BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 03 Mei 2022

Ons besoek Jesus se mense in Boesmanland...

'n Groep van ons uit die NGK Tsumeb het die opwindende geleentheid gehad om saam met Andries en Tracey Gous vir ’n kort uitreik verlede naweek na Boesmanland te gaan. Vir sommige was dit die eerste kennisname met hierdie pragtige deel van ons land. Die opvallendste was egter nie net die besondere natuurskoon nie, maar veral die pragtige kinders van God. Ja, dis mense van ’n totaal ander kultuur as ons, maar omdat dieselfde Heilige Gees wat in ons woon ook in hulle woon is daar ’n wonderlike band van eenheid.

In die weste van Boesmanland het ons Kanovlei en Omatako besoek. Dis in 'n pragtige vallei met reuse kameeldorings waar die Vasekele !Kung (voorheen van Angola) woon. Die Woord is aan klein en groot gebring. Trudie van Niekerk en haar medewerker Elvin van CEF het voorgevat met die kinders. Hierna is daar ’n vinnige draai by M’Kata gemaak waar soos Andries ons ingelig het die Mpunguvlei !Kung woon. (Hulle is dus oorspronklik afkomstig uit die Kavango.) Hier is ’n baie groter mate van ontwikkeling en blykbaar is hier ’n beleid dat as iemand nie wil werk nie, hy ook nie mag eet nie!


Uiteindelik was ons op Mangetti Duin. Dit was vir my ’n groot voorreg om ’n jong man, Amon Petrus op Sondag 1 Mei hier as leraar te bevestig. Kom ons bid vir hom en sy vrou Nyama se bediening. Jaõ, ’n ou kennis uit my weermagdae het as tolk opgetree. 


Linguïsties is hierdie gemeente (die amptelike naam is Luhebu Noord) 'n mini Babel... Die mense praat natuurlik hulle variant van !Kung wat uit Angola kom... Maar daar het die mans uiteraard Portugees gepraat as soldate in die koloniale tyd. Hulle kerktaal was Luchazi. Hulle sing vandag nog Luchazi liedere in die kerk. Met hulle deel word van die destydse SAW en hulle vestiging in die ou Suidwes het Afrikaans bygekom. En deesdae in die onafhanklike Namibië is die voertaal in die skole natuurlik Engels. Die jong geslag verstaan natuurlik nie meer Luchazi nie... aanpassings moet gemaak word.

Terug by die bevestiging. Dit was opmerklik dat mense uit ander gemeentes ook die bevestiging bygewoon het. Ons moet nooit vergeet dat Andries se bediening onder die vaandel van DEGNOS baie wyer strek as net NG lidmate nie.

Later die dag het ons via Aasvoëlnes na Nhoma gegaan. Dis ’n pragtige omgewing. Dis in die ooste van Boesmanland en is die woongebied van die Juǀʼhoansi. Hier kon ons ook kennismaak met twee van die oorlewende Boesmans wat deel was van ’n groep wat met hulle lewens ’n paar jaar gelede ’n Australiese toeris in ’n veldbrand beskerm het. Drie manne het letterlik hulle lewens verloor om haar lewe te red! Hier het Herman Fuls en Andries die Woord gebring en daar is ook weer ’n geleentheid vir die kinders aangebied.







Herman Fuls en Andries Gous. Ons hou kerk onder pragtige  Rhodesian teak bome.





Gert en Bertus op Nhoma. Gert dra nog die littetekens van die vreeslike brandwonde.








Ongelukkig sien mens nie net mooi dinge nie. Dis was skokkend om te sien hoe gierige mense die bastermopanie woud (rooshout/osiwi) in hierdie afgeleë gebied uitgeroei het. ’n Reuse stapel houtblokke oorgelewer aan wind en weer was die hartseer getuienis. Nêrens is die skepping meer veilig teen die mens se verwoestingswerk nie.



Maar, kom ek keer weer terug na die positiewe. Ons moet die Here dank vir sy kerk in Boesmanland. Jesus Christus self hou sy kerk in stand. Daar is natuurlik verskeie uitdagings... die reuse afstande, tekort aan fondse en arbeiders, uitbuiting van die Boesmans deur gewetenlose handelaars, die binnedring van ander meer gegoede volke en die bedreiging van valse leringe soos die van die Sewendedaagse Adventiste wat daarop uit is om mense van die kerk af te rokkel. (hulle doen dit met fondse van oorsee.) Te midde van alles doen Andries en Tracey reuse-werk. Min van ons het ’n besef wat dit als behels. Om net ’n kerkraadsvergadering te hou moet daar honderde kilometers gereis word! Dan het ons nog nie eers gepraat oor die ondersteuning van die skooltjies, die aanbied van opleiding en die onderhoudswerk aan eiendom nie.

Kom ons raak betrokke deur gebed en ondersteuning. Bid vir al die leraars, kerkraadslede en onderwysers, maar spesifiek vir Andries en Tracey (hulle is nog lidmate in Tsumeb) wat ’n byna bomenslike verantwoordelikheid moet dra. En miskien moet jy dalk volgende keer saamgaan...




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.