BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 09 Junie 2012

IN DIE WURGGREEP VAN VERTWYFELING

- geteister deur obsessiewe kompulsiewe versteuring.

Sommige opregte Christene word genadeloos deur twyfel verteer. Hulle voer ‘n  intense stryd teen wurgende twyfelvrae. Subjektiewe vrae soos : “Glo ek regtig, het ek regtig opreg Jesus as Verlosser aanvaar, was my bekering eg?” teister hulle. Dit kan ook soms gepaard gaan met allerhande vae skuldgevoelens en onwelkome lasterlike gedagtes wat hulleself op jou afforseer al probeer jy hoe hard om nie so te dink nie. Hoe meer jy die gedagtes probeer vermy, hoe meer dink jy daaraan. Dit kan jou moedeloos maak : “Kyk net watter aaklige gedagtes dink ek, ek kan onmoontlik ’n ware Christen wees!”  (Interessant dis ’n probleem waarmee die beroemde John Bunyan bekend was, want ons vind ’n verwysing daarna in sy Pligrim’s Progress)

Die mens is baie kompleks en daar is baie faktore wat ’n rol kan speel in twyfelgedagtes. Jou persoonlikheid, jou opvoeding, jou kerklike agtergrond, gebrekkige kennis van die Woord, maar daar is ook sielkundige faktore wat ’n invloed kan hê op ons geestelike lewe. Een moontlike oorsaak vir hierdie toestand van kroniese twyfel is Obsessiewe Kompulsiewe Versteuring. (Simptome hiervan is  waar iemand aanhoudend bly twyfel of hy ’n deur gesluit het of ’n hek toegemaak het en klomp keer moet gaan seker maak. Ander mense het weer  ’n  obsessie  met iets soos handewas, of dwingende gedagtes wat jy nie wil dink nie, maar jy kan nie help om dit te dink nie.)  Hierdie toestand kan uit die aard van die saak ook ’n invloed hê op jou geestelike lewe en verhouding met die Here. “Glo ek regtig, het ek regtig my sonde opreg bely... Sê nou maar net ek was nie opreg genoeg nie, so laat ek maar weer bely?”   Die duiwel kan so ’n sielkundige toestand uitbuit en aanwend  om jou gedurig met vrees gevange te hou en jou vrede te steel. Onthou, Satan is ’n lafaard, hy ken ons sielkundige en fisiese swakhede en probeer dit uitbuit. Juis toe Jesus honger was kom hy met sy versoeking dat Jesus brood uit die klippe moes maak! Moet net nooit vergeet nie,  Satan is ’n leuenaar. Sy leuens moet met die waarheid van die Woord beveg word..

Grantley Morris (www.net-burst.net)   noem drie leuens wat ons moet aanvat om oorwinning te behaal in hierdie toestand. Die drie leuens waarmee Satan ons teister is:

1. As ek vergewe is, sal ek vergewe “voel.”  Dis ’n leuen van Satan! Dink weer  mooi, word mens gered deur geloof of deur gevoel? Die Bybel sê tog oor en oor dat ons deur geloof gered word. Geloof self is die sekerheid van die dinge wat ons nie sien nie. (Hebr 11:1) Geloof staan dus teenoor sintuiglike bewyse!  Ons lewe volgens geloof en nie volgens dit wat ons sien (ervaar) nie! (2 Kor 5:7) Gevoelens is ’n baie riskante maatstaf, juis omdat die mens se hart bedrieglik bo alle dinge is. (Jeremia 17:9) Iemand kan byv. baie seker voel, maar dalk glad nie ’n kind van God wees nie. Aan die anderkant is dit moontlik dat ’n kind van God baie sleg voel! Geloof is nie om te voel nie, geloof is ’n doelbewuste en voortdurende keuse om God se beloftes as waar te aanvaar  ten spyte van die sigbare omstandighede, ten spyte van sigbare feite. Ons vergeet partykeer die basiese waarheid wat soos ’n goue draad deur die hele Skrif loop (en spesifiek ook in Hebr 11.)  Redding kom via geloof en nie gevoel of sig nie! 
Gevoel en rede mag nie regter wees oor ons saligheid nie... 

2. As ek vergewe is, sal God op ’n spesiale manier my vertel dat ek vergewe is. Ons eie bose hart por ons aan : “Vra of soek ’n spesiale teken!” Ook dit is ’n leuen van die duiwel! God het jou mos reeds oor en oor en glashelder duidelik in sy Woord verseker dat elkeen wat in Jesus glo vergifnis van sonde ontvang het. Verwag ons dalk God moet nou sê : “Ek het dalk in die Bybel vir jou gelieg en sal vir jou nou ’n ander teken gee dat ek bedoel wat ek gesê het?” Jesus sê telkens dis ’n slegte en afvallige geslag wat vra vir ’n teken... (Matt 12:39)

3. As ek vergewe is, sal ek nooit meer twyfel - of lastergedagtes beleef nie. Wat ’n belaglike leuen van Satan! Maar hy vang mens maklik hier in ’n bose kringloop. Sy redenasie is dat ’n Christen altyd 100 persent sekerheid beleef en nooit twyfel nie. As jy dan ’n aanval van twyfel ervaar, sê jy vir jouself : Ek was seker nog nooit ’n Christen nie en hierdie twyfel lei dan tot verdere twyfel!

Ons moet besef dat die Satan die vader van leuens is en ons teister met leuens. Sy leuens is altyd uiterstes. Aan die een kant sal hy vir party mense wysmaak dat ’n Christen nooit kan seker wees nie. Dis ’n leuen en so wil hy ons van vreugde en blydskap beroof. Aan die anderkant kom hy nou met ’n teenoorgestelde leuen en beweer dat ’n Christen altyd sal seker wees en nooit stryd of vertwyfeling sal ondervind nie. Dis ook  ’n  leuen! Net so seker as wat mens nie plooie in ’n ouetehuis kan vermy nie, net so seker sal ons nooit ’n stadium duskant die graf bereik waar ons vry sal wees van die versoekings, aanvalle en listige planne van die duiwel nie. Versoekings in die vorm van onwelkome gedagtes, vertwyfelings, gedagtebeelde of slegte begeertes wat in ons opwel is deel van die duiwel se arsenaal en hy gaan dit aanhou gebruik. (Groot manne van God soos Martin Luther moes hiermee worstel) Wat is die oplossing vir hierdie dwingende lastergedagtes? Moenie daaroor bid nie (dan herinner jy jouself net daaraan), maar besef dit kom van Satan af. As die duiwel sien jy besef dit kom van hom af en dit maak jou nie meer bang nie, sal dit mettertyd minder word en verdwyn...

Die pad van die geloof word nêrens in die Bybel as ’n gelykpad sonder dorings geskets nie. Dis duidelik uit die Ou Testament : dink aan die geskiedenis van Abram, Moses, Dawid....Dis nog duideliker uit die Nuwe Testament. Dis trouens waarom ons soveel aanmoedigings en aansporings kry tot volharding! Dis waarom die Hebreërs skrywer ons aandag vestig op die geloofshelde in Hoofstuk 11.

Vir alle Christene wat deur twyfel aangeval word , maar veral mense wat met obsessiewe kompulsiewe versteuring te kampe het is daar net een oplossing, absolute vertroue in God se beloftes. Onthou geloof is die een skakel tussen ons en God se weldade deur Jesus!  Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag! Hou aan glo in sy beloftes. Dis hoe die Heilige Gees ons sekerheid gee. Kyk net na Jesus en sy heerlike afgehandelde werk. Let wel ons moet na Hom kyk en op Hom fokus, nie op ons geloof opsigself nie! Moenie moed verloor nie. As jy tye van donkerte en onsekerheid beleef, vertrou blindelings op God se beloftes! 

Leer om God se Woord te vertrou en jou eie gevoelens  te wantrou!

‘n Voorbeeld uit die lugvaart kan dalk help. Binne in ‘n wolk of  uiters swak weer is ‘n loods volledig aangewese op sy intsrumente.  Laat God se beloftes jou instrumente wees waarvolgens jy vlieg as daar geen sig is nie!  Moenie jou eie gevoelens vertrou nie, maar vertrou eerder die onfeilbare instrument van God se Woord ! 

(lees verder en kliek op BOU OP GOD SE BELOFTES)

Foto geneem op Tsumeb se gholfbaan

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.