BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 19 Februarie 2016

ALLES IS TOE NIE OK NIE!

- Moenie deel wees van die hartseer statistiek van die soutpilare nie!

Sommige verkondig ‘n nuwe “evangelie” – “Moenie stress nie, alles gaan OK wees!” “ ‘n Mens hoef nie te stress oor ‘n wederkoms of finale oordeel nie”, sê ‘n tipiese lekkerleef post modernistiese profeet van ons tyd. Jesus self skets vir ons egter ‘n heeltemal ander prentjie in LUKAS 17:26-35.* Volgens Hom sal baie nie gereed wees op die dag van oordeel en finale skeiding nie. Vir baie mense gaan dinge nie OK wees nie, vir ewig gaan dit nie OK wees nie!

Waarom gaan so baie mense die Koninkryk van God misloop? Waarom gaan so baie mense onverhoeds betrap word deur die oordeel van God? (Gaan hulle dalk die hemel mis omdat hulle nie die sogenaamde profesie van Haggee oor die bloedmane geglo het nie? NEE!) Die verrassende Bybelse antwoord, is dat niemand die hemel gaan misloop omdat hy te sleg was nie! Ja, jy het reg gehoor, niemand gaan verlore omdat hy te sleg was nie. “Hoe kan jy so sê?”, vra jy. Dis maklik om te bewys : In die hemel gaan daar voormalige moordenaars en egbrekers wees – Dawid om maar een voorbeeld te noem. Daar gaan voormalige skelms wees – jy sal beslis vir Saggeus daar kry. (Vgl. 1 Kor. 6:9-11)

GEEN REAKSIE OP GOD SE WAARSKUWINGS NIE!

Mense gaan die Koninkryk en die vrede van God misloop omdat hulle nooit tyd gehad het vir Jesus en sy boodskap nie. Mense gaan die Koninkryk misloop omdat hulle nooit hulle behoefte aan genade besef het nie. Mense gaan die Koninkryk misloop omdat hulle nie gereageer het op God se waarskuwings nie. Mense gaan die Koninkryk misloop, omdat hulle nooit tot ‘n daadwerklike keuse gekom het om Jesus se vergifnis te aanvaar nie, en onthou as jy Jesus nie aanvaar nie, verwerp jy Hom! (as jy hier lees en jouself  nog nooit aan Hom oorgegee het nie, is jy tot op hede besig om die Seun van God te minag en te verwerp!) 

Het jy al erns gemaak met God se waarskuwings en jou bekeer?

Kom ons stel dit anders, in ‘n algemene sin : Wat is die grootste gevaar wat bestaan? Die grootste gevaar is om nie die gevaar te besef nie! Die grootste gevaar is nie dat daar ‘n brand in jou huis uitbreek nie, maar om onbewus te wees daarvan en rustig te lê en slaap, terwyl die vlamme al nader kruip... Die grootste gevaar is nie die ernstige siekte nie, maar om onbewus te wees van die siekte wat besig is om jou liggaam op te vreet...

DIE GEWONE GANG VAN DIE LEWE...

Ons grootste gevaar is om so vasgevang in die gewone gang van sake te wees, sodat ons nie betyds aandag gee aan die waarskuwings en die genadeverkondiging in God se Woord nie! Opvallend in hierdie gedeelte - ‘n Mens hoef nie ‘n vreeslike openbare sonde te pleeg of in misdaad te verval om onder God se oordeel te beland nie Jy kan maar net rustig en selfgesentreerd met jou lewe aangaan...

Jesus praat hier baie ernstig oor die koms van die Koninkryk en die finale skeiding wat sal plaasvind. Hy waarsku dat dit skielik en onverwags sal wees. Mense sal maar “soos gewoonlik” nog met hulle lewens aangaan en dan kom die oordeel.

NOAG EN LOT

Om dit te onderstreep noem Hy twee voorbeelde uit die geskiedenis : Noag en die sondvloed, Lot en die verwoesting van Sodom. Hierdie twee tydperke gee vir ons insig in die wederkoms. Die gebeurtenis van die wederkoms sal soortgelyk wees. In beide gevalle het God die goddeloosheid van mense skielik gestraf. In beide gevalle was die oordeel van God baie onverwags. Die waters van die sondvloed het die mense verswelg voor hulle kon voorsorg tref, die vuur uit die hemel het die mense verteer voor daar tyd vir planne was! Die mense het maar met hulle gewone lewens aangegaan en hulle nie gesteur aan God se waarskuwings nie. Die verkeerde was nie dat hulle geëet en gedrink en getrou en gebou het, maar nie tyd gemaak het om hulle lewens voor God reg te stel nie! Hulle het nie geluister na Noag se verkondiging nie. (2 Petrus 2:5) Ook die mense van Sodom het ‘n regverdige in hulle midde gehad naamlik Lot. (2 Petrus 2:6-8) In beide gevalle het God se oordeel die selfversekerde massas verdelg, maar ook ‘n klein groepie gered. Noag en sy familie. Lot en sy twee dogters.

Wat was die verskil tussen die massas aan die eenkant en Noag en Lot aan die anderkant. Natuurlik genade! Maar hoe het dit prakties gewerk? Beide Noag en Lot het betyds gehoor gegee aan God se waarskuwings. Vir Noag het God gesê om ‘n ark te bou, vir Lot het God gewaarsku om te vlug!

STATISTIEK VAN DIE SOUTPILAAR!

My vriend/vriendin luister terwyl daar tyd is! Vlug terwyl daar kans is. Moenie huiwer nie! Vlug vir jou lewe, die ewigheid is op die spel. Jesus beklemtoon die belangrikheid van drastiese optrede met die dringende waarskuwing : "Onthou wat gebeur het met die vrou van Lot!"  Tragies. Sy het wel die opdrag om te vlug gehoorsaam, maar net halfhartig. Haar gerieflike huis en mooi meubels was vir haar belangriker as God se opdrag. Daar is belangrike dinge in jou lewe wat keer dat jy die belangrikste, die ewige lewe kan ontvang! Vlug weg van jou ou lewe en vlug na Jesus, ons enigste ware skuilplek teen die toorn van God. Dink aan die vrou van Lot is ook die spesiale boodskap wat ek aan ons nuwe lidmate wil gee. Julle bely dat julle gehoor gegee het aan God se waarskuwings, julle bely dat julle ‘n keuse gemaak het – Volhard in hierdie keuse! Dink aan die hartseer statistiek van die soutpilare. So baie jong mense het al voor die kansel gestaan en bely dat hulle omgedraai het van die verkeerde pad en nou Jesus wil volg, maar na ‘n ruk het hulle weer omgekyk en terugverlang na die ou lewe! Vandag is hulle lewelose soutpilare...hard en ongevoelig vir God se Woord, koud, leweloos en verlore!

Alles gaan nie OK wees nie! Sommige mense tussen ons gaan nie gereed wees nie! Sommige in ons eie huise , sommige wat saam met ons werk... maak seker dat jy een van diegene sal wees wat wel gereed is!

Maak betyds seker. Vlug betyds. Vlug na Jesus! En bly by jou keuse!


*"Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens:
hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed, en dit het hulle almal uitgewis.
In die tyd van Lot het dit ook net so gegaan: hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink, gekoop en verkoop, geplant en gebou.
Maar op die dag toe Lot Sodom verlaat het, het vuur en swael uit die hemel gereën, en dit het almal uitgewis.
Net so sal dit ook gaan op die dag wanneer die Seun van die mens verskyn.
"Dan moet die man wat op die dakstoep sit, nie ingaan om sy besittings in die huis te gryp nie. Net so moet ook die man wat op die land is, nie omdraai huis toe nie.
Onthou wat met die vrou van Lot gebeur het!
Elkeen wat sy lewe probeer behou, sal dit verloor, maar elkeen wat dit verloor, sal dit behou.
Ek sê vir julle: Dan sal twee mense op een bed slaap, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.
Twee vroue sal koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word."

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.