BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 04 Januarie 2018

MY PLANNE WERK NIE UIT NIE...

WAT NOU? 



AS GOD ANDERS BESLUIT, KAN EK TEVREDE WEES DAT HY WEET WAT HY DOEN!

Ons kry soms van die kosbaarste boodskappe sommer so uit minder opvallende gedeeltes van die Bybel. Hier aan die einde van die beroemde Romeine brief nadat Paulus klaar die groot teologiese waarhede van sonde, verlossing en dankbaarheid uitgelê het , skryf hy oor sy reisplanne. (Sien ROMEINE 15:23-33) En juis hier as ons die hele konteks van die Nuwe Testament in ag neem kry ons ‘n baie belangrike en troosvolle boodskap!

Paulus vertel aan die gemeente in Rome van sy planne en begeerte om na Spanje* te reis. 

“As ek daarmee klaar is en die volle bedrag wat ingesamel is, veilig aan hulle besorg het, sal ek by julle langs na Spanje toe reis.” (Romeine 1:28)

Dit sou beteken dat hy deur Rome moes reis en dan sou hy ook uiteindelik die geleentheid kry om die kerk daar te besoek. Heel moontlik was sy gedagte ook dat Rome dan sommer as basis kon dien vir sy verdere uitreik na die weste. Voor dit was daar egter eers ‘n baie ‘n belangrike taak wat hy moes afhandel. Hy moes ‘n kollekte van die heiden Christen gemeentes wat hy ingesamel het afbring na die Joodse Christene in Jerusalem. Dit was ‘n barmhartigheidstaak en Paulus het dit as baie belangrik beskou en hy het dit dan ook gedoen… Dit het heel waarskynlik ook vir Paulus om meer as bloot liefdadigheid gegaan, dit was ‘n handeling wat die diepgaande eenheid van die kerk sigbaar sou demonstreer – die feit dat God se kerk, die ware Israel uit gelowiges van beide Joodse en heiden afkoms bestaan. 

Sommige sien in hierdie daad van Paulus die simboliese vervulling van ‘n profetiese teksgedeelte soos Jesaja 66:20. “Hulle (die heidene) sal al julle volksgenote uit al die nasies as ‘n geskenk vir die Here saambring op perde, op waens, op drastoele, op muile en op kamele. Hulle sal hulle bring na my heilige berg toe, na Jerusalem toe, sê die Here. Hulle sal hulle bring soos die Israeliete die graanoffers in rein skottels na die huis van die Here toe bring.” 

Die heidennasies se bydrae is ‘n simboliese verteenwoordiging van hulleself as offer aan God. Hierdie offer afkomstig van heiden christene sou ook ‘n bevestiging van Paulus se apostelskap wees, spesifiek van hom as apostel wat geroep was na die heidennasies. Hoe dit ook al sy, hierdie reis was vir Paulus van uiterste belang…

God besluit toe anders...

Die volle verhaal van Paulus se reis na Jerusalem word in Handelinge vertel. In Jerusalem het daar egter dramatiese verwikkelinge gekom. Paulus is gearresteer. Handelinge vertel al hierdie gebeure in detail – hoe Paulus voor die Joodse raad en daarna voor goewerneur Feliks, en daarna voor sy opvolger Festus en ook voor koning Agrippa verskyn en getuig het. So het meer as twee jaar verbygegaan. (Hand 24:27) Toe het Paulus hom einde ten laaste op die keiser beroep en daar is besluit dat hy na Rome gestuur moet word om voor die keiser te verskyn. En eers na ‘n baie lang en gevaarlike seereis, wat ‘n skipbreuk op die eiland Malta ingesluit het, het Paulus in Rome aangekom. Hy bereik Rome ja, maar nie as ‘n reisende sendeling op pad na Spanje nie, maar as ‘n gevangene van die keiser! 

Die mens wik, maar God beskik! Ja, God bereik sy doel dikwels met ‘n lang en moeisame ompad en nie sommer met maklike kortpaaie nie!

Het die verandering van planne vir Paulus ondergekry? Het hy tou opgegooi? Het hy vertroue in God se beskerming verloor? Nee! Hoekom nie? Hy het ‘n duidelike doel gehad, wat groter was as sy eie ambisie en begeertes. Reeds op reis na Jerusalem het dit begin duidelik word dat vervolging daar op hom wag in Jerusalem. 

Ons lees daarvan in sy afskeidswoorde aan die ouderlinge van Efese. 

“En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat dáár met my sal gebeur, weet ek nie.
Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag.
Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” (Handelinge 20:22-24.) 



Hoe kon Paulus ten spyte van terugslae en teleurstellings met BLYDSKAP volhard? Jy sien, Paulus se reisplanne en toekomsvisie het nooit oor sy eie eer of eie plesier of eie avontuurlus gegaan nie. Dit het gegaan oor sy gehoorsaamheid aan die opdrag en roeping wat die Here hom gegee het. En toe die Here dus sy reisplanne wysig en bepaal dat dit lyding en tronkstraf moet insluit het hy met blydskap daarby ingeval! Mens sien hierdie selfde gesindheid van oorgawe aan God se besluite en vergenoegdheid in alle omstandighede ook baie treffend in die Filippense brief. Daarin verklaar hy : “Of ek lewe en sterwe maak nie saak nie, solank ek net Christus verheerlik!” (Filippense 1:20,21) 

PRAKTIESE OPMERKINGS: 

  • Ons planne werk nie altyd uit nie, selfs al is ons getroue kinders van die Here, selfs al het ons die beste bedoelings, selfs al bid ons baie oor die planne. Ons moet dus nie moed verloor as als nie verloop soos ons dit voorsien het nie. Dit beteken nie die Here het ons afgeskryf nie. Ons moet net nooit ons passie vir sy eer en sy evangelie verloor nie. Dis wat tel!
  • God is soewerein, sy planne werk altyd uit en Hy bereik altyd sy doel, al is dit op ‘n ander manier as wat ons sou wens of verwag! Niks en niemand kan God keer om sy ewige doelwitte te gebruik nie.
  • Ons moet ons blymoedig onderwerp aan God se planne al behels dit ‘n ander opsie as wat ons vir onsself sou kies. Jy wou dalk graag ‘n reisende sendeling word, maar God het beskik dat jy ‘n siek familielid moet versorg of na jou klein kindertjies by die huis omsien. Of andersom, jy wou dalk graag ‘n ma van klein kindertjies wees, maar nou het God beskik dat jy enkellopend moet wees sodat jy vry is om ander mense te bereik. Jy wil dalk nou iets groots vir die Here doen,maar HY plaas jou eerste deur ‘n toets van lyding, siekte of opleiding. Jy het dalk beplan om die wêreld vol reis vir die evangelie, maar helaas nou is jy op ‘n siekbed... 
Wees geduldig, God het Sy tyd en Sy manier! 

Onthou : Paulus se belofte in Romeine 15:29** het waar geword, maar op ‘n ander manier as wat hy beplan het of seker graag sou wou sien... En beslis op ‘n ander datum as wat hy oorspronklik voorsien en gedink het. Hou dit ook in gedagte as jou planne vir 2018 ook nie altyd gaan uitwerk soos jy dit wou gehad het nie.

Die besondere verhaal van ds. A.A. Louw die pioniersendeling van Masjonaland (Zimbabwe/Rhodesië) is ‘n baie bemoedigende bevestiging van hierdie waarheid dat God SY TYD en SY PLAN het wat die beste is! (Kliek LOUW)


Andrew Louw en sy vrou Cinie

*Het Paulus ooit toe by Spanje uitgekom? Daar is interessante inligting wat moontlik daarop kan dui soos ‘n verwysing van Clemens in die eerste eeu en ook in die Muratoriese kanon. Daar is egter geen duidelike bewyse nie. Sien Morris, Epistle to the Romans, p518 voetnota 119.

** “Ek weet dat as ek na julle toe kom, dit met die volle seën van Christus sal wees.” Romeine 15:29

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.