BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 28 Oktober 2012

WIE GOD KEN

... vrees nie vlamme of leeus nie.

Wat is die ewige lewe?  Is dit bloot die inhoud van ‘n “polis” wat uitbetaal as ek die dag sou sterf? Nee, by verre nie! Die ewige lewe is om God en sy Seun Jesus  te ken. Jesus sê dit self in sy aangrypende gebed: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U die ware God ken en Jesus Christus wat deur U gestuur is!” (Johannes 17:3)  Om in gemeenskap met God te wees is ware  lewe, ewige lewe! Dis die grootste opwindendste voorreg wat die mens beskore is : om die ewig heerlike en ontsagwekkende God te kan ken!  

As iemand God ken is dit nooit bloot ‘n teoretiese of akademiese saak nie. Dit het ingrypende praktiese  implikasies. Dit word daagliks  sigbaar. Mense wat God ken en dus gereed is vir die wederkoms, sal anders optree! Ander sal dit sien en kan sê : “Daardie man, vrou, kind, ken God!”  Hoe lyk iemand in die alledaagse lewe wat God ken? Die boek Daniël antwoord dit op ‘n praktiese manier. Blaai gerus saam met my deur hierdie wonderlike boek!* 


Daniël was nie ‘n professionele leeutemmer nie, Daniël was ‘n man wat God waarlik geken het. 

Dit word op ten minste drie maniere duidelik :

1. Mense wat God ken besef, bedink en bely sy heerlikheid.

Die hele boek Daniël is ‘n getuienis oor die grootheid, soewereiniteit en almag van die Lewende God! Dis veral merkwaardig as mens die omstandighede van destyds in agneem. Die  magtige Babiloniese ryk het die klein volkie van Juda ingesluk en baie is weggevoer na die groot wêreldstad Babel. Dit het gelyk asof die Babiloniërs kon maak net wat hulle. Maar Daniël het God geken en geweet dat God, en nie die heersers van Babel nie, die geskiedenis bepaal! Ons kry al ‘n voorbeeld hiervan in Daniël se gebed, toe hy God geprys het dat Hy  hom insig in Nebukadneser se droom  gegee het. “Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel...” (Daniël 2:20-22) Nie Babel nie, maar God is soewerein in beheer!  Dis ook hierdie heerlike wete van wie God is, wat Daniël daartoe bring om die heidense koning se opdragte te minag en God meer gehoorsaam te wees as mense. Ons sien dit al in hoofstuk 1 waar hy en sy vriende weier om die heidense kos te eet, ons sien dit in Daniël 6:11-13 waar hy weier om die koning se opdrag te gehoorsaam wat hom wou verbied om tot die ware God te bid! Dekreet ten spyt! Leeus ten spyt! Daniël se besef van wie God is bewaar hom daarvan om met die stroom saam te gaan! Daniël besef nie net die grootheid van God nie,  maar ook sy regverdigheid, genade en getrouheid. Ons sien dit in Daniël se roerende gebed in hoofstuk 9. (Kyk na vers 4,7,9,14) “Ag, Here groot en ontsagwekkende God....U is regverdig Here ...” Hierdie heerlike wete wie God is laat Daniël vertrou en maak hom vreesloos! Wat is ons siening oor God? Wat vertel ons gebede oor wat ons van God dink? Het ons ‘n besef van God se almagtige heerlikheid, sy heilige volmaaktheid en sy genadige getrouheid? As ons God ken en bewus is van hierdie eienskappe sal dit duidelik wys in die bewondering wat ons vir Hom het, ons nederige afhanklikheid van Hom en ook in daaglikse gehoorsaamheid. Daniël se dapper gehoorsaamheid aan God, tot binne die leeukuil kom uit sy diepe besef van wie God is en sy groot respek vir hierdie God ! Weet ek en jy al wie God is? Is ons proefondervindelik bewus van sy attribute (eienskappe) soos sy almag, alomteenwoordigheid, alwetenheid, soewereiniteit, heiligheid, getrouheid, liefde, genade... en maak dit ‘n verskil in ons lewensbeskouing en leefstyl? So baie mense wat beweer dat hulle Jesus aangeneem het se denke en dade openbaar na jare nog steeds ‘n totale onkunde oor God! 

Ware bekering bring ‘n besef van wie God werklik is!

2.  Mense wat God ken is vergenoeg en tevrede  in God.

Die mens wat God ken het vrede, vervulling en rustigheid in God. Ook in gevaarlike en onstuimige tye. Toe Daniël hoor van die nuwe wet/dekreet wat bedoel was om hom skade aan te doen het hy rustig soos altyd voortgegaan om te bid. (6:11) Geen paniek of vrees! Ongestoord! Ons sien ook hierdie vrede en tevredenheid in die gesindheid van Daniël se drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego toe hulle met ‘n brandende oond gedreig is omdat hulle nie Nebukadneser se goue beeld wou aanbid nie. Hulle dapper maar kalm antwoord in die flikkering van die vlamme,  spreek boekdele van rustige vergenoegdheid in God. Luister bietjie : “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.” (Daniël 3:16-18) Die koning word wit van woede, maar dié  drie manne wat God ken is vol berusting en vrede in die aangesig van die dood. Hierdie vrede is ‘n vrede onder alle omstandighede. Dit word so treffend in Romeine 8:35-39 (lees) 
Beleef ek en  jy ‘n tevredenheid in God? Ook in die aangesig van slegte landsomstandighede of persoonlike krisisse?  Dit sal wys tot watter mate ek en jy Hom waarlik ken!

3. Mense wat God ken vertoon dapper standvastigheid en lojaliteit teenoor God. 

Hierdie beginsel word pragtig gestel in Daniël 11:32 “...maar dié wat God ken sal vasstaan.”  Dit was waar van Daniël self. Hy en sy vriende weier dapper om die koning se heidense kos te eet en hulle  met afgodery te besoedel!** Daniël verseg vreesloos om die koning se wet dat hy nie tot God mag bid nie, te gehoorsaam. Hy bid voor sy venster, oop en bloot daar waar almal dit kan sien! Diegene wat God ken het ‘n passie vir sy eer! Hulle wat God ken is lojaal en radikaal in hulle toewyding.  Ware Godskennis bring ons in beweging tot gebed, diens en  getuienis, maak nie saak wat die gevolge is nie!  Ware kennis van God gee ons ‘n ywer om Hom in ons lewe te eer en ons nie met sondekompromie te besoedel nie.  Wie God ken, kan NEE sê! Dwarsdeur die eeue was dit ‘n kenmerk van God se kinders.  So was die gesindheid van die apostels.(Handelinge 5:29) Dit was die dapper houding van Paulus. “Ek weet dat die Heilige Gees  my in elke stad verseker dat gevangeneskap en vervolging op my wag. Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van Jesus Christus gekry het, kan klaar maak : dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.”  (Handelinge 20:23,24) 

Natuurlik kan God se kinders ook in ‘n oomblik van swakheid swig, soos Petrus. (Wie van ons was nog nooit lafhartig nie?) Maar as hulle God waarlik ken, kry hulle deur die genade weer nuwe moed en volg Hom daarna weer met groter dapperheid soos Petrus se verdere geskiedenis bewys. (Hy het uiteindelik ‘n marteldood vir sy Verlosser gesterf)

‘n Ander voorbeeld hiervan is die bekende Thomas Cranmer. Cranmer was ‘n leidende figuur in die Protestantse Reformasie in Engeland. In die tyd van Mary Tudor is hy gevange geneem. Hy is gedwing om die verbranding van twee ander Protestantse leiers, Latimer en Ridley te aanskou. Cranmer het uiteindelik onder druk geswig en ‘n dokument waarin hy sy Reformatoriese oortuigings terugtrek geteken. Ten spyte hiervan het Mary voortgegaan met sy teregstelling op die brandstapel. Cranmer se dapperheid het genadiglik teruggekeer. Kort voor sy martelaarsdood het hy  sy verloëning van sy geloof teruggetrek en teen die Pous te velde getrek. Toe die vuur  aangesteek is, het hy sy regterhand wat die dokumente onderteken het, uitgestrek sodat dit eerste kon brand. By herhaling het hy gesê : “This unworthy right hand” Cranmer het dapper geëindig, want hy het God geken!

Ken ons God? Die heerlike almagtige lewende God? Wie Hom ken sal ‘n ander gesindheid en lewensstyl hê. Ons sal sy almag besef, ons sal sy vrede beleef, ons sal dapper weier om kompromie met die wêreld en sonde te maak!  Diegene wat God ken kan vlamme blus, leeus oorwin, ook die Brullende leeu wat soek om te verslind...

* met erkenning aan JI Packer, “Knowing God”
** Die heidense kos was waarskynlik eers aan die Babiloniese afgode gewy.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.