BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 14 Februarie 2014

MEER AS BOEREMATRIEK

- openbare belydenis van geloof maak net sin as dit ‘n saak van hart en mond en lewe is!

Paulus se groot begeerte en wens (wat hy so duidelik in Romeine 10 uitspreek) is dat sy eie volksgenote gered sal word! Dit lê hom baie na aan die hart. (Dis seker ook die begeerte van elke wedergeborene vir sy naaste.) Hy is diep besorg oor sy mense, dat al is hulle godsdienstig en al het hulle die wet, hulle nog steeds verlore is, sonder hoop vir die ewigheid! Hoor sy versugting : “Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word, want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig. Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry." Die OAV stel dit treffender : “hulle probeer hulle eie geregtigheid oprig”

Ja, alle mense (ook goeie godsdienstige verbondsmense) het nodig om gered te word. Dis so, want almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie. Alle mense staan inderdaad onder die oordeel van God.

Daar is slegs twee opsies oor hoe om gered te word : die mens se eie manier of God se manier. 

Ons kan dit ook noem die mens se plan of God se plan. Eersgenoemde lei tot mislukking en teleurstelling, laasgenoemde tot ewige heerlikheid!

MENS SE PLAN

Die mens se plan is ‘n selfhelp plan. Ek probeer om God tevrede te stel, ek probeer om God se guns te wen deur sekere dinge self te doen. ‘n Mens kan dit vergelyk met die klim van ‘n LEER. Deur sekere prestasies en pogings probeer die sondaar self opklim na God. Ek probeer met menslike inspanning loskom van my sondeskuld. 

Kom ons kyk na ‘n paar van die sporte van hierdie leer :

Godsdienstigheid – sommiges dink omdat hulle lidmaat is van ‘n kerk, darem so af en toe kerk toe kom of sekere godsdienstige pligte nakom, al hulle sondes vergewe word.

Sakramente – baie mense redeneer dat as hulle gedoop is en die nagmaal mag gebruik is hulle outomaties kinders van God.

Seremonies – ‘n groot getal mense dink dat ‘n paar kerklike seremonies en rituele hulle gaan red. Hoe anders verklaar mens so baie se totale afwesigheid by die byeenkomste van gelowiges, maar die enorme gewildheid van kerklike begrafnisse? Dis niks anders as bygeloof nie...

Moralisme – ek dink my mooi lewe en goeie waardes sal vir my vrede bring by God. Ek probeer minder vloek, ek probeer om “Christelik” op te tree, ek voel darem ek is nie heeltemal so sleg soos party ander mense wat ek ken nie. Ek dink die Here sal my in die hemel toelaat, want ek help mos darem graag ander mense. (Waarskynlik maak die meerderheid van kerkmense staat op moralisme, al besef hulle dit self nie)

Moenie ‘n fout maak nie, mense wat op hierdie selfhelp leer probeer opklim na God is dikwels baie opreg en vol ywer! Maar dit help niks nie. Dis wat Paulus van sy eie volk sê. (kyk weer na vers 2 hierbo) Maar hoeveel die ywer ook mag wees, die leer van menslike verdienste sal altyd te kort wees...

Dis juis die ironie, die leer van menslike verdienste is oneindig lank en vermoeiend, maar dit bly altyd te kort om die Goddelike standaard van geregtigheid te bereik...

GOD SE PLAN

God se plan, God se oplossing is naby, dis hier by ons. Ek hoef nie ver te gaan soek nie! (8) God se plan is Sy Seun Jesus Christus wat vir sondaars gesterf het en ons volle straf (wat ons verdien het) gedra het aan die kruis en weer opgestaan het uit die dood! Anders gesê, GOD STEEK SY HAND EERSTE UIT na ons deur Jesus Christus. 



God inisieer en bewerk ons redding. Ons moet wel God se plan aanvaar, ons moet dit glo – nie net uit gewoonte of met ons verstand nie, maar met ons hart! Dis ‘n keuse wat my diepste binneste raak. Dis ‘n ontmoeting met die lewende Jesus deur die geloof! Hierdie geloof sal natuurlik ook sigbaar word. Ek bely dit met my mond. Dit is behels nie net om ja te sê nie, maar om my keuse om Jesus te volg telkens weer openlik met my mond en dade te bevestig. Dis om nie net 'n eenmalige belydenis in die kerk nie, maar ook om môre by die skool as ek voor keuses gestel word, openlik te sê : “Jong, ouens ek kan nie saam met julle lag vir hierdie vuil grap nie, ek kan nie saam met julle hierdie ding doen nie, ek gaan nie na hierdie smerige fliek kyk nie, want ek behoort aan Jesus!” Om so my aan Jesus se kant te skaar is iets heel anders as moralistiese selfredding, dis heilige en lojale dankbaarheid vir my redding uit genade! 

Belydenis is ‘n daaglikse voortgaande aksie. Dit beteken dat ek nie skaam moet wees om smaad en spot ter wille van Jesus Christus te verduur nie!

AFGRYSLIKE TELEURSTELLING OF SEKER HOOP?

As ek op die leer van menslike planne staatmaak is daar geen hoop nie. Op die oordeelsdag wag daar ‘n afgryslike teleurstelling. As ek egter God se plan, Jesus as Here aanvaar, kan ek seker wees van my bestemming. Ek sal nie teleurgestel word nie. “Die Skrif sê tog: "Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie." (11) Wat beteken dit om in Hom te glo? Hoe kom ek tot geloof in Hom? Ek roep Sy Naam aan. Ek vra Hom om my te red en vertrou dat Hy sy beloftes sal hou. “want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word." (13)

Ongelukkig is belydenisaflegging (of selfs ook die belydenisdoop) vir baie mense bloot ‘n seremonie. In die ou dae het hulle selfs gepraat van boerematriek, asof dit jou sleutel tot die volwasse lewe, trou en kinders kry sou wees! Hoor mooi, as jou belydenisaflegging bloot ‘n seremonie is, dan is jy maar weereens net besig om ‘n trappie te klim op die leer van eie geregtigheid. Dis nutteloos, dit kan jou nie red nie – en dis my plig om jou te waarsku hieroor... Maar as dit wat jy met jou mond bely (het), waarlik die oortuiging van jou hart is, dan het dit groot waarde, want hoor die belofte van God... “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.” (Romeine 10:9,10)

Baie geluk aan :


[Mariselle Stofberg, Charis van Eeden, Jacquiline Fryer, Karien Ströh, Marius Smit, Dannè Stoman, Ju-An Smit, Jacqueline Boshoff, Elrika Grobbelaar, Michael Faulds, Colette Rossouw]

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.