van heiliges. Maar natuurlik as ek (en ons) hierdie beskuldigings maak, moet ons dit met nederige versigtigheid doen, wetende dat ook ons  (as Protestante) so maklik van die voorskrifte van God se Woord afwyk en leringe van mense navolg. Mag God ons deur sy genade van dwaling bewaar!


* Relikwieë is liggaamlike oorblyfsels van heiliges en voorwerpe wat met hulle in aanraking was. Hierdie voorwerpe word dan vereer. Hoe mooi die Roomse Kerk dit probeer regverdig, lei die gebruik van relikwieë ongetwyfeld tot bygeloof en blatante afgodery, om natuurlik nie van uitbuiting van die liggelowiges en onkundiges te praat nie  

** Heiliges (gekanoniseerdes) is volgens die Roomse teologie persone van wie die  kerk amptelik erken dat hulle in die hemel is. Kanonisering geskied na deeglike ondersoek, wat moet kan bewys dat twee wonders aan die betrokke persoon gekoppel kan word. Om as heilige verklaar te word, het die volgende praktiese implikasies :
So ‘n heilige se naam word geskryf in die katalogus van heiliges.
Die  heilige se naam word aangeroep in die openbare gebede van die kerk.
Kerke mag aan God toegewy word ter herinnering aan sulke heiliges.
Die Eugaristie word gevier tot eer van ‘n heilige.
So ‘n heilige se feesdag word deur die kerk gevier.
Op prente van die betrokke heilige word hy/sy met ‘n stralekrans (halo) afgebeeld.
Relikwieë wat met die heilige verband hou word in kosbare houers geplaas en in die openbaar vereer.