BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 20 November 2012

TOEGANG

- tot in God se teenwoordigheid!

Wat ‘n aangrypende gebeurtenis vind ons hier in Eksodus hoofstuk 24. Moses, Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers kom in die teenwoordigheid van God! Ja, hulle sien Hom en hulle het geëet en gedrink! As’t ware saam met die lewende God aan tafel. Natuurlik, dit was slegs moontlik nadat hulle met bloed besprenkel is!

Drie groot sake kom uit hierdie gedeelte na vore :

1. God is angswekkend heilig en asemrowend heerlik! 

God is waarlik God. Heilig, hoog en verhewe.  Dis ‘n kernboodskap in beide die Ou en Nuwe Testament. Eeue later het die profeet Jesaja ‘n openbaring van hierdie heiligheid beleef toe hy die Here in sy tempel gesien en gehoor het hoe die serafs roep :”Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!” (Jesaja 6:3) Terloops, dit het hom platgeslaan in berou en belydenis voor God.  Dit  was egter ook die begin van sy belewenis van versoening en die daaropvolgende roeping. Ons as mense moet ons plek ken voor God en wegbly van alle arrogansie en hoogmoed. God gee hier  die duidelike opdrag aan Moses : “As julle nog ver is, moet julle al voor My buig.” (1) God is nie ons speelmaatjie nie! Ons kan nie met ons onheiligheid en verwaandheid by Hom instorm en vir Hom hiet en gebied nie. Ons kan nie vir Hom beveel nie, Hy beveel ons! Hy alleen gee opdragte!  Hy gee die gebooie waarvolgens Hy gedien moet word. God verwag gehoorsaamheid. Op God se bevel het Moses al die gebooie van die Here neergeskryf en dit aan die volk voorgelees. (4,7) Die hedendaagse rebelse en outonome mens wil mos self besluit wat reg en verkeerd is - ons maak ‘n dodelik gevaarlike fout. God alleen mag besluit wat reg en verkeerd is en Hy alleen bepaal hoe Hy gedien moet word. God se heiligheid en heerlikheid word op verskeie maniere hier onderstreep.  Sy  heerlikheid word verberg deur ‘n wolk wat die berg omhul. Sy heiligheid lyk soos ‘n gloeiende vuur! (16,17) Vuur is meermale ‘n simbool van God se heiligheid in die Skrif. Dink maar ook aan Hebreërs  waar die Sinaï gebeure in herinnering geroep word, en die skrywer dit weer onder ons aandag wil bring : “Ons God is ‘n verterende vuur!”  (Hebreërs 12:29) Mag ons kennis neem : die ware God is ‘n angswekkend heilige God!

As daar nou een uitstaande nood en behoefte in die kerk van ons tyd is, is dit om weer duidelik 
te besef wie God is!

2. God begeer gemeenskap en saamwees met sy mense.

Dis wat so merkwaardig is : die groot heilig verhewe God verlang na gemeenskap met die klein sondige mens. God wil by sy mense wees en in ‘n verhouding met hulle staan. God het sy volk uit Egipte verlos en  gelei met ‘n baie duidelike doel en spel dit uit in Eksodus 19:4-6.  (lees)  Hy het hulle op arendsvlerke gedra en na Homself gebring!  Ja, om by Hom te wees! God neem hier in Eksodus 24 ook die inisiatief en nooi uit : “Klim die berg op na My toe...” (1) God verlos vandag nog mense sodat ons in ‘n verhouding met Hom kan staan. Dis die uiteindelike doel waarop sy redding van sondaars afstuur. Dit word so mooi gestel in Openbaring 21:3 “Kyk, die woonplek van God is by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” 

Weet dit, God wil ook  in ‘n innige verhouding met JOU staan!

3. God maak self voorsiening dat sondaar mense saam met Hom kan wees en sy heerlikheid kan aanskou.

Die eerste twee feite wat ons raaklees in hierdie gedeelte veroorsaak ‘n probleem. God is ontsagwekkend heilig, maar Hy wil in ‘n verhouding staan met mense. Die probleem is - hierdie mense is sondige mense!  Dis die groot dilemma wat die Bybel vir ons stel, maar gelukkig ook self antwoord en oplos : Hoe kan sondaars in die heilige teenwoordigheid van God kom sonder om verteer te word en te sterf?  Hoe vind ons genade by God? Die antwoord kom baie duidelik uit  hierdie gedeelte (die antwoord is die evangelie self) : God maak in sy verbond voorsiening dat die sondes deur offers versoen kon word. Die verbond word deur bloed bevestig. Hierdie bloed is toe op die volk gesprinkel. Na die besprinkeling kon Moses en sy metgeselle die berg uitklim na die teenwoordigheid van God.

Vers 10 en 11 vertel ‘n uitsonderlike opwindende gebeurtenis - ‘n hoogtepunt. “Hulle het die God van Israel gesien ; onder sy voete was ‘n plaveisel van saffiersteen, so blou soos die hemel self. God het geen hand teen die leiers van Israel gelig nie : hulle het geëet en gedrink.”

Mense sien God! Hulle beleef God se teenwoordigheid op ‘n besondere manier. Die heerlikheid van God is natuurlik te groot vir ‘n sterfling om te verstaan en te beskryf - daarom word net gemeld van die plaveisel onder sy voete wat blou siersteen was.  Baie belangrik : hierdie manne eet en drink in God se teenwoordigheid. Om saam met iemand te eet het besondere betekenis. Dis eintlik vandag nog so ook in ons kultuur. Mens nooi nie sommer enige een vir ete nie. Dis ‘n veelseggende teken van aanvaarding en opregte vriendskap en belangstelling! Dit word uitdruklik gemeld dat God geen hand teen hulle opgelig het nie!  Hoekom is dit so buitegewoon?  Dit beklemtoon net weer God se verterende heiligheid. Eintlik mag geen mens naby God kom sonder om te sterf nie, maar God laat hulle toe naby Hom kom op grond van sy groot genade, op grond van die bloed van die verbond waarmee hulle besprinkel is!

Die boodskap vir ons wat Nagmaal gebruik as God se kinders  is baie duidelik. Daar is net een manier hoe ons toegang kan kry tot die heilige God! Ons moet gereinig word deur die bloed van die Middelaar van die Nuwe Verbond, Jesus Christus. (Dis evangelie!) Dit eis van ons dat ons Jesus se offer persoonlik moet aanvaar as genoegsaam vir my eie sondes. Elkeen wat so gereinig is, deel ook in die voorreg van ewige tafelgemeenskap met God.  In Eksodus 24 is daar duidelike lyne wat deurloop na die Nagmaal. In die Nagmaal word die genoegsaamheid van Jesus se offer persoonlik, sigbaar en “proebaar” baie persoonlik aan elkeen bevestig wat glo. “Dis vir julle!”  In die Nagmaal beleef ons  nou reeds tafelgemeenskap met die lewende Here  as ‘n voorskou tot en ‘n voorsmaak van die ewige bruilofsmaaltyd van die Lam. Amen!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.