BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 24 Oktober 2014

SKOKWOORDE

- wat die valse hoop van kansvatters en verneukers gaan vernietig.

Op die laaste dag van afrekening gaan daar onaangename verrassings wees... Jesus stel dit baie skerp :



Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.


Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’

Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree."

(Matteus 7:21-23)

Mense wat baie seker was van hulle saligheid gaan die verdoemende woorde van Jesus moet aanhoor : “Gaan weg...!” Hierdie is van die ernstigste woorde en waarskuwings van Jesus. Dis skokwoorde en juis daarom moet ons onverdeelde aandag gee en probeer verstaan wat Hy bedoel.

GERED DEUR WERKE?

Onmiddellik kom ‘n vraag by mens op : “Hoe nou, leer Jesus redding deur werke? Moet ons dit regkry om God se wil te doen voor ons verlos kan word? Ons vier juis dan in Oktober* die Protestantse Reformasie van die 16de eeu wat ons weer geleer het dat ons nie redding vind deur werke en prestasies nie, maar net deur persoonlike geloof in Jesus.” 

Wees gerus : Redding kom net deur geloof in Jesus. Keer op keer het Jesus self hierdie waarheid bevestig.

Nee, Jesus leer nie redding deur verdienste nie, Hy wil wel ons oë open vir die groot gevaar van selfmisleiding, van valse vrede, valse geloof, valse sekerheid, vals belydenis! In die voorafgaande gaan dit oor misleiding deur vals profete (15-22), hier val die klem op selfmisleiding. In ‘n sekere sin is dit net ‘n bevestiging van dieselfde beginsel. ‘n Boom word aan sy vrugte geken. ‘n Christen sal aan sy dade geken word. ‘n Christen word nie deur sy dade gered nie, maar deur geloof. Geloof bly nie alleen nie, dra goeie vrugte.

Die boodskap van die Reformasie was : Redding deur geloof alleen. Baie kerklidmate het dit verander na : Reddig deur skyngeloof.

Net so min as wat die Bybel (en Reformatore) redding deur werke leer, net so min leer hulle redding deur vals geloof!

Kom ons kyk na twee gevare wat in Jesus se waarskuwing onderstreep word:

1.Om uiterlik die regte feite oor Jesus te glo en te bely beteken nie noodwendig ek is ‘n Christen nie.

Verstaan goed, Jesus kritiseer nie mense wat sê : “Here, Here” nie. Jesus is nie daarteen dat ons sy naam bely nie. Inderdaad moet ons kan sê : “Jesus is die Here, my Here.” Ons moet sonder skaamte sy naam voor mense bely. Die punt is egter moenie jou sekerheid bou op ‘n belydenis wat jy lank gelede afgelê het of ‘n rympie wat ek agter iemand aan gebid het nie. Vra jouself of jy daardie belydenis uitleef? Maak dit ‘n verskil in jou lewe? As jou geloof eg was sal dit tot sigbare verandering lei.

Uiterlike belydenis van die waarheid alleen is nie genoeg nie, dit moet gevolg word deur ‘n veranderde lewe volgens God se wil. Spesifiek God se wil van heiligheid soos uitgespel in die res van die bergrede. God se wil wat dieper gaan as net ‘n oppervlakkige kyk na byvoorbeeld die sesde of sewende gebod. God se wil deur vrugte te dra van lewensheiliging en gehoorsaamheid. Anders gestel ‘n belydenis wat nie opgevolg word deur dade nie, is ‘n vals belydenis. Reeds in die Ou Testament verwyt God sy volk in Maleagi en vra : Julle noem my Here, maar waar is die respek vir my?" Duie Nuwe Testament maak dit duidelik dat nie alle geloof, egte geloof is nie! Geloof wat nie tot werke lei nie, is volgens Jakobus, 'n dooie geloof! Dis tog ‘n algemene logiese beginsel. ‘n Man wat vir ‘n dame sê : "Ek het jou lief, jy is my enigste liefde", maar nooit tot trou wil kom nie, se belydenis van sy liefde is mos vals... Dis die enigste logiese afleiding.

2.Om vol ywer en sukses te wees vir die Christelike saak beteken nie noodwendig ek is ‘n Christen nie.

Jesus kritiseer nie mense vir hulle ywer en entoesiasme nie. Hy sê net nie almal wat sulke ywer openbaar sal noodwendig ingaan in die Koninkryk nie. Daar is iets soos valse en misplaaste ywer! Jesus noem voorbeelde van sulke ywer. (22) Om te kan preek (profeteer) bewys nie dat jy ‘n noodwendig ‘n Christen is nie. Dink maar aan die Ou Testamentiese voorbeelde van Bileam en koning Saul. Hulle kon profeteer, maar dis duidelik dat hulle nie ware dienaars van God was nie!

Ook selfs die mag om duiwels uit te dryf bewys nie ek is noodwendig ‘n kind van God nie. (Selfs Judas Iskariot kon dit doen soos ons kan aflei.) Ons moenie uiterlike gawes en wonderwerke met genade verwar nie! Almal wat gawes het, het nie noodwendig egte genade ontvang nie, want daar is valse gawes. Die Egiptiese towenaars was sonder God se genade, maar kon dieselfde wonders doen wat Moses en Aäron gedoen het. Wonderwerke opsigself sê niks! In alle godsdienste vind daar beweerde wonders plaas!

DIE PROBLEEM

Jesus sê baie duidelik wat hierdie valse gelowiges se probleem is. Hulle verwerp en oortree God se wet.** (23) Hulle verset hulle teen God se opdragte. Dis baie duidelik, ook in die Nuwe Testament gee God opdragte. Daar is dinge waarvan Hy hou en dinge waarvan Hy nie hou nie. Paulus,wat absoluut klem geplaas het op redding deur geloof alleen gee ‘n soortgelyke waarskuwing as Jesus in Galasiërs 5:19-21. "En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie." En opvallend, dis juis in hirdie brief wat Paulus dit die sterkste onderstreep dat redding alleenlik deur geloof geskied!  (Sien ook 1 Korintiërs 6:9,10. “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.”) Dit beteken nie ‘n kind van God kan nooit in sondes, ook dié sondes val nie. ‘n Kind van God kan inderdaad struikel, maar nie sorgeloos in hierdie sonde bly lê en volhard nie... Wie God se genade as denkmantel en verskoning gebruik om aan te hou sondig speel met vuur... Hieroor is die brief van Judas baie eksplisiet duidelik... (kliek op GOGGAS)

EN NOU?

Wat staan ons te doen? Ondersoek jouself of jou geloof in Jesus eg is. Vra jouself of jy jou belydenis ernstig bedoel. Die Bybel roep ons voortdurend op tot selfondersoek. Vra jouself of daar egte vrugte van heiligheid, toewyding en oorwinning oor sonde in jou lewe is. Dit sal die spontane reaksie wees van elke kind van God, ook nou! Trouens, as hierdie woorde van Jesus jou nie onrustig maak nie, is daar fout. Juis die opregte gelowige sal dit ter harte neem, opnuut sy sonde besef en na Jesus vlug as enigste hoop. "Leeg met my sondelas, hou ek U verdienste vas..."

Positief gestel : Wie Jesus liefhet en in Hom glo, sal erns met sy opdragte maak! Dit word saamgevat in die opdrag van die liefde. Die liefde tot God en my medemens. (Johannes 14:15,21)

Gryp Jesus se offer vas en dank Hom deur die wil van God te soek en te doen!

Om 'n dankbare erfgenaam van die Reformasie se herontdekking van die evangelie te wees, behels meer as net intellektuele instemming tot die belydenisskrifte.  Dit behels persoonlike, egte geloof, 'n geloof wat sigbaar word in 'n heilige lewe volgens God se wil.

*Hervormingssondag word op die naaste Sondag aan 31 Oktober gevier, omdat Martin Luther op 31 Oktober 1517 sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het en dit as die begin van die Protestantse Reformasie beskou word.

**Wat word hier met “wet” bedoel? Die tien gebooie? Die hele tora, insluitende die voedselwette oor rein en onrein diere? En wat dan van die besnydenis? Om dit kort te stel : Dit gaan oor die hele tora (wet van Moses) soos dit deur Jesus verklaar, verskerp en geherinterpreteer word, spesifiek in die Bergrede, maar ook in die res van die evangelies en die neerslag daarvan in die Nuwe Testament as geheel. Jesus as die ware Moses, die Seun van God het die volmag om dit te doen. Dit lei immers nie tot ‘n afgewaterde etiek en standaard van lewensheiliging nie, maar tot ‘n baie hoër norm van heiligheid. Vanuit hierdie perspektief weet ons : ons hoef ons nie meer aan voedselwette te hou (Markus 7) of die besnydenis te beoefen nie. (Handelinge 15 en die Galasiërs brief) Ons verstaan nou die tora (wet) deur die VERGROOTGLAS van Jesus se lewe, woorde en afgehandelde offer! (Vir meer oor die Joodse Sabbat en voedselwette, kliek op SKADUWEE)


Die groot Hervormers : Luther, Calvyn, Zwingli.

5 opmerkings:

  1. Die Apostel Paulus word deur die ongeleerde en onvaste mense verdraai tot hul eie verderf.

    Erken tog, o nietige mens, dat geloof sonder werke dood is?
    Is Abraham, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie? Sien jy nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?

    AntwoordVee uit
  2. Afrikaansinleipzig
    Ek stem saam met jou dat werke baie belankrik is, maar werke volg op geloof, ons kan nie deur werke gered word nie. Iemand het eendag gesê dat die meeste Christene is Christen kaalnaelers, want hulle het net die helm van verlossing op.
    Die eerste boodskap wat ʼn verlore sondaar moet hoor is: as gevolg van sonde gaan ʼn mens verlore, dit laat jou in die hel of ewige verdoemenis beland. Die sondaar sal hom of haar daarvan moet bekeer as hulle die ewige lewe saam met God in die hemel wil beërwe. Die hou van die wet of goeie dade (werke) is dooie werke en gaan niemand in die hemel bring nie. Die kruisboodskap van Jesus is die enigste antwoord hierop.
    Abraham moes glo in God voordat die besnydenis in die vlees onder die Ou Bloedverbond kon plaasvind. In die Nuwe Bloedverbond word die sondaar in Christus besny (Kol. 2: 11-12) deur met die hart te glo; en met die mond bely dat Jesus gesterf het en dat God Hom uit die dood opgewek het volgens Rom. 10:9-10. Op geen ander manier nie.
    Baie belangrik: Dit vind nie outomaties as gevolg van die geloof wat ʼn kind se ouer in die lewe van ʼn kind plaas nie. Dit val ook nie op ʼn dag uit die lug op iemand nie.
    Two examples of justification by faith and works, not works only:
    Abraham (Jak 2:21-24; Gen 22) en Ragab (Jak. 2:25; Josh. 2 en 6.
    It is clear from Gen 22 that Abraham proved his faith in God when he was asked to offer up Isaac as a sacrifice. It was faith that led him to this act of obedience (v23). Had he refused to obey, it would have demonstrated that he had no faith in God or His Word. It is also clear that this act of faith and works was not his initial justification by faith. That was at least 40 to 50 years before offering Isaac (Gen. 12:1-4; 15:6; Rom. 4:1-6). Thus, every act of obedience is an act of faith and works combined to maintain justification before God.
    The whole passage amphasized faith with works – not faith only or works only. Even Paul did not teach justification by faith only, for he also taught works whereby Christians should demonstrate their faith. (ons sien dat geloof altyd eerste is) Rahab was also justified by her works and her faith when she hid the spies with peace.
    Groete
    Boeta

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ek stem volledig met jou saam oor die volgorde van geloof-werke. Geloof alleen, maar nie geloof wat alleen bly nie, dit word gevolg deur werke!

      Vee uit
  3. Is dit nie so dat goeie werke slegs by God tel wanneer dit die vrug van ware geloof en bekering is nie? Die mens wat “die vergewing van sondes” glo, maar voortlewe in sy sonde en God nie toelaat om sy lewe te verander nie, het geen deel in die vergifnis nie en word mislei deur 'n dooie geloof wat nie kan red nie (Jak. 2 : 14).

    Abraham se 'werke' was dus die vrug van sy geloof in God.

    Helene Blaauw

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Heeltemal reg. Slegs werke wat vanuit geloof in Jesus gedoen word en daardeur gemotiveer word is aanvaarbare werke by God. God red ons via geloof en berei dan goeie werke voor waarin ons moet wandel. Ef 2:8-10.

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.