BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 19 Augustus 2012

DIE VERLORE SEUNS (2)

- die oudste seun word ook binnegenooi.

Die klem het verlede week geval op die radikale en volledige vergifnis wat die jongste seun gekry het by die Vader toe hy in berou teruggekeer het. (Lees gerus weer die gelykenis in Lukas 15:11-32) Vandag kyk ons bietjie dieper na die oudste seun. Die blye verwelkoming en hartlike ontvangs  van die jongste seun het ‘n onverwagse nadraai. Dit bring ‘n donker geheim na vore. En dis juis hier waar ons die skerpkant van die gelykenis vind. 

Jesus vertel mos eintlik hierdie gelykenis met die oog op godsdienstige mense wat dink hulle het nie vergifnis en bekering nodig nie. (15:1-2) Daarom is hulle ook onbegrypend en ongevoelig as ander sondaars opgewonde raak oor vergifnis. Hulle verstaan self  nie die beginsel van vergifnis  nie. Hulle het nie  ‘n waardering vir Jesus se bemoeienis met slegte mense nie. Hulle het eintlik geen begrip vir Jesus se houding en boodskap nie. Hulle  beskou hulleself as  te ordentlik om tot bekering te kom. “Ons is mos goeie respektabele kerkmense.”, dink hulle (in vandag se taal). Die oudste seun, wat so goed,  gehoorsaam en ordentlik was, is ‘n beeld van hierdie tipe godsdienstige (maar onbekeerde mens). Die oudste seun se donker, bitter kant is ‘n beskrywing van die onbekeerde godsdienstige mens  se hart.

Mens kan hierdie tweede deel van die gelykenis opdeel in twee temas:

Liefdelose diens   
Die kontras tussen die twee seuns is baie opvallend (aanvanklik). Die  jongste  verlaat die Vader en sy gebooie.  Die oudste bly soet by die huis en gehoorsaam die Pa se opdragte (29).  Die jongste is rebels, die oudste is onderdanig.  Die jongste lyk na ‘n regte gemors en die oudste lyk soos ‘n modelseun.  Maar skielik verander als. Die terugkoms ontbloot die oudste se diepste motiewe en gesindheid. Die oudste seun was al die tyd ongelukkig en het sy Vader met ‘n  gedwonge liefdelose hart hart gedien. Hy voel veronreg. Die  bitterheid borrel nou oor uit sy binneste. (Vers 29)  “Kyk, al die jare werk ek soos ‘n slaaf vir Pa...” Hoor die verwyt in sy stem!  Die oudste se hart  was eintlik  net so ver van sy Pa as die jongste - al was hy fisies binne die huis. Agter beide se optrede lê 'n gemeenskaplike mislukking : beide het nie as seuns geleef nie!* Dis die skokkende van hierdie gelykenis, wat hier aan die einde onthul word - ook die oudste seun was nie in ’n verhouding met die Vader nie.  Geestelik gestel : Beide was verlore! Die opskrif moes dalk daarom eintlik gewees het : “die Verlore Seuns!” So baie godsdienstige kerklike mense is in die posisie van die hierdie oudste seun. Dis mense wat uit goeie huise met goeie Christelike opvoedings kom. Hulle kom nooit tot  openlike rebellie teen God nie. Getrou kom hulle hul  uiterlike godsdienstige pligte na : kerk, huisgodsdiens, uiterlike skoon lewe. Maar hulle is nie regtig in ʼn verhouding met die Vader nie. Daar is nie ʼn kind-Pa verhouding nie,  maar bloot ʼn uiterlik wettiese verhouding. ‘n Slaaf-Baas opset!  Alles is uiterlike dorre pligpleging. Daar is min liefde, min vreugde, min spontane toewyding. Hierdie mense het bekering net so nodig soos die openlike rebelle en goddeloses! Goeie godsdienstige mense het die genade van Jesus net so nodig soos prostitute en dronkaards! (Natuurlik beteken dit nou nie dis maar oukei om ‘n prostituut of dronkaard te wees nie)

Liefdevolle uitnodiging. 
Ons moenie miskyk hoe hierdie gelykenis afsluit nie. Dit sluit nie af met die protes van die ongelukkige oudste seun nie, maar met die uitnodiging van ʼn liefdevolle Vader! (28)
“Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom."  Die OAV sê : “...smeek hom.”  Dink jou in, die Pa verneder homself om buitentoe te gaan en by die oudste seun te pleit! Hier het ons net so ‘n dramatiese bewys van die Vader se liefde, as met die terugontvangs van die jongste seun!
Die oudste seun het ook bekering nodig! Maar juis daarom verwerp die Pa  hom nie. Die Pa se liefde reik ook na hom uit net soos na die jongste. Die Pa wil hê ook hy moet deel in die fees.

God se genade nooi alle tipes mense uit. Die openlike geharde sondaars. Maar ook die skynheiliges en selfgeregtiges en ordentlikes. Dis ook  Jesus se houding. Jesus het tyd gehad vir Saggeus die skelm tollenaar. Maar dis ook Jesus wat verskyn het aan die eiegeregtige en goeie  Fariseër Paulus!  So baie mense wat in die kerk grootgeword het is tipiese “oudste seuns.” Hulle moet ook die boodskap van bekering hoor!

 Verbondsmense moet ook die genade doelbewus  aanvaar! 

Die pad van bekering vir hierdie tipe sondaar is eintlik moeiliker, hy moenie net afstand doen van sy sonde nie maar ook van sy geregtigheid ! Dit wil sê - Hy moet besef sy eie goedheid en ordentlikheid is nie genoeg nie.  Hy moet besef dat mens verlore kan wees ten spyte van doop, nagmaal en formele lidmaatskap.  Hy moet besef dat mens hel toe kan gaan al was jy nog nooit dronk, onsedelik  of skelm nie. Die “oudste seun sondaar” kort iets. Hy kort ‘n egte verhouding met God. Kerkmense  se goeie opvoeding, goeie morele lewe en godsdienstihed is dikwels ‘n struikelblok om ware Christene te word. Daarom sê Jesus op ‘n ander plek : die hoere en tollenaars gaan voor julle in die koninkryk in. Die goeie mens moet ook eers besef hy is ‘n sondaar voor hy gered kan word. Jesus red alle soorte sondaars, maar Jesus red net sondaars. Dis eers as ek myself tel onder die sondaars wat daar hoop en redding is vir my.

Is jy ‘n  tipiese jongste seun (openlike rebel) of dalk ‘n tipiese oudste seun? Dit maak nie regtig saak nie. Ons almal het God se vergifnis deur Jesus nodig.  Kom wees net eerlik met God en kom na Hom as sondaar. Hy nooi alle sondaars om te deel in die groot fees. 

Naskrif : En noudat mens die gelykenis in geheel en van alle kante bekyk het, is dit dalk gepas om heeltemal 'n ander opskrif voor te stel. 'n Opskrif wat nie op die seuns fokus nie, maar op die Vader! "Die Gelykenis van die Barmhartige Vader", is 'n voorstel van 'n vriend van my, waarmee ek maar net kan saamstem!

* Goppelt

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.