BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 15 April 2016

AS EK REEDS ALS PROBEER HET...

en niks of niemand kon my help nie, dan is HY nog steeds daar...


Ons het verlede Sondag gekyk na die noodsaaklikheid om na Jesus te kom en so die lewe by Hom te kry. Dis nie genoeg om die Bybel te lees en te ken nie, die Bybel wil ons juis na Jesus lei. (kliek op BLINDE BYBELLESERS) Miskien weet jy dis die enigste oplossing om na Jesus te kom, maar daar is baie dinge wat jou laat terugdeins. Baie dinge het nou al in jou lewe gebeur wat jou moedeloos of bang laat voel om na Jesus te kom. Ek hoop dat jy deur hierdie wonderwerk van Jesus (waarvan ons lees in Matteus 17:14-21) jou sal oortuig dat jy regtig maar kan kom! Dat jy met kinderlike vertroue na Jesus sal kom, vandag nog.

Jesus keer terug van die berg van verheerliking. (1-8) Daar het die stem uit die hemel sy Goddelike majesteit bevestig! “Terwyl hy nog praat, het ‘n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ‘n stem uit die wolk het gesê: "Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom." (5) Die Goddelike heerlikheid en gesag van Jesus wat so helder geskyn het in die teenwoordigheid van Moses en Elia op die berg word nou getoets en gelukkig bevestig in die harde werklikheid van ‘n stukkende wêreld waar die duiwel verwoesting saai! 

Jesus en sy drie leier dissipels is nou weer terug by die mense en hier kom kniel ‘n man voor Hom. Dis duidelike dat hy ‘n groot nood het, dat hy desperaat is. Waarom is sy nood so groot? Hy het ‘n seun wat geestelik versteurd is en in ‘n toestand van uiterste ellende verkeer. Hierdie is nie maar net ‘n gewone siekte of versteuring nie, maar die direkte werk van ‘n bose gees. ‘n Seun vasgevang in die greep van Satan. (Terloops, alle mense wat aan epilepsie ly of ‘n versteuring het is nie noodwendig van ‘n bose gees beset nie) ‘n Mens kan jou die desperaatheid en die smart van die pa kwalik voorstel. Dit was al ‘n probleem wat ‘n lang pad gekom het. “Jesus het vir die pa gevra: "Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?" "Van kleins af," antwoord hy, "en baiekeer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak.” (Mark 9:21-22) Om alles te vererger het die gees hom stom en doof gemaak (Mark 9:25), so jy kon nie eens met die seun ‘n sinvolle gesprek voer om te probeer vasstel wat die probleem is nie.

Asof alles nie reeds erg genoeg is nie, het hierdie man tevergeefs sy seun na die dissipels gebring, hulle kon hom nie help nie. “Ek het hom al na u dissipels toe gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie." (16) Dink net die geweldige teleurstelling! In effek het hulle hierdie seun tot ‘n ongeneeslike geval verklaar. Wat ‘n ontmoediging! 

"BRING HOM NA MY TOE!"

Maar toe in die diepste donkerte van wanhoop, die helder stem van Jesus : “Bring hom na My toe!” Toe die seun na Jesus self gebring word, moet die duiwel die onderspit delf en die hasepad kies. 

Teen die mag en majesteit van Jesus het die duiwel geen kans nie! 

Twee troosvolle feite kom na vore:

  • Jesus se almag en gewilligheid om mense uit die mag van die duiwel te verlos! 

Jesus bevry hierdie seun van ‘n bose gees en hy word ook genees. Hier is hoop vir sondaars. Alle sondaars is weliswaar nie besete nie, maar alle sondaars is onder die mag van die bose. (Ef 2:1-3) Alle onbekeerdes is maar slawe van satan, of hulle dit besef of nie! Maar Jesus kan en wil sulke slawe bevry! Miskien is jy moedeloos oor jou toestand... jy’t al alles probeer om vergifnis en vrede te kry, maar dit ontwyk jou steeds. Jy het al alles geprobeer om van verkeerde gewoontes en verslawing vry te kom, maar dit teister jou nog steeds. Jy het al hulp en raad gevra by kerkmense, sielkundiges, psigiaters, predikante, pastore en profete en selfs professore, maar niks het gewerk nie... Jy is moedeloos, wanhopig, stukkend, verward... Vriend, hoor Jesus se woorde : Bring hom na My toe!”

WAAROM SOU JY NOG WANHOOP?

Moenie moedeloos wees nie, moenie wanhoop nie. Waarom sal jy moedeloos wees as daar ‘n almagtige God is? Waarom sal jy moedeloos wees terwyl hierdie almagtige God ‘n genadige God is? Waarom sal jy moedeloos wees as Jesus sy liefde vir jou, ‘n liefde tot die dood, reeds aan die kruis bewys het? Waarom sal jy moedeloos wees as Jesus uitgeroep het : “Dis volbring!” Waarom sal jy moedeloos wees terwyl Jesus self stukkendes en moedeloses soos jy uitnooi : ”Kom na my toe almal wat uitgeput en oorlaai is”? (Matteus 11:28) Waarom sou jy langer wanhoop en twyfel aan die krag van Jesus se genade as Jesus ‘n Saggeus, ‘n Petrus, ‘n Paulus, ‘n Maria Magdalena en ontelbare ander reeds gehelp en uit die mag van Satan bevry het?

  • Jesus openbaar sy reddende mag waar daar geloof is, al is die geloof opsigself maar baie swak. 

Geloof is die hand waarmee ons aan Jesus vashou en sy seëninge ontvang, die oog waarmee ons hoopvol na Hom kyk soos die Israeliete na die koperslang op die paal gekyk het en genees is van die gif! Die dissipels kon hierdie seun nie help nie en Jesus raas baie ernstig met hulle. Hy sinspeel met sy woorde in vers 17, “ongelowige en ontaarde geslag” op Deuteronomium 32:5,20 waar dit verwys na die volk Israel se ongeloof en verdorwenheid. Maar juis deur die Here (JHWH) se woorde in sy mond te neem wil Hy hulle laat verstaan dat dit die HERE self is wat nou in Hom (Jesus) na hulle kom. 

Jesus se dissipels het met hulle eie krag en gesag genesing probeer bewerk. Dit was hulle fout... Sonder geloof in Jesus kan ons niks vermag of verwag nie. Geloof is vertroue op Jesus en juis nie op onsself nie. Geloof self is maar gering soos ‘n mostertsaadjie, maar dit is gerig op Jesus en dis wat belangrik is. Dit gaan dus nie oor ‘n klein bietjie geloof nie (geloof kan tog nie gemeet word nie), dit gaan oor geloof in Jesus al lyk dit maar gering! Dit gaan nie oor die krag en kwaliteit van ons geloof nie, dit gaan oor in WIE ons glo. Die pa se houding soos ons dit in Markus kry verduidelik dit mooi. “"Ek glo," roep die seun se pa dadelik uit. "Help my in my ongeloof." (Markus 9:24) Sy eie geloof lyk vir homself maar gering, hy beskryf dit self as “ongeloof”... maar Jesus help hom, want die essensie van geloof is by hom aanwesig – hy kom na Jesus! Dis geloof – om na Jesus te kom, Hom te vertrou, al voel my geloof nie baie sterk nie! Moenie op die grootheid van jou geloof vertrou nie. Geloof kom in aksie wanneer jy met jou sondenood na Jesus kom en Hom vertrou om jou te vergewe en te red! 

Jesus het nie hierdie pa wat erken het dat sy geloof swak is, teleurgestel nie, Hy sal jou ook nie wegwys nie!

Geliefde, weet net dit: 

As al my eie pogings en probeerslae misluk het, as al die raad wat ek gekry het, gefaal het, as al die mense na wie ek opgekyk het, my teleurgestel het, dan is Jesus nog steeds daar, die magtige Verlosser, die Gesalfde van God, die Lam wat vir ons geslag is, die magtige Koning, die Helper van sondaars in nood!




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.