BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 08 November 2018

AS DIE BEURSIE LEEGRAAK…

- God het heerlike beloftes gemaak oor geldsake, maar ons moet sy opdragte hieroor natuurlik net so ernstig opneem! 

[Pasop vir die rosyntjiebrood sindroom as ons die Bybel oor geldsake ondersoek. Moenie die Woord hoor soos stout kinders ‘n rosyntjie brood eet nie…. Hulle eet net die lekker rosyntjies en los die res van die brood...] 

DIS MOEILIKE TYE 

Dis geen geheim nie, moeilike finansiële tye is op ons! En die ergste is nog op pad! Die gevolge van die geldmorsmanewales van die korrupte Zuma en die plundering van sy Gupta vriende het ons hier in Namibië ook ingehaal. Natuurlik is nie als hulle skuld nie. Plaaslike spandabelrigheid en korrupsie het ook by ons ‘n verdere spoor van ekonomiese verwoesting nagelaat. Dit gaan nog knyp... 

Die goeie nuus is dat die Woord baie oor geldsake te sê het.

Ons moet  net gehoorsaam luister! Een so ‘n gedeelte vind ons hier aan die einde van Hebreërs. 

Maak gerus self die Bybel oop by Hebreërs 13:1-6. Ons kry hier ‘n hele paar etiese kwessies wat aangespreek word. Praktiese opdragte oor die konkrete uitlewe van Christenskap. Broederliefde, gasvryheid, medelye, reinheid en tevredenheid. As ons regtig die troos wil ervaar van God se beloftes oor finansies moet ons ook erns maak met wat Hy oor hierdie ander sake te sê… Anders gesê, hierdie belofte oor finansiële versorging waarna ons gaan kyk, gaan my niks baat solank ek nie my broers liefhet nie, solank ek weier om gasvry te wees, as ek hardvogtig is, solank ek nie die huwelik respekteer nie en so lank ek deur gierigheid oorheers word nie…

(Wie van ons is nie skuldig nie? Gelukkig vertel hierdie skrywer in die voorafgaande hoofstukke juis va ons Hoëpriester Jesus se volmaakte offer wat ons volkome reinig...)

Kom ons kyk wat sê hierdie gedeelte oor finansies: 

“Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie." 
Daarom kan ons met vertroue sê: "Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?" (Hebreërs 13:5,6) 

Hier kry ons ‘n OPDRAG, ‘n BELOFTE en die heerlike EFFEK VAN DIE BELOFTE. 

1.OPDRAG 

Wat beteken, "Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het."? Wat is die implikasies op die grond? Paar praktiese opmerkings: 

Leef in onderwerping aan God se soewereine beskikking. Aanvaar geduldig en nederig dit wat God oor jou pad bring. Wees dankbaar vir wat God jou gee. God is in beheer van als, ook jou finansies. Ook wat jy nou beleef ten opsigte van finansies is nie toevallig nie. Hy is besig met jou...

Leef in verantwoordelikheid met wat jy het en pas jou leefstyl daarby aan. Wees eerlik met jouself : "Wat kan ek bekostig en wat het ek regtig nodig? Hoe wil God hê ek moet my geld en tyd en kragte spandeer? Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om te gaan uiteet? Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om DSTV aan te hou? (Het ek daai sepies nodig in my lewe?) Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om lag-lag N$1000 op te rook as daar nie geld is vir basiese behoeftes nie? Is die malle gejaag agter sportbyeenkomste aan terwyl ek nie my skulde kan betaal nie, verantwoordelik?" Verantwoordelike rentmeesterskap – als wat ek het kom van God af, ek moet dit verantwoordelik bestuur soos wat Hy daarvan sal hou… Niks is regtig my eie nie, God leen dit vir my om te gebruik in belang van sy eer en koninkryk.. 

Leef met ‘n gesindheid van vergenoegdheid. (Filippense 4:11,12) “…ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. Ek weet wat dit is om gebrek te ly en ek weet wat dit is om oorvloed te hê…” (DVL) Maak ‘n punt daarvan om God opreg te dank vir elke goeie gawe! Geniet die klein kosbare dinge wat God ons gee… vars oggendlug, vriendskap, vrede in die huis, die wonderlike skepping rondom ons. (Daar is vreugde in eenvoud!) Laat ons tafelgebede opreg wees… 

Leef volgens ‘n ewige waardebepaling. Het jy skatte in die hemel? Met ander woorde, ken jy Jesus en bedink jy die dinge wat daarbo is? Leef jy heilig, besigmet goeie werke? Hoe beoordeel jy sukses? Is dit net karre, huise en vakansies wat jou opgewonde maak, of is jy opgewonde oor Jesus en die Woord en die ewige teenwoordigheid van God? Onthou Jesus se woorde in Lukas 12:15. “Toe sê Hy vir hulle: "Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie." 

Leef vry van die verslawende liefde vir geld. Dis vir jou eie beswil. “Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.” (1 Timoteus 6:10) Die gierige mens is nooit ‘n gelukkige mens nie. Sy hart is altyd met angs vervul. Geldgierigheid is net so ‘n sterk verslawing soos alkohol of nikotien verslawing. Vra die Here Jesus om jou te bevry... 

Leef vrygewig! "Hoe nou? Ek kry dan self swaar", wil jy beswaar maak. Maar hoor die opdrag tot mededeelsaamheid. Gee aan ander wat minder as jy het! Jesus het ‘n duidelike radikale belofte hieroor gemaak. (Sekerlik gaan dit oor gaan oor meer as geldsake, oor barmhartigheid in die wyse sin van die woord “Gee, en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word." (Lukas 6:38) Hierdie beginsel van Jesus word nogal kragtig geïllustreer deur ‘n ondervinding van Martin de Lange wat saam met sy gesin as sendelinge in Turkye gewerk het. Toe hulle moes terugkom na SA het hulle bereken dat hulle so R200,000.00 nodig sou hê vir die verhuising. Na ‘n paar weke het hulle daarin geslaag om so R10,000.00 bymekaar te maak nie eens genoeg vir vliegkaartjies nie. Sekerlik in ‘n half moedelose toetstand het Martin saggies gebid en vir die Here gevra : “Wat is ek veronderstel om te doen met net R10,000.00?” Die verbasende opdrag wat sy maag laat draai het kom toe : “Gee dit weg!” Hulle was gehoorsaam en het die bedrag aan ‘n ander sendeling gegee wat dit baie nodig gehad het, en ja... die Here het voorsien in al hulle kostes!* Hoor wat Jesus sê, konsentreer op gee en nie op ontvang nie! Paulus verwys hierna in sy gesprek met die ouderlinge van Efese. “Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang." (Handelinge 20:35) 

Laat God jou denke oor geldsake verander en begin sy opdragte hieroor gehoorsaam!

2.BELOFTE 

Hierdie vergenoegdheid en tevredenheid waartoe ons opgeroep word, is nie gebou op roekelose ongeergdheid en onverantwoordelikheid nie. Dis nie sommer net ‘n ongeërgde “Don’t worry be happy” houding nie! Dit kom voort uit ‘n doelbewuste nugter intelligente vertroue op God se belofte. En watter heerlike en kosbare belofte is dit nie! Nimmer as nooit ooit! (vyf negatiewe in die Grieks) Sterker kon die skrywer dit sekerlik nie gestel het nie. Daarom vriend : Maak ‘n keuse om God te vertrou! 

3. EFFEK 

Wat is die gevolg van vertroue op God se beloftes? Vreeslose geloofsdapperheid! Wie hierdie belofte van God vir homself toe-eien kan gelowig vreesloos sy vertroue uitspreek in die woorde van die psalmis : “Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ‘n mens aan my doen?” (Psalm 118:6) 

Finansiële bekommernisse skep vrees, en van hierdie vrees word ons bevry deur God se beloftes soos klein kindertjies te glo! 



SWAARKRY IS ‘N KOSBARE LEERSKOOL VAN GENADE EN VERTROUE! 

Finansiële swaarkry tye is nie lekker tye nie. Vir die kind van God is dit egter ‘n waardevolle leerskool. Dis ‘n skool waar ons leer wat is nederigheid, tevredenheid, afhanklikheid en vertroue. Hierdie vakke kan nie op ‘n ander manier geleer word nie. Laat ons nie klae oor ons swaarkry nie, maar dit sien as ‘n geleentheid om God ons Vader op ‘n nuwe dieper manier te leer ken! Kom ons stort ons harte voor Hom uit…. Filippense 4:6! God verhoor in detail die gebed vir ons praktiese behoeftes.


Ek wil ‘n aangrypende voorbeeld hiervan met jou deel wat plaasgevind het tydens die Anglo-Boere Oorlog. Ouma Hamman (Anna Elizabeth Retief) was 'n merkwaardige vrou van gebed. Tydens die Boereoorlog was sy in 'n konsentrasiekamp, wat bestaan het uit ontruimde huise in Barberton. Haar suster met haar twee kinders was saam met Ouma Hamman in die huis. Weens die hitte van daardie streek het die suster siek geword. Die kampkommandant het goedgunstiglik besluit om haar na Graaff-Reinet, na haar ouerhuis, toe te stuur. Sy moes net vir haar eie padkos sorg. Ouma Hamman en sy het besluit dit sal die beste wees as sy 'n groot baksel beskuit kan saamneem. Met moeite het hulle die bestanddele vir die beskuitbakkery bymekaar gekry. Die vet wat hulle nodig gehad het, was egter onbekombaar – van botter nie eens te praat nie! Hulle het, soos altyd, hulle toevlug tot die Here geneem. Maar om vet vir 'n baksel beskuit, in oorlogskaarste, in die konsentrasiekamp, te bekom, was nie so eenvoudig nie! Ouma Hamman vertel dit so: 

"Drie dae voor ons sou vertrek, en die laaste dag waarop ek nog kon bak, staan ek voor die kombuisvenster wat op die straat uitkyk met die skottel meel voor my op 'n tafeltjie. Ek bid met 'n swaar hart: 'My Vader, het U my dan hierdie keer vergeet?' Op daardie oomblik kom muilwaens met die troepe se kosvoorraad met groot geraas verbygejaag. 'n Harde klop hamer op die voordeur. Ek gaan maak haastig oop. Voor die deur staan 'n hygende soldaat met 'n yslike blik vet in sy hande. 'Dit het van die wa afgeval. Wil jy dit hê?' Sonder om vir 'n antwoord te wag, rol hy die blik in die gang in en laat vat agter die wa aan."

Voorwaar Goddelike detail op die tyd gebedsverhoring! 

God kan enige tyd en enige plek ons gebede verhoor. Selfs ook in 'n konsentrasiekamp!

*Martin de Lange, Op die rand van die Paradys, p 163,164

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.