BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 16 Oktober 2015

GOD SE LIEFDE VIR 'N HOER!

- Die oorwinnende mag van God se liefde soos beskryf deur die profeet Hosea.



‘n Hoer word gekies as bruid, die bruid word weer ‘n hoer, maar haar man gaan haal haar en vat haar terug. Eintlik meer, hy koop haar terug! Ons vind in die boek Hosea die mees dramatiese demonstrasie van die oorwinnende mag van God se liefde. Hierdie profeteboek is taamlik ingewikkeld, maar die basiese boodskap is tog baie duidelik : God in sy ruim liefde skryf sy mense nie af as hulle ontrou geword het nie, maar roep hulle terug, oorreed hulle terug en lei hulle tot bekering! God oorweldig mense met liefde! God bring hierdie boodskap nie net in woorde nie. Die profeet Hosea se persoonlike lewe moes dit op aangrypende wyse demonstreer. Hosea se optrede moes ‘n spieëlbeeld wees van God se verbysterende groot liefde ten spyte van afgryslike groot ontrouheid.



Die profeet Hosea kry opdrag om met ‘n prostituut met buite egtelike kinders te gaan trou. Wat ‘n groot skande en vernedering! Haar naam was Gomer. (Hosea 1:3) Sy het egter weer ontrou geword en weggeloop en die huwelik geskend. En nou kom die merkwaardige opdrag in 3:1. “Gaan knoop weer ‘n liefdesverhouding aan...” Dit gaan om dieselfde Gomer, al word haar naam nie genoem nie.* 


“Die Here het vir my gesê: Gaan knoop weer ‘n liefdesverhouding aan met ‘n vrou wat vir ander mans lief is en egbreuk pleeg, net soos die Israeliete vir wie Ek, die Here, lief het, ander gode aanhang en lief is vir rosyntjiekoeke.

Ek het toe vir my ‘n vrou gekry vir vyftien stukke silwer en honderd kilogram gars.

Ek het vir haar gesê: "Jy moet ‘n lang tyd tot my beskikking wees. Jy mag met niemand hoereer of trou nie, ek sal dit ook nie doen nie."

Net so sal die Israeliete ‘n lang tyd moet klaarkom sonder ‘n koning en amptenare, sonder offers en klippilare, sonder efodbeeld en afgodsbeeldjies.

Daarna sal die Israeliete hulle bekeer. Hulle sal vra na die wil van die Here hulle God, en hulle sal hulle koning Dawid aanhang. Hulle sal vol eerbied terugkom na die Here toe en na die oorvloed toe wat Hy in die toekoms sal skenk.” (Hosea 3:1-5)

Beide Gomer en Hosea se optrede dra ‘n duidelike boodskap:

  • Gomer se ondankbare ontrouheid is ‘n beeld van Israel se ontrouheid deurdat hulle ander gode gedien het. Die rosyntjiekoeke waarna verwys word, het ‘n belangrike rol in die Baäl kultus gespeel. Dit het ‘n simbool geword van die Baäl kultus, 'n sogenaamde vrugbaarheidskultus met sy soete genietinge van sondige wellus en uitspattigheid. Dis ter wille van hierdie genietinge van die Baal vrugbaarheidsgodsdiens dat die Israeliete God verlaat het. Ja, mense verlaat die gebod van God ter wille van sondegenot!
  • Hosea se vergewende liefde is ‘n aangrypende beeld van God se onmeetbare liefde vir sy afgedwaalde en rebelse kinders. Hosea moes vir Gomer gaan terugkoop teen ‘n hoë prys. Waarskynlik het haar hoerery haar in ellende en slawerny laat beland. Hosea se liefde deins vir niks terug nie! God se liefde gaan tot die uiterste toe om ons harte terug te wen vir Hom! Die boodskap vir ons as kerk van Jesus is mos baie duidelik : God het ons teen ‘n ontsagwekkende hoë prys losgekoop uit die mag van Satan, die BLOED VAN SY SEUN JESUS! Die kruisboodskap is ‘n boodskap van God se verlossende liefde, wat ons tot terugkeer en inkeer roep!

Die NG Kerk se Algemene Sinode het ongetwyfeld soos ‘n hoer opgetree deur vir goddelose humanisme en tydsgees te kies teen God se Woord. Maar moet ons nou summier sê dat God die kerk in geheel afgeskryf het? Die boodskap van Hosea is dat God mense nie sommer so vinnig afskryf nie, maar eerder probeer oorreed met sy liefde, ‘n liefde wat ons tot bekering oproep.

Ons moet nou net pasop in hierdie tyd om nie net alleenlik op die Algemene Sinode te fokus nie. Wat van ons? As gemeente, maar ook as enkelinge? Daar is gruwelike sondes in ons midde. Sondes wat ons vertroetel en voor verskonings soek. Hoeveel van ons leef rustig in hardnekkige bewuste sondes voort? Alle sondes is vir God ‘n gruwel, nie net homoseksuele dade nie! Kyk weer na 1 Kor. 6:9-11. 

“Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.
En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.”

Daar is geen twyfel dat homoseksuele dade sonde is nie, maar AL die dinge in die lys is baie ernstig... en dis dinge wat algemeen onder ons voorkom! Hier in ons eie gemeente is saamblyery, gieriges, dronkaards... Ons weet dit mos! Gaan ons berou hê daaroor, of gaan ons aanhou om dit goed te praat? Ons is tereg ontsteld oor die bose besluit van die Algemene Sinode, maar is ons ook net so ontsteld oor die boosheid hier onder ons?**

God se liefde is ondenkbaar groot. God se liefde sluit natuurlik ook tugtiging in. Sy liefde maak dat Hy ons laat swaarkry! Ons kry ‘n treffende voorbeeld Hosea 2:12,13. “Ek gaan haar laat boet vir al die kere dat sy die Baäls gedien het en vir hulle geoffer het, vir al die kere dat sy haar uitgedos het met ringe en versiersels en agter haar minnaars aangeloop het en My vergeet het, sê die Here.Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê.” 

Sy strawwe kan soms erg wees. En die leiers van sy volk word uitgesonder... "Israeliete, luister na die woord van die Here, want Hy kla die inwoners van die land aan: Omdat trou, liefde en toewyding aan die wil van God in die land ontbreek, het vervloeking, valsheid, moord, diefstal en egbreuk hand oor hand toegeneem en is die vergieting van onskuldige bloed aan die orde van die dag. Dit is waarom die land verdor en al die inwoners van dors versmag saam met die wilde diere en die voëls, en waarom selfs die visse vrek.
Niemand word ligtelik aangekla en tot verantwoording geroep nie, maar Ek gaan jóú mense aankla, Priester!
Jy gaan vandag nog tot ‘n val kom en die profeet gaan vannag nog saam met jou tot ‘n val kom en Ek gaan selfs jou moeder om die lewe bring." (4:1-5) 

God se oordele is skrikwekkend, maar sy motief bly liefde! Sy liefde roep die NG Kerk terug, ons gemeente, vir my en jou persoonlik!

Gaan ons antwoord, gaan ons ons bekeer? Mag die oorweldigende mag van God se liefde ons harte vermurwe en oorreed tot ware berou en bekering!

*Van Leeuwen, p83

** Vergelyk Heidelbergse Kategismus 

87 Vraag: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie? Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a). (a) 1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6;1 Joh 3:14. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.