BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 20 Junie 2019

HY OF SY?

Mag ons van die Heilige Gees as "SY" praat?

As leraar van die NGK Tsumeb wil ek sonder om in lang redenasies te verval my tog duidelik en openlik distansieer van en uitspreek teen ‘n vroue leraar ds. Hestie Hay-Blaauw se verwysings na die Heilige Gees as vroulik. Die gewraakte uitlatings het sy gemaak tydens ‘n gesprek wat sy en ds. Clem Marais in die program van Kanaal 7, Onder die Kameelboom gehad het oor Johannes 16. 



Dis so hartseer dat Hestie ’n wonderlike hoofstuk en ‘n heerlike onderwerp skade aangedoen het met haar verwarrende opmerkings rakende die Heilige Gees soos : “Dis nogal ‘n sy.” “Sy met ons is.” “Haarself” Die herhaling wys dit was nie ‘n toevallige glips of terloopse opmerking nie! Klink of dit nogal belangrik is vir Hestie.  Wat sou hier agter sit? Feministiese teologie? (Uit die teologiese fakulteite van vandag kan mens enige gogga verwag.) Kom dit uit dieselfde kringe as “Die Shack” met verwysings na God die Vader as ‘n swart vrou (Papa) en die Heilige Gees as ‘n Indiese vrou (Sarayu)? Is dit spekulatiewe teologie wat probeer inval by die tydsgees se geslagsverwarrende agenda? Ek weet nie… Hestie sal moet verduidelik. 

Natuurlik weet ons dat God nie geslagtelik is in die menslike sin van die woord nie. God is immers Gees. (Johannes 4:24) 

En tog het God Homself as Vader (nie moeder nie) geopenbaar en Sy enigste Seun (nie enigste dogter nie) na die wêreld gestuur! 

Dis hoe God self besluit het om Hom aan die mens bekend te stel in Sy onfeilbare Woord. God het dit nodig geag om binne in 'n konteks en omgewing van baie gode en godinne na Homself in manlike terme te verwys. Daar word oorweldigend na God in die Bybel verwys as Vader. En manlike voornaamwoorde word gebruik. “En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.” (1 Johannes 1:3). En ons weet dat die Heilige Gees die Gees van God genoem word, ook die Gees van Christus en spesifiek die Gees van Jesus. (Handelinge 16:7) Om dus van die Heilige Gees ‘n “sy” te maak het nie Skriftuurlike gronde nie! 

Ons moet God aanbid in terme van hoe Hy Homself duidelik openbaar in die Skrif, anders verval ons in "goue kalf godsdiens" waarvan die gevolge skrikwekkend sal wees!

Ja, ons weet dat mens in Hebreeus manlike en vroulike naamwoordvorme aantref en dat “ruach” (gees) ‘n vroulike naamwoord is. Dis natuurlik op ‘n taalkundige vlak, want “ruach” word ook spesifiek gebruik om na die gees van ‘n man te verwys. Grieks (soos Duits) het drie vorms naamlik manlik, vroulik en onsydig. Die Griekse woord vir Gees (pneuma) is onsydig, maar daaruit kan ons niks ten opsigte van geslag aflei nie. Die Duitse woord vir meisie “das Mädchen” is immers ook onsydig! 

Ek betreur Hestie se uitsprake. Dis hartseer dat sy terugval op die holruggeryde slagspreuk van die liberalisme en relativisme dat ons God nie in “boksies” moet plaas nie, asof dit beteken dat ons nou maar sommer kan spekuleer oor Hom. Natuurlik betreur ek ook die feit dat party mense nou weer met leedvermaak en kwaadwilligheid hierdie tipe uitlatings van een persoon gebruik om die kerk aan te val! 

Kliek op KANAAL 7 om self te luister na Hestie.


4 opmerkings:

  1. Johannes, dankie vir die duidelike rigting-gewende en verhelderende opmerkings wat jy maak rakende hierdie betrokke gesprek wat Onder die Kameelboom plaasgevind het.

    Vir my gaan dit in aansluiting by dit wat jy reeds gesê het, oor die soewereiniteit, die waarheid en volmaaktheid van God.


    1. God in sy soewereiniteit het besluit om Homself op ‘n bepaalde wyse aan die mens bekend te stel. Dit doen Hy net soos wat Hy byvoorbeeld ook besluit het om eers die man te maak en daarna die vrou (1Tim. 2: 13). God se soewereiniteit is sy reg omdat Hy God is. Enige iemand wat hierdie reg van God wil probeer aantas of betwis, is besig met ‘n vergryp aan die Godheid.

    Om enigsins die suggestie te laat dat God nie die reg het om Homself op ‘n sekere wyse aan die mense bekend te stel nie, is ‘n growwe aantasting van sy soewereiniteit.


    2. Wanneer God in sy soewereiniteit sekere dinge op ‘n sekere manier doen, doen Hy dit nooit om vals te wees nie. God kan nooit vals wees nie; sy woord is die waarheid (Joh. 17: 17).

    Om die suggestie te laat dat God dalk nie heeltemal eerlik was toe Hy Homself aan die mense bekend gestel het nie, is om die minste te sê godslasterlik.


    3. In sy bekendstelling aan die mens doen God ook nie halwe werk nie. Wanneer God werk, is Hy deeglik en sy werk is volkome (bv. 2Sam. 22: 31, Ps. 18: 31, Ps. 19: 8, Matt. 5: 48).

    Indien die moontlikhede onder pt. 1 en 2 hierbo genoem nie die geval was met die gesprek Onder die Kameelboom nie, dan laat dit ons met net nog die laaste moontlikheid, nl. die moontlikheid van pt. 3, en dit is dat God halwe werk gedoen het toe Hy Homself bekend gestel het. Dat Hy onvolkome of agterlosig was toe Hy Hom aan ons kom bekendstel het. Na my mening kom so ‘n manier van dink oor God neer op ‘n degradering van God in terme van Wie Hy werklik is. Gevolglik kan dit ook nie anders beskryf word as dat dit laster is teen die hoë en heilige Naam van ons HERE nie.


    Ek voel my self verplig om die volgende ook hieraan toe te voeg:

    In Rom. 1:18 en 19 waarsku die Skrif “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar”. 2 Tim. 4: 4 praat ook van diegene wat “die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels”.

    Soms kry ek die indruk dat ons nie altyd besef dat die grond waarop ons staan, heilige grond is nie (Ex. 3: 5, Jos. 5: 15).

    AntwoordVee uit
  2. Die Griekse word in die Bybel "Theos" het ook die "os" uitgang wat op die manlike vorm aandui.

    AntwoordVee uit
  3. Baie dankie Hector en Johannes vir julle aanspreuk van en uitspreuk teen hierdie sensasie soekkery in kontroversie.

    AntwoordVee uit
  4. Dankie Johannes vir n goeie artikel.
    My vraag is of dit hoegenaamd n verleentheid vir die teologiese fakulteite en die kuratoria is as as afgestudeerde studente sulke uitlatings maak en dit nogal oor die radio.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.