BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 17 Junie 2020

WIE HET DIE MAG OP AARDE?

- vaste kos vir versterking in ‘n tyd van verwarring. 


Wie het die mag op aarde? Platweg gestel - Wie is die sterkste, wie het die laaste sê? Dis ‘n saak wat nou weer baie aktueel raak. As ek so luister, klink dit vir my of almal nie heeltemal seker is nie. Wie het die mag? Ons sien nou immers soveel voorbeelde van magsmisbruik. (Dink maar aan die toepassing van buitensporige Covid-19 maatreels in Suid-Afrika en ander plekke.) So wie het regtig die mag? Is dit plaaslike politici? Is dit internasionale geldmagte of geheime organisasies? ‘n Toekomstige wêreldregering? Is dit die duiwel en sy demone? Of is alles maar net toevallige noodlot? 

In Jesus se sg. hoëpriesterlike gebed in Johannes 17 is dit baie duidelik wie alle mag op aarde het. 

 “Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: "Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee."  (Joh 17:1,2) 

Hierdie gebed gee vir ons as’t ware ‘n heilige insig in die diepte van sy wese. Jesus se gebed is ook ‘n volmaakte gebed. Die fokus van sy gebed is die fokus van alle ware gebed – die verheerliking van die Vader. Jesus se verheerliking deur sy kruisdood en opstanding gaan baie nou saam met die Vader se verheerliking. Die redding van sondaar mense deur Jesus se verheerliking in die kruis en opstanding bring immers eer en heerlikheid aan die Vader! 

Dis baie duidelik – Jesus dank Sy Vader dat Hy aan Hom die VOLMAG gegee het oor die hele mensdom (alle vlees) juis om die doelwit van eer aan God deur redding te bereik. 

Een ding kan ons van seker wees, Jesus se mag is ‘n absolute mag. 

Hier word ‘n spesifieke doel van Jesus se mag wat Hy van die Vader ontvang het aangedui – die redding van diegene wat die Vader aan die Seun gegee het. Ons het hier te make met ‘n baie diep, heerlike en vertroostende waarheid. Maar aan die ander kant natuurlik ook vir ons menslike verstand ‘n onbegryplike waarheid. Die Vader het sekere mense aan die Seun gegee om hulle te verlos. 

Wanneer? Dit het in die ewigheid gebeur, voor die grondlegging van die wereld. In die ewige raad van God het die God die Vader aan God die Seun sekere mense gegee om te red deur sy kruisoffer en opstanding. Hierdie waarheid vind ons reeds in Johannes 6:37. “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” Nie alle mense kom na Jesus vir redding nie, maar wel diegene wat deur die Vader aan Hom gegee is! 

As ons dit raaksien verstaan ons ook waarvan Handelinge 13:48 praat. Ons lees met betrekking tot Paulus en Barnabas se evangelieverkondiging die volgende : “Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.” “...en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (OAV) 

Kind van God, hier het ons te make met ‘n verbysterende waarheid! 

Jou redding is van ewigheid af beplan en verseker deur God self! 



Die baie bekende Godsman dr Martyn Lloyd-Jones se preke oor hierdie gedeelte in Johannes 17 is saamgevat in die bundel, getiteld “Saved in eternity” Dis so veelseggend! 

Wat is die praktiese nut en betekenis van hierdie waarheid? Kind van God, jy wat na Jesus gekom het, jy kan weet dis nie uit jou eie krag of goedheid nie. Dis God se genade wat sonder verdienste aan jou vanaf ewigheid geskenk is, wat in die eerste plek gemaak het dat jy na Jesus gekom het en Hom as jou Saligmaker vertrou het. Die implikasie is dat jou redding nie op losse skroewe berus nie, maar van ewigheid vas is in die genadige besluit van God. Jou redding behels ‘n Goddelike wonderwerk en ingryping “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.” (Joh 1:12,13)   Jou redding staan vas, nie omdat jou geloof of besluite so vas is nie, maar omdat jou redding verankerd is in die onveranderlike ewige genadebesluit van God self! Geboorte uit God! As dit jou nie opgewonde maak nie, wat kan dan? 

Die implikasie is : Geen duiwel, geen regering, geen geldmag kan verhoed dat Jesus God se uitverkorenes wat die Vader aan Hom gegee het, red nie! Geen mag of krag of gesag kan hierdie uitverkorenes uit die hande van Jesus ruk en hulle van hulle saligheid beroof nie 

Soek jy nog bevestiging van Jesus se almag? Luister bietjie... Jesus sê in Matteus 28:18 "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” Dis terloops die agtergrond van die heerlike sendingopdrag net in die volgende vers! 

Nog nie oortuig nie? Gaan lees maar net weer Openbaring. Openbaring in geheel is ‘n herbevestiging van Jesus heerlikheid en mag. Byv. die verheerlikte Christus het die sleutels van die dood en die doderyk. Nie Satan of wêreldmagte nie! Jesus is die Lam wat geslag is, maar wat terselfdertyd die Leeu van Juda is. Daar is nog baie voorbeelde. Die Verlosser Christus se mag is onbeperk en onaantasbaar!

DUIWEL?

Maar miskien wonder jy nou : "Wat van die Satan? Sy mag is tog ook groot? Hy word immers beskryf as die brullende leeu?" Ja, die duiwel is inderdaad gevaarlik. Hy kan groot skade aanrig en selfs kinders van God in die gevangenis laat werp en laat doodmaak. En tog... weereens is dit Openbaring wat vir ons 'n heerlike perspektief bied. In vergelyking met Jesus is sy mag baaie beperk en tydelik. Dit word pragtig uitgebeeld in die omstrede Openbaring hoofstuk 20. Jesus se regering is duisend jaar (simbolies vir volmaaktheid), die Satan word net vir 'n kort tydjie losgelaat om daarna vir ewig in die poel van vuur gewerp te word. Die kontras is duidelik : Jesus se mag is onbeperk en ewig. Satan het 'n klein beperkte speelruimte en sy ewige verdoemenis staan vas!

EWIGE LEWE

Onthou net weer, hierdie mag gebruik Jesus om onverdiend vir jou en my die ewige lewe te gee. En wat behels dit? Vers 3 “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” 

Ewige lewe is nie net bloot ‘n onbepaalde verlengde bestaan nie. Lewe is meer as net blote bestaan. Ewige Lewe is ware kennis van God en sy Seun. Habakuk het al op hierdie begrip van ware lewe gesinspeel as hy ‘n tyd voorsien dat “die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Habakuk 2:14) 

Ons ken God en sy Seun nou reeds. 

Om God te ken beteken dat ek verander en vernuwe word en deel kry aan ‘n kwaliteit van ware lewe wat die ongelowige nie ken nie! Dink bietjie so daaraan – ons wat aan Jesus behoort kan nou in hierdie tyd van verwarring en vrees reeds elke dag die ewige lewe geniet! Ware kennis van en gemeenskap met die Vader en Seun deur die Heilige Gees. En niemand kan dit van ons wegneem nie, want Jesus het alle mag! Amen

1 opmerking:

  1. Baie dankie vir hierdie fokusopskerpende perspektief op ons geloofslewe in die Drieënige God.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.