BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 26 November 2022

Die Antichris loer vir jou..

 - Ja, baie beslis deur jou televisieskerm en slimfoon... maar dikwels ook in sinodesale en vanaf kansels!

[Ly jy aan Antichris-angs, eindtyd-verskrikking of laaste dae-luiheid? Lees hier oor die Antichris en hoe om sy aanslag te oorleef!]



Paulus gee uiters belangrike en aktuele inligting oor die Antichris en die wederkoms in 
2 Tessalonisense 2:1-12 … (lees dit deur asseblief)  Die belangrike vraag is wat is sy doel met hierdie inligting? En spesifiek die inligting wat hy hier in hoofstuk 2 gee?  Sy doel sou logies ook die kernboodskap vir ons wees. So waarom skryf Paulus oor hierdie dinge?


Paulus het reeds in hfst. 1 aandag gegee aan die feit van die wederkoms. Daar gaan dit oor bemoediging  en  versterking vir die kinders van God wat verdruk word.  (1:6-10) As Jesus kom sal die bordjies verhang word en die verdrukkers van God se kinders sal hulle straf ontvang en God se getroue kinders sal in heerlikheid ingaan!



Hier in hfst. 2 is sy doel anders.  

Dit gaan daaroor om  Christene wat hulle kop verloor het en paniekerig geraak het deur allerhande bespiegelings oor die wederkoms, te kalmeer en praktiese leiding vir hulle te gee oor hoe hulle moes optree in die lig van die naderende koms van Jesus. 


Daar was mense wat angstig geraak het oor die nabyheid van die wederkoms en hulle is so meegevoer deur die dinge wat hulle gehoor het dat sommige gereken het, hulle hoef nie meer met hulle normale dagtaak aan te gaan nie. Hulle het so histeries en onordelik te kere gegaan dat party nie eens wou werk nie. (3:11) Hulle het passief geraak en hulle normale verpligtinge as Christene verwaarloos. Paulus wil nou weer vir hulle 'n nugtere perspektief gee.

 Mens kon Paulus se boodskap oor die wederkoms in  2 Tess so saamvat : die doel van hfst 1 is standvastigheid in lyding en swaarkry, die doel van hfst 2 is standvastigheid in die doen van goeie werke en normale lewenstake soos om jou brood te verdien. (John Piper)  

Maar so terloops kom ‘n uiters belangrike saak ter sprake soos ons verder sal sien...

AFVAL EN DIE ANTICHRIS

So hoe kalmeer Paulus nou hierdie beangste en histeriese Christene?  Paulus gee detail inligting oor twee sake: die afval (apostasia) en die mens van wetteloosheid. Twee aspekte  is ook opvallend. Hy gee baie detail oor die afval en die mens van sonde. Een of twee sinne sou mos genoeg wees?  Dink net, al hierdie detail om net op die ou end daarmee te sê, gaan rustig aan met julle normale take, want die wederkoms is nog nie hier nie. Aan die anderkant, tsv die detail is daar ‘n klomp onbeantwoorde vrae

Wat presies is die afval? 

Wie presies is die mens van wetteloosheid?  

Watter tempel van God is hier ter sprake? 

Wat is dit wat die koms van die mens van wetteloosheid verhinder/terughou? 

Dit lyk asof Paulus in sy tyd detail lering aan die Christene in Tessalonika gegee het oor hierdie sake en hulle nou net weer wil herinner. Maar ons wat nie daar was nie, ons  ken nie al die feite nie! Ons kan aflei dat die mens van wetteloosheid die Antichris is, maar wat betref dit wat hom  terughou is daar net raaiskote byv. die werking van die Heilige Gees, die invloed van die kerk, die Romeinse regstelsel (wat 'n teenwig was teen absolute chaos en anargie) of dalk die regstelsel in die algemeen.  Ons weet nie en dit lyk asof God dit in sy wysheid so bepaal het.... juis sodat ons nie dalk allerhande berekenings moet maak nie. 

Met ons beperkings in gedagte, kom ons kyk spesifiek na die twee hoofsake : die rebellie (afval) en die mens van wetteloosheid


Die afvalligheid. Dis nie die die "normale afvalligheid" of dwalings wat mens maar oral deur die geskiedenis in die kerk gekry het nie. Dit behels iets ongekend, buitengewoon boos en sigbaar opvallend! ‘n Ongekende direkte rebellie teen God en sy wette! Dit herinner sterk aan Jesus se woorde in Matteus 24:10-12.




Mens van wetteloosheid.  Net so 'n paar feite oor hierdie persoon, die Antichris. Dis ‘n mens, nie ‘n demoon of 'n "alien" van 'n ander planeet nie.  Hy is in sy wese wetteloos en sal aan geen wet of wetgewer onderworpe wees nie. Hy sal absoluut arrogant wees en maak soos hy wil. Aangesien net Een naamlik God bo alle wette is, volg dit logies dat hierdie persoon homself as God sal beskou – hy sal alle instellings, reëls en wette verander soos hy wil! Hy word genoem die seun van verderf – hy is dus gebore en bestem tot vernietiging en sal dus nooit tot bekering en verlossing kom nie. Opvallend – hierdie term word ook vir Judas Iskariot gebruik (Joh 17:12) – Judas was eintlik sy voorloper – soos Judas is daar vir hom geen hoop nie, net die ewige verdoemenis wat vir hom wag! 


Veral belangrik. Die krag van Satan sal op ‘n besondere manier deur hom werk – hy is ‘n spesiale Gesant van die duiwel. (2:9) 




Dit stel hom instaat tot bedrieglike tekens en wonders! Dis die groot gevaar : Mense gaan val vir hom omdat hy buitengewone goed sal doen! Hy sal regtige wonders doen, maar dit sal nie van God kom nie. Dis waarteen God al sy mense in Deut 13:1-3 gewaarsku het. Juis as gevolg van hierdie superkrag sal hy ‘n buitengewone vermoë hê om mense te mislei. (10) Hy sal ongeregtigheid – dit wat verkeerd is, as groot plesier en vooruitgang aan mense opdis en bemark! 


Weereens is daar groot ooreenkomste tuusen Paulus se lering hier en die woord van Jesus - Matteus 24:23-24.




Aan die einde van hierdie vreeslike tyd van wetteloosheid en misleiding sal Jesus skielik kom!


Waar die Antichris letterlik gaan verskyn is nie so belangrik nie... Jerusalem, Rome, Brussels of New York? (Die term "die tempel van God" het verskeie betekenismoontlikhede - dalk gaan hy buitengewone invloed binne die sigbare kerk uitoefen?) Luister dus maar fyn vir sy stem in kerkvergaderings en selfs van die preekstoel... Onthou dis opmerklik dat hy alle Goddelike ordes en instellings en waardes sal omkeer...





Die groot afvalligheid en die werking van die Antichris gaan saam.  Dis reeds besig om te gebeur (dit was al in Paulus se tyd 'n faktor) – die skeppingsorde van die huwelik, die basiese waarheid dat God die mens as man en vrou geskape het, die basiese waarheid dat daar ‘n onderskeid tussen God en mens is, onderskeid  tussen waarheid en leuen... al hierdie fundamentele waarhede word al hoe meer openlik bespot en geminag... Maak net oop jou oë!


Belangrike vraag : Waarom fokus Paulus op die groot afval en die mens van wetteloosheid net om daarna weer te sê gaan aan met julle lewe as Christene? 


PASOP VIR MISLEIDING


Die groot gevaar is misleiding! Om te val vir die plesier van ongeregtigheid en wetteloosheid. Vers 12 ("hulle vind behae in ongeregtigheid") En dis presies wat gebeur – mense hou van “songs” en sepies wat sonde uitbeeld! Dis so lekker om na sonde te luister en te kyk!  Die vermaaklikheidswêreld is die groot vanghok en slagyster van die Antichris. Dit maak ons sag vir sonde.... dit klink nie meer so erg nie...


Wat is die oplossing? Hoe kan ons beskerm word teen afvalligheid en misleiding? Mense gaan val vir die leuens van die Antichris, omdat hulle nie lief is vir die waarheid nie. Meer nog - oorlewering aan die Antichris se misleiding is eintlik God se straf vir mense wat nie wil erns maak met sy Woord nie!  Die oplossing en antwoord vir ons in hierdie deurmekaar tye is dus om lief te word vir die waarheid – lief te word vir die Woord, ja vir Jesus self wat die waarheid is! As jou sepies vir jou kosbaarder is as die Sondag erediens is jy klaar ‘n sucker vir die Antichris al sit jy allerhande vroom boodskappies op jou slimfoon!


Die Antichris is nie net daar ver nie, hy probeer jou kop swaai, jou hart wen en jou lewe steel - binne in jou eie huis!

Wat is die kernboodskap van Paulus aan ons? Gaan rustig, gelowig en gehoorsaam aan met julle lewens en moenie angstig en onstabiel raak weens allerhande gerugte nie – doen julle normale dagtake met heiligheid en integriteit soos dit by God se kinders hoort en hou by die waarheid van die Woord! Dan sal julle nie moislei word nie en gereed wees vir die wederkoms!  Vind jou vreugde in die doen van geregtigheid en nie in die sonde nie. Dan sal julle nie ‘n prooi van die Antichris word nie!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.