BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 26 Julie 2012

FEIT : DIE TYD IS MIN!

- herrangskik jou prioriteite.

1 Korintiërs 7:29 verklaar : “Die tyd is min.”  Dis ’n vaste feit. Dis onomstootlik waar. Dit geld vir elkeen van ons. Dis  waar in ten minste twee opsigte :

Ons lewens is kort en onseker en kan enige oomblik tot ’n einde kom. Die Bybel is realisties as dit ons leer dat die lewe maar ‘n kortstondige dampie is. (Soos daardie stoompie by die ketel se tuit wat so vinnig verdwyn.) Ons lewe is soos veldgras wat gou na die laaste reëns verdor.

Die Wederkoms van Jesus is voor die deur. Dis waarskynlik veral wat Paulus in hierdie konteks bedoel. Ons lewe in ’n unieke tydsgewrig in die geskiedenis. Die laaste dae.* Die koninkryk van God het naby gekom. Dis die tydperk tussen Jesus se eerste koms en sy wederkoms. Die wêreldgeskiedenis spoed nou voort na ’n beslissende einde... Dis nou die tyd van keuse, wat ons ewigheidsbestemming bepaal. Dis ‘n tyd van geleentheid, maar ook ‘n gevaarlike tyd. Vervolging, versoeking en verleiding... Ons moenie nou kop verloor nie, ons durf nie van koers af gaan  nie...

Die tyd is min. Hierdie aardse bestaan en bestel gaan binnekort vir altyd verby wees.  Dis die groot agtergrondsfeit wat ons hele bestaan hier op aarde kleur.  Hierdie feit behoort  al ons keuses te beïnvloed. Waarmee ons ook al besig is - dis die waarheid wat ek altyd hier in my agterkop moet hou. 

Wat is die regte houding in hierdie tyd?  Paulus sê vir ons baie duidelik wat ons benadering en houding in hierdie tyd moet wees.

Paulus praat hier in 1 Korintiërs 7 oor verskeie vrae rondom  die huwelik. Hier maak hy amper ‘n terloopse opmerking, maar wat diepgaande besinning van elkeen van ons vra. Volgens Paulus se  persoonlike gevoel was dit  beter om nie te trou nie. Hy sê nie dis verkeerd om te trou nie, maar “as jy getroud is”, sê Paulus,  moet jy “leef asof jy nie getroud is nie.”  Sjoe, dis radikaal! Wat sou hy bedoel? Die huwelik is tog die intiemste en belangrikste verhouding waarin mens op aarde staan.  Dis goed en mooi en reg en deur God self ingestel. Paulus self teken die belangrikheid daarvan o.a. in Efesiërs 5.

 So wat wil Paulus eintlik sê? Selfs nie eers iets so belangrik soos die huwelik moet ons aardse bestaan oorheers nie. Ons mag nie opgaan in die huwelik  asof dit nou die essensie van die lewe is nie. Dis baie waardevol maar ons lewe moenie daarom draai nie. Die huwelik,  hoe goed ook al is nie die einddoel of sin van die lewe nie. Ons harte moet los wees van selfs ons kosbaarste verhouding op aarde. Dis wat die dringendheid van die  tyd van ons eis. Die Here Jesus en sy Koninkryk is belangriker selfs as die intiemste en wonderlikste verhouding. Daar is nou iets groter en belangriker, selfs as die  huwelik. Dis om gereed te wees vir die koms van Jesus. Dit gaan hier oor die beginsel van ondergeskikte prioriteit. Daar is baie wonderlike en belangrike dinge, maar een saak is belangriker as alles. Alles is minder belangrik as  hierdie een belangrike saak nl. Die Koninkryk van God. As hierdie beginsel geld vir iets soos die huwelik geld dit onteenseglik ook vir al die fasette en terreine van ons lewe.

Paulus gaan nou  verder en noem voorbeelde van dinge wat belangrik is, maar wat nie ons lewens totaal moet bepaal of in beslag neem nie. Dis dinge waarby ons as mense noodwendig  betrokke sal wees, maar waarvoor ons moet pasop dat dit nie ons lewens sal oorheers nie. Ons harte moet los wees van hierdie dinge al is dit nie opsigself slegte dinge nie.....

Kom ons kyk na die sake wat hy hier aanraak:

Hartseer. (“Dié wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie.”). Hartseer en droefheid  is deel van ons almal se lewens - ook kinders van God. Ons ondervind pyn, teleurstellings, mislukkings.... Dis nie verkeerd om te huil en bedroef te wees nie. En tog, die tyd is so dringend, Jesus se koms so naby, daar is soveel om vir die koninkryk te doen,  ons moenie gaan stilstaan by ons droefheid nie. Ons moenie gaan lê onder ons hartseer nie. Moenie vashaak by die seer van die verlede nie. Hierdie dinge mag nie al ons aandag in beslag neem nie. Dit mag nie al ons tyd en krag vat nie. Ons moet huil en klaar huil en aangaan om vir Jesus te leef. Hy sal wel eendag al ons trane afvee.

Vreugdes en plesier. (“Dié wat bly is, asof hulle nie bly is nie.”) As mense is daar baie dinge wat ons bly en opgewonde maak. Dis nie verkeerd nie. God gee vir ons dinge om te geniet (1 Tim 6:17),  maar net soos die hartsere, mag die vreugdes nie ons lewe oorheers nie. Die tydelike vreugdes mag nie ons visie op die ewige Koninkryk verdof nie. Ons moet pasop dat ons smaaklike vreugdes nie ons aptyt bederf vir die feesmaal wat God vir sy kinders voorberei nie. Onthou alle vreugdes is maar vaal in vergelyking met die heerlikheid wat wag vir God se kinders. Ons harte moet dus los wees daarvan. Geniet dit wat God oor jou pad bring, maar die tyd is so kort, die Koninkryk kom eerste.

Normale werksaamhede.  (“Dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie.”) Alle mense moet werk om ’n bestaan te maak. Arbeid is ‘n seën. Om eiendom te mag koop en besit is ‘n Godgegewe voorreg. Arbeid en geld en besittings is dinge wat ons tydelik nodig het, maar dis nie die doel van ons bestaan nie. Ons lewe mag nie daarom draai nie. Ons hoofdoel is om God te ken, om sy heerlikheid raak te sien, om sy teenwoordigheid te geniet. Ons moet goed doen wat ons doen, maar die kind van God se hart moet los wees van alles, ook ons kosbaarste besittings. (Is dit regtig nodig om huise te bou met uitspattige luukshede wat nooit eers benut gaan word nie?)

Paulus gee in vers 31 ’n opsomming van wat hy bedoel.

“Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle niks daaraan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken,  is aan die verbygaan.” 

Christene is doodgewone mense. Dis onvermydelik dat ons net soos ander mense sal trou, hartseer beleef, vreugdes ervaar, werk....handel dryf ens. Maar omdat ons God se kinders is en daar ’n Koninkryk vir ons wag, mag hierdie dinge nooit ons hoofdoelwit word nie. Ons sal noodwendig besig wees met hierdie dinge, maar ons mag nie ons harte daarop verloor nie.  Dit sou dwaas en ondankbaar wees. Hoekom? Want hierdie wêreld gaan verby. Alles rondom ons is net tydelik. Die huwelik duur nie vir altyd nie, al die hartsere en vreugdes is net tydelik. Niks wat jy besit gaan  vir altyd joune wees nie. (Dit lyk asof selfs baie Christene dit vergeet en vir hulle paleise bou met die oog op 'n gewaande ewige aardse verblyf) Kinders van God, met 'n Bybelse gerigtheid verwag ’n beter bedeling. ‘n Permanente stad waarvan God self die bouer is. Kinders van God sien uit na ’n beter toekoms en dit bepaal ook hoe ons besit beskou en hanteer.

Die belangrikheid en die nabyheid van die koninkryk relativeer alle ander dinge. 

Dit maak alles minder belangrik. Omdat ons ’n beter bedeling en ’n beter Koninkryk verwag moet ons gefokus wees op onverdeelde toewyding aan God. Die kort tydjie wat  ons het moet benut word om :
~ God te ken.  Dis nou die tyd vir bekering.  Gebruik jy die kanse wat God gee om Hom werklik te leer ken?  Het jy al God se allesoortreffende heerlikheid besef? Is dit jou vreugde om Hom te bewonder en lief te hê?
~ God te dien.  “Soon this world will be passed, only what’s done for Christ will last” Die tyd is min, binnekort sal ons moet rekenskap gee. (2 Kor 5:10) Ook God se kinders sal verantwoording moet doen van ons dade. Wat het ek gemaak met tyd, kanse, geld en gawes? Kliek op RENTMEESTERSKAP)

Ons leef in ’n unieke tyd in die geskiedenis. Die einde van alle dinge is naby. Die wederkoms van Jesus is voor die deur. Dan sal die groot sifting plaasvind. Die skape sal van die bokke geskei word. Die tyd is kort. Dis nou nog genade tyd. Dis nou die tyd van beslissing. Dis nou die tyd om Jesus te omhels en om jou volkome aan Hom toe te wy. Daarom is alle ander dinge ondergeskik en minder belangrik!


*Kliek op die reeks, MAAK OOP BY OPENBARING vir ‘n volledige bespreking van die Laaste Dae.

Hierdie preek uit 1 Korintiërs 7 het ek by een van die mees uitstaande Godsmanne, die Skot,  Robert Murray M’Cheyne gekry.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.