BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 15 November 2018

SKULDIG, ONSEKER EN VOL VREES?


- Neem kennis van die triomf van die kruis! 


Soveel mense wat hulleself kinders van God noem, voel steeds skuldig en minderwaardig, onseker, bang en vol vrese. Dikwels is daar die gevoel van “ek kort nog iets, maar ek weet nie juis wat nie”, ander weer sal sê : ”Ek weet God het my vergewe, maar ek sukkel steeds om myself te vergewe.” Wat is die oplossing? Verstaan en glo die triomf van Jesus aan die kruis! 

Dis die heerlike boodskap van Kolossense 2:13-15. Die gelowiges in Kolosse het ook hierdie tipe probleme ondervind en Paulus verduidelik daarom vir hulle wat die volheid en die genoegsaamheid van Christus beteken. "In Hom is die volle wese van God beliggaam en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid." (9,10) Hy wil vir hulle laat verstaan : As julle Jesus het en vas vertrou op Hom alleen, het julle als wat julle nodig het! Julle moet besef, julle is volledig met God versoen deur Jesus. Julle het nie meer geheime resepte en tegnieke nodig nie. Julle het nie ekstra bewyse van vergifnis nodig nie. Julle hoef geen bose mag of krag te vrees nie! Daarom gaan Paulus nou weer die betekenis en gevolge van Jesus se kruisdood verduidelik. 

ALLES VERGEWE! 

Paulus stel dit duidelik. Julle is nou lewend, want AL julle sondes is vergewe! “Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het.” (13) Goddelike vergifnis is ‘n volledige vergifnis. Goddelike vergifnis is ons enigste hoop wat ons het (Psalm 130:3-4) As daar nie iets soos volledige vergifnis was nie, was daar geen hoop dat ons ooit voor God kon verskyn nie. 

ANTWOORDE BY DIE KRUIS

Hoe werk hierdie vergifnis, hoe het dit gebeur, hoe drasties is dit, hoe seker is dit? Die antwoorde op al hierdie vrae kry ons by die kruis. By die kruis het daar iets gebeur. Onthou tog die kruis was nie maar ‘n stukkie toneelspel, ‘n hartseer drama wat bedoel was om ons simpatie te ontlok nie. Nee, met Jesus se sterwe het daar iets gebeur met ons sonde. Dit word treffend verduidelik deur die beeld van ‘n skuldbrief, ‘n verbandsdokument as jy wil. Dis ‘n dokument met my handtekening op wat teen my getuig dat ek so en so bedrag verskuldig is. Ek erken dis my skuld en ek is daarvoor verantwoordelik. Ek is vas. Geestelik gesproke is ons so vas in die skuld by God. Ons sonde het ons in die skuld gebring by God. ‘n Onbetaalbare groot skuld. Morele prestasies, goeie werke en goeie bedoelings kon niks daaraan verander nie. Ja, sommige probeer inderdaad hulle skuld voor God self afwerk met beloftes en allerhande godsdienstige dade of reëls - dus futiel. Is jy dalk een van daardie dwases, al bedoel jy dit dalk baie opreg? Jy kan net sowel die see probeer leeg dra met ‘n emmer. 

‘n Hopelose situasie! Maar hoor hier! Kyk wat het Jesus met hierdie verdoemende bewyse teen ons gemaak : “Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.” (14) 

SONDEREKORD UITGEWIS! 

Vir die wat glo in Jesus alleen is dit so dat Hy self hierdie dokument waarvan die inhoud teen ons getuig vernietig het. (Sommige sien “eise/insettinge” as ‘n verwysing na die gebooie van die wet, wat ons beskuldig). Nietemin, die boodskap is duidelik. Ons sondeskuld lêer by God het nie maar net weggeraak nie, is nie net toegemaak, gebêre nie - dan sou daar altyd ‘n moontlikheid wees dat dit weer opgediep kon word. Nee, ons sonderekord is uitgewis, vernietig deur God self in Jesus aan die kruis. Hy het hierdie dokument aan die kruis vasgenael. Miskien is hier ‘n indirekte verwysing na die beskuldiging teen Christus wat bo sy kop aan die kruis vasgespyker is. Jesus het die beskuldiging teen ons ook daar vasgeslaan net soos die beskuldigings teen Hom daar gespyker was. Dit maak baie sin as ons daaraan dink dat Hy eintlik gestraf is vir dinge wat ons gedoen het. 

Hoe ook al die detail van die beeld verstaan moet word, dit kom daarop neer dat ons totaal sonder skuld is voor God. Met ander woorde ons is onstrafwaardig, volledig versoen, in die regte verhouding met Hom. Alle bewyse en klagtes teen ons (en is daar nie baie nie!) is totaal vernietig. Dit bestaan nie meer nie. Verlossing beteken nie dat ek maar net ‘n nuwe bladjie omslaan en probeer om van nou af reg te leef nie. Nee die “ou blaadjie” met al sy vuil kolle en mislukkings is vernietig, dit bestaan nie meer nie. Ek kan deur niemand meer beskuldig word nie, want die bewyse en gronde bestaan nie meer nie. In Romeine 8:33,34 stel Paulus dieselfde waarheid so : “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Die implikasie is : Ons staan wat op Jesus vertrou staan as regverdiges voor God! 

DIE BOSE MAGTE HET HULLE HOUVAS VERLOOR! 

Die konsekwensies van die kruis gaan dus dieper as persoonlike skuld. Baie dieper. Nie alleen is ons skuld gekanselleer waardeur hierdie magte ons in hulle greep gehou het nie, die bose magte wat God se kinders beskuldig of probeer afpers is self oorwin aan die kruis. “Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.” (15) Die kruis alhoewel dit soos ‘n neerlaag vir Christus gelyk het was juis Sy oorwinning oor alle bose magte wat daar ook al mag bestaan. Die kruis wat die skandpaal was het nou ‘n oorwinnaars rytuig geword. (Verwys na ‘n triomf optog, oorwinnaars parade wat destyds algemeen bekend was.) Hierdie bose magte is totaal ontwapen, in die openbaar verneder. Hulle moet hulpeloos en vernederd meedoen aan die oorwinningsparade van Jesus en so onwillig Sy heerskappy erken. Die ontwapening kan binne die konteks moontlik verwys na die skuldbewys wat vernietig is. Hulle kan ons nie meer met afdreiging teister nie, want die dokumente wat hulle gebruik het om ons mee te teister bestaan nie meer nie. 

Die duiwel kan jou nie meer afpers met die sondes wat jy gedoen het nie, want alle bewyse daarvoor is vernietig! Satan het geen wapen meer om jou te dreig nie. Sy dreigemente is net bangmaakstories! 

BEVRYDING VAN VREES! 

Die oplossing vir ons vrese en twyfel is nie nuwe geestelike tegnieke nie, ook nie sielkundige truuks om jouself te probeer te vergewe nie. Die oplossing is : 

Besef en bedink die realiteit van die kruisgebeure! 

Vir al ons vrese is daar soos vir die Kolossense net een deur van hoop uit die doolhof van wanhoop. Die boodskap van die Gekruisigde Jesus. Alle magte in die heelal is aan Hom onderwerpe, alle magte goeies en slegtes. Hy is hoof oor almal omdat Hy self die Skepper is van almal. Hulle is dus aan Hom onderworpe as Skepper. Verder is die bose magte ook nog aan Hom onderworpe as Oorwinnaar. Dis die realiteit van die heelal waarin ons leef - Jesus is algehele oorwinnaar! (ongeag wat New Age gurus of fiksieskrywers ons wil laat glo.) Die magtige verlossingswerk van Jesus is van kosmiese omvang. Die Jesus wat vol van liefde, ontferming, genade en barmhartigheid is - Dis HY wat in beheer is, Hy bepaal die uitkoms en gang van die geskiedenis. Niemand anders nie, die rebelle van die kosmos (bose magte) is uitgeskakel! Oor demone en duiwels, geheime organisasies en samesweringsteorieë hoef gelowiges hulle nie te kwel nie. 

Die kruis gee ons volkome gemoedsrus!



[Die kruis by Omandongo in Ovamboland waar die Finse sendelinge met hulle pionierswerk begin het.]

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.