BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 18 Junie 2013

MELINDA,

God hou nie van mengelgodsdiens nie!

‘n Tyd gelede het my oog op ‘n BBC artikel oor ‘n baie moderne sangoma, Thabiso Siswana geval. Daarin lees mens :

“She lets out a piercing cry, her body starts shaking violently, her hands are clapping to the rhythm of large African drums - she is calling out to her ancestors. Thabiso Siswana is a traditional healer, known in South Africa as a sangoma.”

Ingeligtes weet dat voorvaderaanbidding eintlik maar ‘n vorm van satanisme is. Die sogenaamde manifestasie van die voorvaders is niks anders as ‘n maskerade van demone nie. Dis egter nie die skokkendste nie. Wat mens die meeste ontstel van Thabiso is dat sy kan verklaar : “We are Christians at home and we go to church like everyone else”

Dit laat mens wonder, beteken die naam Christen nog enigiets?

Die onkunde van wat Christenskap behels, vind mens egter nie net by die aanhangers van tradisionele Afrika godsdienste wat deur die heidendom verblind is nie, maar in al toenemender mate by kerklik gepleisterde westerse afgodsaanbidders wat heeltemal mislei is deur hulle kompromie met die gode van gierigheid, magsbeheptheid, wellus en wêreldsgesindheid. Ek het geen persoonlike vendettas nie, maar die “uitgesproke Christen”, Melinda Bam, voormalige mejuffrou Suid-Afrika met haar uitlokkende uitrusting se aanwysing deur FHM as “sexyste vrou”  noop my om my mond oop te maak. (en dalk ‘n paar snorbaarde te trek...)

Wat sê God se Woord oor sulke vermenging van lig en duisternis?

GOD HAAT MENGELGODSDIENS

Dis eintlik vanselfsprekend, want Hy alleen is die Skepper van hemel en aarde. Hy alleen is die ware Verlosser van sy mense. Daarom kry die volk Israel die duidelike opdrag na hulle wonderbaarlike verlossing uit Egipte : “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.”

Natuurlik was hulle nie gehoorsaam nie, en moes tot hulle groot skade en skande agterkom dat God bedoel wat Hy sê. Die debakel van die goue kalf in Eksodus 32 het dit baie duidelik gemaak.* Dit was ‘n klassieke poging tot godsdiensvermenging. Nadat Aäron ‘n goue kalf gemaak het kondig hy aan (hoor bietjie mooi): “Môre is daar fees tot eer van die HERE.” Ja, die fees word nog steeds in die naam van die HERE gehou, maar op die heidense manier van dansery en goue kalf verering! God was (en is) nie hiervoor te vinde nie en dit wek sy toorn op.

God se verwerping in die Ou Testament van alle vorms van kompromie en sinkretisme is welbekend. Dink maar aan koning Jerobeam se poging tot godsdiensvermenging ter wille van sy persoonlike sekuriteit (1 Konings 12) en God se oordeel daarop. (1 Konings 13) Jerobeam het gevolglik ‘n standaard voorbeeld van afvalligheid geword!

Ook die Nuwe Testament maak dit duidelik dat God heilige afsondering van sy kinders verwag. Natuurlik hoef God se kinders hulle nie self in kloosters op te sluit nie, maar daar is sekere mense en gebruike waarmee ons niks te doen mag hê nie. Paulus kon hierdie beginsel kwalik duideliker gestel het as in 2 Korintiërs 6:14-7:1 waar hy skryf :

"Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? 

En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? 

Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. 

Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; 

en Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.

Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons. Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy."

Die weiering tot kompromie wat ware Christene se lewe kenmerk is juis die grootste rede waarom hulle verwerping en vervolging van die gemeenskap in die gesig staar. Kinders van God is teen-die-stroom-swemmers en hulle word nie deur goddeloses met toekennings vereer nie, maar eerder bespot en beswadder! So stel 1 Petrus 4:3,4 die verwerping van Christene deur die goddelose samelewing as ‘n feit: 

“In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg— en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.”

As mens oor heiligheid praat kom die die Christelike partytjiegangers natuurlik altyd met die skynslim teenvraag : “Het Jesus dan nie saam met tollenaars en sondaars geëet en gedrink nie?” Ja, Hy het beslis. Hy het bemoeienis gemaak met die verworpe klasse van die destydse samelewing, om hulle tot bekering te roep. (Matteus 9:13 OAV) Met Melinda se halfnaakte uitrusting roep sy duidelik nie FHM se uitgewers of lesers tot bekering nie, maar lok sy hulle eerder uit tot sonde. Enige vergelyking van soortgelyke gedrag met Jesus se optrede is absurd en grens aan lastering of dan ten minste gruwelike Skrifverdraaiing.

Dit lyk my asof alle Christelike onderskeidingstekens afgespoel word in ‘n modderbad van morele relatiwisme. Christelike vrugte is vervang met ‘n valse verdraagsaamheid. Vergete is die opdrag om te verafsku wat sleg is en vas te hou aan wat goed is. (Romeine 12:9) Die benaming “Christen” het totaal niksseggend geword.

Is Thabiso en Melinda Christene? Is Naas Botha ‘n Stormer? Is Julius Malema ‘n Voortrekker?  Is Robert Mugabe voorsitter van die TLU? Is die Pous ‘n Protestant..?

Vir 'n Christelike standpunt oor skoonheidskompetisies, kliek op Sneeuwitjie se Stiefma.

*prentjie : the living lettre chronicles



5 opmerkings:

  1. Ek het 'n artikel gelees waarin 'n onderhoud met juf. Bam gevoer is en sy vertel o.a. van haar Bybels wat ook spesiaal ingepak is oppad na die Mej Wêreld kompetisie. Op 'n News24 berig oor haar as die mees sexyste vrou in die wêreld lewer iemand die volgende kommentaar: "Congrats to M.Bam, certainly a very attractive woman.
    Just please don't "Thank the Lord", cause that one is a bit hard to reconcile".
    Wolf Cilliers.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.