BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 23 Februarie 2017

JULLE MAAK MY NAAR…

- HARDE WOORDE... VAN LIEFDE EN UITNODIGING!



“Julle is lou, arm, blind en kaal!” Wie durf sulke dinge vir ordentlike Christen mense sê? Wie waag dit om ‘n gemeente so te beoordeel? Dis Jesus self wat hierdie harde woorde uitspreek in hierdie brief aan die gemeente van Laodicea wat ons vind in Openbaring 3:14-22. Hy stel Homself duidelik bekend as die geloofwaardige Getuie – sy oordeel en uitspraak is dus onpartydig en waar! Hy is die Een deur wie God geskep het, Hy praat dus met Goddelike alwetendheid en gesag! “Ek weet alles wat julle doen…” Die gemeente, ek en jy moet dus luister…

"Julle is lou, arm, blind en kaal!" ‘n Skokkende en heeltemal onverwagse beskuldiging teen die gemeente van Laodicea. Hoe is dit moontlik? Hierdie gemeente het geen finansiële probleme gehad nie. Hier word geen beskuldiging gemaak van dwaallering of growwe sondes soos afgodery en sulke dinge nie. Daar was niks wat hierdie gemeente gepla het nie – ons kan aflei hulle het baie goed en tevrede gevoel met hulleself. “Julle sê: "Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie," en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal.” (17) Maar dit was juis die probleem – selftevredenheid. Dit was moontlik ‘n probleem in die gemeenskap wat oorgespoel het na die kerk. Die stad Laodicea het in 60nC ‘n aardbewing beleef en hulle was baie trots daarop dat hulle sonder die hulp van Rome die stad weer kon opbou. Daar was dus ‘n houding van : “Ons is onafhanklik, ons kan op ons eie regkom, ons het niks en niemand nodig nie…”

"Ja, ons finansies staan sterk, ons blink uit in organisatoriese vernuf, ons hulpbronne is oneindig (vir alle probleme en vrae is daar mos 'n antwoord op die internet), ons teologiese opleiding is van 'n besondere standaard en ons predikante woon gedurig kursusse by waar hulle VBO punte kan verdien... en moenie vergeet nie ons is by baie gemeenskapsprojekte betrokke."

Die beeld van louheid en die erns daarvan sou vir die gemeentelede van Laodicea baie goed verstaanbaar gewees het in terme van hulle eie watersituasie. Tien kilometer noord was die stad Hiërapolis geleë wat bekend as vir sy warmwaterbronne, tien kilometer wes was Kolosse wat weer suiwer kouewaterbronne gehad het. Laodicea het nie eie waterbronne gehad nie en was afhanklik van ‘n akwaduk en op ‘n plek het hierdie water oor ‘n kalkkrans gestort en het louwarm in Laodicea aangekom. Saam met die kalkinhoud het dit die water ondrinkbaar gemaak.

Die tussentoestand van geestelike louheid maak ons onbruikbaar en verwerplik. Ons word so maklik lou en laks in ons erediensbywoning, in ons gebedslewe, in ons bestudering van die Woord, ons stryd teen sonde, in kompromieë maak… “Ag, ek weet hierdie sepie wat ek kyk is nie heeltemal tot eer van die Here nie, maar ek kyk maar…” Maar veral lou in ons liefde en toewyding aan Jesus… en weet jy wat, hierdie houding maak Hom naar! Die woord wat in die Grieks hier gebruik word beteken letterlik – braak.* Dis die afgryslike tragedie en mistasting van ‘n lou Christen of ‘n lou gemeente – jy dink, die Here is darem redelik tevrede met my, maar intussen maak ek Hom naar!

HARDE LIEFDE

Vir ‘n lou gemeente en lou Christen is daar net een oplossing. Erken jou nood en kom na Hom. Kom na Hom vir geestelike rykdom. Kom na Hom vir wit klere – ware reinheid en geregtigheid. Kom na Hom vir oogsalf – om geestelike insig te kry. Weereens sou hierdie metafore vir die Laodisense goed verstaanbaar wees en sinspeel dit op hulle werklike situasie. Hulle stad was bekend as ‘n produseerder van swart wolkklere en ook bekend vir die vervaardiging van oogsalf.

Jesus gebruik harde woorde vir die gemeente. Miskien beleef jy dit ook so- “Hy praat darem hard met my.” Maar onthou, agter hierdie skerp taal sit sy onblusbare liefde! “Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle.” (19) Dis die unieke liefde van Jesus... Hierdie gemeentemense se louheid maak Hom naar, maar juis daarom het Hy hulle lief en waarsku Hy hulle. Moenie dit miskyk nie.

BEKERING

Wat nou? As ek besef ek is lou, wat nou? “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.” (20) Jesus sê vir die gemeente: “Ek is beskikbaar, ek wag dat julle reageer op my woorde. Ek wil die liefdesband herstel.” Dis ‘n Goddelike uitnodiging tot berou en bekering. Dit gaan in hoofsaak hier nie oor die aanvanklike bekering nie, dit gaan oor bekering van ‘n kind van God wat lou en afvallig geword het.

Die kerk van ons dag (ja, ons...) moet weer hoor dat bekering nodig is... nie nog 'n teologiese kursus nie (ongeag die hoeveelheid VBO punte), nie nog 'n gemeenskapsprojek nie, maar 'n bekering wat intimiteit met Jesus sal herstel!

Bekering is om te besef ek is verkeerd, om weg te draai van wat verkeerd is, om weer opnuut Jesus se vergifnis te ontvang. Bekering is nie een of ander formule of prestasie nie. Bekering is om te reageer op Jesus se liefdesuitnodiging. Bekering lei tot ‘n ware feesmaal. Om saam aan tafel fees te vier is ‘n teken van aanvaarding, van versoening, van deelgenote wees, van wedersydse seën. Jesus het jou nie afgeskryf nie, maar smag weer na innige geloofsgemeenskap, “fellowship” met jou!

Nagmaal is ‘n voorskou van die ewige feesmaal in God se teenwoordigheid. Dis ‘n prentjie van die liefdesgemeenskap wat vir ons wag. Nagmaal is juis ook ‘n geleentheid tot ‘n hernuwing van bekering. “Here Jesus, omdat ek nou weer opnuut aangeraak word deur die werklikheid van u liefde aan die kruis, open ek my lewe vir U...”

ONS MOET KOOK!

Ons moenie lou wees nie, ons moet kokend warm wees! Vol liefde, gehoorsaamheid en opregte ywer! Geen verdeelde hart, geen kompromie met sonde en die wêreld nie. In die lig van Jesus se groot genoegsame offer, in die lig van die Nagmaalsboodskap, in die lig van sy aangrypende liefde, wat kan ons anders wees? 

*Grieks -emeo So in die volgende vertalings : Mais tu n'es ni bouillant ni froid, tu es tiède, de sorte que je vais te vomir de ma bouche ! (FR Courant) You're stale. You're stagnant. You make me want to vomit. (MSG)
** Moontlik ‘n sinspeling op Hooglied 5:2. (lees) "Ek het geslaap maar my hart het wakker gebly. Toe hoor ek die man wat ek liefhet, klop en hy sê: ‘Maak vir my oop, my beminde bruid, my duif, my volmaakte! My kop is nat van die dou, my hare is nat van die nag se klammigheid!’

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.