BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 13 Februarie 2020

HOENDER OF EEND?

- DIE NOODSAAKLIKHEID OM GELOOF DEUR DADE TE BEVESTIG 




Jy wil ‘n hoenderhaan koop… Die werf kort immers ‘n windmaker haan. Jy adverteer op Facebook en Whatsapp. Iemand reageer, julle kom op ‘n prys ooreen en hy bring vir jou jou splinternuwe hoender! Jy vat die gevoëlte by hom, maar dan is jy in vir die eerste verrassing! Die hoender se bek is plat, nes ‘n eend s’n. Kan dit wees? Jy kyk na die pote, weereens iets baie snaaks... dis sulke plat gewebde pote. Eienaardig. Jy sit vir “hoender” op die grond neer en hy begin loop met ‘n tipiese waggel-waggel eendestappie! Voorwaar vreemd! En dan kom die eerste geluide... nie ‘n gekraai nie, maar ‘n gekwaak. “Hoender” kry nou spoed en peil af op die naaste visdammetjie... Kaplonks, binne in die water en begin gemaklik swem. Wel, wat moet nou nog gebeur? Wanneer gaan jy die logiese gevolgtrekking maak? As iets ‘n eendebek, eendepote en eendestem het. As al die gedrag eendegedrag is... Dan is dit mos ‘n eend! Jy is mislei deur die hoenderverkoper! 

Hierdie is ‘n beeld van baie mense se geloof. Hulle woorde en geloofspraatjies kom nie ooreen met die sigbare werklikheid van hulle gedrag nie. Daar is geen korrelasie tussen geloof en die werke nie! Hulle beweer oom Christene te wees, maar die leefstyl skreeu iets anders...

Die verhaal raak byna oorbekend...“Ja, ek het my “hart” vir Jesus gegee toe ek twaalf was. Ja, ek het my geloof bely toe ek agtien was. Ja, ek het ‘n wonderlike ervaring by die mannekamp gehad... maar intussen flirt ek van die een verhouding na die ander, (tussendeur is daar dikwels ook nog ‘n buite-egtelike kind gevolg deur 'n stroom entoesiastiese gelukwensings op Facebook), my dronk pelle is vir my baie aangenamer as die ware kinders van God, vuil grappe is baie interessanter as Bybelstudie, dis baie makliker om Saterdagaand by een of ander drinkplek te kuier as om Sondagoggend kerk toe te kom, dis vir my baie meer natuurlik om die f-woord te gebruik as om te bid, ek maak orals skuld want my lewe het nie brieke nie….. maar ja ek is nog steeds ‘n Christen! Ek het mos lank terug vir Jesus gekies. Ek is seker van my saligheid...” Nee, vriend, hoor mooi! Jou Christenskap is ‘n illusie. Jou sekerheid is 'n valse sekerheid. Dis juis hierdie illusie en selfbedrog wat Jakobus in Jakobus 2:14-26 wil hokslaan en uitroei. 

Pasop vir selfbedrog. As jou dade deurlopend jou Christenskap weerspreek, is jy nie ‘n Christen nie! 

NUTTELOSE DEMONIESE GELOOF 

Geloof sonder sigbare en lewensveranderende effek is nuttelose geloof. “Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red?” (14) Nog erger dis duiwelse geloof! “Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs.” (19) Die demone glo ook God bestaan, maar dit beteken nie hulle is gered nie. As jou geloof nie iets anders is as die geloof wat die duiwels ook het nie, gaan jy in dieselfde plek brand as waar die duiwel brand. 

Nou wat dan? Is geloof dan nie absoluut belangrik en deurslaggewend nie? Ja, natuurlik as daar nou een saak is wat die Nuwe Testament duidelik stel is dit redding deur die geloof alleen. 

Die Skrif is absoluut duidelik oor die belangrikheid en genoegsaamheid van geloof. Dit was Jesus self wat dit onomwonde gestel het : “Hulle vra Hom toe: "Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?" En Jesus antwoord hulle: "Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het." (Johannes 6:28,29) Wat ‘n wonderlike vertroostende waarheid! 

Maar veral ook Paulus stel dit so duidelik o.a. Romeine 4:1-5, 5:1* en baie ander plekke. 

PAULUS EN JAKOBUS 

Maar wat nou van Jakobus? Weerspreek hy vir Paulus? Nee. Paulus en Jakobus skryf binne twee verskillende kontekste. 

Paulus praat met mense wat dink hulle kan gered word deur die wet van Moses te onderhou. Veral in Galasiers en Filippense praat hy met mense wat dink dis noodsaaklik om by die geloof ‘n Joodse praktyk van die Ou Verbond, naamlik die besnydenis by te voeg. Daarom beklemtoon hy, geloof alleen! Niks van ons eie verdienste kan ons red nie. Niks van ons goeie dade en wetsonderhouding kan vir ons verlossing verdien nie. Paulus praat dus met mense wat onsekerheid beleef omdat hulle nie weet of geloof in Christus voldoende is nie. Hulle wonder of hulle iets ekstra moet doen om gered te word. Paulus verseker ons, geloof in Jesus is genoegsaam vir redding! 

Jakobus praat met mense wat die gevaar loop om met ‘n teoretiese verstandelike geloof tevrede te wees. Hulle maak die regte geluide oor geloof, maar hulle lewens wys dat hulle nie kinders van God is nie. In terme van ons inleidingsbeeld : Hulle beweer hulle is hoenders, maar hulle karakter en optrede wys hulle is eende. 

Geloof alleen red ons, maar ware reddende geloof bly nie alleen nie! 

Ware geloof in Jesus dra vrug, dit het ‘n effek, dit lei tot goeie dade van heiligheid.. Dit bring lewensverandering. Jakobus gebruik twee voorbeelde om die belangrikheid van werke te onderstreep. Die van Abram (21) en Ragab (25). Beide se praktiese optrede het bewys dat hulle geloof eg was. Omdat Abram geglo het, was hy bereid om Isak te offer. Omdat Ragab geglo het, het sy die verspieders weggesteek, al was dit lewensgevaarlik! Hulle geloof was nie net 'n saak van die mond en die teorie nie, maar van dade!

Op verskeie plekke in die Skrif vind ons die onlosmaaklike verband tussen geloof en werke: 

Efesiërs 2:8-10 – Ons word net uit genade gered deur geloof, maar so word ons juis nuutgemaak om ons lewens te wy aan goeie dade. 

Handelinge 16:31ev -  Die tronkbewaarder word gered deur geloof in Jesus. Sy geloof het onmiddellike en drastiese effek gehad. Hy was Paulus en Silas se wonde! 

EGTE GELOOF SAL SIGBAAR WORD 

Jakobus wil ons herinner dat ware geloof radikaal en lewensvernuwend is. Dit word sigbaar in dade. Ook Jesus sê dat ‘n boom aan sy vrugte geken word. 

As jou boom aanmekaar dorings dra, hou op om jouself te probeer oortuig dat dit ‘n vyeboom is... 

Indien jou geloof nie jou lewe verander nie, is dit net so nutteloos soos die geloof van die duiwel. Volg jou belydenis van geloof op met sigbare dade van gehoorsaamheid, liefde, heiligmaking. Dit sal jou sekerheid versterk. Dit sal vir jouself en almal rondom jou ‘n bewys wees dat jy inderdaad reddende geloof het! 

En as jy nou skielik eerlik besef : "Ek het God nooit geken nie? WAT MOET EK DOEN?" Moenie by werke begin nie, kom kniel by die kruis van Jesus. Kyk op na Hom wat sy lewe vir jou gegee het! Vertrou Hom as Here en Verlosser en begin anders leef omdat jy vir Hom lief is!

BAIE GELUK EN WELKOM!!


Eugene Grobler, Carolyn Gous, Lieze Grove, Anri Muller, Zaanri Labuschagne, Monique Engelbrecht, Jonette de Koning, Anja Steenkamp, Nick Vosloo


* Wat moet ons nou sê was die geval met ons stamvader Abraham? 
As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy ‘n rede gehad om te roem. Maar nie by God nie! 
Wat sê die Skrif? "Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek." 
‘n Arbeider se loon word nie vir hom as ‘n guns gegee nie, maar as iets wat hom toekom. 
Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof. (Romeine 4:1-5) 

“God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo.” (Romeine 5:1)

1 opmerking:

  1. Baie dankie Johannes. 'n Baie nodige boodskap vir ons tyd!

    Dis van ewige belang om die regte verhouding tussen geloof en werke te verstaan.

    God skenk deur sy vrye, soewereine genade wedergeboorte aan sondaars, sonder enige werke van hulle kant. Geen mens kies hulle eie geboorte nie, en dieselfde geld vir wedergeboorte.
    "Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het— nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees" (Titus 3:4-5, OAV)
    "Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is." (Joh 3:7-8, OAV)

    Saam met die wedergeboorte skenk God ook ware geloof en egte bekering.
    "Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God" (Ef 2:8, OAV)
    "En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk." (Hand 11:18, OAV)

    Verder gee die Here 'n nuwe hart en die Heilige Gees aan hulle wat Hy wederbaar, en maak hulle rein van sonde, en beweeg hulle om te doen wat Hy wil.
    "Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen." (Eseg 36:25-27, OAV)

    Die gevolg hiervan is nuwe werke wat uit 'n nuwe hart vloei, soos 'n skoon fontein wat skoon water uitborrel, of 'n goeie vrugteboom wat goeie vrugte dra.
    "dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien, in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe." (Luk 1:74-75, OAV)
    "sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here." (Rom 5:21)

    Hebreërs 11 wys ook duidelik hoe die ware geloof van Ou Testamentiese heiliges tot dade oorgegaan het. Iemand wat dus beweer om te glo, maar leef soos 'n duiwel, praat nie die waarheid nie, maar mislei hulleself.

    Philip, Kaapstad

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.