BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 22 Mei 2019

Kliniek of Paradegrond?

- Die Bybelse benadering tot praktiese Christenskap en heiligheid mag jou dalk verbaas... 


Kom ons oordink spesifiek 1 Timoteus 6:12-16. (lees dit gerus) Paulus skryf ‘n persoonlike brief aan die jongman Timoteus om hom aan te moedig en raad te gee. Hy skryf onder andere oor die gevaar van dwaalleringe en in die direkte voorafgaande gedeelte oor die groot, maar subtiele gevaar van die liefde vir geld. (9,10) Geldgierigheid is dodelik gevaarlik vir ‘n kind van God! 

Met dit as agtergrond stel Paulus nou vir Timoteus voor ‘n direkte uitdaging of sommer ‘n prontuit bevel : “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.” (1 Timoteus 6:12) 

Kom ons hoor dit mooi : 

“Stry die goeie stryd van die geloof!” * 

Prakties behels dit ‘n wegvlug en afkeer van als wat verkeerd is (soos geldgierigheid) en ‘n najaag en gryp na dit wat reg is. (11) Paulus wil sê :“Komaan Timoteus, jy het mos openlik voor getuies bely aan wie se kant jy is (ek herinner jou net daaraan), nou moet jy vasvat en aangaan en volhard en werk maak van jou geloof! Dis ‘n harde geveg wat voorlê!” 

Die hoofsaak wat ons aandag vra is : Die Bybelse begrip van praktiese Christenskap, heiligmaking en groei behels ‘n aktiewe robuuste stryd! 

TWEE TEENOORSTAANDE BENADERINGS 

Daar is twee sterk teenoorstaande benaderings of sienings van hoe Christene dink heiligmaking en groei aangepak behoort te word. Afhangende van watter benadering mens voorstaan, het dit ook ‘n bepaalde effek op jou verstaan van kerkwees. En wat jy van die kerk verwag... 

Die twee benaderings kan genoem word: Die kliniek benadering en die paradegrond benadering. 

KLINIEK 

Die kliniek benadering klink dikwels so: “Ag, ons verstaan hoekom jy nie betrokke wil wees by die kerk nie, want soveel mense het jou teleurgestel en jou seergemaak. Ag, ons verstaan waarom jy nie sonde wil los nie, want jy het nie ‘n goeie voorbeeld in jou ouerhuis of skool gehad nie. Ag, ons almal is so swak, ons is so besig, ons is so onvolmaak, ons is so menslik, die Here sal verstaan as ons Hom maar die laaste plek in ons lewe gee. Ag, ek is so swak ek sukkel om te groei, sonde te los of te getuig. Maar, wat dit is nie so ernstig nie, want ons almal sukkel maar...” 

Vanuit hierdie besef van voortdurende swakheid, sondigheid en ellende verstaan en beskou mense die kerk as ‘n kliniek waar ons heeldag pilletjies gee, windjies uitvryf en vars doeke aansit. O, en daar mag tog net niks gesê word wat iemand sal ontstel nie! Sonde mag nie by die naam genoem word nie. Laksheid en die verbreking van beloftes mag nie direk aangespreek word nie. As iemand my net skeef aankyk, net effentjies op my tone trap, dan vat ek my goed en loop na ‘n kerk wat as ‘n meer simpatieke kliniek kan funksioneer... Die klem in hierdie benadering is altyd op die individu se gevoelens en gemoedstoestand en allerhande probleempies. “O, soveel mense en dinge het my seergemaak in my lewe…” En wat is die gevolg? Al die aandag op myself en my hartseer situasie vuur net selfbejammering en verskonings en passiwiteit aan! Daar is ‘n sieklike klem op sentimentaliteit en subjektiwiteit… Hoe voel ek, hoe word ek behandel, hoe raak dit my….? 

PARADEGROND 

Die paradegrond benadering kyk vanuit ‘n heel ander hoek. Die vertrekpunt is juis (anders as wat jy dalk sou verwag) God se omvattende en genoegsame genade. God het ons in Jesus volkome vrygespreek, Hy dink nie meer aan ons sonde en mislukkings nie. Sy liefde is vas en seker vir sy kinders. Niks kan ons daarvan skei nie. (Romeine 8:31ev.) Maar juis weens sy groot en ryk genade rus daar ‘n dankbaarheidsplig op elke ontvanger daarvan. Die verlede is mos verby! Nou word ons opgeroep tot die stryd! Nou is die tyd vir sterk staan en weerstand bied teen die sonde! Die oorwinning is mos reeds behaal op Golgota! Die graf is leeg! 

Wat ‘n groot verskil met die kliniek benadering! Die bekende Martyn Lloyd-Jones het homself prontuit hieroor uitgespreek : “The main trouble with the Christian Church today is that she is too much like a clinic, too much like a hospital; that is why the great world is going to hell outside.”** (Terloops, hy was nie ‘n harde man nie! Hy was ‘n ware sielesorger en boonop nog ‘n mediese dokter ook! Maar hy het die waarheid van die Skrif ernstig opgeneem.) 

WEES ‘N DAPPER SOLDAAT! 

Die Bybelse benadering tot heiligmaking is die van ‘n paradegrond, van opdragte aan ‘n soldaat! Geen pamperlang benadering nie! Geen toedraai in watte aanslag nie. Geen plek vir sissies nie. Stry die goeie stryd van die geloof! Hoor Paulus se styl : “Ek gebied jou/beveel jou voor die aangesig van God...” (13) Dis paradegrondtaal! Geen mooipraatjies nie! Ja, as daar wonde en letsels is dan verbind ons dit in liefde met die Woord, maar ons bly nie broei daarop nie, ons gebruik dit nie as verskonings nie, ons gaan positief aan met die stryd, ons hardloop die wedloop! Dis dwarsdeur die Nuwe Testament die benadering tot die leef van die Christelike lewe : 

Romeine 8:13 “want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.” Aksie, daadwerklike optrede! 

1 Korintiërs 16:13 “Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk!” 

Efesiërs 6 :10ev “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 
Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 
Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.” 

2 Timoteus 2:3 “Dra jou deel van die ontberings soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus.” 

Hebreërs 12:4 “Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ‘n stryd om lewe of dood geword het nie. Julle moet bereid wees om nog baie harder teen die sonde te stry!” “ten bloede toe” soos die OAV dit stel. 

2 Petrus 1:3-5 “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. 
Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. 
En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met....” 

Dis duidelik, die hele spektrum van Nuwe Testamentiese skrywers het hierdie positiewe, robuuste paradegrond benadering! 

Hierdie Bybelse oproepe onderstreep : Dit gaan oor die Koning en sy opdrag, nie primêr oor myself en my puntenerige behoeftetjies nie! Sy eer en nie my gerief nie! Stop die fokus op my gevoelens, my mislukkings en my suksesse. Raak ontslae van 'n sieklike selfbeheptheid en selfgesentreerdheid! Die vraag is : Wat bring eer aan die Koning, wat maak Hom bly? Wat is sy wil, sy opdragte? Die klem is nie meer op my as individu nie, maar die saak van die Koning, die welsyn van die kerk van Jesus, die groter prentjie… Hy is immers die Koning van die konings en die Here van die here! (15) Vergeet bietjie van jouself en doen wat jy moet doen! En weet jy wat? Juis hierin lê ons vreugde! 

Kinders van God, wat vrygespreek en vergewe is, wat die Heilige Gees ontvang het, is nie meer slagoffers nie, maar soldate! 

Ons is geloofstryders! As ons ons geloof bely dan is dit ‘n openlike toetrede tot die weermag van Jesus, onderwerping aan sy gesag, ‘n bereidverklaring om die stryd tot die einde te stry onder sy bevel! My vriend in Jesus, STRY DIE GOEIE STRYD! 

*Die NAB vertaal dit effens anders, maar die nuutste Afrikaanse vertaling, sluit weer aan by die OAV. “Stry die goeie stryd van die geloof!” (DLV) 

**Martyn Lloyd-Jones, Romans 6, p174

2 opmerkings:

  1. So lekker om weer die skatte van die Woord te lees. So ongelooflik om op 'n punt te wees waar ek dit verstaan en weet dis nie 'n kliniek nie, maar 'n parade. Dankie vir Ds. se insette en harde werk - altyd. Ek bid die boodskap val op gooeie grond. Dit gaan oor baie meer as net jouself, maar ons vergeet dit! Baie groete uit Potch

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Wow, Ria, en dis so wonderlik om van jou te hoor! Jy maak my dag... Volhard in die geloof en baie groete aan almal wat die Here dien daar op Potch!

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.