BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 02 Maart 2018

DIE GEHEIM AGTER DIE DEUR…

WAT ‘N HEERLIKE VERSKIL MAAK AAN ONS VRESE EN ‘N NUWE VISIE OPEN… 


Waarom red God sondaars? Waarom maak God deur Jesus se bloed vrede met mense wat eens sy vyande was? Anders gestel wat moet ons as geredde mense se fokus wees? Nou, maar ook tot in alle ewigheid? Ons het soveel stryd, soveel moeilikheid, soveel dinge wat ons tyd in beslag neem en soveel goed wat ons benoud en bang maak. (Soos daai geluide van Ramaphosa om grond sonder vergoeding af te vat...) Waarop moet ons konsentreer? Waar pas ons in die groot prentjie? Wat is regtig belangrik? My behoeftes, pyne of begeertes of dalk iets groter? 

Kom ons oordink die hooftema : Die hoofdoel van die ganse skepping is aanbidding van Hom wat op die troon is! 

Hierdie fundamenteel belangrike saak is so heerlik duidelik uit Openbaring hoofstukke 4 en 5! Ons gaan net so oorsigtelik daarna loer. Openbaring is in elk geval soos ‘n skildery! Ons hoef nie te veel ons koppe te breek oor elke stukkie detail nie! Dis die geheelbeeld wat ons aanraak en in vervoering en bewondering bring. Ja, tot aanbidding aanspoor! 

Twee belangrike aaneenvloeiende temas is hier ter sprake : God wat op die troon is en die aanbidding (worship) van God. 

GOD IS OP DIE TROON 

Johannes kry ‘n kykie op die hemelse Goddelike werklikheid. Hier sien ons die ware toedrag van sake. ‘n Deur word oopgemaak en dan sien hy iets onbegryplik en onbeskryflik heerlik. “Hierna het ek, Johannes, in die hemel ‘n deur gesien wat oopgemaak is, en die stem, soos die geluid van ‘n trompet, wat ek die eerste keer met my hoor praat het, het gesê: 

"Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur." 
Onmiddellik is ek deur die Gees meegevoer. Ek het gesien daar staan ‘n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand. 
Sy voorkoms was soos opaal en karneool. Om die troon was daar ‘n reënboog met die glans van smarag.” (4:1-3) 

Ons wat Openbaring lees word saamgenooi om ook te kyk en ons te verwonder. So wat sien ons deur die oop deur? Die troon van die heelal. Die setel van regering, van mag en gesag, die plek van alle besluite en beslissings. En wie sit op hierdie troon? GOD! Lees saam verder – 4:4,5,6,9,10; 5:1,6,7,11,13 

Dis ‘n kernwaarheid en deurlopende tema in Openbaring. Waarom? Onthou die mense vir wie Openbaring aanvanklik geskryf is, was Christene wat baie swaar gekry het. Verdruk en vervolg, doodgemaak. Dit skep by mense vrees en onsekerheid. Wat gaan met ons gebeur? Het die duiwel en sy bose handlangers al die mag? Gebeur als maar volgens ‘n donkere noodlot? Hoekom gebeur soveel slegte dinge met ons? Is daar enige sin en doel in als? Het God ons nog lief? Is God nog in beheer? Die deurlopende motief van God op sy troon wil duidelik sê : God en God alleen is in beheer! Nie goddelose mense, nie goddelose regerings en tiranne nie, nie die Satan self beheer en bepaal die toekoms nie, maar net God en God alleen. Hy sit op sy troon en heers oor die heelal en die geskiedenis! Maar meer as dit, Hy is in beheer van jou persoonlike omstandighede en toekoms. Laat elkeen dit weet - God is op die troon – ook terwyl jy swaarkry, siek is, alleen voel, benoudheid ervaar… God is op die troon, juig daaroor! 

As jy begin wankel en moedeloos word, kyk deur die oop deur van Openbaring 4! 

AANBIDDING 

Die tweede groot tema is aanbidding. Dis opvallend belangrik. Dit ontwikkel tot ‘n absolute klimaks. Juis omdat God en God alleen op die troon is, maak dit volkome sin om Hom alleen te aanbid. Kyk bietjie wie aanbid God op sy troon: 

Die lewende wesens. (4:8) Die beeldspraak van die lewende wesens kom uit Esegiël en Jesaja. Die vier wesens verteenwoordig die hele skepping. Hulle sien alles raak (die oë) en hulle is oral (vlerke). Hulle observeer die grootheid van God. Dit reflekteer ook God se alwetendheid en alomteenwoordigheid. 

Die 24 ouderlinge. (4:10-1) Hulle is verteenwoordigend van die hele gemeenskap van gelowiges. Die 12 Ou Testamentiese stamme van Israel plus die 12 Nuwe Testamentiese apostels. Saam verteenwoordig hulle die kerk/volk van God van alle eeue! 

Albei groepe. (5:8-9) Let op die gebede van die gelowiges wat nou op aarde swaarkry is ‘n lieflike geur (soos wierook) in die hemel! 

Die menigte van engele. (5:11-12) Die inhoud van hulle aanbidding is lof aan die Lam! 

Dan die klimaks! Die ganse skepping! “Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: "Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid." (5:13) Die hele skepping is gefokus op God! Niks en niemand is wonderliker, heerliker, meer fassinerend en belangriker as Hy nie! 

SKEPPER EN VERLOSSER!

Net nog iets baie opvallend en belangrik! God word aanbid as Skepper in hoofstuk 4. "Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep." (4:11) Ons moenie vergeet om God te prys vir die oneindig wonderlike skepping wat Hy gemaak het nie! Kyk net rondom jou...en loof Hom! 

God word aanbid as Verlosser in hoofstuk 5. Hier word God geprys as die Een wat deur Jesus, die Lam mense gered en bevry en losgekoop het. “Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer."* (5:9,10) 

Die hele skepping draai om een saak : die aanbidding van God! 

Ons moet bevry word van ons selfgesentreerdheid en individualisme en inval by en meedoen aan hierdie groot saak. Die aanbidding van God! Soos die aarde om die son draai, draai die ganse skepping rondom die heerlikheid van God! Als het ‘n groter doel! Kyk na die groter prentjie, die prentjie van God op die troon wat aanbid word. Moenie net vaskyk teen die onreg en boosheid van die wêreld nie. Moenie jou blindstaar teen korrupsie en tiranne nie. Moenie vasval in jou klein, persoonlike wêreldjie en agenda en bekommernisse nie. Kyk na die groter prentjie. Sien die groter werklikheid agter die skerms. Ja ons vrese en ellendes en pyne en hartsere is erg, maar as kinders van God, losgekoop deur die bloed van die Lam kan ons verby dit kyk en ons harte en stemme voeg by die aanbidding van God! 

Laat ons fokus op God – God as Skepper, God as Verlosser! AANBID HOM! En mag ons so bevry word van beide vrees en selfbeheptheid! 

*Vergelyk die treffende ooreenkoms met Eksodus 19:4-6, waar dit gaan oor God se doel met die redding van sy volk Israel. Hierdie waarheid word dan deur Petrus in 1 Petrus 2:9-10 op die Nuwe Testamentiese kerk van toepassing gemaak.En nou vind ons dit weer in Openbaring!


Eer Hom as Skepper...


Eer Hom as Verlosser...


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.