BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 14 April 2012

PASOP VIR DIE GOGGAS

wat gate vreet in die GENADEBOODSKAP!

Die kort briefie van Judas bevat ‘n kragtige boodskap vir die kerk van ons tyd. (maak nou gerus eers daar oop in jou Bybel)

Vers 3 "Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan die heiliges."

Ons vind hier ’n sterk oproep en vermaning om kragtig te stry vir die ware geloof. Judas sê dus vir sy lesers (en ons) dat daar dringend aksie geneem moet word om die waarheid van die verlossingsboodskap te beskerm en te bewaar. 

Dis ‘n boodskap wat nie verander mag word nie. Dis finaal vir eens en altyd oorgelewer aan God se mense! Die bewaring van hierdie boodskap is ‘n saak wat nie net enkelinge raak nie, maar juis ons gemeentes! Dis ‘n belangrike boodskap vir elkeen in die gemeente. Die gemeente word immers in 1 Timoteus 3:15 die “draer en beskermer van die waarheid”  genoem. 

Hoekom vind ons hierdie ernstige en  dringende toon by Judas? Daar is gevaar!
Dis ’n feit - die kerk van Jesus is en  word bedreig. (Dit was reeds die geval in die tyd van die Nuwe Testament) Die rede is eenvoudig : Satan hou nie van die kerk van Jesus nie. Satan wil nie hê mense moet gered word nie. Satan haat die kerk, omdat hy God haat. Baie vyande word dus teen die kerk ingespan. Maar baie belangrik - die grootste en gevaarlikste vyand is nie magte buite die kerk nie, maar valse leringe binne die kerk. 

Ons grootste bedreiging is nie - Islam, diktators of bose regerings nie, maar ‘n verdraaiing van die evangelie boodskap!

Judas noem spesifiek hierdie valse leraars en hulle lering wat die kerk binnegedring het by die naam.

HULLE IS GEVAARLIKE GOGGAS WAT GATE VREET IN DIE GENADEBOODSKAP EN DIT WAARDELOOS MAAK!

Wat is hierdie gevaarlike valse leer? (Vers 4) Dit gaan oor die misbruik van genade. Hoe gebeur dit? Valse leraars hou genade voor as ’n dekmantel, 'n verskoning om losbandig te leef! Hulle valse propaganda kom basies op die volgende neer : Omdat God se genade so groot is kan ons maar aanhou sonde doen, Hy sal mos maar vergewe. Iemand het dit iewers so gestel : Dis God se plig om ons te vergewe en ons voorreg om te sondig! Hierdie tipe redenasie en lering is ‘n dodelike bedreiging vir die kerk en sy boodskap!

 Kom ons bekyk hierdie saak van naderby:

Redding uit genade is ’n kernwaarheid van ons geloof. (Efesiërs 2:8)  Radikale verbysterende  genade! Hierdie genade behels dat God ’n skuldige goddelose,  onskuldig verklaar (Romeine 4:4) sonder dat hy dit verdien, alleenlik op grond van Jesus se boetedoening aan die kruis. O, hierdie genade klink suikersoet vir die stukkende sondige siel! Genade het niks te doen met ons prestasies nie, maar is ‘n ewigheidsgeskenk van God af! (2 Timoteus 1:9,10) Genade is Goddelik gratis en  hemels heerlik. Genade gee hoop vir die grootste sondaarskurk. Genade het miljoene mense se lewens male sonder tal verander. Genade het die ewige  poorte laat oopswaai vir die slegste mense denkbaar. Genade het ontelbare mense voor die kake van die hel weggeraap. Dink maar aan die misdadiger aan die kruis of iemand soos die goddelose John Newton wat later  “Amazing Grace” geskryf het.

Maar gou het die duiwel sy kans gesien. Hy het dwaalleraars gebruik om die waarheid van genade te verdraai. Juis omdat dit so kosbaar is het die Satan dit vervals. (Dis mos net kosbare dinge wat vervals word. Niemand sal moeite doen om iets waardeloos te vervals nie.) Reeds in die Romeine brief spreek Paulus hierdie kwessie aan.  Juis omdat Paulus ‘n radikale genade verkondig het, het hy verwag dat daar ‘n misverstand sou ontstaan deurdat mense sou beweer  : “Ag, dis lekker, laat ons maar meer sondig sodat die genade ook meer kan word!"  Paulus reageer baie skerp teenoor so ‘n houding : “Volstrek nie!”  (Romeine 6:1,2) Hierdie dwaling (en dwaalleraars) kan maklik aan hulle geliefkoosde uitdrukkings herken word. Dit klink so mooi, maar dis halwe waarhede : “Ag, ons is mos maar almal mense... Ag, niemand is mos volmaak nie.” Dis inderdaad waar, maar sê jy dit as ‘n belydenis of bloot as ‘n verskoning om voort te ploeter in sonde? In ons dag is een van die handelsmerke waaronder hierdie dwaling verkoop word : “VERDRAAGSAAMHEID” 

Tot vervelens toe word daar op die “toleransie” snaar getokkel! 

Almal se sienings en almal se norme (of gebrek daaraan) moet geakkommodeer word! Ons moet tog net niemand se gevoelens seermaak nie. Die dwaalleraar gee kastig baie om vir mense se gevoelens, maar vertrap God se Woord!

Wat was Jesus se houding? Hy is die ruimhartigste Uitdeler van genade ooit. Hy vergewe die ergste sondes, maar dan sê Hy : 


“Gaan heen en sondig nie meer nie!” 

Die begrip “genade” word deur baie gebruik, maar daar is ‘n duidelike onderskeid hoe dit gebruik word. : Valse leraars misbruik die woord genade  as ’n verskoning en ’n dekmantel om rustig aan te hou sondig. God in sy Woord gebruik die  term genade as aansporing om nie meer te sondig nie, maar in dankbaarheid en heiligheid te leef!

Judas waarsku ons baie ernstig teen hierdie dwaling. Hy maak dit duidelik dat hierdie dwaling skrikwekkende gevolge het. Hy herinner sy lesers aan die  bekende voorbeeld van die volk Israel wat uit Egipte verlos is. God was Israel genadig. Hulle was ’n klomp slawe in groot ellende. Toe red God hulle genadiglik uit Egipte sonder dat hulle dit verdien. Maar wat gebeur toe? Hulle was ondankbaar, hulle begin kla, hulle begin afgode dien, hulle begin onsedelik leef... Hulle vergrype het grusame gevolge gehad! God het daardie einste Israeliete wat Hy gered het, uitgedelg omdat hulle sy genade vertrap het. Van daardie hele geslag het net Josua en Kaleb in die beloofde land ingegaan. Om maar lustig  met sonde aan te gaan roep die oordele van God op ons af. Judas noem nog twee voorbeelde van Goddelike wraakuitoefening om ons te waarsku : die engele wat ongehoorsaam was en die mense van Sodom en Gemorra. (Sien vers 5-7)

Die punt wat Judas maak is dit : God se optrede van die verlede wys dat Hy nie ‘n vertrapping van sy heiligheid duld nie, maar dit  konsekwent straf.

(Moet jou dus nie self wysmaak dat ‘n God van liefde nie kan straf uitdeel nie)

Pasop vir ’n valse begrip van  genade. Vals genade soek verskonings vir sonde.
Koester ware genade! Ja, ware genade bring hoop aan die ergste sondaar. Selfs ‘n Dawid! (Lees gerus SMS: “Ek is swanger”) Maar ware genade maak ’n mens egter dankbaar  en as ek dankbaar teenoor God is,  vlug ek weg van sonde. Ware genade leer my ‘n nuwe leefstyl. (Titus 2:11,12)

Niemand kan verby die feit kyk dat Judas se waarskuwings angswekkend is nie. Dit wek vrees by ons en dit moet! Maar weet jy ek verstom my oor die volmaakte balans in God se Woord. As ons weer ‘n slag gesidder het oor ons sonde en na Jesus toe gevlug het, is die Here baie gou om die vertroostende salf van sy getrouheid aan ons stukkende siele te smeer. Dis dan ook wat ons in vers 24,25 vind:

“Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid!”

Wat 'n heerlike troosvolle versekering!

God self sal ons in die genade laat volhard en veilig bewaar! Hy gebruik juis ernstige waarskuwings soos die van  Judas in hierdie proses van bewaring.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.