BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 16 Januarie 2014

DIE NUWE VERBOND BEVRY ONS VAN DIE VERLEDE

- en verseker ons van ‘n nuwe toekoms!


Ons elkeen het ‘n verlede. (Nie een van ons wat nou hier lees het netjies skoon verpak, met vlerkies en al uit die lug geval nie!) Meer nog, ons elkeen het ‘n donker sondige verlede. Ons is in sonde gebore! Ons het ‘n “loopbaan van sonde” agter ons! Miskien is ons verlede nie nuuswaardig genoeg om die Rapport se voorblad te haal nie, maar nietemin donker genoeg om ons lewens te skend, maar erger nog, boos en gruwelik genoeg om ons onder die toorn en straf van God te laat steier!
Dis uiters noodsaaklik dat elkeen van hierdie verlede bevry word anders verlam dit jou jou hele lewe lank... dit beïnvloed alle verhoudinge, jou huwelik(e), gesin, jou werk... maar die ergste dit verhinder vreugdevolle gemeenskap met God, afgryslik maar waar - dit keer dat jy kan ingaan in God se koninkryk!

Gelukkig is daar in Esegiël 36 goeie nuus vir elkeen met ‘n verlede van sonde en mislukking : God bevry ons van ons verlede en maak ’n nuwe begin met mislukte sondaars! Die volk Israel (wat hier aangespreek word) het inderdaad ‘n slegte verlede gehad. Ja, hulle was baie bevoorreg, hulle het die wonder beleef van die bevryding uit Egipte, hulle het die wet gehad, ’n tempel gehad, priesters gehad en offers gebring. En tog : Israel het telkens afgedwaal en klaaglik misluk. Hulle geskiedenispad was besaai met die geraamtes van ontrou, afgodery, geweld, sedeloosheid en ondankbaarheid. Die ergste, hulle het deur dit als God se Naam oneer aangedoen. “Ek is begaan oor my heilige Naam wat oneer aangedoen word deur Israel onder die nasies waar hulle gekom het.” (21) Dit bewys maar net weer : Uiterlike godsdienstigheid kan nie die mens se bose hart genees nie! Kerktoe gaan, Sondagskool en aanneming kan nie ‘n sondige verlede uitvee nie! Ten spyte van al hulle godsdiens, roemryke geskiedenis, al hulle voorregte, was hulle net so sleg en nog erger as die goddelose mense rondom hulle. Deur hulle optrede het hulle God se Naam in die skande gebring. Die omringende heidense volke sou kon sê : “Julle sê julle het ’n heilige sterke God - maar kyk wat doen julle, kyk nou is julle verslaan en weggevoer na ’n vreemde land - waar is julle sterk God nou?” 

NIE AL-QAEDA OF MILEY NIE...

Dink mooi : Wie doen die grootste skade aan God se naam op in hierdie wêreld ? Ja, jy is reg, nie Al-Qaeda, Noord Korea of Miley Cyrus nie, maar godsdienstige mense, mense op die lidmaatregister... kerkmense, gedooptes (klein en groot) wat leef soos heidene! Dis ‘n uiters hartseer toedrag van sake! Dit lyk asof God se plan met sy volk klaaglik misluk het... maar Esegiël 36 bring hoop!

GOD BEVRY!

Maar nou : Wonderlike nuus! God gaan nie alles net so los nie. Hy sê, Hy gaan ’n nuwe begin maak met die mislukte volk Israel. LW - God gaan iets doen. Kyk die klem-herhaling op EK! "Ek sal julle tussen die nasies uit wegvat, julle uit al die lande bymekaarmaak en julle na julle land toe bring. Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.” (24-27) Gód self gaan ingryp! Dis die mens se enigste hoop - as God ingryp en iets doen aan ons sonde en ellende. Ons kan nie self ons verlede afskud nie. Dit klou aan ons soos ‘n taai skaduwee. Al gaan bly jy op ‘n idilliese eiland gaan dit jou nog steeds agtervolg en teister! Net God kan iets in jou lewe doen, in die lewe van jou eggenoot, in jou kinders... Ons kan staatmaak op God se beloftes - Hy doen wat Hy sê! Kyk hoe kragtig stel vers 36 dit :“Ek die Here sê dit en Ek sal dit doen.” Ons het so nodig dat God in gryp op groot skaal! (persoonlik in my, maar ook wyer in die gemeente, gemeenskap...) As God op groot skaal werk om sy mense te bevry en te vernuwe noem ons dit HERLEWING. (Ons wil graag in ons gemeente hierdie jaar weer kyk na die saak van herlewing vanuit die Skrif en die kerkgeskiedenis)

TER WILLE VAN SY NAAM

Net gou ’n belangrike vraag. Hoekom gaan God ingryp? Omdat Israel so belangrik of oulik is? Nee! Ter wille van die eer van sy eie Naam! (Terloops : Valse teologie sê altyd : Die mens is so belangrik! Jou geluk en jou selfbeeld is prioriteit... Bybelse teologie sê : God se Naam en God se eer is belangrik bo alles...) God se doel is om die respek vir Sy Naam onder die oë van die volke te herstel. Hy stel dit so kragtig in vers 22-23 : “Daarom, sê vir Israel: So sê die Here my God: Dit is nie ter wille van julle dat Ek optree nie, Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat deur julle oneer aangedoen is onder die nasies waar julle gekom het. Ek sal die heiligheid van my groot Naam laat blyk wat onder die nasies in oneer gekom het. Julle het my Naam oneer aangedoen onder die nasies. Wanneer Ek my heiligheid laat blyk in wat Ek met julle doen voor die oë van die nasies, sal hulle besef dat Ek die Here is," sê die Here my God." (God bring redding na sy volk nie omdat hulle dit verdien nie, maar ter wille van die eer van Sy heilige Naam. As daar waarlik Godgewerkte HERLEWING kom, sal dit eer aan God se naam bring. God deel nie sy eer met “gospel celebrities” wat probeer "shine" vang nie. Nee, as Hy werk sal Hy nederige verkondigers van die Woord gebruik soos Hy wil...

DIE NUWE VERBOND

Gód verbind Homself tot aksie. Hý belowe dit. Dit word genoem die Nuwe Verbond wat in Jesus tot stand kom.* Hy bevry ons van ons sondige verlede op drie maniere :

~ Hy giet rein water oor ons uit. Hy gaan vergifnis gee en hulle straf ophef. “Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery.” (25) God bevry ons van ons verlede deur volledige vergifnis. Eenmalig wis Hy die skuld en skande uit en verklaar ons vry en onskuldig! Dit gebeur as ek die vryspraak ontvang op meriete van Jesus se kruisdood!

~ Hy gee vir ons nuwe harte. Hy gaan sy Gees in hulle gee sodat hulle ’n nuwe begeerte sal hê om God se wil te doen en ook in staat sal wees om sy wil uit te voer. “Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.” (26,27) God bevry ons van ons verlede deur voortgaande vernuwing deur die Heilige Gees wat in ons leef. Ons wat stukkend is vanweë ons eie verkeerde optrede, ‘n gebroke opvoeding, dit wat ander aan ons gedoen het, word nie net vergewe nie, maar word heropgevoed en heelgemaak. Dit geskied binne die gemeenskap van die gelowiges, deur die werk van die Heilige Gees. Hierdie proses noem ons heiligmaking. God maak ons van binne so nuut dat ons ‘n afsku en weersin sal hê in ons ou manier van dinge doen! “Dan sal julle terugdink aan julle bose optrede en julle gedrag wat nie goed was nie, en julle sal ‘n afsku hê van julleself oor julle sonde en julle afskuwelike dade.” (31)

~ Hy seën ons! In plaas van die skande en straf wat ons verdien weens ons aaklige verlede, stort God sy goedheid en sy liefde oor hulle uit. “Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorvaders gegee het, julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees. Ek sal julle bevry van alles waarmee julle julle verontreinig het, Ek sal die graan aanspreek en sorg dat dit baie is; Ek sal nie weer hongersnood oor julle bring nie. Ek sal sorg dat daar baie vrugte aan die bome is en groot oeste op die lande sodat julle nie weer die vernedering onder die nasies beleef dat julle hongersnood het nie." (33-35) In Ou Testamentiese taal word ‘n nuwe verhouding van harmonie uitgespel wat deur God bewerk is. Die kind van God beleef dit nou reeds, maar in die volle sin tot in alle ewigheid, wanneer ons in Sy volmaakte teenwoordigheid sal leef! Verheerliking! Dis ‘n bewys dat God regtig niks meer teen ons hou nie!

Gaan jy nog gebuk onder die las van ‘n verlede? Dis onnodig. Vat God op sy beloftes! Kom na Jesus!

* Hierdie beloftes in Esegiël is natuurlik histories aan die volk van Israel in hulle ballingskap situasie gegee. Dit het letterlik tot vervulling gekom toe die volk weer na hulle land kon terugkeer. Die volledige dieper vervulling het egter eers waar geword met die koms van Jesus. In Matteus se geslagsregister van Jesus, sien ons hoe hy daarop sinspeel dat Jesus ‘n einde aan die ballingskap bring!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.