BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 18 Mei 2012

ZUMA PORTRET

- giftige adder pik sy baas.

RSG berig : Die ANC is ontsteld oor 'n portret van president Jacob Zuma wat in die Goodman gallery in Johannesburg uitgestal word. In die afbeelding is die president se privaatdele ontbloot. Die ANC se woordvoerder, Jackson Mthembu sê die kunswerk tas die waardigheid van die president aan. Hy sê in geen land in die wêreld sal die reg van burgers - wat nog te sê dié van die president - so misbruik word nie. Die party het sy prokureurs opdrag gegee om die gallery te versoek om die portret te verwyder.

Ek is geen Zuma aanhanger of ANC ondersteuner nie, maar ek kan my tog  vereenselwig met die verontwaardiging oor die veelbesproke Zuma skildery. Alle Christene sal vanuit ons respek vir God se Woord sulke immorele kuns verwerp met die minagting wat dit verdien ongeag wie nou daardeur benadeel word. Tog is dit ook ons Christelike plig om daarop te wys dat Zuma en sy party self hierdie  giftige adder van goddeloosheid deur hulle beleidsrigtings sowel as optrede help grootmaak het.

Die ANC en al die medewerkers aan die uiters liberale Suid-Afrikaanse grondwet het net hulleself te blameer vir hierdie siek gemors waarin die land hom bevind. Dis die gevolg van ‘n grondwet wat net mense se regte beskerm terwyl dit God se wette vertrap. Dis 'n dokument wat geskoei is op die humanistiese vryheid van die outonome mens. Hierdie eensydigheid is ‘n giftige adder wat vertroetel word en een of ander tyd sy slim base gaan byt.  Dis wat nou gebeur het toe Brett Murray onder die dekmantel van hierdie (valse) vryheid ruimte gevind het vir sy vieslikheid.  Dis eintlik logies dat ‘n grondwet sonder God op die ou end sal “backfire”.  God het sy wette daargestel, eerstens tot sy eer, maar ook om ons as sy skepsels, wat eer aan Hom moet bring  te beskerm. As ‘n land (sy president, regering,  grondwet en burgers) nie meer ontsag het vir God en sy gebooie nie, moet hulle nie dink dat hulle skotvry daarvan gaan afkom nie.

Die ANC kla nou weer oor die reg van die ('n) mens wat geskend word, maar wat van God se REGTE AS SKEPPER wat permanent in hierdie gruwelike grondwet (en deur 'n heidense veelwywer) geskend word?


Die ANC in hulle protes dink alweer net in die een rigting/groef waarin hulle altyd vasval. "Dis rassisties en teen Swartmense gemik", is hulle beswaar. Weet hulle dan nie van die Swart kunstenaar, Ayanda Mabulu se skildery, "Un-mute my tongue", wat beide 'n kaal Zuma en kaal Tutu afbeeld nie? Nee, ANC, die probleem moet eerder gesoek word by 'n samelewing, wat hulle nie meer steur aan God se Woord nie. En julle en julle president, is aandadig!

‘n Goddelose grondwet soos die van Suid-Afrika wat nie respek het vir lewe nie (aborsie toelaat), wat die huwelik minag (gay huwelike erken) en wat dus die regte van die mens (skepsels) hoër ag as die regte van God (Skepper) is uiteindelik ‘n dokument van die dood. Dit verskans sonde. En sonde lei tot die dood.

Mag Zuma en ander leiers hulle tot God bekeer en die land tot sy eer regeer!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.